Mans—Erken Christus se hoofskap
“Christus [is] die hoof . . . van elke man.”—1 KORINTIËRS 11:3.
1, 2. (a) Waaraan kan ’n man se sukses as eggenoot gemeet word? (b) Waarom is dit noodsaaklik om te erken dat die huwelik van goddelike oorsprong is?
WAARAAN sal jy ’n man se sukses as eggenoot meet? Aan sy verstandelike of fisiese vermoëns? Aan sy vermoë om geld te maak? Of is dit veral aan die liefdevolle en vriendelike manier waarop hy sy vrou en kinders behandel? Wanneer dit by laasgenoemde maatstaf kom, vaar baie mans sleg, want hulle word deur die gees van die wêreld en deur menslike standaarde beïnvloed. Waarom? Hoofsaaklik omdat hulle nie die raad erken en toepas van die Insteller van die huwelik nie—die Een wat “die ribbebeen wat hy van die mens geneem het, tot ’n vrou gebou [het] en haar na die mens toe gebring [het]”.—Genesis 2:21-24.
2 Jesus Christus het hierdie Bybelverslag van die goddelike oorsprong van die huwelik bevestig toe hy vir kritici in sy dag gesê het: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk [in die huwelik] saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:4-6). Ja, die sleutel tot ’n suksesvolle huwelik is om te erken dat die huwelik van goddelike oorsprong is en dat sukses daarvan afhang dat die voorskrifte in God se Woord, die Bybel, gevolg word.
’n Sleutel tot ’n man se sukses as eggenoot
3, 4. (a) Waarom het Jesus ’n grondige kennis van die huwelik? (b) Wie is Jesus se figuurlike vrou, en hoe moet mans hulle vrouens behandel?
3 Iets wat ’n man kan help om as eggenoot suksesvol te wees, is om ’n studie te maak van wat Jesus gesê het en te doen wat Hy gedoen het. Hy het ’n grondige kennis van die onderwerp, want hy was teenwoordig toe die eerste mensepaar geskep is sowel as toe hulle in die huwelik verbind is. Jehovah God het vir hom gesê: “Laat ons mense maak na ons beeld, ooreenkomstig ons gelykenis” (Genesis 1:26). Ja, God het gepraat met die Een wat Hy voor enigiemand of enigiets anders geskep het en wat “’n meesterwerker naas hom geword” het (Spreuke 8:22-30). Hy is “die eersgeborene van die hele skepping”. Hy is “die begin van die skepping deur God”, wat bestaan het selfs voor die skepping van die stoflike heelal.—Kolossense 1:15; Openbaring 3:14.
4 Jesus word “die Lam van God” genoem, en hy word figuurlik uitgebeeld as ’n eggenoot. ’n Engel het eenkeer gesê: “Kom hier, ek sal jou die bruid, die Lam se vrou, wys” (Johannes 1:29; Openbaring 21:9). Wie is hierdie bruid, of vrou? “Die Lam se vrou” bestaan uit Christus se getroue geesgesalfde volgelinge, wat deelgenote met hom in sy hemelse heerskappy sal wees (Openbaring 14:1, 3). Die manier waarop Jesus sy dissipels behandel het toe hy saam met hulle op die aarde was, dien dus vir mans as ’n voorbeeld van hoe hulle hulle vrouens moet behandel.
5. Vir wie dien Jesus as ’n voorbeeld?
5 Jesus word weliswaar in die Bybel voorgehou as ’n voorbeeld vir al sy volgelinge, soos ons lees: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Maar hy is veral vir mans ’n voorbeeld. Die Bybel sê: “Die Christus [is] die hoof . . . van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Aangesien Christus die man se hoof is, moet mans sy voorbeeld volg. Die beginsel van hoofskap moet dus toegepas word as die gesin suksesvol en gelukkig wil wees. Daarom moet mans hulle vrouens op die liefdevolle wyse behandel waarop Jesus sy figuurlike vrou, sy gesalfde dissipels, behandel.
Hoe om uitdagings in die huwelik die hoof te bied
6. Hoe moet mans met hulle vrouens saamwoon?
6 Veral in vandag se veelbewoë wêreld moet mans Jesus se voorbeeld van geduld, liefde en standvastigheid in die handhawing van regverdige beginsels volg (2 Timoteus 3:1-5). Aangaande die voorbeeld wat Jesus gelaat het, sê die Bybel: “Net so moet julle, mans, voortgaan om ooreenkomstig kennis met [julle vrouens] saam te woon” (1 Petrus 3:7). Ja, mans moet uitdagings in die huwelik met kennis die hoof bied, net soos Jesus moeilikhede die hoof gebied het. Hy het groter beproewinge deurgemaak as enige ander mens, maar hy het geweet dat Satan, sy demone en hierdie bose wêreld daarvoor verantwoordelik is (Johannes 14:30; Efesiërs 6:12). Jesus was nooit verbaas oor beproewinge nie, en daarom moet huweliksmaats ook nie verbaas wees wanneer hulle “verdrukking in hulle vlees” ervaar nie. Die Bybel waarsku dat diegene wat trou, sulke verdrukking kan verwag.—1 Korintiërs 7:28.
