Christelike eenheid verheerlik God
‘Streef ywerig daarna om die eenheid van die gees te bewaar.’—EF. 4:3.
1. Hoe het die eerste-eeuse Christene in Efese God verheerlik?
DIE eenheid van die Christengemeente in eertydse Efese het die ware God, Jehovah, verheerlik. In daardie florerende handelsentrum was party Christenbroers blykbaar ryk slawe-eienaars, terwyl ander broers slawe en waarskynlik baie arm was (Ef. 6:5, 9). Party was Jode wat die waarheid geleer het gedurende die drie maande wat die apostel Paulus in hulle sinagoge gespreek het. Ander het voorheen Artemis aanbid en toorkunste beoefen (Hand. 19:8, 19, 26). Dit is duidelik dat die ware Christelike godsdiens mense uit baie agtergronde verenig het. Paulus het besef dat die gemeente se eenheid Jehovah verheerlik. Die apostel het geskryf: “Aan hom die heerlikheid deur middel van die gemeente.”—Ef. 3:21.
2. Wat het die eenheid van Christene in Efese in gevaar gestel?
2 Die geseënde eenheid van die gemeente in Efese was egter in gevaar. Paulus het die ouer manne gewaarsku: “Uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Hand. 20:30). Party broers het ook nie die verdelende gees heeltemal afgelê wat volgens Paulus se waarskuwing “in die seuns van die ongehoorsaamheid werk” nie.—Ef. 2:2; 4:22.
’n Brief wat eenheid beklemtoon
3, 4. Hoe beklemtoon Paulus se brief aan die Efesiërs eenheid?
3 Paulus het besef dat alle Christene hulle ywerig moet inspan om eenheid te bevorder as hulle wil voortgaan om eensgesind saam te werk. God het Paulus geïnspireer om ’n brief aan die Efesiërs te skryf wat onder andere oor eenheid handel. Paulus het byvoorbeeld geskryf oor God se voorneme “om alles weer byeen te bring in die Christus” (Ef. 1:10). Hy het Christene ook vergelyk met die verskillende klippe waaruit ’n gebou bestaan. “Die hele gebou, wat harmonies saamgevoeg is, [groei] tot ’n heilige tempel vir Jehovah” (Ef. 2:20, 21). Daarbenewens het Paulus die eenheid van Joodse en nie-Joodse Christene beklemtoon en die broers ook aan hulle gemeenskaplike oorsprong herinner. Hy het na Jehovah verwys as “die Vader, aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het”.—Ef. 3:5, 6, 14, 15.
4 Terwyl ons hoofstuk 4 van Efesiërs ondersoek, sal ons sien waarom eenheid inspanning verg, hoe Jehovah ons help om verenig te wees en watter gesindhede ons sal help om verenig te bly. Lees gerus die hele hoofstuk sodat jy nog meer by die studie kan baat vind.
Waarom eenheid ywerige inspanning verg
5. Waarom kan God se engele in eenheid dien, maar waarom is eenheid vir ons dalk ’n groter uitdaging?
5 Paulus het sy broers in Efese dringend versoek om ‘daarna te streef om die eenheid van die gees te bewaar’ (Ef. 4:3). Om te verstaan waarom inspanning in hierdie verband nodig is, kan ons dink aan die geval van God se engele. Daar is nie twee lewende dinge op aarde wat presies dieselfde is nie, en ons kan dus redelikerwys tot die slotsom kom dat Jehovah sy miljoene engele elkeen uniek gemaak het (Dan. 7:10). Maar hulle kan Jehovah in eenheid dien omdat hulle almal na hom luister en sy wil doen. (Lees Psalm 103:20, 21.) Terwyl getroue engele uiteenlopende eienskappe het, het Christene ook nog verskeie tekortkominge. Dit kan eenheid ’n groter uitdaging maak.
6. Watter gesindhede sal ons help om met graagte saam te werk met broers wie se tekortkominge van ons s’n verskil?
6 Wanneer onvolmaakte mense probeer saamwerk, kan hulle maklik probleme ondervind. Gestel byvoorbeeld ’n sagmoedige broer wat dikwels laat is, dien Jehovah saam met ’n broer wat stiptelik is, maar maklik sy humeur verloor. Elkeen meen dalk dat die ander een se gedrag onvanpas is, maar vergeet moontlik dat aspekte van sy eie gedrag net so onvanpas is. Hoe kan hierdie twee broers in eenheid saam dien? Let op hoe die gesindhede wat in Paulus se volgende woorde aanbeveel word, hulle sal help. Dink dan na oor hoe ons eenheid kan bevorder as ons hierdie eienskappe aankweek. Paulus het geskryf: “[Ek] versoek julle . . . dringend om te wandel op ’n wyse wat . . . waardig is, met algehele ootmoed en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ywerig daarna streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar.”—Ef. 4:1-3.
