Die vroeë Christene en die Mosaïese Wet
“Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus gelei het.”—GALASIËRS 3:24.
1, 2. Watter voordele het Israeliete ontvang wat die Mosaïese Wet sorgvuldig onderhou het?
IN 1513 v.G.J. het Jehovah die Israeliete ’n regskode gegee. Hy het vir die volk gesê dat hy hulle sou seën en dat hulle gelukkige, bevredigende lewens sou lei as hulle sy stem gehoorsaam.—Eksodus 19:5, 6.
2 Daardie regskode, wat die Mosaïese Wet genoem is, of bloot “die Wet”, was “heilig en regverdig en goed” (Romeine 7:12). Dit het deugde voorgestaan soos goedhartigheid, eerlikheid, sedelikheid en behulpsaamheid (Eksodus 23:4, 5; Levitikus 19:14; Deuteronomium 15:13-15; 22:10, 22). Die Wet het die Jode ook aangespoor om mekaar lief te hê (Levitikus 19:18). Verder moes hulle nie omgaan of trou met heidene wat hulle nie aan die Wet onderwerp het nie (Deuteronomium 7:3, 4). Die Mosaïese Wet was ’n ‘muur’ wat die Jode en die heidene geskei het en voorkom het dat God se volk deur heidense denke en gebruike besmet word.—Efesiërs 2:14, 15; Johannes 18:28.
3. Wat was die doel van die Wet, aangesien niemand dit volmaak kon onderhou nie?
3 Maar selfs die mees pligsgetroue Jode kon nie God se Wet volmaak onderhou nie. Het Jehovah te veel van hulle verwag? Nee. Een van die redes waarom die Wet aan Israel gegee is, was “om oortredings openbaar te maak” (Galasiërs 3:19). Die Wet het opregte Jode daarvan bewus gemaak dat hulle ’n Verlosser dringend nodig het. Toe Hy gekom het, was getroue Jode verheug. Hulle bevryding van die vloek van sonde en die dood was op hande!—Johannes 1:29.
4. In watter sin was die Wet ’n ‘tugmeester wat na Christus gelei het’?
4 Die Mosaïese Wet sou ’n tydelike reëling wees. In ’n brief aan mede-Christene het die apostel Paulus dit beskryf as ’n ‘tugmeester wat na Christus gelei het’ (Galasiërs 3:24). In die ou tyd het ’n tugmeester kinders skool toe en terug geneem. Hy was gewoonlik nie die onderwyser nie; hy het die kinders bloot na die onderwyser geneem. Net so was die Mosaïese Wet bedoel om godvresende Jode na Christus te lei. Jesus het belowe dat hy “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” met sy volgelinge sou wees (Matteus 28:20). Nadat die Christengemeente gestig is, het die “tugmeester”—die Wet—dus geen nut meer gehad nie (Romeine 10:4; Galasiërs 3:25). Maar party Joodse Christene het nie dadelik hierdie lewensbelangrike waarheid gesnap nie. Gevolglik het hulle voortgegaan om selfs ná Jesus se opstanding aspekte van die Wet te onderhou. Ander het egter hulle denke verander. Hulle het sodoende ’n goeie voorbeeld gestel vir ons wat vandag lewe. Kom ons kyk hoe.
Opwindende verwikkelinge in die Christelike leer
5. Wat is Petrus in ’n visioen aangesê om te doen, en waarom was hy geskok?
5 In 36 G.J. het die Christenapostel Petrus ’n merkwaardige visioen gehad. ’n Stem uit die hemel het hom by daardie geleentheid beveel om voëls en diere wat onder die Wet as onrein beskou is, te slag en te eet. Petrus was geskok! Hy het nooit voorheen “iets geëet wat verontreinig en onrein is nie”. Maar die stem het vir hom gesê: “Hou op om die dinge wat God gereinig het, verontreinig te noem” (Handelinge 10:9-15). Petrus het nie verbete vasgeklou aan die Wet nie, maar sy beskouing verander. Dit het daartoe gelei dat hy iets verbasends omtrent God se voornemens geleer het.
