Weet hoe jy elkeen behoort te antwoord
PARTY vrae is soos ysberge. Die grootste deel daarvan is onder die oppervlak versteek. ’n Onderliggende saak is dikwels belangriker as die vraag self.
Selfs wanneer iemand baie graag die antwoord op sy vraag wil hê, moet jy moontlik, as jy weet hoe jy hom behoort te antwoord, kan onderskei hoeveel jy moet sê en uit watter hoek jy die onderwerp moet benader (Joh. 16:12). In sommige gevalle, soos Jesus aan sy apostels getoon het, vra iemand inligting waarop hy nie geregtig is nie of wat hom nie werklik tot voordeel sal strek nie.—Hand. 1:6, 7.
Die Skrif vermaan ons: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kol. 4:6). Voordat ons iemand antwoord, moet ons dus nie net nadink oor wat ons gaan sê nie, maar ook hoe ons dit gaan sê.
Neem die persoon se beskouing in ag
Die Sadduseërs het Jesus ’n strikvraag gevra oor die opstanding van ’n vrou wat verskeie kere getroud was. Maar Jesus het geweet dat hulle nie eintlik aan die opstanding geglo het nie. In sy antwoord op hulle vraag het hy dus die verkeerde beskouing wat die grondslag van daardie vraag was, probeer regstel. Jesus het ’n meesterlike argument en ’n bekende skriftuurlike verslag gebruik en hulle iets geleer waaraan hulle nooit voorheen gedink het nie—duidelike bewys dat God inderdaad die dooies gaan opwek. Sy antwoord het sy teenstanders so verstom dat hulle bang was om hom enige verdere vrae te vra.—Luk. 20:27-40.
Om te weet hoe jy elkeen behoort te antwoord, moet jy ook vasstel wat hulle beskouings is en waaroor hulle besorg is. Byvoorbeeld, ’n klasmaat of ’n werksmaat vra jou miskien waarom jy nie Kersfees vier nie. Waarom vra hy dit? Wil hy werklik die rede weet of wonder hy net of jy wel pret mag hê? As jy wil uitvind, sal jy dalk moet vra waarom hy die vraag vra. Antwoord dan daarvolgens. Jy kan ook van die geleentheid gebruik maak om te toon hoe ons, deur die Bybel se riglyne te volg, teen sekere aspekte van die viering beskerm word wat ’n frustrasie en ’n las vir mense geword het.
Gestel jy word genooi om met ’n groep studente oor Jehovah se Getuies te praat. Ná jou aanbieding sal hulle moontlik vrae vra. As dit na opregte en direkte vrae klink, sal dit die beste wees om eenvoudige en reguit antwoorde te gee. As die vrae gemeenskapsvooroordele weerspieël, sal dit dalk raadsaam wees om eers kortliks kommentaar te lewer oor wat die gemeenskap se beskouing oor sulke sake kan beïnvloed en waarom Jehovah se Getuies verkies om die Bybel se standaard te volg. Dit is dikwels goed om sulke vrae te beskou as vrae wat uit belangstelling gestel word en nie as aanvalle nie—selfs al klink dit so. Jou antwoord gee jou dan die geleentheid om jou gehoor se beskouing te verbreed, hulle juiste inligting te gee en die skriftuurlike grondslag van ons oortuigings te verduidelik.
Wat sal jy vir ’n werkgewer sê wat jou nie verlof wil gee om ’n byeenkoms by te woon nie? Beskou sake eers uit sy oogpunt. Sal dit help as jy aanbied om op ’n ander tyd oortyd te werk? Sal dit ’n verskil maak as jy aan hom verduidelik dat die onderrigting wat ons by ons byeenkomste ontvang, ons help om eerlike, betroubare werkers te wees? As jy toon dat jy sy belange in ag neem, sal hy jou miskien tegemoetkom omdat hy besef dat dit vir jou belangrik is. Maar sê nou hy wil hê jy moet iets oneerliks doen? As jy reguit vir hom nee sê en ook vir hom ’n skriftuurlike gedagte noem, sal dit jou standpunt duidelik maak. Maar sal jy nie miskien meer bereik as jy eers met hom redeneer dat iemand wat bereid is om op sy versoek leuens te vertel of te steel, ook dalk vir hom leuens sal vertel of van hom sal steel nie?
