Binnekort ’n einde aan die mensdom se probleme!
“HUMANITÊRE pogings het beperkte nut as dit nie deel vorm van ’n wyer strategiese en politieke raamwerk wat daarop toegespits is om aandag te gee aan die grondoorsake van konflik nie. Ondervinding het keer op keer getoon dat humanitêre pogings alleen nie die probleme kan oplos wat in wese polities van aard is nie.”—The State of the World’s Refugees 2000.
Ten spyte van uitgebreide humanitêre pogings is daar ’n onstuitbare toename in die mensdom se probleme. Hoe groot is die moontlikheid dat ’n blywende politieke oplossing gevind sal word? In werklikheid is dit baie skraal. Maar waar anders kan ons soek? Die apostel Paulus verduidelik in ’n betekenisvolle gedeelte aan die begin van sy brief aan die Christene in Efese hoe God al die mensdom se probleme tot ’n einde gaan bring. Hy dui selfs aan watter instrument God gaan gebruik om dit te doen—’n instrument wat aandag sal gee aan die grondoorsake van al die probleme wat ons vandag teister. Ondersoek gerus self Paulus se woorde hieroor. Dit is in Efesiërs 1:3-10 opgeteken.
“Om alles weer byeen te bring in die Christus”
God se voorneme, sê die apostel, is om soos hy dit stel, “aan die voleinding van die vasgestelde tye ’n administrasie [of bestuur van sake] te hê”. Wat beteken dit? Dit beteken dat God ’n tyd vasgestel het wanneer hy “alles weer byeen [sal] bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde” (Efesiërs 1:10). Ja, God het ’n reëling in werking gestel om alles in die hemel en op die aarde weer onder sy regstreekse beheer te verenig. Interessant genoeg, die Bybelgeleerde J. H. Thayer sê aangaande die term wat hier vertaal word met ‘om weer byeen te bring’: “[Hy] bring . . . alle dinge en wesens (wat tot nou toe deur sonde verdeeld is) weer vir homself byeen as een gemeenskap in Christus.”
Dit wys daarop dat hierdie optrede van God nodig was, veral as daar in ag geneem word hoe onenigheid in die eerste plek ontstaan het. Vroeg in die mensegeskiedenis het ons eerste ouers, Adam en Eva, hulle by Satan die Duiwel aangesluit in sy opstand teen God. Hulle wou onafhanklik wees in die sin dat hulle die reg wou hê om self te besluit wat goed en wat kwaad is (Genesis 3:1-5). In ooreenstemming met Goddelike geregtigheid is hulle uit God se gesin gesit en het hulle hulle verhouding met hom verloor. Hulle het die mensdom in onvolmaaktheid gedompel met al die slegte gevolge wat ons vandag ondervind.—Romeine 5:12.
Goddeloosheid word tydelik toegelaat
‘Waarom het God toegelaat dat hulle dit doen?’ vra sommige dalk. ‘Waarom het hy nie net sy almag gebruik en sy wil afgedwing en sodoende al die pyn en lyding voorkom wat ons nou ondervind nie?’ Die versoeking om so te dink, is miskien groot. Maar wat sal so ’n gebruik van oorweldigende krag nou eintlik bewys? Bewonder jy iemand of keur jy iemand goed wat by die eerste teken van verset alle teenstand eenvoudig uitwis omdat hy die mag het om dit te doen? Beslis nie.
Daardie opstandiges het in werklikheid nie God se almag betwis nie. Hulle het meer in die besonder die regmatigheid en regverdigheid van sy heerskappy betwis. Om die fundamentele geskille wat geopper is, eens en vir altyd te besleg, het Jehovah toegelaat dat sy skepsele hulle aangeleenthede vir ’n beperkte tyd self bestuur, sonder dat hy regstreeks beheer daaroor uitoefen (Prediker 3:1; Lukas 21:24). Wanneer daardie tyd ten einde loop, sal hy ingryp om weer volle beheer oor die aarde uit te oefen. Teen daardie tyd sal dit baie duidelik wees dat sy manier van heers, die enigste manier is wat blywende vrede, geluk en voorspoed vir die bewoners van die aarde waarborg. Dan sal al die verdrukkers in die wêreld vir ewig verwyder word.—Psalm 72:12-14; Daniël 2:44.