6, 7. Wat het Petrus in staat gestel om tot die slotsom te kom dat hy nou vir nie-Jode kon getuig, en watter ander gevolgtrekkings het hy waarskynlik gemaak?
6 Dit is wat gebeur het. Drie manne het na die huis gegaan waar Petrus gebly het om hom te vra om saam met hulle na die huis van ’n vroom onbesnede nie-Jood met die naam Kornelius te gaan. Petrus het hierdie manne in die huis ingenooi en hulle daar onthaal. Omdat Petrus die betekenis van hierdie visioen begryp het, het hy hulle die volgende dag na Kornelius se huis vergesel. Daar het Petrus ’n deeglike getuienis oor Jesus Christus gegee. Petrus het by daardie geleentheid gesê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.” Nie net Kornelius nie, maar ook sy familie en intieme vriende het geloof in Jesus beoefen, en “die heilige gees [het] op almal geval wat die woord gehoor het”. Petrus het Jehovah se hand in die saak gesien en “beveel dat hulle in die naam van Jesus Christus gedoop moet word”.—Handelinge 10:17-48.
7 Wat het Petrus in staat gestel om tot die slotsom te kom dat nie-Jode wat hulle nie aan die Mosaïese Wet onderwerp het nie, nou volgelinge van Jesus Christus kon word? Geestelike onderskeidingsvermoë. Aangesien God sy goedkeuring van onbesnede nie-Jode getoon het deur sy gees oor hulle uit te stort, het Petrus begryp dat hulle vir doop aanvaar kon word. Terselfdertyd het Petrus blykbaar besef dat God nie van nie-Joodse Christene verwag het om die Wet van Moses te onderhou as ’n vereiste vir doop nie. Sou jy, as jy destyds gelewe het, so gewillig soos Petrus gewees het om jou beskouing te verander?
Party het voortgegaan om die “tugmeester” te volg
8. Watter beskouing van die besnydenis wat van Petrus s’n verskil het, is deur party Christene in Jerusalem voorgestaan, en waarom?
8 Nadat Petrus Kornelius se huis verlaat het, is hy na Jerusalem toe. Die nuus dat onbesnede nie-Jode “die woord van God ontvang het”, het die gemeente daar bereik, en party Joodse dissipels was ontsteld hieroor (Handelinge 11:1-3). Hoewel “die voorstanders van die besnydenis” erken het dat nie-Jode Jesus se volgelinge kon word, het hulle daarop aangedring dat hierdie mense uit die nie-Joodse nasies die Wet moet onderhou as hulle gered wil word. Daarenteen was die besnydenis nie noodwendig ’n geskil in oorheersend nie-Joodse gebiede waar daar min Joodse Christene was nie. Die twee beskouings het ongeveer 13 jaar lank voortgeduur (1 Korintiërs 1:10). Wat ’n toets moes dit tog vir daardie vroeë Christene gewees het—veral vir die nie-Jode wat in Joodse gebiede gewoon het!
9. Waarom was dit noodsaaklik dat die geskil oor die besnydenis opgelos word?
9 Die geskil het uiteindelik in 49 G.J. ’n kritieke punt bereik toe Christene uit Jerusalem na Siriese Antiogië gekom het, waar Paulus gepreek het. Hulle het mense begin leer dat nie-Joodse bekeerlinge volgens die Wet besny moes word. En daar het groot onenigheid en ’n heftige woordewisseling tussen hulle en Paulus en Barnabas ontstaan! As die geskil nie opgelos sou word nie, sou dit ongetwyfeld party Christene, hetsy van Joodse of nie-Joodse agtergrond, laat struikel het. Daar is dus gereël dat Paulus en ’n paar ander na Jerusalem toe gaan en die Christenbestuursliggaam vra om die geskil eens en vir altyd op te los.—Handelinge 15:1, 2, 24.