7, 8. (a) Wat behels dit om ooreenkomstig kennis met ’n vrou saam te woon? (b) Waarom verdien vrouens om eer te ontvang?
7 Mans, sê die Bybel, moet ‘ooreenkomstig kennis met hulle vrouens saamwoon en aan hulle eer toeken as ’n swakker vat, die vroulike’ (1 Petrus 3:7). In plaas van op hardvogtige wyse oor sy vrou te heers, soos die Bybel voorspel het mans oor die algemeen sou doen, sal ’n man wat God se goedkeuring wegdra, aan haar eer betoon (Genesis 3:16). Hy sal haar soos ’n kosbare besitting wil behandel en nooit sy groter fisiese krag gebruik om haar seer te maak nie. Hy sal eerder haar gevoelens in ag neem en haar altyd met respek en waardigheid behandel.
8 Waarom moet mans gepas eer aan hulle vrouens toeken? Die Bybel antwoord: “Aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie” (1 Petrus 3:7). Mans moet besef dat ’n man wat Jehovah aanbid, in Sy oë geensins beter is as ’n vrou wat dit doen nie. Vroue wat God se goedkeuring waardig geag word, sal saam met mans dieselfde beloning ontvang, naamlik die ewige lewe—baie sal selfs lewe in die hemel geniet, waar ‘daar nie man of vrou is nie’ (Galasiërs 3:28). Mans moet dus onthou dat dit ’n persoon se getrouheid is wat hom vir God kosbaar maak. Dit is nie of ’n persoon manlik of vroulik, ’n getroude man of vrou, of selfs ’n kind is nie.—1 Korintiërs 4:2.
9. (a) Waarom moet mans hulle vrouens volgens Petrus eer? (b) Hoe het Jesus eer aan vroue betoon?
9 Die rede waarom dit noodsaaklik is dat ’n man sy vrou met eer moet behandel, word beklemtoon deur die apostel Petrus se slotwoorde: “Sodat julle gebede nie verhinder word nie.” Hoe gevaarlik kan so ’n verhindering tog wees! Dit kan selfs daartoe lei dat ’n man se gebede versper word, soos met party nalatige knegte van God in die verlede gebeur het (Klaagliedere 3:43, 44). Dit sal wys wees van Christenmans—dié wat getroud is sowel as dié wat dit oorweeg om te trou—om ’n studie te maak van die waardige wyse waarop Jesus vroue behandel het. Hy het hulle verwelkom in die groep wat hom in sy bediening vergesel het, en hy het hulle met vriendelikheid en respek behandel. By een geleentheid het Jesus selfs ’n uiters verstommende waarheid eers aan vroue geopenbaar en vir hulle gesê om dit aan die mans mee te deel!—Matteus 28:1, 8-10; Lukas 8:1-3.
’n Voorbeeld veral vir mans
10, 11. (a) Waarom moet veral mans Jesus se voorbeeld bestudeer? (b) Hoe moet mans liefde vir hulle vrouens toon?
10 Soos vroeër gemeld is, vergelyk die Bybel ’n man se verhouding met sy vrou met dié van Christus met sy “bruid”, wat sy gemeente van gesalfde volgelinge is. Die Bybel sê: “’n Man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is” (Efesiërs 5:23). Hierdie woorde behoort mans aan te spoor om die soort hoofskap, of leierskap, wat Jesus oor sy volgelinge uitgeoefen het, te ondersoek. Slegs deur Jesus se voorbeeld te ondersoek, sal mans dit behoorlik kan volg en hulle vrouens van leiding, liefde en sorg kan voorsien, soos Jesus in die geval van sy gemeente gedoen het.
11 “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê”, maan die Bybel Christene, “net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). “Die gemeente” word in die vorige hoofstuk van Efesiërs “die liggaam van die Christus” genoem. Hierdie simboliese liggaam het baie lede van albei geslagte, wat almal tot die liggaam se doeltreffende werking bydra. Jesus is natuurlik “die hoof van die liggaam, die gemeente”.—Efesiërs 4:12; Kolossense 1:18; 1 Korintiërs 12:12, 13, 27.
