Wees redelik in jou verwagtinge en wees vreugdevol
“EK HET al weer misluk!” Hoeveel keer het jy al so iets gesê omdat jy nie daarin kon slaag om te doen wat jy graag wou nie? ’n Jong Christenmoeder sê dalk iets soortgelyks omdat sy oorweldig voel deur die voortdurende aandag wat haar pasgebore baba van haar eis en gefrustreerd is omdat sy nie meer aandag aan geestelike belange kan skenk nie. ’n Ander Christen voel moontlik dat hy weens sy opvoeding beperkings het en dink dalk dat hy nooit genoeg in die gemeente doen nie. ’n Bejaarde Getuie voel miskien neerslagtig omdat sy nie so ’n volle aandeel aan Christelike bedrywighede kan hê soos toe sy meer energie gehad het en makliker kon rondbeweeg nie. “’n Toespraak oor pionierdiens is partykeer genoeg om my te laat huil”, sê Christiane, wie se gesinsomstandighede haar verhinder om soveel in Jehovah se diens te doen as wat sy graag wil.
Hoe kan ons sulke gevoelens die hoof bied? Hoe het party Christene dit reggekry om ’n realistiese beskouing van hulle omstandighede aan te kweek? Watter voordele hou dit in om gebalanseerde verwagtinge te hê?
Wees redelik
Die apostel Paulus gee vir ons ’n sleutel om ons vreugde te behou wanneer hy sê: “Verbly julle altyd in die Here. Weer eens sal ek sê: Verbly julle! Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Fil. 4:4, 5). Om vreugde en bevrediging uit ons diens aan God te put, moet ons redelike verwagtinge stel ooreenkomstig ons vermoëns en omstandighede. As ons onredelike doelwitte probeer bereik ongeag die koste, onderwerp ons ons aan onnodige druk. Aan die ander kant moet ons versigtig wees om nie te toegeeflik teenoor onsself te word en die beperkings wat ons meen ons het, as ’n verskoning gebruik om minder in die Christelike bediening te doen as wat ons omstandighede noodsaak nie.
Ongeag ons omstandighede, Jehovah vereis dat ons hom ons beste gee—hom met ons hele hart en hele siel dien (Kol. 3:23, 24). As ons Jehovah minder as ons beste gee, leef ons nie ons toewyding aan hom na nie (Rom. 12:1). Daarbenewens sal ons ons beroof van die diepe bevrediging, ware vreugde en ander ryk seëninge wat uit heelhartige diens spruit.—Spr. 10:22.
Die woord wat met “redelikheid” in die Bybel vertaal word, bevat die gedagte van bedagsaam te wees. Die letterlike betekenis daarvan is “toegewend” (Jak. 3:17, vtn in NW). Die woord dra ook die gedagte oor van nie te streng te wees nie. As ons redelik is, sal ons dus ons omstandighede op ’n gebalanseerde wyse kan ondersoek. Is dit moeilik? Vir sommige is dit, al kan hulle bedagsaam teenoor ander wees. As ’n goeie vriend byvoorbeeld tekens van uitputting toon omdat hy hom ooreis, sal ons hom tog sekerlik probeer help om te sien dat dit wys sal wees om veranderinge in sy lewe aan te bring. Net so moet ons leer om die tekens te herken wat vir ons sê dat ons ons eie perke oorskry.—Spr. 11:17.
As ons grootgemaak is deur ouers wat te veeleisend was, kan dit moeiliker wees om ’n redelike beskouing van ons beperkings te hê. Party het gedurende hulle kinderjare gevoel dat hulle altyd meer moes doen of beter moes wees om hulle ouers se liefde te wen. As dit met ons die geval was, het ons miskien ’n verkeerde indruk van Jehovah se beskouing van ons. Jehovah het ons lief omdat ons hom heelhartig dien. God se Woord verseker ons dat Jehovah “goed [weet] hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Ps. 103:14). Hy weet wat ons beperkings is en het ons lief wanneer ons hom ten spyte daarvan ywerig dien. As ons in gedagte hou dat God nie ’n streng taakgewer is nie, sal dit ons help om beskeie te wees in wat ons van onsself verwag deur ons beperkings te erken.—Miga 6:8.
