Versterk mekaar
“Juis hulle het vir my ’n versterkende hulp geword.”—KOLOSSENSE 4:11.
1, 2. Waarom het Paulus se vriende hom in die gevangenis besoek ten spyte van die gevare?
DIT kan gevaarlik wees om bevriend te wees met iemand wat in die gevangenis wegkwyn—al is jou vriend ten onregte opgesluit. Die tronkbewaarders is dalk agterdogtig teenoor jou en hou jou fyn dop om seker te maak dat jy nie ’n misdaad pleeg nie. Dit verg dus moed om in noue kontak te bly met jou vriend en hom in die gevangenis te besoek.
2 Dit is egter presies wat ’n paar vriende van die apostel Paulus ongeveer 1 900 jaar gelede gedoen het. Hulle het nie geskroom om Paulus in sy gevangenisboeie te besoek om hom die nodige vertroosting en aanmoediging te gee en om hom geestelik te versterk nie. Wie was hierdie lojale vriende? En wat kan ons leer uit hulle moed, lojaliteit en vriendskap?—Spreuke 17:17.
“’n Versterkende hulp”
3, 4. (a) Wie was vyf van Paulus se vriende, en wat het hulle vir hom geword? (b) Wat is “’n versterkende hulp”?
3 Kom ons gaan terug na omstreeks die jaar 60 G.J. Die apostel Paulus is in die gevangenis in Rome op ’n valse aanklag van sedisie (Handelinge 24:5; 25:11, 12). Paulus noem vyf Christene by name wat hom bygestaan het: Tigikus, sy persoonlike gesant van die landstreek Asië en ’n “medeslaaf in die Here”; Onesimus, ’n “getroue en geliefde broer” van Kolosse; Aristargus, ’n Masedoniër uit Tessalonika en eens op ’n tyd ’n “medegevangene” van Paulus; Markus, die neef van Paulus se sendelingmetgesel Barnabas en die skrywer van die Evangelie wat sy naam dra; en Justus, een van die apostel se medewerkers “vir die koninkryk van God”. Paulus sê van hierdie vyf: “Juis hulle het vir my ’n versterkende hulp geword.”—Kolossense 4:7-11.
4 Paulus het ’n kragtige stelling gemaak oor die hulp wat sy lojale vriende aan hom verleen het. Hy het ’n Griekse woord (pa·re·go·riʹa) gebruik wat vertaal word met “versterkende hulp” en wat net in hierdie vers in die Bybel voorkom. Hierdie woord het verskillende betekenisse en is veral in geneeskundige kontekste gebruik.a Dit kan weergegee word as ‘bemoediging, versagting, vertroosting of verligting’. Paulus het hierdie soort versterking nodig gehad, en hierdie vyf manne het dit voorsien.
Waarom Paulus “’n versterkende hulp” nodig gehad het
5. Wat het Paulus nodig gehad al was hy ’n apostel, en wat het ons almal van tyd tot tyd nodig?
5 Dit verbaas sommige dalk dat Paulus, ’n apostel, versterking nodig gehad het. Maar hy het. Paulus het weliswaar sterk geloof gehad, en hy het al baie fisiese mishandeling verduur, soos “slae bo die maat”, hy was “dikwels naby die dood” en hy het ander pynlike ondervindinge deurgemaak (2 Korintiërs 11:23-27). Nietemin was hy ’n mens, en alle mense het op die een of ander tyd vertroosting nodig, asook hulp van ander om hulle geloof te versterk. Dit was selfs die geval met Jesus. Gedurende sy laaste nag het ’n engel aan hom verskyn in Getsemane en “hom versterk”.—Lukas 22:43.
6, 7. (a) Wie in Rome het Paulus teleurgestel, en wie het hom aangemoedig? (b) Watter soort dienste het Paulus se Christenbroers in Rome vir hom verrig, wat vir hom “’n versterkende hulp” was?
