“Stry die goeie stryd van die geloof”
KAN jy jou enige soldaat voorstel wat in oorlogstyd ongelukkig sal voel as hy beveel word: “Jy moet teruggaan huis toe en tyd saam met jou vrou en familie deurbring”?
’n Soldaat in die tyd van koning Dawid van Israel het so ’n opdrag ontvang. Uria die Hetiet is deur die koning self ontbied en aangespoor om huis toe te gaan. Tog het Uria geweier om na sy huis te gaan. Toe Uria oor sy vreemde optrede uitgevra is, het hy geantwoord dat die verbondsark, wat God se teenwoordigheid afgebeeld het, en die Israelitiese leër op die slagveld was. “En ek”, het hy gevra, “sal ek in my eie huis ingaan om te eet en te drink en om by my vrou te gaan lê?” Vir Uria was dit ondenkbaar op so ’n kritieke tydstip.—2 Samuel 11:8-11.
Uria se optrede laat belangrike vrae ontstaan, want ons lewe ook in ’n tyd van oorlog. Daar woed tans ’n oorlog wat heeltemal anders is as enige oorlog wat die wêreld se nasies al ooit geveg het. Dit laat die twee wêreldoorloë na kinderspeletjies lyk, en jy is betrokke by hierdie oorlog. Baie is op die spel, die vyand is gedug. In hierdie oorlog word geen skote gevuur nie, geen bomme gewerp nie, maar die oorlogstrategie is nietemin van kritieke belang.
Voordat jy die wapen opneem, moet jy weet of dit sedelik reg is en ook waarvoor jy veg. Is die geveg die opoffering werd? Die doel van hierdie unieke stryd word deur die apostel Paulus in sy brief aan Timoteus duidelik gemaak: “Stry die goeie stryd van die geloof.” Ja, in hierdie oorlog moet jy nie ’n vesting verdedig nie, maar “die geloof”—die versameling Christelike waarhede soos dit in die Bybel geopenbaar word. Dit is duidelik dat jy volkome vertroue moet stel in “die geloof” om daarvoor te stry en die oorwinning te behaal.—1 Timoteus 6:12.
’n Verstandige soldaat probeer soveel as moontlik uitvind omtrent die vyand. In hierdie stryd het die vyand jarelange ondervinding in oorlogstrategie, met ’n oorvloed hulpbronne en wapentuig tot sy beskikking. Verder is hy bomenslik. Hy is wreed, gewelddadig en gewetenloos; hy is Satan (1 Petrus 5:8). Fisiese wapens asook die mens se vermoë om ander ’n rat voor die oë te draai of te uitoorlê, is nutteloos teen hierdie teenstander (2 Korintiërs 10:4). Wat kan jy gebruik om hierdie oorlog te voer?
Die vernaamste wapen is “die swaard van die gees, dit is God se woord” (Efesiërs 6:17). Die apostel Paulus toon hoe doeltreffend dit is: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). ’n Wapen wat so skerp en so presies is dat dit tot die innerlike gedagtes en beweegredes van ’n individu kan deurdring, moet sekerlik met vaardigheid en sorg gebruik word.
Soos jy waarskynlik weet, kan ’n leër die mees gesofistikeerde wapens hê, maar daardie wapens is nutteloos as die soldate nie oor die vaardigheid beskik om dit te gebruik nie. Jy het eweneens opleiding nodig om jou swaard doeltreffend te gebruik. Gelukkig kan jy deur die mees ervare stryders opgelei word. Jesus het hierdie persone wat opleiding gee in die stryd, ’n “getroue en verstandige slaaf” genoem, en die verantwoordelikheid is aan hulle toevertrou om tydige geestelike voedsel, of opleiding, aan sy volgelinge te voorsien (Matteus 24:45). Hierdie saamgestelde slaaf kan herken word aan hulle ywerige onderrigting en tydige waarskuwings oor die vyand se taktiek. Die getuienis toon dat dit die geesgesalfde lede van die Christengemeente van Jehovah se Getuies is.—Openbaring 14:1.
Hierdie saamgestelde slaaf verskaf nie net die opleiding nie. Hulle weerspieël ook die gees van die apostel Paulus, wat aan die gemeente in Tessalonika geskryf het: “Ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester. Omdat ons dan ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword” (1 Tessalonisense 2:7, 8). Dit hang van elke Christensoldaat self af of hy gebruik gaan maak van die liefdevolle opleiding wat voorsien word.