Verskillende menings—toe eenheid!
10. Wat is party van die punte wat die bestuursliggaam oorweeg het voordat hulle oor die status van die nie-Jode besluit het?
10 By ’n vergadering wat byeengeroep is, het party blykbaar die besnydenis voorgestaan terwyl ander die teenoorgestelde beskouing voorgelê het. Maar hulle het hulle nie deur hulle gevoelens laat lei nie. Nadat daar lank geredeneer is, het die apostels Petrus en Paulus die tekens beskryf wat Jehovah onder die onbesnedenes verrig het. Hulle het verduidelik dat God die heilige gees oor onbesnede nie-Jode uitgestort het. Hulle het in werklikheid gevra: ‘Kan die Christengemeente tereg diegene verwerp wat deur God aanvaar is?’ Toe het die dissipel Jakobus ’n gedeelte uit die Skrif gelees wat almal teenwoordig gehelp het om Jehovah se wil in die saak te sien.—Handelinge 15:4-17.
11. Watter faktor het nie die besluit oor die besnydenis beïnvloed nie, en wat toon dat die besluit Jehovah se seën gehad het?
11 Alle oë was nou op die bestuursliggaam gevestig. Sou hulle Joodse erfenis hulle ten gunste van die besnydenis laat besluit? Nee. Hierdie getroue manne was vasbeslote om die Skrif en die leiding van God se heilige gees te volg. Nadat die bestuursliggaam al die tersaaklike getuienis aangehoor het, het hulle almal saamgestem dat dit nie vir nie-Joodse Christene nodig was om besny te word en onder die Mosaïese Wet te kom nie. Toe hierdie nuus die broers bereik het, was hulle verheug, en die gemeentes het “van dag tot dag in getal [begin] toeneem”. Daardie Christene wat hulle aan duidelike teokratiese riglyne onderwerp het, is met ’n grondige skriftuurlike antwoord geseën (Handelinge 15:19-23, 28, 29; 16:1-5). ’n Belangrike vraag moes egter nog beantwoord word.
Wat van Joodse Christene?
12. Watter vraag moes nog beantwoord word?
12 Die bestuursliggaam het duidelik getoon dat dit nie vir nie-Joodse Christene nodig was om besny te word nie. Maar wat van Joodse Christene? Die bestuursliggaam se besluit het nie hierdie deel van die vraag spesifiek beantwoord nie.
13. Waarom was dit verkeerd om aan te neem dat iemand die Mosaïese Wet moes onderhou om gered te word?
13 Party Joodse Christene wat “ywerig vir die Wet” was, het voortgegaan om hulle kinders te besny en sekere aspekte van die Wet te onderhou (Handelinge 21:20). Ander het verder gegaan en selfs daarop aangedring dat Joodse Christene die Wet moes onderhou as hulle gered wou word. Maar hulle het dit heeltemal mis gehad. Hoe kon enige Christen byvoorbeeld ’n diereoffer vir die vergifnis van sondes bring? Christus se offerande het sulke offers nutteloos gemaak. Wat van die Wet se vereiste dat Jode noue omgang met nie-Jode vermy? Dit sou vir ywerige Christenevangeliedienaars baie moeilik gewees het om by daardie beperkings te bly en nog steeds die opdrag uit te voer om die nie-Jode alles te leer wat Jesus geleer het (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8; 10:28).a Daar is geen bewys dat hierdie kwessie by ’n vergadering van die bestuursliggaam opgeklaar is nie. Die gemeente is nogtans nie sonder hulp gelaat nie.