7. Waarom is dit noodsaaklik dat ons daarna streef om met ander onvolmaakte Christene verenig te wees?
7 Dit is noodsaaklik dat ons leer om God in eenheid met ander onvolmaakte mense te dien, omdat daar net een liggaam van ware aanbidders is. “Daar is een liggaam en een gees, net soos julle geroep is in die een hoop waartoe julle geroep is; een Here, een geloof, een doop; een God en Vader van almal” (Ef. 4:4-6). Jehovah se gees en seëninge hou verband met die een gemeenskap van broers wat God gebruik. Al ontstel iemand in die gemeente ons, waar anders kan ons heengaan? Ons kan nêrens anders woorde van die ewige lewe hoor nie.—Joh. 6:68.
“Gawes in die vorm van mense” bevorder eenheid
8. Wat gebruik Christus om ons teen verdelende invloede te versterk?
8 Paulus het met behulp van ’n algemene gebruik van eertydse soldate toegelig hoe Jesus “gawes in die vorm van mense” voorsien het om te help om die gemeente te verenig. ’n Seëvierende soldaat het dalk ’n gevangene uit ’n ander land as ’n slaaf huis toe geneem om sy vrou met takies te help (Ps. 68:1, 12, 18). Jesus se oorwinning oor die wêreld het hom eweneens van talle bereidwillige slawe voorsien. (Lees Efesiërs 4:7, 8.) Hoe het hy hierdie figuurlike gevangenes gebruik? “Hy het party as apostels gegee, party as profete, party as evangeliedienaars, party as herders en onderrigters, om die heiliges reg te help, vir bedieningswerk, vir die opbouing van die liggaam van die Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid in die geloof.”—Ef. 4:11-13.
9. (a) Hoe help “gawes in die vorm van mense” om ons eenheid te bewaar? (b) Waarom moet elke lid van die gemeente tot die eenheid daarvan bydra?
9 As liefdevolle herders help hierdie “gawes in die vorm van mense” om ons eenheid te bewaar. As ’n gemeentelike ouer man byvoorbeeld agterkom dat twee broers “wedywering met mekaar aanwakker”, kan hy op ’n kragtige wyse tot die eenheid van die gemeente bydra deur hulle private raad te gee om hulle ‘in ’n gees van sagmoedigheid reg te help’ (Gal. 5:26–6:1). As onderrigters help hierdie “gawes in die vorm van mense” ons om vaste geloof te bou wat op Bybelleringe gegrond is. Sodoende bevorder hulle eenheid en help hulle ons om tot Christelike volwassenheid te vorder. Volgens wat Paulus geskryf het, is dit “sodat ons nie langer klein kindertjies moet wees nie, wat rondgeslinger word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense, deur middel van listigheid in die versinning van dwaling” (Ef. 4:13, 14). Elke Christen moet tot die eenheid van die broederskap bydra, net soos elke ledemaat van ons fisiese liggaam die ander opbou deur te help om te gee wat nodig is.—Lees Efesiërs 4:15, 16.
Kweek nuwe gesindhede aan
10. Hoe kan onsedelike gedrag ons eenheid in gevaar stel?
10 Het jy opgelet dat die vierde hoofstuk van Paulus se brief aan die Efesiërs toon dat dit noodsaaklik is om liefde te openbaar indien ons as geestelik volwasse Christene eenheid wil verkry? Daarna toon dit wat liefde behels. Om maar een ding te noem, as ons die weg van liefde volg, sal ons ons nie aan hoerery en losbandige gedrag skuldig maak nie. Paulus het sy broers aangespoor om nie ‘langer aan te hou wandel soos die nasies’ nie. Daardie mense het “alle sedelikheidsgevoel verloor” en “hulle aan losbandige gedrag oorgegee” (Ef. 4:17-19). Die onsedelike wêreld waarin ons lewe, stel ons eenheid in gevaar. Mense maak grappe oor hoerery, sing daaroor, kyk daarna vir vermaak en beoefen dit in die geheim of in die openbaar. Maar selfs flankeerdery, wat kan beteken dat jy optree asof jy seksueel aangetrokke voel tot iemand met wie jy nie van plan is om te trou nie, kan jou van Jehovah en die gemeente vervreem. Waarom? Omdat dit so maklik tot hoerery lei. Flankeerdery wat daartoe lei dat ’n getroude persoon egbreuk pleeg, kan ook die wrede gevolg hê dat kinders van hulle ouers en onskuldige huweliksmaats van hulle eggenoot geskei word. Hoe verdelend tog! Dit is geen wonder nie dat Paulus geskryf het: “Julle het die Christus nie so leer ken nie”!—Ef. 4:20, 21.
11. Watter verandering spoor die Bybel Christene aan om aan te bring?
11 Paulus het beklemtoon dat ons verdelende denkwyses moet laat vaar en eerder gesindhede moet aankweek wat ons in staat stel om in eenheid met ander te lewe. Hy het gesê: “Julle [moet] die ou persoonlikheid . . . aflê, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom en wat volgens sy [die ou persoonlikheid se] bedrieglike begeertes verderf word; [julle moet] vernuwe . . . word in die krag wat julle verstand aandryf en julle met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Ef. 4:22-24). Hoe kan ons ‘vernuwe word in die krag wat ons verstand aandryf’? As ons met waardering nadink oor wat ons uit God se Woord sowel as uit die goeie voorbeeld van geestelik volwasse Christene leer, kan ons met inspanning die nuwe persoonlikheid verkry wat ‘na God se wil geskep is’.
