Bybelboek nommer 47—2 Korinthiërs
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Macedonië
Geskrif voltooi: ca. 55 G.J.
1, 2. (a) Wat het daartoe gelei dat Paulus sy tweede brief aan die Korinthiërs geskryf het? (b) Waarvandaan het Paulus geskryf, en waaroor was hy besorg?
DIT was nou waarskynlik die nasomer of vroeë herfs van 55 G.J. Daar was nog enkele aangeleenthede in die Christengemeente in Korinthe wat die apostel Paulus bekommer het. Net ’n paar maande het verstryk sedert hy sy eerste brief aan die Korinthiërs geskryf het. Titus is sedertdien na Korinthe gestuur om te help met die insameling wat daar gehou is vir die heiliges in Judea en moontlik ook om te sien hoe die Korinthiërs op die eerste brief gereageer het (2 Kor. 8:1-6; 2:13). Hoe het hulle dit ontvang? Watter troos het dit Paulus tog verskaf om te weet dat dit hulle tot droefheid en berou beweeg het! Titus het met hierdie goeie berig na Paulus in Macedonië teruggekeer, en nou het die apostel se hart oorgeloop van liefde vir sy geliefde medegelowiges in Korinthe.—7:5-7; 6:11.
2 Paulus het dus weer aan die Korinthiërs geskryf. Hierdie opbeurende en kragtige brief is in Macedonië geskryf en is blykbaar deur Titus afgelewer (9:2, 4; 8:16-18, 22-24). Een van die sorgwekkende aangeleenthede wat Paulus beweeg het om te skryf, was die teenwoordigheid van sogenaamde “uitnemende apostels”, wat hy ook as “valse apostels, bedrieglike arbeiders” beskryf het (11:5, 13, 14). Die geestelike welsyn van die betreklik jong gemeente was in gevaar en Paulus se gesag as apostel is aangeval. Sy tweede brief aan Korinthe het dus in ’n groot behoefte voorsien.
3, 4. (a) Watter besoeke het Paulus self in Korinthe afgelê? (b) Hoe vind ons vandag by Tweede Korinthiërs baat?
3 Let op dat Paulus gesê het: “Vir die derde keer is ek gereed om na julle te kom” (2 Kor. 12:14; 13:1). Toe hy sy eerste brief geskryf het, was hy van plan om hulle vir die tweede keer te besoek, maar hoewel hy hom gereedgemaak het, is hierdie “tweede geleentheid vir vreugde” nie verwesenlik nie (1 Kor. 16:5; 2 Kor. 1:15, NW). In werklikheid was Paulus dan maar net een keer tevore daar, 18 maande in 50-52 G.J., toe die Christengemeente in Korinthe gestig is (Hand. 18:1-18). Paulus het egter later sy wens om Korinthe nog ’n keer te besoek, verwesenlik. Terwyl hy drie maande in Griekeland was, waarskynlik in 56 G.J., het hy ten minste ’n deel van die tyd in Korinthe deurgebring, en dit was daar dat hy sy brief aan die Romeine geskryf het.—Rom. 16:1, 23; 1 Kor. 1:14.
4 Tweede Korinthiërs is nog altyd saam met Eerste Korinthiërs en die ander Pauliniese briewe as ’n egte deel van die Bybelkanon beskou. Ons word weer eens in staat gestel om ’n kykie in die gemeente in Korinthe te kry en baat te vind by Paulus se geïnspireerde woorde wat gegee is om hulle sowel as ons te vermaan.
INHOUD VAN TWEEDE KORINTHIËRS
5. (a) Wat skryf Paulus oor vertroosting? (b) Wat het deur Christus tot stand gekom wat verdere versekering verskaf?
5 Hulp van “die God van alle vertroosting” (1:1–2:11). Paulus sluit Timotheüs in sy openingsgroet in. “Geseënd”, sê Paulus, is “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking”, sodat ons weer ander kan vertroos. Hoewel Paulus en sy metgeselle onder baie groot druk was en hulle lewe in gevaar verkeer het, het God hulle gered. Die Korinthiërs kan ook help deur gebede ten behoewe van hulle te doen. Hy skryf aan hulle met vertroue in sy opregtheid en in God se onverdiende goedheid. God se beloftes het “ja” geword deur middel van Jesus, en Hy het diegene gesalf wat aan Christus behoort en hulle “die Gees as onderpand” in hulle harte gegee.—1:3, 4, 20, 22.
6. Watter raad gee Paulus oor wat vir die uitgesette oortreder, wat nou berouvol is, gedoen moet word?
6 Dit wil voorkom of die man oor wie Paulus in die vyfde hoofstuk van sy eerste brief geskryf het, uit die gemeente gesit is. Hy het tot inkeer gekom en openbaar droefheid. Paulus sê derhalwe vir die Korinthiërs om die berouvolle persoon opreg te vergewe en hulle liefde vir hom te bevestig.