6 Paulus het ook versterking nodig gehad. Toe hy as ’n gevangene in Rome aangekom het, het sy volksgenote hom nie hartlik ontvang nie. Die meeste van hierdie Jode het nie gunstig gereageer op die Koninkryksboodskap nie. Nadat die vernaamste manne onder die Jode Paulus besoek het waar hy aangehou is, sê die verslag in Handelinge: “Party het die dinge wat gesê is, begin glo; ander het nie geglo nie. En omdat hulle dit nie met mekaar eens was nie, het hulle begin weggaan” (Handelinge 28:17, 24, 25). Hulle gebrek aan waardering vir Jehovah se onverdiende goedhartigheid het Paulus ongetwyfeld diep bedroef! Sy intense gevoelens oor hierdie saak kan gesien word in die brief wat hy ’n paar jaar vroeër aan die gemeente in Rome geskryf het: “Ek [het] groot droefheid en onophoudelike pyn in my hart . . . Want ek sou kon wens dat ek self as die vervloekte van die Christus geskei was ten behoewe van my broers [die Jode], my familielede na die vlees” (Romeine 9:2, 3). Tog het hy in Rome lojale, opregte metgeselle gevind wie se moed en liefde die pyn in sy hart verlig het. Hulle was sy ware geestelike broers.
7 In watter opsig was hierdie vyf broers ’n versterkende hulp? Hulle het Paulus nie weens sy gevangenisboeie vermy nie. Hulle het eerder gewillig en liefdevol persoonlike dienste aan Paulus verskaf en take verrig wat hy weens sy gevangenskap nie self kon verrig nie. Hulle het byvoorbeeld as boodskappers gedien en Paulus se briewe en mondelinge voorskrifte aan verskillende gemeentes oorgedra; hulle het bemoedigende verslae na Paulus gebring oor die welsyn van die broers in Rome en op ander plekke. Hulle het hom waarskynlik van benodigdhede voorsien, soos winterklere, boekrolle en skryfgereedskap (Efesiërs 6:21, 22; 2 Timoteus 4:11-13). Al hierdie nuttige dade het die gevange apostel versterk en aangemoedig sodat hy, op sy beurt, “’n versterkende hulp” kon wees vir ander, onder meer hele gemeentes.—Romeine 1:11, 12.
Hoe om “’n versterkende hulp” te wees
8. Watter les leer ons uit die feit dat Paulus nederig erken het dat hy “versterkende hulp” nodig gehad het?
8 Wat kan ons leer uit hierdie verslag van Paulus en sy vyf medewerkers? Kom ons kyk na een les in die besonder: Dit verg moed en selfopoffering om ander te help wanneer hulle swaarkry. Verder vereis dit nederigheid om te erken dat ons dalk hulp nodig het wanneer ons moeilike tye verduur. Paulus het nie net erken dat hy hulp nodig gehad het nie, maar hy het ook daardie hulp met dankbaarheid aanvaar en diegene geprys wat dit verleen het. Hy het dit nie as ’n teken van swakheid of as ’n vernedering beskou om hulp van ander te aanvaar nie, en ons moet ook nie. As ons sou sê dat ons nooit versterkende hulp nodig het nie, sou ons te kenne gee dat ons supermense is. Onthou, Jesus se voorbeeld toon dat selfs ’n volmaakte mens soms om hulp moet roep.—Hebreërs 5:7.
9, 10. Watter goeie resultate kan dit hê as ’n persoon erken dat hy hulp nodig het, en watter uitwerking kan dit op ander in die gesin en in die gemeente hê?
9 Dit kan goeie resultate hê as diegene in verantwoordelike posisies erken dat hulle beperkings het en dat hulle die ondersteuning van ander nodig het (Jakobus 3:2). As hulle dit doen, versterk dit die band tussen diegene met gesag en diegene wat aan daardie gesag onderworpe is, en dit bevorder hartlike en openhartige kommunikasie. Die nederigheid van diegene wat bereid is om hulp te aanvaar, dien as ’n goeie voorbeeld vir ander in ’n soortgelyke situasie. Dit toon dat dié wat die leiding neem, menslik en genaakbaar is.—Prediker 7:20.
10 Wanneer kinders byvoorbeeld met probleme en versoekings te kampe het, sal dit dalk vir hulle makliker wees om hulle ouers se hulp te aanvaar as hulle weet dat hulle ouers voor soortgelyke uitdagings te staan gekom het toe hulle kinders was (Kolossense 3:21). Dit kan goeie kommunikasie tussen ’n ouer en kind tot gevolg hê. Skriftuurlike oplossings kan met groter welslae oorgedra en geredeliker aanvaar word (Efesiërs 6:4). So ook sal gemeentelede hulp van ouer manne geredeliker aanvaar as hulle besef dat ouer manne ook met probleme, vrese en kwellinge te kampe het (Romeine 12:3; 1 Petrus 5:3). Dit kan eweneens goeie kommunikasie, ’n bespreking van skriftuurlike raad en ’n wedersydse opbouing van geloof tot gevolg hê. Onthou, ons broers en susters het nou meer as ooit versterking nodig.—2 Timoteus 3:1.
