HOOFSTUK 7
Gehoorsaamheid beskerm jou
SOU jy daarvan hou as jy kon doen net wat jy wou? Is daar tye dat jy wens dat niemand ooit vir jou sal sê wat om te doen nie? Wees nou eerlik, en sê vir my wat jy dink.—
Maar wat is die beste vir jou? Is dit regtig verstandig om te doen net wat jy wil? Of werk dinge beter uit as jy aan jou pa en jou ma gehoorsaam is?— As God sê jy moet aan jou ouers gehoorsaam wees, moet daar sekerlik ’n goeie rede wees om dit te doen. Kom ons kyk of ons kan sien wat dit is.
Hoe oud is jy?— Weet jy hoe oud jou pa is?— Hoe oud is jou ma of jou ouma of oupa?— Hulle het al baie langer gelewe as jy. En hoe langer ’n mens lewe, hoe meer tyd het jy om dinge te leer. Elke jaar hoor jy meer dinge en sien jy meer dinge en doen jy meer dinge. Daarom kan jongmense by ouer mense leer.
Ken jy iemand wat jonger is as jy?— Weet jy meer as hy of sy?— Hoekom weet jy meer?— Dit is omdat jy al langer lewe. Jy het al meer tyd gehad om dinge te leer as iemand wat jonger is as jy.
Wie lewe al langer as ek of jy of enige ander mens?— Jehovah God. Hy weet meer as jy, en hy weet meer as ek. Wanneer hy vir ons sê om iets te doen, kan ons seker wees dat dit die regte ding is om te doen, al is dit dalk moeilik. Het jy geweet dat dit op ’n keer selfs vir die Groot Onderwyser moeilik was om gehoorsaam te wees?—
Eenkeer het God vir Jesus gevra om iets te doen wat baie moeilik was. Jesus het daaroor gebid, soos ons hier sien. Hy het gebid: “As u wil, neem hierdie beker van my af weg.” Jesus het in hierdie gebed gewys dat dit nie altyd maklik was om God se wil te doen nie. Maar hoe het Jesus sy gebed afgesluit? Weet jy?—
Jesus het dit afgesluit deur te sê: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied” (Lukas 22:41, 42). Ja, hy wou hê dat God se wil gedoen moet word, nie syne nie. En hy het gedoen wat God wou hê eerder as wat hý gedink het die beste sou wees.
Wat kan ons hieruit leer?— Ons leer dat dit altyd reg is om te doen wat God sê, al is dit dalk nie maklik nie. Maar ons leer ook iets anders. Weet jy wat dit is?— Ons leer dat God en Jesus nie dieselfde persoon is, soos party mense sê nie. Jehovah God is ouer as sy Seun, Jesus, en weet meer as hy.
Wanneer ons aan God gehoorsaam is, wys ons dat ons hom liefhet. Die Bybel sê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 5:3). Sien jy, ons moet almal aan God gehoorsaam wees. Jy wil mos ook aan hom gehoorsaam wees, nè?—
Kom ons kry ons Bybel en sien wat God sê kinders moet doen. Ons gaan lees wat die Bybel sê in Efesiërs hoofstuk 6, verse 1, 2 en 3. Dit sê: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig: ‘Eer jou vader en jou moeder’; wat die eerste gebod met ’n belofte is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly.’”
Sien jy, dit is Jehovah God self wat vir jou sê om aan jou pa en ma gehoorsaam te wees. Wat beteken dit om hulle te “eer”? Dit beteken dat jy hulle moet respekteer. En God belowe dat ‘dit met jou goed sal gaan’ as jy aan jou ouers gehoorsaam is.
Kom ek vertel vir jou ’n storie oor mense wie se lewe gespaar is omdat hulle gehoorsaam was. Hierdie mense het lank gelede in die groot stad Jerusalem gewoon. Die meeste van die mense in daardie stad het nie na God geluister nie, en daarom het Jesus hulle gewaarsku dat God hulle stad gaan laat vernietig. Jesus het ook vir hulle gesê hoe hulle kon ontsnap as hulle lief is vir wat reg is. Hy het gesê: ‘Wanneer julle leërs rondom Jerusalem sien, sal julle weet dat dit binnekort vernietig gaan word. Dan is dit tyd om uit Jerusalem uit te gaan en na die berge te vlug.’—Lukas 21:20-22.
Wel, leërs het gekom om Jerusalem aan te val, net soos Jesus gesê het. Die leërs van Rome het rondom die stad kamp opgeslaan. Toe het die soldate om die een of ander rede weggetrek. Die meeste van die mense het gedink dat die gevaar verby was. Daarom het hulle in die stad gebly. Maar wat het Jesus gesê moes hulle doen?— Wat sou jy gedoen het as jy in Jerusalem gewoon het?— Die mense wat Jesus regtig geglo het, het hulle huise verlaat en na die berge ver van Jerusalem af gevlug.
’n Hele jaar lank het niks met Jerusalem gebeur nie. In die tweede jaar het niks gebeur nie. En in die derde jaar het niks gebeur nie. Party mense het dalk gedink dat die mense wat die stad verlaat het, dom was. Maar toe, in die vierde jaar, het die Romeinse leërs teruggekom. Hulle het weer rondom Jerusalem kamp opgeslaan. Nou was dit te laat om te vlug. Hierdie keer het die leërs die stad vernietig. Die meeste van die mense in die stad het doodgegaan, en die res is gevange geneem.
Maar wat het met die mense gebeur wat aan Jesus gehoorsaam was?— Hulle was veilig. Hulle was ver van Jerusalem af weg. Daarom het hulle niks oorgekom nie. Gehoorsaamheid het hulle beskerm.
Sal dit jou ook beskerm as jy gehoorsaam is?— Jou ouers sê dalk vir jou om nooit in die straat te speel nie. Hoekom sê hulle so?— Omdat ’n kar jou kan raakry. Maar eendag dink jy dalk: ‘Daar is nie nou karre nie. Ek sal nie seerkry nie. Ander kinders speel in die straat, en ek het nog nooit gesien dat hulle seerkry nie.’
Die meeste van die mense in Jerusalem het ook so gedink. Nadat die Romeinse leërs weggetrek het, het dit veilig gelyk. Ander mense het in die stad gebly. Daarom het hulle ook gebly. Hulle is gewaarsku, maar hulle het nie geluister nie. Gevolglik het hulle hulle lewe verloor.
Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. Het jy al ooit met vuurhoutjies gespeel?— Dit is dalk lekker om na die vlammetjie te kyk wanneer jy ’n vuurhoutjie trek. Maar dit kan gevaarlik wees om met vuurhoutjies te speel. Die hele huis kan afbrand, en jy kan doodgaan!
Onthou, dit is nie goed genoeg om net partykeer gehoorsaam te wees nie. Maar as jy altyd gehoorsaam is, sal dit jou regtig beskerm. En wie sê vir jou: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers”?— Dit is God. En onthou, hy sê dit omdat hy jou liefhet.
Lees nou hierdie tekste wat wys hoe belangrik dit is om gehoorsaam te wees: Spreuke 23:22; Prediker 12:13; Jesaja 48:17, 18 en Kolossense 3:20.