7. Wat sê Paulus oor hom en die Korinthiërs, en wat bevestig hy?
7 Bekwaam as bedienaars van die nuwe verbond (2:12–6:10). Paulus sê dat hy en die Korinthiese Christene in ’n triomftog saam met Christus is. (Die Korinthiërs was vertroud met die reuk van welriekende wierook wat destyds langs die roete van die optogte van seëvierende leërs gebrand is.) Daar is ’n skerp teenstelling tussen die Christen se “reuk” vir diegene wat die lewe sal verkry en die “reuk” vir diegene wat vergaan. ‘Ons dryf nie handel met die woord van God nie’, verseker Paulus.—2:16, 17.
8. (a) Watter getuigskrifte het Paulus en sy medewerkers as bedienaars gehad? (b) In watter opsig is die bediening van die nuwe verbond voortrefliker?
8 Paulus en sy medewerkers het geen dokumente, geskrewe aanbevelingsbriewe, aan of van die Korinthiërs nodig nie. Die Korinthiese gelowiges self is aanbevelingsbriewe, wat “deur ons diens” geskrywe is, nie op kliptafels nie, maar “op die vleestafels van die hart”, sê Paulus. God het die dienaars van die nuwe verbond voldoende bekwaam gemaak. Die geskrewe reglement het die dood toegedien, die glorie daarvan het vergaan en dit was tydelik. Die toediening van die gees lei egter tot die lewe, is blywend en is oorvloedig in heerlikheid. Wanneer “Moses gelees word”, lê daar ’n sluier oor die harte van die kinders van Israel, maar wanneer hulle hulle tot Jehovah wend, word die sluier weggeneem en word hulle “van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid”.—3:3, 15, 18.
9. Hoe beskryf Paulus die skat van die bediening?
9 Dan vervolg Paulus: ‘Ons het hierdie bediening weens die barmhartigheid wat aan ons getoon is. Ons het van die heimlik skandelike dinge afstand gedoen en het nie God se woord vervals nie, maar ons het ons aanbeveel deur die waarheid aan die lig te bring. As die boodskap van die evangelie bedek is, is dit omdat die god van hierdie wêreld die sinne van die ongelowiges verblind het. Ons harte is egter verlig met die glorieryke kennis van God deur die aangesig van Christus. Hoe groot is hierdie skat wat ons het tog nie! Dit is in erdekruike sodat die krag wat die normale te bowe gaan van God mag wees. Onder vervolging en druk, ja, wanneer die dood self dreig, beoefen ons geloof en gee ons nie moed op nie, want die kortstondige verdrukking bewerk vir ons ’n alles oortreffende gewig van heerlikheid wat ewigdurend is. Ons hou derhalwe ons oë gevestig op die onsigbare dinge.’—4:1-18.
10. (a) Wat sê Paulus oor diegene wat in eendrag met Christus is? (b) Hoe beveel Paulus homself as ’n bedienaar van God aan?
10 ‘Ons weet’, skryf Paulus, ‘dat ons aardse huis plek sal maak vir ’n ewige in die hemele. Intussen gaan ons in geloof voort en het ons goeie moed. Hoewel ons van Christus afwesig is, streef ons daarna om hom welbehaaglik te wees’ (5:1, 7-9). Hy wat in eendrag met Christus is, is “’n nuwe skepsel” en het ’n bediening van versoening. Hulle is “gesante om Christus wil” (5:17, 20). Paulus beveel homself in elke opsig as ’n bedienaar van God aan. Hoe? ‘Deur veel te verduur op die gebied van verdrukkinge, slae, arbeid, slapelose nagte; deur reinheid, deur kennis, deur lankmoedigheid, deur vriendelikheid, deur heilige gees, deur ongeveinsde liefde, deur woorde van waarheid, deur God se krag, as armes wat talle ryk maak, as mense wat niks het nie en tog alles besit.’—6:4-10.
11. Watter raad en waarskuwing gee Paulus?
11 ‘Volbring die heiligmaking in die vrees van God’ (6:11–7:16). Paulus sê vir die Korinthiërs: ‘Ons hart het verruim geword om julle te ontvang.’ Hulle moet ook verruim word in hulle tere geneentheid. Maar nou volg ’n waarskuwing! “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie” (6:11, 14). Watter deelgenootskap het die lig met die duisternis, of Christus met Belial? As ’n tempel van ’n lewende God moet hulle hulle afskei en nie meer iets onreins aanraak nie. Paulus sê: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”—7:1.