Of jy is moontlik ’n skolier wat nie aan sekere onskriftuurlike bedrywighede by die skool wil deelneem nie. Onthou, die onderwyser deel waarskynlik nie jou beskouings nie, en dit is sy verantwoordelikheid om dissipline in die klas te handhaaf. Die uitdagings waarvoor jy te staan kom, is (1) om in ag te neem wat vir hom van belang is, (2) om jou standpunt op eerbiedige wyse te verduidelik en (3) om ’n ferm standpunt in te neem vir wat jy weet Jehovah sal behaag. Vir die beste resultate sal jy dalk meer moet doen as om net eenvoudig en reguit te sê wat jy glo (Spr. 15:28). As jy nog jonk is, sal een van jou ouers jou ongetwyfeld help om jou antwoord voor te berei.
Soms sal jy dalk beskuldigings moet weerlê wat iemand in gesag teen jou ingebring het. ’n Polisiebeampte, ’n staatsamptenaar of ’n regter kan eis dat jy vrae beantwoord oor gehoorsaamheid aan ’n sekere wet, jou standpunt ten opsigte van Christelike neutraliteit of jou gesindheid teenoor deelname aan patriotiese seremonies. Hoe moet jy antwoord? “Met sagmoedigheid en diep respek”, spoor die Bybel ons aan (1 Pet. 3:15). Vra jou ook af waarom hierdie kwessies vir hom van belang is, en toon op eerbiedige wyse begrip daarvoor. Wat dan? Die apostel Paulus het voorsienings van die Romeinse wet gebruik; jy kan dus wetlike voorsienings gebruik wat in jou geval van toepassing is (Hand. 22:25-29). Die amptenaar sal jou beskouing miskien beter verstaan as jy hom feite gee oor die standpunt wat vroeë Christene ingeneem het en wat wêreldwyd deur Jehovah se Getuies ingeneem word. Of jy kan verduidelik hoe erkenning van God se gesag mense in werklikheid beweeg om onder alle omstandighede gehoorsaam te wees aan mensewette wat nie met God se wette bots nie (Rom. 13:1-14). Teen so ’n agtergrond sal ’n verduideliking van die skriftuurlike redes vir jou standpunt dalk aanvaar word.
Die persoon se beskouing van die Skrif
Wanneer jy besluit hoe om te antwoord, sal jy moontlik ook die persoon wat die vraag stel, se beskouing van die Heilige Skrif in ag moet neem. Jesus het dit gedoen toe hy die Sadduseërs se vraag oor die opstanding beantwoord het. Omdat hy geweet het dat hulle slegs Moses se geskrifte aanvaar, het Jesus oor ’n verslag geredeneer wat in die Pentateug opgeteken is en begin deur te sê: “Maar dat die dooies opgewek word, het ook Moses onthul” (Luk. 20:37). Jy sal dit ook nuttig vind om uit dele van die Bybel aan te haal wat die persoon met wie jy praat, aanvaar en waarmee hy vertroud is.
Sê nou die persoon met wie jy praat, beskou nie die Bybel as gesaghebbend nie? Let op wat die apostel Paulus in sy toespraak op die Areopagus gedoen het, soos in Handelinge 17:22-31 opgeteken staan. Hy het skriftuurlike waarhede bespreek sonder om direk uit die Bybel aan te haal. Jy kan dieselfde doen, indien nodig. In sommige gevalle sal jy etlike besprekings met ’n persoon moet hê voordat jy direk na die Bybel verwys. Wanneer jy wel na die Bybel verwys, sal dit dalk verstandig wees om eers te sê waarom dit ons aandag verdien en nie net reguit te sê dat dit God se Woord is nie. Maar jou oogmerk moet wees om ’n duidelike getuienis oor God se voorneme te gee en om die persoon wat na jou luister mettertyd self die Bybel te laat ondersoek. Die Bybel is baie meer oortuigend as enigiets wat ons persoonlik kan sê.—Heb. 4:12.
“Altyd aangenaam”
Hoe gepas is dit tog dat daar vir knegte van Jehovah gesê word dat hulle woorde “altyd aangenaam [moet] wees, smaaklik gemaak met sout”! (Kol. 4:6). Dit beteken dat ons vriendelik moet wees wanneer ons praat, selfs wanneer iemand dit blykbaar nie verdien nie. Ons woorde moet smaakvol wees, nie ongemanierd of taktloos nie.
