Bybelboek nommer 50—Filippense
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Rome
Geskrif voltooi: ca. 60–61 G.J.
1. (a) Hoe het die Filippense die goeie nuus gehoor? (b) Watter geskiedkundige agtergrond van die stad Filippi is interessant?
TOE die apostel Paulus in ’n visioen die oproep ontvang het om die goeie nuus na Macedonië te neem, het hy en sy metgeselle, Lukas, Silas en jong Timotheüs, gou gereageer. Hulle het van Troas in Klein-Asië per boot na Neapolis gereis en onmiddellik na Filippi vertrek, sowat 15 kilometer die binneland in oor ’n bergpas. Lukas beskryf die stad as ‘die eerste stad van daardie deel van Macedonië’ (Hand. 16:12). Dit is Filippi genoem na die Macedoniese koning Philippus II (vader van Alexander die Grote), wat die stad in 356 v.G.J. verower het. Later is dit deur die Romeine ingeneem. In 42 v.G.J. was dit die toneel van beslissende veldslae wat gehelp het om die posisie van Octavianus, wat later keiser Augustus geword het, te versterk. Ter herdenking van die oorwinning het hy Filippi ’n Romeinse kolonie gemaak.
2. Watter vooruitgang het Paulus met sy prediking in Filippi gemaak, en watter gebeure het met die geboorte van die gemeente aldaar gepaard gegaan?
2 Dit was Paulus se gewoonte om by sy eerste aankoms in ’n nuwe stad eers vir die Jode te preek. Maar by sy aankoms in Filippi omstreeks 50 G.J. het hy gevind dat daar min Jode was en dat hulle blykbaar geen sinagoge gehad het nie, want hulle het aan die oewer van ’n rivier buite die stad bymekaargekom vir gebed. Paulus se prediking het gou vrugte afgewerp, en een van die eerste bekeerlinge was Lidia, ’n sakevrou en Joodse proseliet wat die waarheid omtrent die Christus geredelik aangeneem het en daarop aangedring het dat die reisigers in haar huis vertoef. “Sy het ons gedwing”, skryf Lukas. Hulle het egter gou teenstand ondervind, en Paulus en Silas is met stokke geslaan en toe in die gevangenis gewerp. Terwyl hulle in die gevangenis was, was daar ’n aardbewing, en die tronkbewaarder en sy gesin, wat na Paulus en Silas geluister het, het gelowiges geword. Die volgende dag is Paulus en Silas uit die gevangenis vrygelaat, en voor hulle die stad verlaat het, het hulle die broers by Lidia se huis besoek en hulle bemoedig. Paulus kon hom nog duidelik die moeilikhede herinner wat met die geboorte van die nuwe gemeente in Filippi gepaard gegaan het.—Hand. 16:9-40.
3. Watter latere kontak het Paulus met die gemeente in Filippi gehad?
3 ’n Paar jaar later, gedurende sy derde sendingreis, kon Paulus weer eens die gemeente in Filippi besoek. Toe, omtrent tien jaar nadat die gemeente gestig is, het ’n roerende blyk van die liefde van die broers in Filippi Paulus beweeg om aan hulle die geïnspireerde brief te skryf wat onder die naam van daardie geliefde gemeente in die Heilige Skrif bewaar is.
4. Wat identifiseer die skrywer van Filippense, en waardeur word die egtheid van die brief bewys?
4 Dat Paulus wel die brief geskryf het, soos die eerste vers daarvan sê, word algemeen deur Bybelkommentators aanvaar, en met rede. Polycarpus (69?-155? G.J.) meld in sý brief aan die Filippense dat Paulus aan hulle geskryf het. Vroeë Bybelkommentators soos Ignatius, Ireneus, Tertullianus en Clemens van Alexandrië haal die brief aan as een wat deur Paulus geskryf is. Die Canon Muratori van die tweede eeu G.J. en al die ander vroeë kanons gee dit aan, en dit verskyn sy aan sy met agt ander briewe van Paulus in die Chester Beatty-papirus nr. 2 (P46), wat vermoedelik uit omstreeks 200 G.J. dateer.
5. Wat dui op Rome as die plek waar die brief geskryf is?
5 Waar en wanneer die brief geskryf is, kan met redelike sekerheid vasgestel word. Toe dit geskryf is, was Paulus ’n gevangene wat deur die lyfwag van die Romeinse keiser bewaak is, en daar was heelwat Christelike bedrywigheid om hom aan die gang. Hy het sy brief afgesluit met groete van die getroues in die keiser se huis. Al hierdie feite dui op Rome as die plek waarvandaan die brief gestuur is.—Filip. 1:7, 13, 14; 4:22; Hand. 28:30, 31.