Die volle wapenrusting
’n Volledige figuurlike wapenrusting word vir jou beskerming voorsien. Jy kan in Efesiërs 6:13-18 ’n inventaris van hierdie wapenrusting vind. ’n Wakker soldaat sal dit nie in die geveg waag as ’n deel van sy geestelike wapenrusting ontbreek of herstel moet word nie.
’n Christen het sy volledige, beskermende wapenrusting nodig, maar die groot skild van geloof is veral waardevol. Daarom het Paulus geskryf: “Neem bowenal die groot skild van geloof op, waarmee julle al die brandende pyle van die bose sal kan blus.”—Efesiërs 6:16.
Die groot skild, wat die hele liggaam kon bedek, stel die eienskap geloof voor. Jy moet sterk geloof in Jehovah se leiding beoefen en sonder twyfel aanvaar dat al sy beloftes vervul sal word. Dit moet vir jou voel asof daardie beloftes reeds vervul is. Moenie vir een oomblik twyfel dat Satan se ganse wêreldstelsel binnekort vernietig sal word, dat die aarde in ’n paradys omskep sal word en dat mense wat lojaal aan God is, tot volmaaktheid sal terugkeer nie.—Jesaja 33:24; 35:1, 2; Openbaring 19:17-21.
In die buitengewone stryd waarin ons tans gewikkel is, het ons egter iets meer nodig—’n vriend. In oorlogstyd ontwikkel daar ’n hegte kameraadskap wanneer medestryders mekaar aanmoedig en beskerm, en met tye selfs mekaar se lewe red. Metgeselle is beslis waardevol, maar om hierdie stryd te oorleef, het jy die vriendskap nodig van niemand anders as Jehovah self nie. Daarom sluit Paulus sy lys van dinge waaruit die wapenrusting bestaan, met hierdie woorde af: “Terwyl julle met elke vorm van gebed en smeking aanhou om by elke geleentheid in gees te bid.”—Efesiërs 6:18.
Ons geniet dit om saam met ’n intieme vriend te wees. Ons soek sy geselskap op. Deur gereeld met Jehovah in gebed te praat, word hy vir ons ’n werklike persoon, ’n betroubare vriend. Die dissipel Jakobus spoor ons aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.
Die vyand se taktiek
Om teen hierdie wêreld te stry, kan soms wees soos om deur ’n veld te loop wat besaai is met landmyne. ’n Aanval kan uit enige oord kom, en die vyand probeer jou onverhoeds betrap. Maar wees verseker dat Jehovah jou van al die nodige beskerming voorsien het.—1 Korintiërs 10:13.
Die vyand probeer jou dalk ’n slag toedien deur Bybelwaarhede aan te val wat die grondslag van jou geloof vorm. Afvalliges gebruik dalk mooi woorde, vleitaal en verwronge redenasies om die oorhand oor jou te probeer kry. Maar die afvallige het nie jou welsyn in gedagte nie. Spreuke 11:9 sê: “Deur sy mond stort die afvallige sy medemens in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered.”
Dit sal ’n fout wees om te dink dat jy na afvalliges moet luister of hulle lektuur moet lees sodat jy hulle argumente kan weerlê. Hulle verwronge, giftige redenasies kan jou geestelik skade berokken en jou geloof besmet soos kanker wat vinnig versprei (2 Timoteus 2:16, 17). Beskou afvalliges eerder soos God hulle beskou. Job het van Jehovah gesê: “Voor hom sal geen afvallige inkom nie.”—Job 13:16.
Die vyand probeer dalk ’n ander taktiek, een waarmee hy al ’n mate van sukses behaal het. As ’n leër wat op pad is na die stryd, weggelok kan word om hulle aan losbandige, onsedelike gedrag skuldig te maak, kan dit tot wanorde lei.
Wêreldse vermaak, soos onsedelike films en televisievertonings en wilde musiek, is doeltreffende lokmiddels. Party beweer dat hulle na onsedelike tonele kan kyk of onsedelike lektuur kan lees sonder om daardeur geraak te word. Maar een persoon wat gereeld na seksueel eksplisiete films gekyk het, het openlik erken: “’n Mens vergeet nooit daardie tonele nie; hoe meer jy daaraan dink, hoe meer wil jy die dinge doen wat jy gesien het . . . Die rolprent laat jou dink dat jy werklik iets misloop.” Is dit die risiko werd om in so ’n subtiele aanval gewond te word?