14. Watter leiding aangaande die Wet het Paulus se geïnspireerde briewe voorsien?
14 Leiding het nie in die vorm van ’n brief van die bestuursliggaam af gekom nie, maar in ander geïnspireerde briewe wat deur die apostels geskryf is. Die apostel Paulus het byvoorbeeld ’n kragtige boodskap aan die Jode en nie-Jode in Rome gestuur. In sy brief aan hulle het hy verduidelik dat ’n ware Jood “dit innerlik is, en sy besnydenis is dié van die hart deur gees” (Romeine 2:28, 29). In dieselfde brief het Paulus ’n illustrasie gebruik om te bewys dat Christene nie meer onder die Wet was nie. Hy het geredeneer dat ’n vrou nie terselfdertyd met twee mans getroud kan wees nie. Maar as haar man sterf, is sy vry om weer te trou. Paulus het toe die illustrasie toegepas en getoon dat gesalfde Christene nie aan die Mosaïese Wet onderworpe kon wees en terselfdertyd aan Christus kon behoort nie. Hulle moes ‘dood ten opsigte van die Wet’ word sodat hulle met Christus verenig kon word.—Romeine 7:1-5.
Stadig om die punt te snap
15, 16. Waarom het party Joodse Christene nie die punt aangaande die Wet gesnap nie, en wat toon dit oor die belangrikheid daarvan om geestelik wakker te bly?
15 Paulus se redenasie oor die Wet kon nie betwis word nie. Waarom kon party Joodse Christene dan nog steeds nie die punt snap nie? Om maar een ding te noem, hulle het nie geestelike onderskeidingsvermoë gehad nie. Hulle het byvoorbeeld versuim om vaste geestelike voedsel in te neem (Hebreërs 5:11-14). Hulle het ook nie Christelike vergaderinge gereeld bygewoon nie (Hebreërs 10:23-25). Nog ’n rede waarom hulle nie die punt gesnap het nie, het moontlik met die aard van die Wet te doen gehad. Dit het gedraai om dinge wat gesien en gevoel en aangeraak kon word, soos die tempel en die priesterdom. Dit was makliker vir iemand wat geen geestelikheid gehad het nie, om die Wet te aanvaar as om die dieper beginsels van die Christelike godsdiens aan te neem, wat op onsigbare werklikhede gegrond was.—2 Korintiërs 4:18.
16 Nog ’n rede waarom sekere verklaarde Christene gretig was om die Wet te onderhou, is deur Paulus in sy brief aan die Galasiërs uiteengesit. Hy het verduidelik dat hierdie mense aansien wou geniet as lede van ’n hoofstroomgodsdiens. Hulle wou nie anders as die gemeenskap wees nie en was bereid om feitlik enigiets te doen om daarby in te pas. Dit was vir hulle belangriker om die goedkeuring van mense te verkry as die goedkeuring van God.—Galasiërs 6:12.
17. Wanneer het die regte beskouing oor die onderhouding van die Wet heeltemal duidelik geword?
17 Christene met onderskeidingsvermoë wat die Goddelik geïnspireerde geskrifte van Paulus en ander noukeurig bestudeer het, het akkurate gevolgtrekkings oor die Wet gemaak. Maar dit was eers in die jaar 70 G.J. dat die regte beskouing van die Mosaïese Wet vir alle Joodse Christene heeltemal duidelik geword het. Dit het gebeur toe God toegelaat het dat Jerusalem, sy tempel en die verslae in verband met die priesterdom vernietig word. Dit het dit onmoontlik gemaak vir enigiemand om al die aspekte van die Wet te onderhou.
’n Hedendaagse toepassing van die les
18, 19. (a) Watter gesindhede moet ons aanneem en watter gesindhede moet ons vermy as ons geestelik gesond wil bly? (b) Wat leer Paulus se voorbeeld ons oor gehoorsaamheid aan die leiding wat ons van verantwoordelike broers ontvang? (Sien venster op bladsy 24.)
18 Nadat ons hierdie gebeure van lank gelede bespreek het, wonder jy miskien: ‘As ek destyds gelewe het, hoe sou ek op die progressiewe openbaring van God se wil gereageer het? So ek verbete vasgehou het aan tradisionele beskouings? Of sou ek geduldig gewag het tot die regte begrip duidelik word? En sou ek dit dan heelhartig ondersteun het?’