6. Watter bewyse is daar om vas te stel wanneer Filippense geskryf is?
6 Maar wanneer is die brief geskryf? Blykbaar was Paulus reeds lank genoeg in Rome dat die tyding van en redes vir sy gevangenskap as ’n Christen reg deur die keiser se Pretoriaanse Wag en na talle ander kon versprei. Daar was ook tyd vir Epafroditus om met ’n geskenk vir Paulus van Filippi (sowat 1 000 kilometer daarvandaan) te kom, vir die tyding van Epafroditus se siekte in Rome om weer Filippi te bereik en vir betuiginge van droefheid hieroor om van Filippi na Rome te kom (Filip. 2:25-30; 4:18). Aangesien Paulus se eerste gevangenskap in Rome omstreeks 59-61 G.J. plaasgevind het, het hy heel waarskynlik hierdie brief om en by 60 of 61 G.J., ’n jaar of langer na sy aankoms in Rome, geskryf.
7. (a) Watter band het tussen Paulus en die Filippense bestaan, en wat het hom beweeg om aan hulle te skryf? (b) Watter soort brief is Filippense?
7 Die barensweë wat ondervind is toe hierdie kinders in Filippi deur die woord van waarheid gebore is, die Filippense se geneentheid en milde gawes van nodige dinge wat Paulus gedurende baie van sy reise en beproewinge gevolg het, en Jehovah se treffende seëninge op die aanvanklike sendingarbeid in Macedonië het saam ’n kragtige band van wedersydse liefde tussen Paulus en die broers in Filippi gesmee. Nou het hulle vriendelike gawe, gevolg deur hulle besorgde navraag oor Epafroditus en die vooruitgang van die goeie nuus in Rome, Paulus beweeg om ’n hartlike en liefdevolle brief vol opbouende bemoediging aan hulle te skryf.
INHOUD VAN FILIPPENSE
8. (a) Hoe betuig Paulus sy vertroue in en geneentheid vir die broers in Filippi? (b) Wat sê Paulus oor sy gevangenisboeie, en watter raad gee hy?
8 Die verdediging en vooruitgang van die goeie nuus (1:1-30). Paulus en Timotheüs stuur groete en Paulus dank God vir die bydrae wat die Filippense “van die eerste dag af tot nou toe” tot die goeie nuus gelewer het. Hy is daarvan oortuig dat hulle hulle goeie werk sal volbring, want hulle is saam met hom deelgenote in die onverdiende goedheid, asook in “die verdediging en bevestiging van die evangelie”. Hy verlang met tere geneentheid na hulle en sê: “Dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word . . . om die dinge waar dit op aankom, te onderskei” (1:5, 7, 9, 10). Paulus wil hê dat hulle moet weet dat sy aangeleenthede “op bevordering van die evangelie uitgeloop het”, deurdat sy gevangenisboeie algemeen bekend geword het en die broers aangemoedig is om die woord van God onbevrees te spreek. Hoewel dit vir Paulus ’n wins sou wees om nou te sterf, weet hy nietemin dat dit ter wille van hulle vooruitgang en vreugde noodsaakliker is dat hy bly. Hy vermaan hulle om hulle te gedra op ’n wyse wat die goeie nuus waardig is, want, of hy na hulle toe kom of nie, hy wil hoor dat hulle in eenheid stry en ‘in geen opsig deur hulle teenstanders afgeskrik word nie’.—1:12, 18.
9. Hoe kan die Filippense Christus se gesindheid behou?
9 Behou dieselfde gesindheid as Christus (2:1-30). Paulus spoor die Filippense aan om nederig te wees, ‘om nie elkeen na sy eie belange om te sien nie, maar ook na die belange van ander’. Hulle moet dieselfde gesindheid as Christus Jesus hê wat, hoewel hy in God se gedaante bestaan het, homself ontledig het om ’n mens te word en hom in gehoorsaamheid verneder het tot die dood toe, sodat God hom verhoog het en hom ’n naam bo elke ander naam gegee het. Paulus vermaan hulle: “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing.” “Doen alles sonder murmurering en teëspraak”, en hou “die woord van die lewe” stewig vas (2:4, 12, 14, 16). Hy hoop om Timotheüs na hulle te stuur en vertrou dat hyself ook binnekort sal kom. Voorlopig stuur hy Epafroditus, wat van sy siekte herstel het, na hulle sodat hulle hulle weer kan verheug.
10. Hoe het Paulus die doel nagejaag, en wat spoor hy ander aan om te doen?
10 ‘Jaag die doel na’ (3:1–4:23). ‘Ons van die ware besnydenis’, sê Paulus, ‘moet oppas vir die honde, vir die wat die vlees vermink.’ As enigiemand rede het om op die vlees te vertrou, het Paulus nog meer, en sy agtergrond as ’n besnede Jood en ’n Fariseër bewys dit. Maar hy beskou dit alles as skade ‘weens die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, sy Here’. Deur die geregtigheid wat deur die geloof is, hoop hy om ‘die vroeëre opstanding uit die dode te bereik’ (3:2, 3, 8, 11, vgl. NW). Daarom, sê Paulus, ‘vergeet ek die dinge wat agter is en strek ek my uit na wat voor is, en ek jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus’. Laat almal wat ryp is dieselfde gesindheid hê. Daar is diegene wie se buik hulle god is, wie se verstande gerig is op die dinge op die aarde en wie se einde vernietiging is, maar “ons burgerskap is in die hemele”, verseker Paulus.—3:13, 14, 20.
