Hou jou “hoop op redding” helder voor oë!
‘Laat ons as ’n helm die hoop op redding aanhê.’—1 TESSALONISENSE 5:8.
1. Hoe help “die hoop op redding” ons om te volhard?
DIE hoop dat ’n mens gered sal word, kan jou help om selfs in ’n uiters kritieke situasie te volhard. ’n Skipbreukeling in ’n reddingsbootjie kan veel langer uithou as hy weet dat hulp gaan opdaag. Hoop op “die redding van Jehovah” het eweneens duisende jare lank manne en vroue van geloof in moeilike tye onderskraag, en hierdie hoop het nog nooit tot teleurstelling gelei nie (Exodus 14:13, NW; Psalm 3:8, NW; Romeine 5:5; 9:33). Die apostel Paulus het “die hoop op redding” met “die helm” van ’n Christen se geestelike wapenrusting vergelyk (1 Tessalonisense 5:8; Efesiërs 6:17). Ja, as ons vol vertroue is dat God ons sal red, beskerm dit ons denkvermoë en help dit ons om nugter van verstand te bly ondanks teëspoed, teenstand en versoekings.
2. In watter opsigte is “die hoop op redding” ’n wesenlike deel van ware aanbidding?
2 “Die heidense wêreld”, die wêreld waardeur die eerste-eeuse Christene omring is, “is nie gekenmerk deur hoop vir die toekoms nie”, sê The International Standard Bible Encyclopedia (Efesiërs 2:12; 1 Tessalonisense 4:13). Maar “die hoop op redding” is ’n wesenlike deel van ware aanbidding. Hoe so? Eerstens hou die redding van Jehovah se knegte verband met sy eie naam. Die psalmis Asaf het gebid: “Help ons, o God van ons redding, ter wille van die heerlikheid van u naam; en verlos ons” (Psalm 79:9, NW; Esegiël 20:9). Daarbenewens is vertroue in Jehovah se beloofde seëninge noodsaaklik as ons ’n goeie verhouding met hom wil geniet. Paulus het dit so gestel: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Verder het Paulus verduidelik dat die redding van berouvolle mense ’n vername rede was waarom Jesus na die aarde toe gekom het. Hy het gesê: “Betroubaar en werd om ten volle aangeneem te word, is die woord dat Christus Jesus in die wêreld ingekom het om sondaars te red” (1 Timoteus 1:15). En die apostel Petrus het na redding verwys as ‘die einde [of eindresultaat] van ons geloof’ (1 Petrus 1:9). Dit is dus beslis gepas om te hoop op redding. Maar presies wat is redding? En wat word vereis om dit te verkry?
Wat is redding?
3. Watter soort redding het Jehovah se knegte van die ou tyd ervaar?
3 In die Hebreeuse Geskrifte beteken “redding” gewoonlik bevryding of verlossing van onderdrukking of van ’n gewelddadige, ontydige dood. Dawid het Jehovah byvoorbeeld sy “redder” genoem en gesê: “God is my rots . . . en my toevlug, my verlosser; van geweld het U my verlos. Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos” (2 Samuel 22:2-4). Dawid het geweet dat Jehovah luister wanneer Sy getroue knegte om hulp roep.—Psalm 31:23, 24; 145:19.
4. Watter hoop op toekomstige lewe het voor-Christelike knegte van Jehovah gekoester?
4 Voor-Christelike knegte van Jehovah het ook die hoop op ’n toekomstige lewe gekoester (Job 14:13-15; Jesaja 25:8; Daniël 12:13). Trouens, baie van die beloftes oor bevryding wat in die Hebreeuse Geskrifte gevind word, was profeties van ’n groter redding—een wat tot die ewige lewe lei (Jesaja 49:6, 8; Handelinge 13:47; 2 Korintiërs 6:2). In Jesus se dag het baie Jode op die ewige lewe gehoop, maar hulle het geweier om Jesus as die sleutel tot die verwesenliking van hulle hoop te aanvaar. Jesus het vir die godsdiensleiers van sy tyd gesê: “Julle ondersoek die Skrif, want julle dink dat julle die ewige lewe deur middel daarvan sal hê; en juis dié getuig aangaande my.”—Johannes 5:39.
5. Wat beteken redding uiteindelik?
5 God het deur Jesus die volle betekenis van redding bekend gemaak. Dit sluit bevryding in van die heerskappy van sonde, van slawerny aan valse godsdiens, van die wêreld in Satan se mag, van mensevrees en selfs van vrees vir die dood (Johannes 17:16; Romeine 8:2; Kolossense 1:13; Openbaring 18:2, 4). Redding deur God beteken uiteindelik nie net bevryding van onderdrukking en benoudheid vir God se getroue knegte nie, maar ook die geleentheid om die ewige lewe te beërf (Johannes 6:40; 17:3). Jesus het mense geleer dat redding vir ’n “klein kuddetjie” beteken dat hulle tot hemelse lewe opgewek sal word en saam met Christus in die Koninkryk sal regeer (Lukas 12:32). Vir die res van die mensdom beteken redding dat hulle herstel sal word tot die volmaakte lewe en verhouding met God wat Adam en Eva in die tuin van Eden gehad het voordat hulle gesondig het (Handelinge 3:21; Efesiërs 1:10). Die ewige lewe onder sulke paradystoestande was God se oorspronklike voorneme vir die mensdom (Genesis 1:28; Markus 10:30). Maar hoe kan hierdie toestande herstel word?