“Voor die grondlegging van die wêreld”
Jehovah het hom lank terug voorgeneem om dit alles te doen. Paulus meld dat dit “voor die grondlegging van die wêreld” was (Efesiërs 1:4). Dit was nie voor die skepping van die aarde of van Adam en Eva nie. Daardie wêreld was “baie goed”, en opstand het nog nie uitgebreek nie (Genesis 1:31). Watter “wêreld” het die apostel Paulus dan bedoel? Die wêreld van Adam en Eva se kinders—’n sondige, onvolmaakte mensewêreld wat die vooruitsig gehad het om losgekoop te word. Voordat enige kinders gebore is, het Jehovah reeds geweet hoe hy sake sou hanteer om verligting vir Adam se loskoopbare nakomelinge te voorsien.—Romeine 8:20.
Dit beteken natuurlik nie dat die Soewerein van die heelal sake moet hanteer soos mense dit doen nie. Omdat hulle besef dat onvoorsiene omstandighede kan ontstaan, beplan hulle verskeie uitvoerige strategieë om teen so iets opgewasse te wees. Daarenteen sit die almagtige God eenvoudig sy voorneme uiteen en volbring dit dan. Paulus verduidelik nogtans hoe Jehovah besluit het om sake te reël om permanente verligting vir die mens te bring. Wat was daardie maatreëls?
Wie sal verligting bring?
Paulus verduidelik dat Christus se geesgesalfde dissipels ’n spesiale rol speel om die skade weens Adamitiese sonde ongedaan te maak. Jehovah het “ons in eenheid met [Christus] uitgekies”, sê Paulus, om saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk te heers. Paulus verduidelik dit verder en sê dat Jehovah “ons voorbestem [het] tot die aanneming as kinders vir homself deur middel van Jesus Christus” (Efesiërs 1:4, 5). Jehovah het hulle natuurlik nie as individue uitgekies, of voorbestem, nie. Hy het egter ’n klas getroue en toegewyde mense voorbestem wat saam met Christus die skade ongedaan gaan maak wat Satan die Duiwel, sowel as Adam en Eva, oor die mensegesin gebring het.—Lukas 12:32; Hebreërs 2:14-18.
Wat ’n wonderlike gedagte! Toe Satan God se soewereiniteit oorspronklik betwis het, het hy geïmpliseer dat daar fout was met God se menseskepping—dat hulle almal teen God se heerskappy in opstand sou kom as die druk of versoeking groot genoeg is (Job 1:7-12; 2:2-5). In ’n dramatiese blyk van “sy glorieryke onverdiende goedhartigheid” het Jehovah God met verloop van tyd sy vertroue in sy aardse skepsele getoon deur sommige van Adam se sondige familie aan te neem om sy geestelike kinders te wees. Diegene in hierdie klein groepie sal geneem word om in die hemel te dien. Met watter doel?—Efesiërs 1:3-6; Johannes 14:2, 3; 1 Tessalonisense 4:15-17; 1 Petrus 1:3, 4.
Hierdie aangenome kinders van God, sê die apostel Paulus, word “mede-erfgename met Christus” in sy hemelse Koninkryk (Romeine 8:14-17). As konings en priesters sal hulle deel daaraan hê om die mensegesin van die pyn en lyding te bevry wat hulle nou ondervind (Openbaring 5:10). Dit is waar dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly”. Maar binnekort sal hierdie spesiaal verkose kinders van God saam met Jesus Christus tot optrede oorgaan, en alle gehoorsame mense sal “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak . . . word en [weer eens] die glorieryke vryheid van die kinders van God . . . hê”.—Romeine 8:18-22.