19 Ons kan natuurlik nie seker wees hoe ons sou gereageer het as ons destyds gelewe het nie. Maar ons kan ons afvra: ‘Hoe reageer ek vandag wanneer ons begrip van Bybelwaarhede duideliker word? (Matteus 24:45). Probeer ek om skriftuurlike riglyne toe te pas wanneer dit voorsien word en om nie net die letter van die wet te volg nie maar die gees daarvan? (1 Korintiërs 14:20). Wag ek geduldig op Jehovah wanneer dit lyk of party vrae nie beantwoord word nie?’ Dit is noodsaaklik dat ons die geestelike voedsel benut wat vandag beskikbaar is, sodat “ons nooit sal wegdryf nie” (Hebreërs 2:1). Wanneer Jehovah leiding deur middel van sy Woord, sy gees en sy aardse organisasie voorsien, moet ons noukeurig luister. As ons dit doen, sal Jehovah ons seën met eindelose lewe wat gelukkig sowel as bevredigend sal wees.
[Voetnoot]
a Toe Petrus Siriese Antiogië besoek het, het hy hartlike omgang met nie-Joodse gelowiges geniet. Maar toe Joodse Christene van Jerusalem daar aankom, het Petrus “hom onttrek en hom afgesonder uit vrees vir dié van die besnede klas”. Ons kan ons net indink hoe dit daardie nie-Joodse bekeerlinge moes seergemaak het toe die gerespekteerde apostel weier om saam met hulle te eet.—Galasiërs 2:11-13.
Hoe sou jy antwoord?
• In watter sin was die Mosaïese Wet soos ’n ‘tugmeester wat na Christus lei’?
• Hoe verklaar jy die verskillende maniere waarop Petrus en “voorstanders van die besnydenis” gereageer het op aanpassings in die begrip van die waarheid?
• Wat het jy geleer uit die manier waarop Jehovah vandag die waarheid openbaar?
[Venster/Prent op bladsy 24]
Paulus bied ’n toets nederig die hoof
Ná ’n suksesvolle sendingreis het Paulus in 56 G.J. in Jerusalem aangekom. ’n Toets het daar op hom gewag. ’n Gerug dat hy mense geleer het dat die Wet afgeskaf is, het die gemeente bereik. Die ouer manne was bang dat Paulus se uitgesprokenheid oor die Wet pas bekeerde Joodse Christene sou laat struikel en dat hulle dalk tot die slotsom sou kom dat Christene nie Jehovah se reëlings respekteer nie. Daar was vier Joodse Christene in die gemeente wat ’n gelofte afgelê het, moontlik ’n Nasireërgelofte. Hulle moes na die tempel gaan om die vereistes van die gelofte na te kom.
Die ouer manne het Paulus gevra om die vier na die tempel te vergesel en om die koste vir hulle te dra. Paulus het ten minste twee geïnspireerde briewe geskryf waarin hy aangevoer het dat onderhouding van die Wet nie ’n vereiste vir redding was nie. Maar hy het die gewete van ander in ag geneem. Hy het vroeër geskryf: “Vir dié onder die wet het ek soos een onder die wet geword . . . om dié onder die wet te wen” (1 Korintiërs 9:20-23). Hoewel Paulus nooit belangrike skriftuurlike beginsels ingeboet het nie, het hy gevoel dat hy met die voorstel van die ouer manne kon saamgaan (Handelinge 21:15-26). Dit was nie verkeerd van hom om dit te doen nie. Daar was niks onskriftuurliks omtrent die reëling van geloftes nie, en die tempel is vir ware aanbidding gebruik, nie vir afgodediens nie. Omdat hy niemand wou laat struikel nie, het Paulus aan die versoek voldoen (1 Korintiërs 8:13). Dit het ongetwyfeld groot nederigheid van Paulus geverg, ’n feit wat ons selfs groter respek vir hom gee.
[Prent op bladsy 22, 23]
Daar was jare lank verskillende beskouings oor die Mosaïese Wet onder Christene