11. Waarom het so baie vandag “’n versterkende hulp” nodig?
11 Ongeag waar ons woon, wie ons is of hoe oud ons is, ons almal sal soms voor probleme in die lewe te staan kom. Dit is deel van die wêreld van vandag (Openbaring 12:12). Sulke fisies of emosioneel ontstellende toestande toets die gehalte van ons geloof. Beproewende situasies kan ontstaan by die werk, op skool, in die gesin of in die gemeente. ’n Ernstige siekte of ’n traumatiese ondervinding in die verlede kan die oorsaak wees. As ’n huweliksmaat, ’n ouer man of ’n vriend ons liefdevol aanmoedig met bedagsame woorde en dade—ai, hoe vertroostend kan dit tog wees! Dit is soos salf op ’n wond! As jy dus een van jou broers in so ’n toestand sien, wees ’n versterkende hulp vir hom. Of as ’n moeilike probleem jou onderkry, roep die hulp in van diegene wat geestelik bekwaam is.—Jakobus 5:14, 15.
Hoe die gemeente kan help
12. Wat kan almal in die gemeente doen om hulle broers te versterk?
12 Almal in die gemeente, jonges inkluis, kan iets doen om ander te versterk. Om maar een ding te noem, jou gereelde bywoning van vergaderinge en deelname aan die veldbediening help grootliks om die geloof van ander te versterk (Hebreërs 10:24, 25). Jou standvastigheid in heilige diens is ’n bewys van jou lojaliteit teenoor Jehovah en toon dat jy geestelik wakker bly ondanks die probleme wat jy dalk ondervind (Efesiërs 6:18). Daardie standvastigheid kan ’n versterkende uitwerking op ander hê.—Jakobus 2:18.
13. Waarom raak party dalk onbedrywig, en wat kan gedoen word om hulle te help?
13 Soms kan die druk van die lewe of ander moeilikhede veroorsaak dat party minder begin doen of onbedrywig raak in die veldbediening (Markus 4:18, 19). Ons sien onbedrywiges dalk nie by gemeentelike vergaderinge nie. Nietemin is hulle waarskynlik in hulle hart nog steeds lief vir God. Wat kan gedoen word om hulle geloof te versterk? Die ouer manne kan liefdevolle hulp aanbied deur hulle te besoek (Handelinge 20:35). Ander gemeentelede kan gevra word om ook te help. Sulke liefdevolle besoeke is dalk net die regte medisyne om diegene wat swak in die geloof is, te help om weer bedrywig te word.
14, 15. Watter raad het Paulus oor die versterking van ander gegee? Gee ’n voorbeeld van een gemeente wat sy raad toegepas het.
14 Die Bybel vermaan ons: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes” (1 Tessalonisense 5:14). Miskien vind daardie “terneergedrukte siele” dat hulle moed begin verloor en dat hulle nie die struikelblokke in hulle weg sonder ’n helpende hand kan oorkom nie. Kan jy daardie helpende hand uitreik? Die uitdrukking “ondersteun die swakkes” is al vertaal met “vashou” of “kleef aan” die swakkes. Jehovah beskou al sy skape as kosbaar en is lief vir hulle almal. Hy beskou hulle nie as van min waarde nie, en hy wil nie hê dat enige van hulle moet wegdryf nie. Kan jy die gemeente help om ‘vas te hou’ aan die geestelik swakkes totdat hulle sterker is?—Hebreërs 2:1.
15 Een ouer man het ’n egpaar besoek wat ses jaar lank onbedrywig was. Die ouer man skryf: “Die vriendelike en liefdevolle belangstelling wat die hele gemeente in hulle getoon het, het hulle so diep geraak dat hulle na die kudde teruggekeer het.” Hoe het die suster wat voorheen onbedrywig was, oor die besoeke van gemeentelede gevoel? Sy sê nou: “Wat ons gehelp het om weer bedrywig te raak, was dat nie die broers wat ons besoek het of die susters wat hulle vergesel het, ooit ’n veroordelende of kritiese houding teenoor ons geopenbaar het nie. Hulle was eerder simpatiek en het skriftuurlike aanmoediging gegee.”