11. (a) Watter dinge moet bedink en beoefen word? (b) Wat sê Paulus oor die Filippense se edelmoedigheid?
11 ‘Verbly julle in die Here’, maan Paulus, ‘en laat julle redelikheid aan alle mense bekend word. Bly die dinge bedink wat waar en van ernstige belang is, dinge wat regverdig, rein en lieflik is, dinge waaroor gunstig gespreek word, wat deugsaam en loflik is. Beoefen wat julle geleer en aanvaar en gehoor en in verband met my gesien het, en die God van vrede sal met julle wees’ (4:4-9, vgl. NW). Paulus verheug hom grootliks in die Filippense se edelmoedige gedagtes jeens hom, hoewel hy tot alles in staat is ‘deur hom wat krag gee’. Hy bedank hulle hartlik vir hulle gawe. Vandat hy die goeie nuus in Macedonië begin verkondig het, het hulle uitgemunt in mededeelsaamheid. God sal op sy beurt al hulle behoeftes vervul na die mate van “sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (4:13, 19). Hy stuur groete van al die heiliges, met inbegrip van dié van die huis van die keiser.
WAAROM NUTTIG
12. Hoe kan ons vandag, soos die broers in Filippi, God se goedkeuring verkry en ’n bron van vreugde vir ons broers word?
12 Hoe nuttig is die boek Filippense tog vir ons! Ons verlang beslis Jehovah se goedkeuring en dieselfde soort lof van ons Christenopsieners as wat die gemeente in Filippi van Paulus ontvang het. Ons kan dit ontvang as ons die goeie voorbeeld van die Filippense en die liefdevolle raad van Paulus volg. Soos die Filippense moet ons vrygewig wees, moet dit vir ons ’n saak van erns wees om ons broers te help wanneer hulle in die moeilikheid verkeer en moet ons ’n aandeel aan die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus hê (1:3-7). Ons moet voortdurend “in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie” terwyl ons as “ligte” skyn te midde van ’n krom en verdraaide geslag. As ons hierdie dinge doen en voortgaan om die dinge van ernstige belang te bedink, kan ons ’n bron van vreugde vir ons broers word net soos die Filippense ’n bron van groot vreugde vir die apostel Paulus geword het.—1:27; 2:15; 4:1, 8, vgl. NW.
13. In watter opsigte kan ons Paulus eendragtig navolg?
13 “Wees [eendragtig] my navolgers”, sê Paulus. In watter opsig kan ons hom navolg? Een manier is om onder alle omstandighede vergenoeg te wees. Of Paulus nou ’n oorvloed gehad of gebrek gely het, hy het geleer om hom by die omstandighede aan te pas sonder om te kla, sodat hy ywerig en met vreugde in God se bediening kon voortgaan. Almal moet ook soos Paulus wees deur tere geneentheid vir getroue broers te toon. Met watter liefderyke vreugde het hy tog van Timotheüs en Epafroditus se bediening gepraat! En hoe na het hy tog gevoel aan sy broers in Filippi, wat hy aangespreek het as “my geliefde broers, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon”!—3:17; 4:1, 11, 12; 2:19-30.
14. Watter uitstekende raad gee die brief aan die Filippense met betrekking tot die lewe en die Koninkryk as doel, en aan wie in die besonder is die brief gerig?
14 Hoe kan Paulus nog nagevolg word? Deur ‘die doel na te jaag’! Almal wat hulle verstande gerig het op die ‘dinge van ernstige belang’ stel intens belang in Jehovah se wonderlike reëling in die hemel en op die aarde, waarin ‘elke tong openlik sal bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader’. Die uitstekende raad in Filippense spoor almal wat op die ewige lewe in verband met God se Koninkryk hoop aan om daardie doel na te jaag. Die brief aan die Filippense is egter hoofsaaklik gerig aan diegene wie se ‘burgerskap in die hemele is’ en wat gretig daarna uitsien om ‘aan Christus se verheerlikte liggaam gelykvormig te word’. Laat hulle almal, terwyl hulle ‘die dinge wat agter is, vergeet en hulle uitstrek na wat voor is’, die apostel Paulus navolg deur ‘die doel na te jaag om die prys te verkry van die hoë roeping’, hulle glorieryke erfenis in die Koninkryk van die hemele!—4:8, NW; 2:10, 11; 3:13, 14, 20, 21.