HOOFSTUK DRIE
Twee sleutels tot ’n blywende huwelik
1, 2. (a) Hoe lank was die huwelik veronderstel om te duur? (b) Hoe is dit moontlik?
TOE God die eerste man en vrou in die huwelik verbind het, was daar geen aanduiding dat die verbintenis slegs tydelik sou wees nie. Adam en Eva sou lewenslank bymekaarbly (Genesis 2:24). God se standaard vir ’n eerbare huwelik is dat een man en een vrou in die eg verenig word. Slegs growwe onsedelikheid deur een of albei huweliksmaats voorsien ’n skriftuurlike grondslag vir egskeiding met die moontlikheid om weer te trou.—Matteus 5:32.
2 Is dit moontlik dat twee mense vir ’n onbepaalde tyd gelukkig kan saamwoon? Ja, en die Bybel noem twee belangrike faktore, oftewel sleutels, wat help om dit moontlik te maak. As die man sowel as die vrou daarvan gebruik maak, sal dit vir hulle die weg baan tot geluk en baie seëninge. Wat is hierdie sleutels?
DIE EERSTE SLEUTEL
3. Watter drie vorme van liefde moet huweliksmaats aankweek?
3 Die eerste sleutel is liefde. Dit is interessant dat daar verskillende vorme van liefde in die Bybel genoem word. Een is hartlike, persoonlike geneentheid vir iemand, die soort liefde wat tussen hegte vriende bestaan (Johannes 11:3). ’n Ander vorm is die liefde wat onder familielede ontwikkel (Romeine 12:10). ’n Derde is die romantiese liefde wat ’n persoon vir iemand van die ander geslag kan hê (Spreuke 5:15-20). ’n Man en ’n vrou moet natuurlik al hierdie vorme van liefde aankweek. Maar daar is ’n vierde vorm van liefde wat belangriker as die ander is.
4. Wat is ’n vierde vorm van liefde?
4 In die oorspronklike taal van die Christelike Griekse Geskrifte is die woord vir hierdie vierde vorm van liefde a·gaʹpe. Daardie woord word in 1 Johannes 4:8 gebruik, waar dit sê: “God is liefde.” Trouens, “ons het lief omdat [God] ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). ’n Christen kweek sulke liefde eers vir Jehovah God en dan vir sy medemens aan (Markus 12:29-31). Die woord a·gaʹpe word ook in Efesiërs 5:2 gebruik, wat sê: “Gaan voort om in liefde te wandel, net soos die Christus julle ook liefgehad het en homself vir julle oorgegee het.” Jesus het gesê dat hierdie vorm van liefde sy ware volgelinge sou identifiseer: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde [a·gaʹpe] onder mekaar het” (Johannes 13:35). Let ook op die gebruik van a·gaʹpe in 1 Korintiërs 13:13: “Nou bly geloof, hoop, liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde [a·gaʹpe].”
5, 6. (a) Waarom is liefde groter as geloof en hoop? (b) Wat is party redes waarom liefde daartoe sal bydra dat ’n huwelik voortduur?
5 Wat maak dat hierdie liefde, a·gaʹpe, groter as geloof en hoop is? Dit word gerig deur beginsels—regte beginsels—wat in God se Woord gevind word (Psalm 119:105). Dit is ’n onselfsugtige besorgdheid om aan ander te doen wat reg of goed in die oë van God is, hetsy die ontvanger dit blykbaar verdien of nie. Hierdie liefde stel huweliksmaats in staat om die Bybel se raad te volg: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Liefdevolle egpare het en kweek “intense liefde [a·gaʹpe] vir mekaar . . . , want die liefde bedek ’n menigte sondes” (1 Petrus 4:8). Let daarop dat liefde foute bedek. Dit maak nie ’n einde daaraan nie, aangesien geen onvolmaakte mens sonder sonde is nie.—Psalm 130:3, 4; Jakobus 3:2.