16. Wie is altyd bereid om diegene te help wat versterking nodig het?
16 Ja, ’n opregte Christen skep behae daarin om ’n versterkende hulp vir ander te wees. En wanneer omstandighede in ons lewe verander, kan ons weer baat vind by ons broers se versterkende dade. Maar ’n mens moet realisties wees: Dit is moontlik dat daar in ’n tyd van nood geen hulp van mense beskikbaar sal wees nie. Nietemin is daar een Bron van krag wat altyd beskikbaar is, een wat altyd bereid is om te help—Jehovah God.—Psalm 27:10.
Jehovah—die Grootste Bron van krag
17, 18. Op watter maniere het Jehovah sy Seun, Jesus Christus, versterk?
17 Terwyl Jesus aan die folterpaal genael was, het hy uitgeroep: “Vader, in u hande vertrou ek my gees toe” (Lukas 23:46). Toe het hy gesterf. Net ure tevore is hy in hegtenis geneem en het sy intiemste vriende hom verlaat en uit vrees gevlug (Matteus 26:56). Jesus is alleen gelaat met net een Bron van krag—sy hemelse Vader. Nietemin was sy vertroue in Jehovah nie tevergeefs nie. Jesus se lojaliteit teenoor sy Vader is beloon deurdat Jehovah hom lojaal ondersteun het.—Psalm 18:25; Hebreërs 7:26.
18 Dwarsdeur Jesus se bediening op aarde het Jehovah sy Seun voorsien van wat hy nodig gehad het om sy onkreukbaarheid tot die dood toe te handhaaf. Byvoorbeeld, net nadat Jesus gedoop is, wat die begin van sy bediening aangedui het, het hy sy Vader se stem gehoor wat Sy goedkeuring van hom uitgespreek het asook Sy liefde vir hom bevestig het. Toe Jesus ondersteuning nodig gehad het, het Jehovah engele gestuur om hom te versterk. Toe Jesus aan die einde van sy aardse lewe voor sy grootste toets te staan gekom het, het Jehovah sy smekinge en bedes verhoor. Dit alles was ongetwyfeld ’n versterkende hulp vir Jesus.—Markus 1:11, 13; Lukas 22:43.
19, 20. Hoe kan ons seker wees dat Jehovah ons in moeilike tye sal versterk?
19 Jehovah wil ook ons vernaamste Bron van krag wees (2 Kronieke 16:9). Die ware Bron van alle dinamiese energie en krag kan vir ons in moeilike tye ’n versterkende hulp word (Jesaja 40:26). Oorlog, armoede, siekte, die dood of ons eie onvolmaaktheid kan groot druk op ons plaas. Wanneer die lewe se beproewinge so oorweldigend soos ’n “sterk vyand” lyk, kan Jehovah ons sterkte en mag wees (Psalm 18:17; Eksodus 15:2). Hy het ’n kragtige hulpmiddel vir ons—sy heilige gees. Deur middel van sy gees kan Jehovah “die vermoeide krag” gee sodat hy kan “opvaar met vlerke soos [’n arend]”.—Jesaja 40:29, 31.
20 God se gees is die sterkste krag in die heelal. Paulus het gesê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” Ja, ons liefdevolle hemelse Vader kan ons vervul met “krag wat bo die normale is” sodat ons alle pynlike probleme kan verduur totdat hy “alles nuut” maak in sy beloofde Paradys wat nou so naby is.—Filippense 4:13; 2 Korintiërs 4:7; Openbaring 21:4, 5.
[Voetnoot]
a Vine’s Complete Expository Dictionary of Old and New Testament Words, deur W. E. Vine, sê: “’n Werkwoordvorm van die woord [pa·re·go·riʹa] dui op medisyne wat irritasie verlig” (Afr. ‘paregorie’, oftewel pynstiller).
Onthou jy?
• In watter opsig was die broers in Rome vir Paulus “’n versterkende hulp”?
• Op watter maniere kan ons “’n versterkende hulp” in die gemeente wees?
• In watter opsig is Jehovah ons grootste Bron van krag?
[Prent op bladsy 18]
Broers was “’n versterkende hulp” vir Paulus deur hom lojaal te ondersteun, hom aan te moedig en persoonlike dienste vir hom te verrig
[Prent op bladsy 21]
Ouer manne neem die leiding daarin om die kudde te versterk