Die gees getuig met ons gees
“Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is.”—ROMEINE 8:16.
1-3. Watter gebeurtenisse het Pinkster ’n spesiale dag gemaak, en hoe het daardie gebeurtenisse vervul wat in die Skrif voorspel is? (Sien prent aan begin van artikel.)
DIT was Sondagoggend in Jerusalem. Hierdie dag was spesiaal en opwindend. Dit was die Pinksterfees, ’n heilige fees aan die begin van die koringoes. Die hoëpriester het daardie oggend die gereelde offerandes by die tempel gebring. Omstreeks negeuur het hy twee gesuurde brode geoffer wat gemaak is van die eerste koring, of die eerstelinge, van die oes. Die hoëpriester het die brode heen en weer beweeg om dit vir Jehovah aan te bied. Dit was Pinkster in die jaar 33.—Levitikus 23:15-20.
2 Die hoëpriester het elke jaar, honderde jare lank, hierdie beweegoffer gebring. Die offer het ten nouste verband gehou met iets baie belangriks wat op Pinkster in die jaar 33 gebeur het. En dit het met 120 van Jesus se dissipels gebeur wat saam in ’n bovertrek in Jerusalem gebid het (Handelinge 1:13-15). Die profeet Joël het 800 jaar vroeër oor hierdie gebeurtenis geskryf (Joël 2:28-32; Handelinge 2:16-21). Wat het gebeur wat so belangrik was?
3 Lees Handelinge 2:2-4. Op Pinkster in die jaar 33 het God sy heilige gees op daardie groep dissipels uitgestort, en hulle is gesalf (Handelinge 1:8). Toe het ’n skare om hulle begin saamdrom, en die dissipels het begin praat oor die wonderlike dinge wat hulle kort tevore gesien en gehoor het. Die apostel Petrus het verduidelik wat gebeur het en waarom dit so belangrik was. Toe het hy vir die skare gesê: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes, en julle sal die heilige gees as vrye gawe ontvang.” Ongeveer 3 000 mense is daardie dag gedoop, en ook hulle het heilige gees ontvang.—Handelinge 2:37, 38, 41.
4. (a) Waarom moet ons belangstel in wat by Pinkster gebeur het? (b) Watter ander belangrike gebeurtenis het moontlik op dieselfde dag baie jare tevore gebeur? (Sien eindnota.)
4 Wat het die hoëpriester en die offerande wat hy elke Pinkster gebring het, voorgestel? Die hoëpriester het Jesus voorgestel. Die brode het die gesalfde dissipels van Jesus voorgestel. Hierdie dissipels is gekies uit sondige mense en word “eerstelinge” genoem (Jakobus 1:18). God het hulle as sy kinders aangeneem en het hulle gekies om saam met Jesus as konings in die hemel te heers as deel van God se Koninkryk (1 Petrus 2:9). Jehovah sal sy Koninkryk gebruik om alle gehoorsame mense te seën. Pinkster van die jaar 33 is dus vir ons baie belangrik, hetsy ons die hoop het om in die hemel saam met Jesus te lewe of om op ’n paradysaarde te lewe.[1]—Sien eindnota.
WAT GEBEUR WANNEER IEMAND GESALF WORD?
5. Hoe weet ons dat nie almal wat gesalf is, op presies dieselfde manier gesalf word nie?
5 Die dissipels in die bovertrek sou daardie dag nooit vergeet nie. Op elkeen se kop was daar iets wat soos ’n vlam gelyk het. Jehovah het hulle die vermoë gegee om in ’n vreemde taal te praat. Hulle het glad nie getwyfel dat hulle met die heilige gees gesalf is nie (Handelinge 2:6-12). Maar hierdie wonderbaarlike dinge gebeur nie met alle Christene wanneer hulle gesalf word nie. Byvoorbeeld, die Bybel sê nie dat iets wat soos ’n vlam gelyk het op die kop verskyn het van elkeen van die duisende in Jerusalem wat later daardie dag gesalf is nie. Hulle is gesalf toe hulle gedoop is (Handelinge 2:38). En nie alle gesalfde Christene word by hulle doop gesalf nie. Die Samaritane is die een of ander tyd nadat hulle gedoop is, gesalf (Handelinge 8:14-17). En in ’n buitengewone geval is Kornelius en sy huisgenote gesalf voordat hulle gedoop is.—Handelinge 10:44-48.