12. Waarom het Paulus hom verheug oor die berig uit Korinthe?
12 Paulus sê voorts: “Ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking” (7:4). Waarom? Nie net weens die teenwoordigheid van Titus nie, maar ook weens die goeie berig uit Korinthe oor hulle verlange, hulle droefheid en hulle ywer vir Paulus. Hy besef dat sy eerste brief tydelike droefheid veroorsaak het, maar dit verheug hom dat die Korinthiërs se droefheid bekering meegebring het wat tot redding lei. Hy prys hulle vir hulle samewerking met Titus.
13. (a) Watter voorbeelde van vrygewigheid haal Paulus aan? (b) Watter beginsels bespreek Paulus in verband met mededeelsaamheid?
13 Vrygewigheid sal beloon word (8:1–9:15). In verband met bydraes vir die behoeftige “heiliges” haal Paulus die voorbeeld van die Macedoniërs aan, wie se vrygewigheid ondanks hulle groot armoede in werklikheid bo hulle vermoë was; en hy hoop nou om dieselfde mededeelsaamheid aan die kant van die Korinthiërs te sien as ’n bewys van die egtheid van hulle liefde vir die Here Jesus Christus, wat arm geword het sodat hulle ryk kan wees. Hierdie bydraes ooreenkomstig wat hulle het, sal tot ’n gelykheid lei, sodat die een met baie nie te veel sal hê nie, en die een met min, nie te min nie. Titus en ander word in verband met hierdie liefdegawe na hulle gestuur. Paulus het oor die vrygewigheid en bereidwilligheid van die Korinthiërs geroem, en hy wil nie hê dat hulle beskaam moet word deur ’n versuim om die milde gawe volledig te maak nie. Ja, “wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai”. Laat dit uit die hart kom, want “God het ’n blymoedige gewer lief”. Hy kan ook sy onverdiende goedheid teenoor hulle oorvloedig maak en hulle vir elke soort vrygewigheid verryk. “God sy dank vir sy onuitspreeklike gawe.”—9:1, 6, 7, 15.
14. Watter argumente voer Paulus ter verdediging van sy apostelskap aan?
14 Paulus voer bewyse aan vir sy apostelskap (10:1–13:13). Paulus erken dat hy in teenwoordigheid gering is. Maar Christene voer nie ’n stryd volgens die vlees nie; hulle wapens is geestelik, “kragtig deur God” om redenasies wat in stryd met die kennis van God is omver te werp (10:4). Party, wat net sien wat voor oë is, sê dat die apostel se briewe gewigtig is maar sy spraak veragtelik. Hulle moet weet dat Paulus se dade net dieselfde as sy woord deur briewe sal wees. Die Korinthiërs moet besef dat Paulus nie roem oor prestasies in iemand anders se gebied nie. Hy het self die goeie nuus na hulle gebring. As daar egter geroem word, moet dit in Jehovah wees.
15. (a) Met watter illustrasies spreek Paulus hom teen die valse apostels uit? (b) Wat is Paulus se eie reputasie?
15 Paulus voel dat dit sy verantwoordelikheid is om die Korinthiese gemeente as ’n rein maagd vir Christus aan te bied. Net soos Eva deur die Slang se listigheid verlei is, bestaan die gevaar dat hulle verstande verderf kan word. Paulus spreek hom dus sterk uit teen die sogenaamde “uitnemende apostels” van die Korinthiese gemeente (11:5). Hulle is valse apostels. Satan self verander hom voortdurend in ’n engel van die lig, en daarom is dit geen wonder dat sy dienaars dieselfde doen nie. Maar hoe vergelyk hulle werke as dienaars van Christus met dié van Paulus? Hy het baie verduur: gevangenskap, slae, drie keer skipbreuk, baie gevare, dikwels slapelose nagte of gebrek aan voedsel. Tog het hy ondanks al hierdie dinge nooit die behoeftes van die gemeentes uit die oog verloor nie en was hy altyd ontstoke wanneer iemand tot struikeling gebring is.
16. (a) Waaroor kan Paulus roem, maar waarom sal hy liewer oor sy swakhede praat? (b) Hoe het Paulus bewyse van sy apostelskap verskaf?
16 As enigiemand dus rede het om te roem, is dit Paulus. Kon die ander sogenaamde apostels in Korinthe sê dat hulle tot in die paradys weggeruk is om onuitspreeklike dinge te hoor? Tog praat Paulus van sy swakhede. Hy het “’n doring in die vlees” gekry sodat hy nie te verhewe sou voel nie. Paulus het versoek dat dit verwyder word, maar is meegedeel: “My genade is vir jou genoeg.” Paulus wil eerder oor sy swakhede roem, sodat “die krag van Christus” soos ’n tent oor hom kan bly (12:7, 9). Nee, Paulus staan nie agter by die sogenaamde “uitnemende apostels” nie, en die Korinthiërs het die bewyse van apostelskap gesien wat hy onder hulle verrig het “met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade”. Hy soek nie hulle besittings nie, net soos Titus en sy ander medewerkers wat hy gestuur het hulle nie ten koste van die gemeente bevoordeel het nie.—12:11, 12.