6 As ’n egpaar sulke liefde vir God en vir mekaar aankweek, sal hulle huwelik voortduur en gelukkig wees, want “die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:8). Liefde is “’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). As jy getroud is, hoe kan jy en jou maat hierdie soort liefde aankweek? Lees God se Woord saam en praat daaroor. Bestudeer Jesus se voorbeeld van liefde en probeer hom navolg deur soos hy te dink en te handel. Daarbenewens moet julle Christelike vergaderinge bywoon waar julle God se Woord geleer word. En vra God om julle te help om hierdie verhewe vorm van liefde, wat ’n vrug van God se heilige gees is, aan te kweek.—Spreuke 3:5, 6; Johannes 17:3; Galasiërs 5:22; Hebreërs 10:24, 25.
DIE TWEEDE SLEUTEL
7. Wat is respek, en wie moet respek in die huwelik betoon?
7 As twee getroude mense mekaar werklik liefhet, sal hulle mekaar ook respekteer, en respek is die tweede sleutel tot ’n gelukkige huwelik. Respek beteken om “ander in ag te neem, om hulle te eer”. God se Woord vermaan alle Christene, onder andere mans en vrouens: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Die apostel Petrus het geskryf: “Mans, gaan insgelyks voort om ooreenkomstig kennis met [julle vrouens] saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike” (1 Petrus 3:7). Die vrou word vermaan om “diep respek vir haar man [te] hê” (Efesiërs 5:33). As jy iemand wil eer, is jy vriendelik teenoor daardie persoon, respekteer jy sy waardigheid en menings en is jy bereid om aan enige redelike versoek te voldoen.
8-10. Wat is party maniere waarop respek sal help om ’n huwelik bestendig en gelukkig te maak?
8 Diegene wat graag ’n gelukkige huwelik wil geniet, toon respek vir hulle huweliksmaats deur “nie in persoonlike belangstelling ’n oog op net [hulle] eie sake [te] hou nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van [hulle huweliksmaats]” (Filippense 2:4). Hulle neem nie net in ag wat vir hulleself goed is nie—want dit sal selfsugtig wees. Hulle neem eerder in ag wat ook vir hulle huweliksmaats goed sal wees. Trouens, dít geniet die voorkeur.
9 Respek vir mekaar sal huweliksmaats help om verskille in siening te erken. Dit is nie redelik om te verwag dat twee mense presies dieselfde siening van alles sal hê nie. Wat dalk vir ’n man belangrik is, is dalk nie vir ’n vrou so belangrik nie, en dit waarvan ’n vrou hou, is dalk nie waarvan ’n man hou nie. Maar elkeen moet die sienings en keuses van die ander respekteer, solank dit binne die perke van Jehovah se wette en beginsels is. (1 Petrus 2:16; vergelyk Filemon 14.) Daarbenewens moet elkeen die waardigheid van die ander respekteer deur die persoon nie die voorwerp van verkleinerende opmerkings of grappe te maak nie, hetsy in die openbaar of privaat.
10 Ja, liefde vir God en vir mekaar en wedersydse respek is twee belangrike sleutels tot ’n suksesvolle huwelik. Hoe kan dit op party van die belangriker gebiede van die getroude lewe toegepas word?
CHRISTELIKE HOOFSKAP
11. Wie is volgens die Skrif die hoof in ’n huwelik?
11 Die Bybel sê dat die man met eienskappe geskep is wat hom ’n suksesvolle gesinshoof sou maak. As sodanig sou die man voor Jehovah verantwoordelik wees vir die geestelike en fisiese welsyn van sy vrou en kinders. Hy sou gebalanseerde besluite moes neem wat Jehovah se wil weerspieël, en hy sou ’n goeie voorbeeld van godvrugtige gedrag moes wees. “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is” (Efesiërs 5:22, 23). Maar die Bybel sê dat die man ook ’n hoof het, Een met gesag oor hom. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; die man weer is die hoof van die vrou; God weer is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Die verstandige man leer hoe om hoofskap uit te oefen deur sy eie hoof, Christus Jesus, na te volg.