6. Wat ontvang alle gesalfdes, en watter uitwerking het dit op hulle?
6 Dit is duidelik dat Christene op verskillende maniere besef dat hulle gesalf is. Party het moontlik onmiddellik besef dat Jehovah hulle gesalf het. Ander het dit met verloop van tyd besef. Maar die apostel Paulus het verduidelik wat met elkeen van hulle gebeur. Hy het gesê: “Nadat julle geglo het, [is julle] met die beloofde heilige gees verseël, wat ’n vooruitgegewe pand van ons erfenis is” (Efesiërs 1:13, 14). Jehovah gebruik dus sy heilige gees om dit aan hierdie Christene baie duidelik te maak dat hy hulle gekies het om hemel toe te gaan. Die heilige gees is dus “’n vooruitgegewe pand”, of ’n bewys aan hulle dat hulle in die toekoms vir ewig in die hemel sal lewe, en nie op die aarde nie.—Lees 2 Korintiërs 1:21, 22; 5:5.
Elke gesalfde Christen moet hard stry sodat niks veroorsaak dat hy ophou om Jehovah te dien nie
7. Wat moet elke gesalfde Christen doen om sy beloning in die hemel te ontvang?
7 Beteken dit dat ’n Christen beslis sy beloning sal ontvang as hy gesalf is? Nee. Hy is seker dat hy genooi is om hemel toe te gaan. Maar hy sal net beloon word as hy aan Jehovah getrou bly. Petrus het dit so verduidelik: “Daarom, broers, moet julle des te meer julle uiterste bes doen om julle roeping en verkiesing vir julle te verseker; want as julle aanhou om hierdie dinge te doen, sal julle beslis nooit faal nie. Trouens, so sal die ingang in die ewige koninkryk van ons Here en Redder Jesus Christus ryklik aan julle verskaf word” (2 Petrus 1:10, 11). Elke gesalfde Christen moet dus hard stry sodat niks veroorsaak dat hy ophou om Jehovah te dien nie. Al is hy genooi, of geroep, om hemel toe te gaan, sal hy nie sy beloning ontvang as hy nie getrou bly nie.—Hebreërs 3:1; Openbaring 2:10.
HOE WEET IEMAND?
8, 9. (a) Waarom vind die meeste mense dit dalk moeilik om te verstaan wat gebeur wanneer iemand gesalf word? (b) Hoe weet iemand dat hy genooi is om hemel toe te gaan?
8 Vandag vind die meeste van God se knegte dit dalk moeilik om te verstaan wat met iemand gebeur wanneer God hom salf. Dit is normaal omdat hulle nie gesalf is nie. God het mense geskep om vir ewig op die aarde te lewe, nie in die hemel nie (Genesis 1:28; Psalm 37:29). Maar Jehovah het party gekies om konings en priesters in die hemel te wees. Wanneer hy hulle salf, verander hulle hoop en hulle denkwyse en sien hulle uit na lewe in die hemel.—Lees Efesiërs 1:18.
9 Maar hoe weet iemand dat hy of sy genooi is om hemel toe te gaan? Let op wat Paulus gesê het vir die gesalfde broers in Rome, wat “geroep [is] om heiliges te wees”. Hy het vir hulle gesê: “Julle het nie ’n gees van slawerny ontvang wat weer vrees veroorsaak nie, maar julle het ’n gees van aanneming as kinders ontvang, en deur dié gees roep ons uit: ‘Abba, Vader!’ Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is” (Romeine 1:7; 8:15, 16). God gebruik sy heilige gees om dit aan iemand duidelik te maak dat hy of sy genooi is om as ’n koning saam met Jesus in die hemel te regeer.—1 Tessalonisense 2:12.
10. Hoe moet ons 1 Johannes 2:27 verstaan waar dit sê dat ’n gesalfde Christen nie iemand anders nodig het om hom te leer nie?
10 Diegene wat hierdie uitnodiging van God ontvang, het nie enigiemand anders nodig om vir hulle te sê dat hulle gesalf is nie. Jehovah gee hulle die oortuiging. Die apostel Johannes sê vir gesalfde Christene: “Julle het ’n salwing van die heilige; julle het almal kennis.” Hy sê ook: “Wat julle betref, die salwing wat julle van hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar, soos die salwing wat van hom kom, julle van alles leer, en waaragtig is en geen leuen is nie, en net soos dit julle geleer het, moet julle in eenheid met hom bly” (1 Johannes 2:20, 27). Gesalfde Christene moet soos alle ander Christene deur Jehovah geleer word. Maar hulle het nie enigiemand nodig om te bevestig dat hulle gesalf is nie. Jehovah het die sterkste krag, sy heilige gees, gebruik om dit baie duidelik aan hulle te maak dat hulle gesalf is!