Nog ’n wapen in die vyand se arsenaal is die aantrekkingskrag van materialisme. Dit kan moeilik wees om die gevaar raak te sien, aangesien ons almal materiële behoeftes het. Ons het ’n huis, voedsel en klere nodig, en dit is nie verkeerd om mooi dinge te hê nie. Die gevaar lê in ’n mens se perspektief. Geld kan belangriker word as geestelike dinge. Ons kan liefhebbers van geld word. Dit sal goed wees as ons ons herinner aan die beperkings van rykdom. Dit is verganklik, terwyl geestelike rykdom onverganklik is.—Matteus 6:19, 20.
As ’n leër se moraal laag is, raak die kanse op oorwinning skraler. “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 24:10). Ontmoediging is ’n wapen wat Satan met welslae gebruik. As jy ‘die hoop op redding as ’n helm’ dra, sal dit jou help om teen ontmoediging te stry (1 Tessalonisense 5:8). Probeer om jou hoop so sterk soos Abraham s’n te hou. Toe Abraham gevra is om sy enigste seun, Isak, te offer, het hy nie gehuiwer nie. Hy het geglo dat God Sy belofte sou vervul, naamlik om deur middel van sy nageslag al die nasies te seën, en dat God Isak, indien nodig, uit die dood kon opwek om daardie belofte te vervul.—Hebreërs 11:17-19.
Volhard in die stryd
Party wat al lank dapper veg, is dalk besig om moeg te word en stry dus nie meer met dieselfde ywer nie. Die voorbeeld van Uria, wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, kan almal wat by die stryd betrokke is, help om die regte perspektief te behou. Baie van ons mede-Christenstryders ly gebrek, word aan gevare blootgestel of ly weens koue en honger. Soos Uria, wil ons nie dink aan al die gerief wat ons nou kan geniet of voor ’n begeerte swig om ’n gemaklike lewe te lei nie. Ons wil by Jehovah se aardwye leër van lojale stryders bly en aanhou stry totdat ons die wonderlike seëninge kan geniet wat op ons wag.—Hebreërs 10:32-34.
Dit sal gevaarlik wees om in ons waaksaamheid te verslap en dalk te dink dat die finale aanval nog ver in die toekoms is. Die voorbeeld van koning Dawid beklemtoon die gevaar. Om die een of ander rede was hy nie saam met sy troepe in die geveg nie. Gevolglik het Dawid growwe sonde gepleeg wat hom die res van sy lewe sorge en lyding meegebring het.—2 Samuel 12:10-14.
Is dit die moeite werd om aan hierdie stryd deel te neem, die ontberinge van die geveg deur te maak, bespotting te verduur en twyfelagtige wêreldse plesier prys te gee? Diegene wat die stryd met welslae voer, erken dat die dinge wat die wêreld aanbied, aanloklik kan lyk, soos blink versiersels, maar as ’n mens dit van naderby beskou, het dit nie veel waarde nie (Filippense 3:8). Wat meer is, daardie plesier veroorsaak dikwels pyn en teleurstelling.
Die Christen in hierdie geestelike stryd geniet hegte kameraadskap met ware vriende, ’n skoon gewete en ’n wonderlike hoop. Geesgesalfde Christene sien uit na onsterflike hemelse lewe saam met Christus Jesus (1 Korintiërs 15:54). Die meerderheid Christenstryders hoop op volmaakte menselewe in ’n aardse paradys. Sulke belonings is tog sekerlik enige opoffering werd. En anders as wêreldse oorloë is die uiteinde van hierdie geveg vir ons gewaarborg, solank ons getrou bly (Hebreërs 11:1). Die uiteinde vir hierdie stelsel onder Satan se beheer is egter algehele vernietiging.—2 Petrus 3:10.
Onthou Jesus se woorde terwyl jy voortgaan in hierdie stryd: “Skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Hy het oorwin deur waaksaam te bly en sy onkreukbaarheid ondanks beproewinge te handhaaf. Ons kan dit ook doen.
[Lokteks op bladsy 27]
Geen skote word gevuur nie, geen bomme word gewerp nie, maar die oorlogstrategie is nietemin van kritieke belang
[Lokteks op bladsy 30]
Die uiteinde van hierdie geveg is vir ons gewaarborg, solank ons getrou bly
[Prent op bladsy 26]
Die helm van redding sal ons help om teen ontmoediging te stry
Gebruik die groot skild van geloof om Satan se “brandende pyle” af te weer
[Prent op bladsy 28]
“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”
[Prent op bladsy 29]
Ons moet geloof stel in die vervulling van God se beloftes