12. Watter goeie voorbeeld het Jesus gestel wat onderdanigheid asook die uitoefening van hoofskap betref?
12 Jesus het ook ’n hoof, Jehovah, en hy toon gepaste onderdanigheid aan Hom. Jesus het gesê: “Ek [soek] nie my eie wil . . . nie, maar die wil van hom wat my gestuur het” (Johannes 5:30). Wat ’n uitstekende voorbeeld! Jesus is “die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Hy het die Messias geword. Hy sou die Hoof van die gemeente van gesalfde Christene word, asook die gekose Koning van God se Koninkryk, bo al die engele (Filippense 2:9-11; Hebreërs 1:4). Ondanks so ’n verhewe posisie en sulke voortreflike vooruitsigte was die man Jesus nie hard, ontoegeeflik of veeleisend nie. Hy was nie ’n despoot wat sy dissipels voortdurend daaraan herinner het dat hulle hom moes gehoorsaam nie. Jesus was liefdevol en medelydend, veral teenoor die verdruktes. Hy het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:28-30). Dit was ’n plesier om in sy geselskap te wees.
13, 14. Hoe sal ’n liefdevolle man, in navolging van Jesus, sy hoofskap uitoefen?
13 Die man wat graag ’n gelukkige gesinslewe wil hê, kan gerus Jesus se goeie eienskappe in gedagte hou. ’n Goeie man is nie hard en ’n diktator wat sy hoofskap verkeerdelik gebruik as ’n wapen om sy vrou te intimideer nie. Hy het haar eerder lief en respekteer haar. As Jesus “nederig van hart” was, het ’n man selfs meer rede om so te wees, want in teenstelling met Jesus begaan hy foute. Wanneer hy wel foute begaan, wil hy hê sy vrou moet verstaan. Daarom erken ’n nederige man sy foute, selfs al is dit dalk moeilik om te sê: “Ek is jammer; jy was reg.” ’n Vrou sal dit baie makliker vind om die hoofskap van ’n beskeie en nederige man te respekteer as dié van ’n trotse en koppige man. Die eerbiedige vrou vra op haar beurt om verskoning as sy verkeerd is.
14 God het die vrou met goeie eienskappe geskep wat sy kan gebruik om tot ’n gelukkige huwelik by te dra. ’n Verstandige man sal dit erken en sal haar gees nie demp nie. Baie vroue is geneig om groter medelye en sensitiwiteit te betoon, eienskappe wat nodig is om na ’n gesin om te sien en menseverhoudings te koester. Gewoonlik het die vrou die vermoë om die huis ’n aangename plek te maak om in te woon. Die “deugsame vrou” wat in Spreuke hoofstuk 31 beskryf word, het talle wonderlike eienskappe en uitstekende talente gehad, en haar gesin het ten volle daarby baat gevind. Waarom? Omdat die hart van haar man op haar “vertrou” het.—Spreuke 31:10, 11.
15. Hoe kan ’n man Christelike liefde en respek vir sy vrou betoon?
15 In party kulture word ’n man se hoofskap oorbeklemtoon sodat dit selfs oneerbiedig is om hom ’n vraag te vra. Hy mag sy vrou feitlik soos ’n slaaf behandel. Hierdie verkeerde uitoefening van hoofskap lei nie net tot ’n swak verhouding met sy vrou nie, maar ook met God. (Vergelyk 1 Johannes 4:20, 21.) Daarenteen neem party mans nie die leiding nie en laat hulle hulle vrou toe om die huis te regeer. Die man wat behoorlik aan Christus onderdanig is, maak nie misbruik van sy vrou of ontneem haar nie haar waardigheid nie. Hy volg eerder die selfopofferende liefde van Jesus na en doen wat Paulus ons vermaan het: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). Christus Jesus het sy volgelinge so liefgehad dat hy vir hulle gesterf het. ’n Goeie man sal daardie onselfsugtige gesindheid probeer navolg en die goeie eienskappe in sy vrou soek pleks van te veel van haar te verwag. As ’n man aan Christus onderdanig is en Christelike liefde en respek betoon, sal sy vrou beweeg word om haar aan hom te onderwerp.—Efesiërs 5:28, 29, 33.