12. Hoe het Jesus liefde vir sy figuurlike liggaam getoon?
12 Jesus het liefde vir sy figuurlike liggaam, “die gemeente”, getoon, in die besonder deur die liefdevolle manier waarop hy omgesien het na die belange van dié wat lede daarvan sou word. Toe sy dissipels moeg was, het hy byvoorbeeld gesê: “Kom . . . alleen na ’n eensame plek en rus ’n bietjie” (Markus 6:31). In die verslag van Jesus se bedrywighede net ’n paar uur voor sy teregstelling het een van sy apostels geskryf dat ‘Jesus, wat dié liefgehad het wat syne was [dit wil sê lede van sy figuurlike liggaam], hulle tot die einde toe liefgehad het’ (Johannes 13:1). Wat ’n goeie voorbeeld het Jesus tog gestel van hoe mans hulle vrouens moet behandel!
13. Hoe moet mans hulle vrouens liefhê?
13 Met verdere verwysing na die voorbeeld wat Jesus vir mans gestel het, het die apostel Paulus hulle vermaan: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen.” Paulus het bygevoeg: “Elkeen van julle moet . . . afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself.”—Efesiërs 5:28, 29, 33.
14. Hoe behandel ’n man sy onvolmaakte fisiese liggaam, en wat dui dit aan oor hoe hy sy vrou moet behandel?
14 Dink ’n bietjie aan Paulus se woorde. Beseer ’n man wat by sy volle verstand is, ooit sy eie liggaam opsetlik? Gestel ’n man stamp sy toon. Slaan hy dit omdat dit hom laat struikel het? Natuurlik nie! Verneder ’n man homself voor sy vriende of skinder hy oor sy eie tekortkominge? Nee! Waarom sal hy dan sy vrou uitskel, of iets ergers doen, as sy ’n fout maak? Mans moenie net na hulle eie belange omsien nie, maar ook na dié van hulle vrouens.—1 Korintiërs 10:24; 13:5.
15. (a) Wat het Jesus gedoen toe sy dissipels menslike swakheid geopenbaar het? (b) Watter lesse kan uit sy voorbeeld geleer word?
15 Dink aan hoe Jesus die nag voor sy dood besorgdheid oor sy dissipels getoon het toe hulle menslike swakheid geopenbaar het. Ondanks sy herhaalde versoeke dat hulle moet bid, het hulle drie keer in die tuin van Getsemane aan die slaap geraak. Skielik het gewapende manne hulle omring. Jesus het die manne gevra: “Wie soek julle?” Toe hulle sê: “Jesus die Nasarener”, het hy geantwoord: “Dit is ek.” Hy het geweet dat ‘die uur gekom het’ vir hom om te sterf en het gesê: “As dit dan na my is wat julle soek, laat hierdie mense gaan.” Jesus het altyd die welsyn van sy dissipels—lede van sy figuurlike bruid—in ag geneem en het vir hulle ’n geleentheid geskep om weg te kom. As mans ’n studie maak van hoe Jesus sy dissipels behandel het, sal hulle baie beginsels vind wat hulle kan toepas oor hoe hulle hulle vrouens moet behandel.—Johannes 18:1-9; Markus 14:34-37, 41.
Jesus se liefde nie sentimenteel nie
16. Hoe het Jesus oor Marta gevoel, maar hoe het hy haar nietemin tereggewys?
16 Die Bybel sê: “Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad”, wat hom dikwels as ’n gas in hulle huis ontvang het (Johannes 11:5). Tog het Jesus nie gehuiwer om Marta raad te gee nie toe sy te veel aandag geskenk het aan die voorbereiding van ’n ete en gevolglik haar tyd beperk het om geestelike onderrigting van hom te ontvang. Hy het gesê: “Marta, Marta, jy is besorg en verontrus oor baie dinge. ’n Paar dinge is egter nodig, of net een” (Lukas 10:41, 42). Omdat dit duidelik was dat hy geneentheid vir haar gehad het, was dit ongetwyfeld vir Marta maklik om sy raad aan te neem. Mans moet hulle vrouens eweneens op ’n vriendelike, liefdevolle manier behandel en goedgekose woorde gebruik. Maar wanneer teregwysing nodig is, is dit nietemin gepas om dit te gee, soos Jesus gedoen het.
17, 18. (a) Hoe het Petrus Jesus bestraf, en waarom moes Petrus tereggewys word? (b) Watter verantwoordelikheid het ’n man?