HULLE WORD “WEER GEBORE”
11, 12. Waaroor wonder ’n gesalfde Christen dalk, maar waaroor twyfel hy nooit?
11 Wanneer Christene met die heilige gees gesalf word, ondergaan hulle ’n groot verandering. Trouens, Jesus het gesê dat hulle “weer gebore” word (Johannes 3:3, 5). Hy het toe verduidelik: “Moenie jou verwonder omdat ek vir jou gesê het: Julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar dit wil, en jy hoor die geluid daarvan, maar jy weet nie waar dit vandaan kom en waarheen dit gaan nie. So is elkeen wat uit die gees gebore is” (Johannes 3:7, 8). Dit is duidelik dat dit onmoontlik is om aan iemand wat nie gesalf is nie, te verduidelik presies hoe dit voel om gesalf te wees.[2]—Sien eindnota.
Iemand wat gesalf is, twyfel nie dat Jehovah hom gekies het nie
12 Iemand wat gesalf is, wonder dalk: ‘Waarom het Jehovah my gekies en nie iemand anders nie?’ Hy kan ook wonder of hy goed genoeg is vir hierdie verantwoordelikheid. Maar hy twyfel nie dat Jehovah hom gekies het nie. Sy hart loop eerder oor van vreugde, en hy is dankbaar vir hierdie gawe. Gesalfdes voel soos Petrus toe hy gesê het: “Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus geloof word, want ooreenkomstig sy groot barmhartigheid het hy ons ’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode gegee, tot ’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis. Dit word in die hemele bewaar vir julle” (1 Petrus 1:3, 4). Wanneer gesalfdes hierdie woorde lees, weet hulle sonder enige twyfel dat hulle Vader met hulle persoonlik praat.
13. Hoe verander ’n persoon se denkwyse wanneer hy met die heilige gees gesalf word, en hoe gebeur dit?
13 Voordat Jehovah hierdie Christene genooi het om hemel toe te gaan, het hulle die hoop gehad om vir ewig op die aarde te lewe. Hulle het uitgesien na die tyd wanneer Jehovah die aarde in ’n paradys sal omskep en alle goddeloosheid uit die weg sal ruim. Dalk het hulle daarna uitgesien om ’n familielid of ’n vriend wat gesterf het, terug te verwelkom. En hulle het daarna uitgesien om ’n huis te bou en daarin te bly of om bome te plant en die vrugte daarvan te eet (Jesaja 65:21-23). Waarom het hulle anders begin dink? Was dit omdat hulle terneergedruk was of baie gely het? Het hulle skielik besluit dat dit vervelig sou wees om vir ewig op die aarde te lewe en dat hulle nie hier gelukkig sou wees nie? Of wou hulle weet hoe dit sou wees om in die hemel te lewe? Nee. God is eerder die een wat hierdie besluit vir hulle geneem het. Toe hy hulle genooi het, het hy sy heilige gees gebruik om hulle denkwyse sowel as die beloning waarna hulle uitsien, te verander.
14. Hoe voel gesalfdes oor hulle lewe hier op die aarde?
14 Beteken dit dus dat gesalfdes wil sterf? Paulus het beskryf hoe gesalfdes voel. Hy het hulle menseliggaam met ’n “tent” vergelyk en gesê: “Trouens, ons wat in hierdie tent is, kreun, omdat ons beswaar is; want ons wil dit nie aflê nie, maar wil ons met die ander een beklee, sodat die sterflike deur die lewe verswelg kan word” (2 Korintiërs 5:4). Hierdie Christene wil nie sterf nie. Hulle geniet die lewe en wil elke dag gebruik om Jehovah saam met hulle familie en vriende te dien. Maar ongeag wat hulle doen, hulle hou hulle wonderlike toekomshoop in gedagte.—1 Korintiërs 15:53; 2 Petrus 1:4; 1 Johannes 3:2, 3; Openbaring 20:6.
HET JEHOVAH JOU GENOOI?
