-
Laat jou vooruitgang duidelik weesDie Wagtoring – 2001 | Augustus 1
-
-
Openbaar “die vrugte van die gees”
12. Waarom is dit belangrik om die vrugte van die gees te openbaar as ons geestelike vooruitgang wil maak?
12 Hoewel dit belangrik is om tot “die eenheid in die geloof en in die juiste kennis” te kom, is dit net so belangrik vir ons om die vrugte van God se gees in elke aspek van ons lewe te openbaar. Waarom? Omdat volwassenheid, soos ons reeds gesien het, nie ’n innerlike of verborge eienskap is nie, maar gekenmerk word deur duidelik waarneembare eienskappe wat ander tot voordeel kan strek en kan opbou. Ons strewe na geestelike vooruitgang is natuurlik nie iets wat ons doen omdat ons verfynd wil lyk of aanstellerig wil wees nie. Namate ons geestelik groei en die leiding van God se gees volg, sal daar eerder ’n wonderlike verandering in ons gesindhede en gedrag plaasvind. “Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie”, het die apostel Paulus gesê.—Galasiërs 5:16.
13. Watter verandering is ’n duidelike teken van vooruitgang?
13 Daarna het Paulus “die werke van die vlees” opgenoem, wat talryk en “openbaar” is. Voordat iemand God se vereistes leer, is sy lewe na die weë van die wêreld gevorm en moontlik gevul met sommige van die dinge wat Paulus gemeld het, naamlik: “hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodery, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede, dronkenskap, swelgerye en dergelike dinge” (Galasiërs 5:19-21). Maar namate die persoon geestelike vooruitgang maak, oorkom hy geleidelik hierdie ongewenste “werke van die vlees” en vervang hy dit met “die vrugte van die gees”. Hierdie uiterlik waarneembare verandering is ’n duidelike teken dat die persoon tot Christelike volwassenheid vorder.—Galasiërs 5:22.
14. Verduidelik die twee uitdrukkings “die werke van die vlees” en “die vrugte van die gees”.
14 Ons moet let op die twee uitdrukkings “die werke van die vlees” en “die vrugte van die gees”. “Werke” is die resultate van wat ’n mens doen, die gevolg van ’n mens se dade. Met ander woorde, dit wat Paulus as die werke van die vlees beskryf, is die resultate van wat ’n mens doelbewus doen of van die invloed van die gevalle menslike vlees (Romeine 1:24, 28; 7:21-25). Aan die ander kant impliseer die uitdrukking “die vrugte van die gees” dat die eienskappe wat aangegee word, nie die resultate van sogenaamde karakterontwikkeling of persoonlikheidsverbetering is nie, maar wel die resultate van die werking van God se gees op iemand. Net soos ’n boom vrugte sal dra wanneer dit goed versorg word, sal ’n persoon ook die vrugte van die gees openbaar wanneer heilige gees vryelik in sy lewe vloei.—Psalm 1:1-3.
15. Waarom is dit belangrik om aan alle aspekte van “die vrugte van die gees” aandag te skenk?
15 Nog ’n punt wat ons in ag moet neem, is Paulus se gebruik van die woord “vrugte” om al die gewenste eienskappe in te sluit wat hy genoem het.a Die gees bring nie ’n verskeidenheid vrugte voort waarvan ons dié kan kies waarvan ons hou nie. Al die eienskappe wat Paulus noem—liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing—is ewe belangrik, en saam maak hierdie eienskappe dit vir ’n mens moontlik om jou met die nuwe Christelike persoonlikheid te beklee (Efesiërs 4:24; Kolossense 3:10). Hoewel ons dalk sal vind dat sekere van hierdie eienskappe duideliker in ons lewe weerspieël word weens ons persoonlikheid en neigings, is dit dus belangrik dat ons aandag skenk aan al die aspekte wat Paulus gemeld het. Ons kan sodoende in groter mate ’n Christelike persoonlikheid in ons lewe weerspieël.—1 Petrus 2:12, 21.
16. Wat is ons doelwit in ons strewe na Christelike volwassenheid, en hoe kan dit bereik word?
16 Die belangrike les wat ons uit Paulus se bespreking kan leer, is dat ons in ons strewe na Christelike volwassenheid nie groot kennis en geleerdheid probeer verkry of verfynde karaktertrekke probeer aankweek nie. Ons doelwit is om God se gees vryelik in ons lewe te laat vloei. Die mate waarin ons ons denke en dade deur God se gees laat lei, sal bepaal in watter mate ons geestelik volwasse word. Hoe kan ons hierdie doelwit bereik? Ons moet ons hart en verstand ontvanklik maak vir die invloed van God se gees. Dit sluit in dat ons Christelike vergaderinge getrou moet bywoon en daaraan moet deelneem. Ons moet ook God se Woord gereeld bestudeer en daaroor peins en toelaat dat die beginsels daarin ons lei in ons handelinge met ander en die keuses en besluite wat ons maak. Dan sal ons vooruitgang beslis duidelik wees.
-
-
Laat jou vooruitgang duidelik weesDie Wagtoring – 2001 | Augustus 1
-
-
a Die woord “vrugte” is net “vrug” in die oorspronklike taal.—Galasiërs 5:22, Kingdom Interlinear Translation.
-