Sommige mense vind dit nietemin moeilik om so ’n gebalanseerde gesindheid aan te kweek. As dit met jou die geval is, kan jy gerus ’n ervare Christen wat jou goed ken, om hulp vra (Spr. 27:9). Wil jy byvoorbeeld as ’n gewone pionier dien? Dit is ’n uitstekende doelwit! Sukkel jy om hierdie doelwit te bereik? Miskien het jy hulp nodig om jou lewe te vereenvoudig. Of jou vertroude Christenvriend kan jou dalk help om te bepaal of gewone pionierdiens op hierdie stadium ’n praktiese doelwit is in die lig van al jou gesinsverantwoordelikhede. Hy of sy kan jou help om te sien of die bykomende bedrywighede wat jy wil aanpak, binne jou bereik is of watter verandering jou in staat kan stel om meer te doen. ’n Man is ook in ’n goeie posisie om sy vrou te help om die regte pas ooreenkomstig haar vermoëns te vind. Hy kan byvoorbeeld voorstel dat sy ’n bietjie rus voordat sy ’n nuwe maand begin waarin sy meer wil doen. Dit kan haar energie opbou en haar help om haar vreugde in die bediening te behou.
Soek dinge wat jy kan doen
Bejaardheid of verswakkende gesondheid kan in sekere mate beperk wat ons in Jehovah se diens kan doen. As jy ’n ouer is, voel jy dalk dat jy nie juis baat vind by persoonlike studie of Christelike vergaderinge nie omdat baie van jou tyd en energie deur jou jong kinders in beslag geneem word. Maar kan dit wees dat jy soms nie sien wat wel binne jou bereik is nie omdat jy op jou beperkings konsentreer?
Duisende jare gelede het ’n sekere Leviet ’n begeerte uitgespreek wat vir hom onmoontlik was om te bevredig. Hy het die voorreg gehad om twee weke elke jaar by die tempel te dien. Maar hy het die prysenswaardige begeerte uitgespreek om permanent naby die altaar te wees (Ps. 84:1-3). Wat het hierdie getroue man gehelp om vergenoegd te wees? Hy het besef dat selfs net één dag in die voorhowe van die tempel ’n unieke voorreg is (Ps. 84:4, 5, 10). Ons moet eweneens nie oor ons beperkings tob nie, maar moet eerder probeer om die geleenthede wat wel binne ons bereik is, raak te sien en te waardeer.
Beskou die voorbeeld van Nerlande, ’n Christensuster in Kanada. Sy is aan ’n rolstoel gekluister en het gevoel dat sy baie min in die bediening kan doen. Maar sy het haar uitkyk verander deur ’n nabygeleë winkelsentrum as haar persoonlike gebied te beskou. Sy verduidelik: “Ek sit in my rolstoel naby ’n bankie in die winkelsentrum. Ek geniet dit om vir mense te getuig wat kom sit om ’n bietjie te rus.” Dit verskaf Nerlande groot bevrediging om aan hierdie belangrike aspek van die bediening deel te neem.
Maak die nodige aanpassings
’n Seilboot seil dalk in volle vaart met die wind in sy seile. Maar wanneer die stuurman ’n hewige storm teëkom, móét hy eenvoudig die seile verstel. Hy is nie in beheer van die storm nie, maar deur aanpassings te maak, kan hy in beheer van sy seilboot bly. Net so het ons dikwels nie beheer oor ongunstige, stormagtige omstandighede wat ons in die lewe teëkom nie. Maar ons kan sover moontlik in beheer van ons lewe bly deur aanpassings te maak in die manier waarop ons ons fisiese, verstandelike en emosionele krag gebruik. As ons ons nuwe omstandighede in ag neem, sal dit ons help om ons tevredenheid en vreugde in God se diens te behou.—Spr. 11:2.