17. Watter laaste vermaning gee Paulus die Korinthiërs?
17 Alles is tot opbouing. Paulus spreek egter die vrees uit dat hy, wanneer hy in Korinthe aankom, party sal vind wat hulle nie van die werke van die vlees bekeer het nie. Hy waarsku die sondaars vooruit dat hy die gepaste stappe sal doen en niemand sal spaar nie, en hy raai almal in die gemeente aan om hulle voortdurend te beproef of hulle in die geloof in eendrag met Jesus Christus is. Paulus en Timotheüs sal vir hulle tot God bid. Hy maan hulle om hulle te verheug en tot eenheid herstel te word sodat die God van liefde en vrede met hulle sal wees, en hy sluit af deur groete van die heiliges en sy eie beste wense vir hulle geestelike seën te stuur.
WAAROM NUTTIG
18. Watter regte beskouing van die bediening moet Christene hê?
18 Paulus se waardering vir die Christelike bediening, soos uitgedruk in Tweede Korinthiërs, is inderdaad stimulerend en bemoedigend! Laat ons dit soos hy beskou. Die Christenbedienaar wat deur God voldoende bekwaam gemaak is, dryf nie handel met die Woord nie, maar dien uit opregtheid. Dit is nie die een of ander geskrewe dokument wat hom aanbeveel nie, maar die vrugte wat hy in die bediening dra. Hoewel die bediening inderdaad iets glorieryks is, is dit egter geen rede vir hom om opgeblase te word nie. God se knegte het, as onvolmaakte mense, hierdie skat van diens in brose erdekruike sodat daar duidelik gesien kan word dat die krag van God af kom. Dit verg derhalwe nederigheid om die heerlike voorreg om God se dienaars te wees te aanvaar, en wat ’n onverdiende goedheid van God is dit tog om as “gesante om Christus wil” te dien! Hoe gepas was Paulus se vermaning tog dat ons “die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie”!—2:14-17; 3:1-5; 4:7; 5:18-20; 6:1.
19. In watter opsigte het Paulus ’n uitsonderlike voorbeeld vir Christenbedienaars in ons tyd gestel, veral vir opsieners?
19 Paulus het gewis ’n uitstekende voorbeeld vir Christenbedienaars gestel. In die eerste plek het hy die Hebreeuse Geskrifte waardeer en bestudeer, want hy het herhaaldelik daaruit aangehaal, toespelinge daarop gemaak en dit toegepas (2 Kor. 6:2, 16-18; 7:1; 8:15; 9:9; 13:1; Jes. 49:8; Lev. 26:12; Jes. 52:11; Eseg. 20:41; 2 Sam. 7:14; Hos. 1:10). As opsiener het hy bowendien diepe besorgdheid oor die kudde getoon en gesê: “Ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele.” Hy het homself geheel en al ten behoewe van die broers gegee, soos die verslag duidelik toon (2 Kor. 12:15; 6:3-10). Hy was onvermoeid in sy arbeid terwyl hy in die Korinthiese gemeente onderrig, vermaan en dinge reggestel het. Hy het ronduit teen deelgenootskap met die duisternis gewaarsku deur vir die Korinthiërs te sê: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie.” Weens sy liefdevolle besorgdheid oor hulle wou hy nie sien dat hulle verstande verderf word “soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het” nie, en daarom het hy hulle kragtig gemaan: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” Hy het hulle tot Christelike vrygewigheid aangespoor deur vir hulle te toon dat ‘God ’n blymoedige gewer liefhet’, en hy het self innige waardering en dank teenoor God uitgespreek vir Sy onbeskryflike vrye gawe. Paulus se broers in Korinthe was gewis in liefde op die vleestafel van sy hart geskryf, en sy toegewyde diens in hulle belang was alles wat ’n ywerige, op-en-wakker opsiener moet kenmerk. Wat ’n uitsonderlike voorbeeld vir ons in hierdie tyd!—6:14; 11:3; 13:5; 9:7, 15; 3:2.
20. (a) Hoe lei Paulus ons verstande in die regte rigting? (b) Op watter glorieryke hoop wys Tweede Korinthiërs?
20 Die apostel Paulus lei ons verstande in die regte rigting deur te wys op “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” as die ware bron van krag ten tyde van beproewing. Dit is hy wat “ons troos in al ons verdrukking” sodat ons kan volhard tot redding in sy nuwe wêreld. Paulus wys ook op die glorieryke hoop op “’n gebou . . . van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” en sê: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” Tweede Korinthiërs bevat inderdaad wonderlike woorde van versekering vir diegene wat, soos Paulus, die hemelse Koninkryk sal beërwe.—1:3, 4; 5:1, 17.