15. Watter dinge is nie ’n aanduiding daarvan dat iemand met die heilige gees gesalf is nie?
15 Dalk wonder jy of Jehovah jou genooi het om hemel toe te gaan. As jy dink dat hy jou dalk genooi het, moet jy oor hierdie belangrike vrae nadink: Meen jy dat jy besonder ywerig is in die predikingswerk? Geniet jy dit baie om die Bybel te bestudeer en om oor “die diep dinge van God” te leer? (1 Korintiërs 2:10). Voel jy dat Jehovah jou wonderlike resultate in die predikingswerk gegee het? Is dit jou grootste begeerte om Jehovah se wil te doen? Is jy baie lief vir mense en wil jy hulle graag help om Jehovah te dien? Het jy gesien hoe Jehovah jou op talle spesifieke maniere in jou lewe gehelp het? Beteken dit dat jy genooi is om hemel toe te gaan as jou antwoord op al dié vrae ja is? Nee. Waarom nie? Omdat al God se knegte so kan voel, hetsy hulle gesalf is of nie. En Jehovah kan deur middel van sy heilige gees dieselfde krag aan enige van sy knegte gee, ongeag wat hulle beloning sal wees. Trouens, as jy wonder of jy hemel toe sal gaan, beteken dit dat jy nie genooi is nie. Diegene wat deur Jehovah gekies is, wonder nie hieroor nie! Hulle weet!
16. Hoe weet ons dat nie almal wat God se gees ontvang het, genooi is om hemel toe te gaan nie?
16 Die Bybel bevat baie voorbeelde van getroues wat Jehovah se heilige gees ontvang het, maar nie hemel toe gegaan het nie. Een voorbeeld is Johannes die Doper. Jesus het gesê dat daar niemand groter as Johannes is nie, maar toe het hy gesê dat Johannes nie as ’n koning in die hemel sou heers nie (Matteus 11:10, 11). Dawid is ook deur heilige gees gelei (1 Samuel 16:13). Heilige gees het hom gehelp om diep dinge oor Jehovah te verstaan en het hom ook gerig om dele van die Bybel te skryf (Markus 12:36). Maar die apostel Petrus het gesê dat Dawid “nie na die hemele opgevaar [het] nie” (Handelinge 2:34). Jehovah het sy heilige gees gebruik om hierdie persone die krag te gee om wonderlike dinge te doen, maar hy het dit nie gebruik om hulle te nooi om in die hemel te lewe nie. Beteken dit dat hulle nie getrou genoeg of bekwaam was om in die hemel te regeer nie? Nee. Dit beteken net dat Jehovah hulle sal opwek om in die Paradys op die aarde te lewe.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.
17, 18. (a) Na watter beloning sien die meeste van God se knegte van vandag uit? (b) Watter vrae sal ons in die volgende artikel bespreek?
17 Die meeste van God se knegte wat vandag lewe, sal nie hemel toe gaan nie. Soos Abraham, Dawid, Johannes die Doper en baie ander mans en vroue sien hulle daarna uit om op die aarde te lewe wanneer God se regering oor hulle sal heers (Hebreërs 11:10). Altesaam 144 000 sal saam met Jesus in die hemel heers. Maar die Bybel sê dat “die oorblywendes” van die 144 000 gesalfdes in die tyd van die einde nog op die aarde sal wees (Openbaring 12:17). Die meeste van die 144 000 het dus reeds gesterf en is in die hemel.
18 Maar hoe moet diegene met die hoop om op die aarde te lewe, reageer wanneer iemand sê dat hy gesalf is? Hoe moet jy iemand in jou gemeente behandel wat tydens die Gedenkmaal die brood en die wyn begin gebruik? En sê nou die getal van diegene wat sê dat hulle gesalf is, word al hoe groter? Moet dit jou bekommer? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.
^ [1] (paragraaf 4) Die Pinksterfees is moontlik gevier op dieselfde tyd van die jaar as wat die Wet aan Moses by Sinai gegee is (Eksodus 19:1). Moses het die nasie Israel moontlik op dieselfde dag van die jaar in die Wetsverbond ingebring as wat Jesus die gesalfdes in die nuwe verbond ingebring het.
^ [2] (paragraaf 11) Vir ’n verdere verduideliking van wat dit beteken om weer gebore te word, sien Die Wagtoring van 1 April 2009, bladsy 3-11.