Kyk na ’n paar voorbeelde. As ons min energie het, sal dit moontlik goed wees om uitputtende bedrywighede vroeër in die dag te vermy sodat ons die krag sal hê om ’n Christelike vergadering in die aand by te woon. Dit sal ons in staat stel om ons omgang met mede-Christene ten volle te benut. Of as ’n moeder nie aan die huis-tot-huis-bediening kan deelneem nie omdat haar kind siek is, sal sy dit miskien prakties vind om ’n Christensuster na haar huis te nooi om saam met haar telefoongetuieniswerk te doen terwyl die kind slaap.
Sê nou jou omstandighede laat jou nie toe om voor te berei vir alles wat by die gemeentelike vergadering bespreek gaan word nie? Jy kan bepaal hoeveel jy kan voorberei en dit dan so goed moontlik doen. As ons ons onmiddellike doelwitte aanpas, kan ons bedrywig en gelukkig bly.
Dit verg dalk vasbeslotenheid en inspanning om ons doelwitte aan te pas. Serge en Agnès, ’n egpaar in Frankryk, moes hulle planne grootliks verander. “Toe ons uitvind dat Agnès swanger is, was dit die einde van ons droom om sendelinge te wees”, sê Serge. Serge, wat nou ’n vader van twee energieke dogtertjies is, verduidelik hoe hulle as ’n egpaar ’n nuwe doelwit gestel het. Hy sê: “Omdat ons nie in ’n ander land kon dien nie, het ons besluit om ‘sendelinge’ in ons eie land te wees. Ons het by ’n anderstalige groep aangesluit.” Het hulle baat gevind by hierdie nuwe doelwit? Serge sê: “Ons voel baie nuttig in die gemeente.”
Odile, ’n Christensuster in Frankryk wat in haar sewentigerjare is en osteoartritis in haar knieë het, kan nie lank staan nie. Sy was mismoedig omdat haar fisiese probleme haar verhinder het om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem. Maar sy het nie tou opgegooi nie. Sy het haar bedrywighede aangepas deur telefoongetuieniswerk te doen. Sy sê: “Dit is makliker en lekkerder as wat ek gedink het!” Hierdie vorm van die predikingswerk het haar nuwe ywer vir die bediening gegee.
Redelike verwagtinge bring seëninge mee
As ons ’n redelike beskouing aankweek van wat ons kan doen, sal dit ons baie frustrasie spaar. As ons gebalanseerde doelwitte stel, gee dit ons ’n gevoel van voldoening ondanks ons beperkings. Dan kan ons ons verheug oor wat ons kan doen, al is dit betreklik min.—Gal. 6:4.
As ons daarna streef om gebalanseerd te wees in wat ons van onsself verwag, sal ons bedagsamer teenoor mede-Christene word. Omdat ons bewus is van hulle beperkings, sal ons altyd dankbaar wees vir wat hulle vir ons doen. Deur waardering te toon vir enige hulp wat aangebied word, dra ons by tot ’n gees van samewerking en wedersydse begrip (1 Pet. 3:8). Onthou dat Jehovah, as ’n liefdevolle Vader, nooit meer van ons vra as wat ons kan gee nie. En wanneer ons gebalanseerde verwagtinge het en bereikbare doelwitte stel, sal ons geestelike bedrywighede ons groter bevrediging en vreugde verskaf.
[Lokteks op bladsy 29]
Om vreugde en bevrediging uit ons diens aan God te put, moet ons redelike verwagtinge stel ooreenkomstig ons vermoëns en omstandighede
[Prent op bladsy 30]
Nerlande put vreugde uit wat sy in die bediening kan doen
[Prent op bladsy 31]
Leer om “die seile te verstel”
[Erkenning]
© Wave Royalty Free/age fotostock
[Prent op bladsy 32]
Serge en Agnès het daarby baat gevind om nuwe doelwitte te stel