VROULIKE ONDERDANIGHEID
16. Watter eienskappe moet ’n vrou in haar verhouding met haar man aan die dag lê?
16 ’n Ruk nadat Adam geskep is, het “Jehovah God . . . voorts gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n hulp maak, as ’n komplement van hom’” (Genesis 2:18, NW). God het Eva as “’n komplement” geskep, nie as ’n mededinger nie. Die huwelik moes nie soos ’n skip met twee mededingende kapteins wees nie. Die man moes liefdevolle hoofskap uitoefen, en die vrou moes liefde, respek en gewillige onderdanigheid aan die dag lê.
17, 18. Wat is party maniere waarop ’n vrou ’n ware hulp vir haar man kan wees?
17 Maar ’n goeie vrou is nie net onderdanig nie. Sy probeer om ’n ware hulp te wees deur die besluite te ondersteun wat haar man neem. Dit is natuurlik makliker vir haar as sy met sy besluite saamstem. Maar selfs wanneer sy nie saamstem nie, kan haar daadwerklike ondersteuning help dat sy besluite beter afloop.
18 ’n Vrou kan haar man op ander maniere help om ’n goeie hoof te wees. Sy kan haar waardering uitspreek vir sy pogings om die leiding te neem, pleks van hom te kritiseer of hom te laat voel dat hy haar nooit tevrede kan stel nie. Terwyl sy op ’n positiewe manier met haar man handel, moet sy onthou dat ’n ‘stille en sagmoedige gees groot waarde in die oë van God’ het, nie net in die oë van haar man nie (1 Petrus 3:3, 4; Kolossense 3:12). Maar sê nou die man is nie ’n gelowige nie? Hetsy hy is of nie, die Skrif spoor vrouens aan “om hulle mans lief te hê, om hulle kinders lief te hê, om gesond van verstand te wees, kuis, werkers by die huis, goed, terwyl hulle hulle aan hulle eie mans onderwerp, sodat daar nie smadend van die woord van God gepraat sal word nie” (Titus 2:4, 5). As gewetensake ter sprake kom, sal ’n ongelowige man heel moontlik sy vrou se standpunt respekteer as dit met “saggeaardheid en diep respek” gestel word. Party ongelowige mans is al “sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen . . . , omdat hulle ooggetuies was van [hulle] kuis gedrag tesame met diep respek”.—1 Petrus 3:1, 2, 15; 1 Korintiërs 7:13-16.
19. Sê nou ’n man vra sy vrou om God se wet te verbreek, wat dan?
19 Sê nou ’n man vra sy vrou om iets te doen wat God verbied? As dít gebeur, moet sy onthou dat God haar vernaamste Heerser is. Sy volg die voorbeeld van die apostels toe die owerheid hulle gevra het om God se wet te oortree. Handelinge 5:29 sê: “Petrus en die ander apostels het . . . gesê: ‘Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.’”
GOEIE KOMMUNIKASIE
20. Wat is ’n belangrike gebied waarop liefde en respek betoon moet word?
20 Liefde en respek is noodsaaklik op ’n ander gebied in die huwelik—kommunikasie. ’n Liefdevolle man sal met sy vrou praat oor haar bedrywighede, haar probleme, haar siening van verskillende sake. Sy het dit nodig. ’n Man wat tyd inruim om met sy vrou te praat en werklik luister na wat sy sê, openbaar sy liefde en respek vir haar (Jakobus 1:19). Party vrouens kla dat hulle mans baie min tyd daaraan bestee om met hulle te gesels. Dit is baie jammer. In hierdie besige tye moet mans weliswaar soms lang ure sekulêre werk doen, en ekonomiese omstandighede lei dalk daartoe dat sommige vrouens ook moet werk. Maar ’n egpaar moet tyd vir mekaar opsy sit. Anders kan hulle onafhanklik van mekaar raak. Dit kan tot ernstige probleme lei as hulle voel dat hulle simpatieke kameraadskap buite die huweliksreëling moet soek.