Baie mense is onder geweldige druk, en hulle word elke dag afgekraak. Wanneer ons sulke mense besoek, is hulle dalk kortaf. Hoe moet ons reageer? Die Bybel sê: “’n Sagte antwoord keer woede af.” So ’n antwoord kan iemand wie se beskouing van ons s’n verskil, ook meer inskiklik maak (Spr. 15:1; 25:15). As mense elke dag sleg behandel word, kan ons vriendelike optrede en stemtoon hulle so beïndruk dat hulle miskien sal luister na die goeie nuus wat ons bring.
Ons wil glad nie met mense argumenteer wat geen respek vir die waarheid toon nie. Ons begeerte is eerder om uit die Skrif te redeneer met mense wat ons sal toelaat om dit te doen. Ongeag die situasie wat ons teëkom, ons hou in gedagte dat ons met vriendelikheid en met oortuiging behoort te antwoord dat die kosbare beloftes van God betroubaar is.—1 Tess. 1:5.
Persoonlike besluite en gewetensake
Hoe moet jy antwoord wanneer ’n Bybelstudent of ’n medegelowige jou vra wat hy in ’n sekere situasie moet doen? Jy weet dalk wat jy sou doen. Maar elkeen moet vir sy eie besluite in die lewe aanspreeklikheid aanvaar (Gal. 6:5). Die apostel Paulus het verduidelik dat hy die mense vir wie hy getuig het, aangemoedig het om “gehoorsaamheid deur geloof” te toon (Rom. 16:26). Dit is ’n goeie voorbeeld vir ons om te volg. Iemand wat besluite neem hoofsaaklik om sy Bybelonderrigter of iemand anders te behaag, dien mense en lewe nie deur geloof nie (Gal. 1:10). ’n Eenvoudige, direkte antwoord is dalk nie in die belang van die een wat die vraag vra nie.
Hoe kan jy dus op ’n manier antwoord wat met die Bybel se riglyne strook? Jy kan die aandag vestig op gepaste Bybelbeginsels en voorbeelde in die Bybelverslag is. In sommige gevalle kan jy hom wys hoe om navorsing te doen sodat hy daardie beginsels en voorbeelde self kan vind. Jy kan selfs die beginsels en die waarde van die voorbeelde bespreek, maar sonder om dit op die betrokke situasie toe te pas. Vra die persoon of hy iets daarin sien wat hom kan help om ’n wyse besluit te neem. Moedig hom aan om in die lig van daardie beginsels en voorbeelde te besluit watter weg Jehovah sal behaag. Jy help hom sodoende om sy eie ‘waarnemingsvermoëns te oefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is’.—Heb. 5:14.
Kommentare by gemeentelike vergaderinge
Vergaderinge van die Christengemeente gee ons dikwels geleenthede om ons geloof in die openbaar bekend te maak. Een manier waarop ons dit doen, is deur kommentaar te lewer op vrae wat gestel word. Hoe moet ons kommentaar lewer? Met ’n begeerte om Jehovah te loof. Dit is wat die psalmis Dawid gedoen het toe hy “onder die versamelde menigtes” was (Ps. 26:12). Ons kommentare moet ook medegelowiges aanmoedig en “tot liefde en goeie werke” aanspoor, soos die apostel Paulus gemaan het (Heb. 10:23-25). As ons die materiaal vooraf bestudeer, sal dit ons help om dit te doen.
Wanneer jy kommentaar lewer, moet dit eenvoudig, duidelik en bondig wees. Moenie die hele paragraaf dek nie; bespreek slegs een punt. As jy net ’n deel van die antwoord gee, sal dit ander die geleentheid bied om verdere kommentare te lewer. Dit is veral nuttig om die tekste te beklemtoon wat in die materiaal aangegee word. Wanneer jy dit doen, moet jy die aandag probeer vestig op die deel van die teks wat op die punt onder bespreking van toepassing is. Leer om in jou eie woorde te antwoord en nie direk uit die paragraaf te lees nie. Moenie ontmoedig raak as jy ’n bietjie oor jou woorde struikel wanneer jy kommentaar lewer nie. Dit gebeur soms met almal wat kommentaar lewer.
Dit is duidelik dat daar meer by betrokke is om te weet hoe jy ander behoort te antwoord as om net die antwoord self te ken. Dit verg onderskeidingsvermoë. Maar hoe bevredigend is dit tog wanneer jy ’n antwoord gee wat uit jou hart uit kom, en wat die harte van ander raak!—Spr. 15:23.