Die Bybel se beskouing
Wie is Migael, die aartsengel?
VOLGENS die Bybel is daar miljoene engeleskepsele in die geesteryk (Daniël 7:9, 10; Openbaring 5:11). Deur die hele Skrif word daar honderde kere melding gemaak van die engele wat aan God lojaal bly. Tog word net twee van hierdie geesskepsele by name genoem. Een is die engel Gabriël, wat boodskappe van God af oor ’n tydperk van ongeveer 600 jaar aan drie verskillende mense oorgedra het (Daniël 9:20-22; Lukas 1:8-19, 26-28). Die ander engel wat in die Bybel by name genoem word, is Migael.
Migael is ongetwyfeld ’n besondere engel. In die boek Daniël word daar byvoorbeeld gesê dat Migael ten behoewe van Jehovah se volk ’n stryd teen bose demone voer (Daniël 10:13; 12:1). In die geïnspireerde brief van Judas stel Migael hom teenoor Satan in ’n geskil oor Moses se liggaam (Judas 9). Die boek Openbaring toon dat Migael teen Satan en sy demone oorlog voer en hulle uit die hemel werp (Openbaring 12:7-9). ’n Mens lees van geen ander engel wat soveel mag en gesag oor God se vyande het nie. Dit is dan geen wonder dat die Bybel gepas na Migael as “die aartsengel” verwys nie, want die voorvoegsel “aarts” beteken “vernaamste”.
Die geskil oor Migael se identiteit
Die godsdienste van die Christendom, asook Judaïsme en Islam, het teenstrydige idees oor engele. Party verduidelikings is vaag. The Anchor Bible Dictionary sê byvoorbeeld: “Daar is dalk een hoër engel en/of ’n groepie aartsengele (gewoonlik vier of sewe).” Volgens The Imperial Bible-Dictionary is Migael die “naam van ’n bomenslike wese, oor wie daar in die algemeen twee botsende menings is, naamlik dat hy of die Here Jesus Christus, die Seun van God, is of dat hy een van die sogenaamde sewe aartsengele is”.
Volgens Joodse oorlewering is hierdie sewe aartsengele Gabriël, Jeremiël, Migael, Raguel, Rafael, Sariël en Uriël. Islam glo daarenteen aan vier aartsengele, naamlik Jibril, Mikal, Izrail en Israfil. Die Katolieke Kerk glo ook aan vier aartsengele: Migael, Gabriël, Rafael en Uriël. Wat sê die Bybel? Is daar verskeie aartsengele?
Die Bybel se antwoord
Geen aartsengel buiten Migael word in die Bybel gemeld nie, en die Skrif gebruik ook nie die woord “aartsengel” in die meervoud nie. Die Bybel noem Migael die aartsengel, wat te kenne gee dat hy alleen daardie titel het. Dit is dus redelik om die gevolgtrekking te maak dat Jehovah God aan een, en slegs een, van sy hemelse wesens volle gesag oor al die ander engele gegee het.
Buiten die Skepper self word daar net van een getroue persoon gepraat aan wie engele onderworpe is—naamlik Jesus Christus (Matteus 13:41; 16:27; 24:31). Die apostel Paulus het “die Here Jesus” en “sy magtige engele” spesifiek gemeld (2 Tessalonisense 1:7). En Petrus het van die verrese Jesus gesê: “Hy is aan God se regterhand, want hy het na die hemel gegaan; en engele en owerhede en magte is aan hom onderwerp.”—1 Petrus 3:22.
Hoewel die Bybel nie uitdruklik sê dat Migael, die aartsengel, Jesus is nie, is daar ’n teks wat Jesus met die amp van aartsengel verbind. In sy brief aan die Tessalonisense het die apostel Paulus voorspel: “Die Here self sal uit die hemel neerdaal met ’n gebiedende roep, met ’n aartsengel se stem en met God se trompet, en dié wat dood is in eenheid met Christus, sal eerste opstaan” (1 Tessalonisense 4:16). Hierdie teks gee ’n beskrywing van Jesus nadat hy as God se Messiaanse Koning aan bewind gekom het. Tog praat hy met “’n aartsengel se stem”. Let ook daarop dat hy die krag het om die dooies op te wek.
Terwyl Jesus as ’n mens op die aarde gelewe het, het hy ’n paar dooies opgewek. Wanneer hy dit gedoen het, het hy sy stem gebruik om gebiedend uit te roep. Toe hy byvoorbeeld die dooie seun van ’n weduwee in die stad Nain opgewek het, het hy gesê: “Jong man, ek sê vir jou: Staan op!” (Lukas 7:14, 15). Later, net voordat Jesus sy vriend Lasarus opgewek het, het hy “met ’n harde stem uitgeroep: ‘Lasarus, kom uit!’” (Johannes 11:43). Maar by hierdie geleenthede was Jesus se stem die stem van ’n volmaakte mens.
Nadat Jesus self opgewek is, is hy as ’n geesskepsel tot ’n “hoër posisie” in die hemel verhef (Filippense 2:9). Aangesien hy nie meer ’n mens is nie, het hy die stem van ’n aartsengel. Toe God se trompet dus die sein gegee het dat “dié wat dood is in eenheid met Christus”, tot hemelse lewe opgewek moet word, het Jesus “’n gebiedende roep” laat hoor, hierdie keer “met ’n aartsengel se stem”. Dit is redelik om tot die slotsom te kom dat net ’n aartsengel “met ’n aartsengel se stem” sou roep.
Ja, daar is ander engeleskepsele met ’n hoë rang, soos serafs en gerubs (Genesis 3:24; Jesaja 6:2). Maar die Skrif wys na die verrese Jesus Christus as die vernaamste van al die engele—Migael, die aartsengel.