17 By ’n ander geleentheid het Jesus vir sy apostels verduidelik dat hy na Jerusalem moes gaan, waar hy deur “die ouer manne en hoofpriesters en skrifgeleerdes” vervolg sou word en “doodgemaak en op die derde dag opgewek [sou] word”. Hierop het Petrus Jesus opsy geneem en hom begin bestraf en gesê: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.” Dit is duidelik dat Petrus se beskouing vertroebel is deur sentiment. Teregwysing was nodig. Jesus het dus vir hom gesê: “Gaan agter my, Satan! Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.”—Matteus 16:21-23.
18 Jesus het pas tevore gesê wat God se wil is—naamlik dat hy baie dinge sou ly en doodgemaak sou word (Psalm 16:10; Jesaja 53:12). Dit was dus verkeerd van Petrus om Jesus te begin bestraf. Ja, Petrus het streng teregwysing nodig gehad, soos met ons almal van tyd tot tyd die geval is. As die gesinshoof het die man die gesag en verantwoordelikheid om gesinslede, insluitende sy vrou, tereg te wys. Hoewel dit moontlik nodig is om ferm te wees, moet hierdie teregwysing op ’n vriendelike, liefdevolle manier gegee word. Net soos Jesus Petrus dus gehelp het om die regte beskouing van sake te verkry, moet mans dit soms ook met hulle vrouens doen. Byvoorbeeld, ’n man moet dalk vriendelik vir sy vrou verduidelik waarom ’n verandering nodig is as haar kleredrag of gebruik van juweliersware of grimering begin afwyk van die beskeie standaard wat deur die Skrif aanbeveel word.—1 Petrus 3:3-5.
Goed vir mans om geduldig te wees
19, 20. (a) Watter probleem het onder Jesus se apostels ontstaan, en hoe het Jesus dit hanteer? (b) Hoe suksesvol was Jesus se pogings?
19 As daar ’n fout is waaraan aandag geskenk moet word, moet mans nie noodwendig verwag dat hulle opregte pogings om dit reg te stel, onmiddellik suksesvol sal wees nie. Jesus moes herhaaldelik die gesindhede van sy apostels regstel. Wedywering het byvoorbeeld onder hulle ontstaan, wat aan die einde van Jesus se bediening weer kop uitgesteek het. Hulle het geargumenteer oor wie van hulle blykbaar die grootste was (Markus 9:33-37; 10:35-45). Kort nadat dit die tweede keer gebeur het, het Jesus gereël om sy laaste Pasga alleen saam met hulle te vier. By daardie geleentheid het nie een van hulle die inisiatief geneem om die gebruiklike nederige taak te verrig om die stowwerige voete van die ander te was nie. Jesus het dit gedoen. Toe het hy gesê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel.”—Johannes 13:2-15.
20 Mans wat ’n nederige gesindheid soos dié van Jesus openbaar, sal waarskynlik die samewerking en ondersteuning van hulle vrouens geniet. Maar geduld is nodig. Later daardie selfde Pasganag het die apostels weer geargumenteer oor wie van hulle blykbaar die grootste was (Lukas 22:24). Veranderinge in gesindhede en gedrag neem dikwels tyd en vind geleidelik plaas. Maar hoe lonend is dit tog wanneer daar positiewe resultate is, soos daar onder die apostels was!
21. Wat word mans aangespoor om te onthou en te doen in die lig van die uitdagings van vandag?
21 Vandag kom die huwelik voor groter uitdagings te staan as ooit te vore. Baie mense neem nie meer hulle huweliksgeloftes ernstig op nie. Mans, dink dus na oor die oorsprong van die huwelik. Onthou dat die huwelik van goddelike oorsprong is, aangesien dit by ons liefdevolle God, Jehovah, ontstaan het en deur hom ingestel is. Hy het sy Seun, Jesus, voorsien, nie net as ons Verlosser—ons Redder—nie, maar ook as ’n voorbeeld vir mans om te volg.—Matteus 20:28; Johannes 3:29; 1 Petrus 2:21.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom is dit belangrik dat ons die oorsprong van die huwelik erken?
• Op watter maniere word mans aangespoor om hulle vrouens lief te hê?
• Watter voorbeelde van hoe Jesus sy dissipels behandel het, toon hoe ’n man Christelike hoofskap moet uitoefen?
[Prent op bladsy 14]
Waarom moet mans voorbeelde bestudeer van hoe Jesus vroue behandel het?
[Prent op bladsy 15]
Toe sy dissipels moeg was, het Jesus bedagsaamheid getoon
[Prent op bladsy 16]
Mans moet hulle vrouens raad gee met vriendelike, goedgekose woorde