“Bevryding deur ’n losprys”
Al hierdie dinge is moontlik gemaak deur iets wat seker die mees dramatiese en verhewe blyk van God se onverdiende goedhartigheid teenoor die loskoopbare mensdom is—die losprysoffer van Jesus Christus. Paulus skryf: “Deur middel van [Jesus Christus] het ons die bevryding deur ’n losprys deur die bloed van daardie een, ja, die vergifnis van ons oortredings, volgens die rykdom van sy onverdiende goedhartigheid.”—Efesiërs 1:7.
Jesus Christus is die hooffiguur in die verwesenliking van God se voorneme (Hebreërs 2:10). Sy losprysoffer voorsien die wetlike grondslag waarvolgens Jehovah sommige van Adam se nakomelinge kan aanneem om deel van sy hemelse gesin te word en om die mensdom van die gevolge van Adamitiese sonde te verlos, sonder om vertroue in Sy wette en beginsels te ondermyn (Matteus 20:28; 1 Timoteus 2:6). Jehovah het so opgetree dat dit sy regverdigheid steun en aan die standaarde van volmaakte geregtigheid voldoen.—Romeine 3:22-26.
God se “heilige geheim”
Duisende jare lank het God nie geopenbaar presies hoe hy sy voorneme met die aarde gaan volbring nie. In die eerste eeu G.J. het “hy die heilige geheim van sy wil aan [Christene] bekend gemaak” (Efesiërs 1:9). Paulus en sy gesalfde mede-Christene het die luisterryke rol van Jesus Christus in die verwesenliking van God se voorneme duidelik verstaan. Hulle het ook begin besef watter spesiale rol hulle as mede-erfgename met Christus in sy hemelse Koninkryk het (Efesiërs 3:5, 6, 8-11). Ja, die Koninkryksregering in die hande van Jesus Christus en sy medeheersers is die instrument wat God sal gebruik om blywende vrede tot stand te bring, nie net in die hemele nie, maar ook op die aarde (Matteus 6:9, 10). Jehovah sal dit gebruik om die toestand van hierdie aarde te herstel tot wat hy oorspronklik daarvoor in gedagte gehad het.—Jesaja 45:18; 65:21-23; Handelinge 3:21.
Sy vasgestelde tyd om regstreeks op te tree om die aarde van alle onderdrukking en ongeregtigheid te bevry, is voor die deur. Maar Jehovah het eintlik al op Pinkster 33 G.J. met die herstelproses begin. Hoe? Deur destyds te begin om “die dinge in die hemele”, diegene wat saam met Christus in die hemele gaan regeer, byeen te bring. Dit het die Efesiese Christene ingesluit (Efesiërs 2:4-7). Onlangser, in ons tyd, het Jehovah “die dinge op die aarde” begin byeenbring (Efesiërs 1:10). Deur middel van ’n aardwye predikingsveldtog maak hy die goeie nuus van sy Koninkryksregering in die hande van Jesus Christus aan al die nasies bekend. Diegene wat gunstig reageer, word nou reeds in ’n plek van geestelike veiligheid en genesing byeengebring (Johannes 10:16). Hulle sal binnekort algehele vryheid van alle ongeregtigheid en lyding op ’n gereinigde paradysaarde ondervind.—2 Petrus 3:13; Openbaring 11:18.
Daar is al “verstommende vooruitgang” gemaak in humanitêre pogings om die verdrukte mensdom te help (The State of the World’s Children 2000). Maar die verstommendste gebeurtenis sal plaasvind wanneer Christus Jesus en sy medeheersers in die hemelse Koninkryksregering binnekort in menseaangeleenthede ingryp. Hulle sal al die grondoorsake van konflik en al die ander euwels om ons heeltemal uit die weg ruim. Hulle sal al die probleme van die mensdom tot ’n einde bring.—Openbaring 21:1-4.
[Prente op bladsy 4]
Humanitêre dade het nie die mensdom se probleme opgelos nie
[Prent op bladsy 6]
Christus se losprysoffer het bevryding van Adamitiese sonde vir die mensdom moontlik gemaak
[Prent op bladsy 7]
Dit is moontlik om vandag geestelike beskerming en genesing te verkry
[Prente op bladsy 7]
Probleme sal binnekort, deur middel van die Messiaanse Koninkryk, heeltemal opgelos word