21. Hoe sal gepaste woorde help om ’n huwelik gelukkig te hou?
21 Die manier waarop vrouens en mans kommunikeer, is belangrik. “Vriendelike woorde is . . . soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente” (Spreuke 16:24). Hetsy ’n huweliksmaat ’n gelowige is of nie, die Bybel se raad is steeds van toepassing: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout”, met ander woorde dit moet smaakvol wees (Kolossense 4:6). As jy ’n moeilike dag agter die rug het, kan ’n paar vriendelike, simpatieke woorde van jou huweliksmaat baie help. “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek” (Spreuke 25:11). Die stemtoon en keuse van woorde is baie belangrik. Byvoorbeeld, die een kan dalk op ’n geïrriteerde, bevelende wyse vir die ander sê: “Maak die deur toe!” Maar hoe ‘smaaklik met sout’ is die woorde tog gemaak as dit kalm en met begrip gesê word: “Sal jy nie asseblief die deur toemaak nie?”
22. Watter gesindhede moet egpare hê om goeie kommunikasie te behou?
22 Goeie kommunikasie floreer waar daar sagte woorde, vriendelike gesigsuitdrukkings en gebare, goedhartigheid, begrip en teerheid is. As hulle hulle inspan om goeie kommunikasie te behou, sal die man sowel as die vrou die vrymoedigheid hê om te sê wat hulle behoeftes is, en hulle kan ’n bron van aanmoediging en hulp vir mekaar wees in tye van teleurstelling of druk. “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele”, spoor God se Woord ons aan (1 Tessalonisense 5:14). Daar sal tye wees wanneer die man mismoedig is en tye wanneer die vrou is. Hulle kan ‘vertroostend praat’ en mekaar opbou.—Romeine 15:2.
23, 24. Hoe sal liefde en respek help wanneer daar misverstande is? Gee ’n voorbeeld.
23 Huweliksmaats wat liefde en respek openbaar, sal nie elke misverstand as ’n uitdaging beskou nie. Hulle sal hard probeer om nie “bitter kwaad” vir mekaar te wees nie (Kolossense 3:19). Albei moet onthou dat ‘’n sagte antwoord die grimmigheid afkeer’ (Spreuke 15:1). Wees versigtig om ’n huweliksmaat wat sy of haar hart uitstort nie te verkleineer of te veroordeel nie. Beskou sulke uitinge eerder as ’n geleentheid om die ander persoon se siening te probeer verstaan. Julle moet julle verskille saam probeer oplos en tot ’n ooreenkoms kom.
24 Dink aan die geleentheid toe Sara ’n oplossing vir ’n sekere probleem onder haar man, Abraham, se aandag gebring het en hy nie daarmee saamgestem het nie. Maar God het vir Abraham gesê: “Luister na Sara” (Genesis 21:9-12). Abraham het geluister, en hy is geseën. ’n Man moet eweneens ten minste luister as sy vrou iets anders voorstel as wat hy in gedagte het. ’n Vrou moet terselfdertyd nie die gesprek oorheers nie, maar moet luister na wat haar man sê (Spreuke 25:24). As die man of die vrou altyd daarop aandring om sy of haar sin te kry, is hulle liefdeloos en oneerbiedig.
25. Hoe sal goeie kommunikasie tot geluk bydra in die intieme aspekte van die getroude lewe?
25 Goeie kommunikasie is ook belangrik in ’n egpaar se seksuele verhouding. Selfsugtigheid en ’n gebrek aan selfbeheersing kan hierdie uiters intieme verhouding in die huwelik ernstig benadeel. Openhartige kommunikasie, tesame met geduld, is noodsaaklik. Wanneer elkeen onselfsugtig die welsyn van die ander op die hart dra, is seks selde ’n ernstige probleem. In hierdie en ander sake moet “elkeen aanhou om nie sy eie voordeel te soek nie, maar dié van die ander persoon”.—1 Korintiërs 7:3-5; 10:24.
26. Hoe sal dit egpare help om geluk te vind as hulle na God se Woord luister, selfs al het elke huwelik sy voorspoed en teenspoed?
26 Watter goeie raad gee God se Woord tog! Elke huwelik sal weliswaar sy voorspoed en teenspoed hê. Maar wanneer huweliksmaats hulle aan Jehovah se denke onderwerp, soos dit in die Bybel geopenbaar word, en hulle verhouding op beginselvaste liefde en respek grond, kan hulle die vertroue hê dat hulle ’n blywende en gelukkige huwelik sal hê. Sodoende sal hulle nie net mekaar eer nie, maar ook die Insteller van die huwelik, Jehovah God.