Leer nuwe spraakgewoontes aan
12. Hoe bevorder dit eenheid as ons die waarheid praat, en waarom is dit vir party moeilik om eerlik te wees?
12 Vir diegene wat in ’n gesin of ’n gemeente aan mekaar behoort, is dit noodsaaklik om die waarheid te praat. Eerlike, openhartige, vriendelike spraak kan mense nader aan mekaar laat kom (Joh. 15:15). Maar sê nou iemand lieg vir sy broer? Wanneer sy broer dit besef, sal die vertroue tussen hulle geskend word. Jy kan verstaan waarom Paulus geskryf het: “Julle [moet] die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste, want ons is lede wat aan mekaar behoort” (Ef. 4:25). Iemand wat daaraan gewoond is om te lieg, en dalk al as kind daarmee begin het, kan dit moeilik vind om die waarheid te begin praat. Maar Jehovah sal dit waardeer as hy probeer verander en sal hom help.
13. Wat behels dit om smadende taal af te lê?
13 Jehovah leer ons om in die gemeente sowel as die gesin respek en eenheid te bevorder deur vaste perke te stel aan die manier waarop ons praat. “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie . . . Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid” (Ef. 4:29, 31). Een manier waarop ons aanstootlike spraak kan vermy, is deur ’n respekvoller gesindheid teenoor ander aan te kweek. Byvoorbeeld, ’n man wat smadend met sy vrou praat, moet daarna streef om sy gesindheid teenoor haar te verander, veral wanneer hy leer hoe Jehovah vroue eer. God salf selfs party vroue met heilige gees en bied hulle die vooruitsig om as konings saam met Christus te regeer (Gal. 3:28; 1 Pet. 3:7). Net so moet ’n vrou wat gereeld op haar man skreeu, beweeg word om te verander wanneer sy leer hoe Jesus hom bedwing het toe hy uitgetart is.—1 Pet. 2:21-23.
14. Waarom is dit gevaarlik om aan woede uiting te gee?
14 Daar is ’n noue verband tussen smadende taal en die onvermoë om woede te beheers. Ook dit kan mense skei wat aan mekaar behoort. Woede is soos ’n vuur. Dit kan maklik buite beheer raak en rampspoed veroorsaak (Spr. 29:22). Iemand wat rede het om sy misnoeë uit te druk, moet sy woede versigtig beheers om te keer dat hy kosbare verhoudings beskadig. Christene moet hulle daarop toelê om vergewensgesind te wees, nie ’n wrok te koester nie en nie weer oor die saak te praat nie (Ps. 37:8; 103:8, 9; Spr. 17:9). Paulus het die Efesiërs die raad gegee: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie” (Ef. 4:26, 27). As iemand nie sy woede kan beheers nie, sal dit die Duiwel ’n geleentheid bied om onenigheid en selfs konflik in die gemeente te bevorder.
15. Watter gevolge kan dit hê as ons neem wat nie aan ons behoort nie?
15 As ons respek toon vir die besittings van ander, dra dit tot die eenheid van die gemeente by. Ons lees: “Laat die steler nie meer steel nie” (Ef. 4:28). ’n Algemene gevoel van vertroue het onder Jehovah se volk ontstaan. As ’n Christen hierdie vertroue misbruik deur te neem wat nie syne is nie, sal hy hierdie gelukkige eenheid versteur.
Liefde vir God verenig ons
16. Hoe kan ons opbouende spraak gebruik om ons eenheid te versterk?
16 Die Christengemeente geniet eenheid omdat almal deur liefde vir God beweeg word om ander met liefde te behandel. Waardering vir Jehovah se goedhartigheid beweeg ons om ons in te span om die raad toe te pas: “[Spreek] ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel. . . . Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Ef. 4:29, 32). Jehovah vergewe onvolmaakte mense soos ons goedgunstiglik. Moet ons nie ook ander vergewe wanneer ons hulle onvolmaakthede sien nie?
17. Waarom moet ons ons ywerig inspan om eenheid te bevorder?
17 Die eenheid van God se volk verheerlik Jehovah. Sy gees beweeg ons op verskillende maniere om eenheid te bevorder. Ons moet beslis nie die gees se leiding weerstaan nie. Paulus het geskryf: “Moenie God se heilige gees . . . bedroef nie” (Ef. 4:30). Eenheid is ’n skat wat die moeite werd is om te bewaar. Dit bring vreugde mee vir almal wat ’n aandeel daaraan het, en dit verheerlik Jehovah. “Word dan navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel.”—Ef. 5:1, 2.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter gesindhede bevorder eenheid onder Christene?
• Hoe kan ons gedrag eenheid in die gemeente bevorder?
• Hoe kan ons spraak ons help om met ander saam te werk?
[Prent op bladsy 17]
Mense uit baie agtergronde is verenig
[Prent op bladsy 18]
Verstaan jy watter gevare flankeerdery inhou?