Die grondslag vir redding—die losprys
6, 7. Wat is Jesus se rol in ons redding?
6 Ewige redding is net moontlik deur Christus se losprysofferande. Waarom? Die Bybel verduidelik dat Adam hom en al sy toekomstige afstammelinge, wat ons insluit, in sonde “verkoop” het toe hy gesondig het. ’n Losprys was dus nodig om die mensdom ’n gegronde hoop te gee (Romeine 5:14, 15; 7:14). Dat God ’n losprys vir die hele mensdom sou voorsien, is deur die diereofferandes onder die Mosaïese Wet voorafgeskadu (Hebreërs 10:1-10; 1 Johannes 2:2). Jesus se offerande het hierdie profetiese afbeeldings vervul. Jehovah se engel het voor Jesus se geboorte aangekondig: “Hy sal sy volk van hulle sondes red.”—Matteus 1:21; Hebreërs 2:10.
7 Jesus is deur ’n wonderwerk vir die maagd Maria gebore, en as die Seun van God het hy nie die dood van Adam geërf nie. Dít, tesame met die feit dat hy volmaakte getrouheid gehandhaaf het, het aan sy lewe die waarde gegee wat nodig was om die mensdom van sonde en die dood vry te koop (Johannes 8:36; 1 Korintiërs 15:22). Anders as alle ander mense, is Jesus nie deur sonde tot die dood veroordeel nie. Die rede waarom hy na die aarde toe gekom het, was “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Nou is die verrese en gekroonde Jesus in ’n posisie om redding te gee aan almal wat aan God se vereistes voldoen.—Openbaring 12:10.
Wat word vereis om redding te verkry?
8, 9. (a) Hoe het Jesus ’n ryk jong heerser se vraag oor redding beantwoord? (b) Hoe het Jesus hierdie geleentheid gebruik om sy dissipels te leer?
8 ’n Ryk jong Israelitiese heerser het eenkeer vir Jesus gevra: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” (Markus 10:17). Sy vraag het moontlik die algemene denke van die Jode van sy tyd weerspieël—dat God sekere goeie werke eis en dat ’n mens redding deur God kan verdien as jy genoeg van hierdie werke doen. Maar daardie soort vormdiens kan uit selfsugtige beweegredes voortspruit. Sulke werke het mense nie ’n vaste hoop op redding gegee nie, aangesien geen onvolmaakte mens werklik aan God se standaarde kan voldoen nie.
9 In antwoord op die man se vraag het Jesus hom eenvoudig daaraan herinner dat hy God se gebooie moet gehoorsaam. Die jong heerser het Jesus vinnig verseker dat hy dit van sy jeug af doen. Sy reaksie het Jesus beweeg om hom lief te kry. Jesus het vir hom gesê: “Een ding kom jy kort: Gaan, verkoop wat jy het en gee vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê, en kom word my volgeling.” Die jong man het egter bedroef weggegaan, “want hy het baie besittings gehad”. Daarna het Jesus aan sy dissipels verduidelik dat groot verknogtheid aan aardse besittings kan verhinder dat ’n mens redding verkry. Hy het bygevoeg dat niemand deur sy eie pogings gered kan word nie. Maar Jesus het hulle toe gerusgestel: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik” (Markus 10:18-27; Lukas 18:18-23). Hoe is redding moontlik?
10. Aan watter vereistes moet ons voldoen as ons redding wil verkry?
10 Redding is ’n gawe van God, maar ons kry dit nie outomaties nie (Romeine 6:23). Daar is sekere basiese vereistes waaraan elke mens moet voldoen as hy hierdie gawe wil ontvang. Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” En die apostel Johannes het bygevoeg: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie” (Johannes 3:16, 36). Dit is duidelik dat God geloof en gehoorsaamheid vereis van elke mens wat hoop om ewige redding te verkry. Elkeen moet die besluit neem om die losprys te aanvaar en in Jesus se voetstappe te volg.
11. Hoe kan ’n onvolmaakte mens Jehovah se goedkeuring verkry?
11 Aangesien ons onvolmaak is, is ons nie van nature geneig om gehoorsaam te wees nie, en dit is vir ons onmoontlik om volkome gehoorsaam te wees. Dit is waarom Jehovah ’n losprys voorsien het om ons sondes te bedek. Ons moet egter voortdurend daarna strewe om in ooreenstemming met God se weë te lewe. Soos Jesus vir die ryk jong heerser gesê het, moet ons God se gebooie onderhou. Dit bring nie net God se goedkeuring mee nie, maar verskaf ons ook groot vreugde, want “sy gebooie [is] nie swaar nie”, dit is ’n “verkwikking” (1 Johannes 5:3; Spreuke 3:1, 8). Dit is nogtans nie maklik om vas te hou aan die hoop op redding nie.
‘Stry hard vir die geloof’
12. Hoe versterk die hoop op redding ’n Christen om versoekings om onsedelik te wees te weerstaan?
12 Die dissipel Judas wou aan vroeë Christene skryf oor hulle “gemeenskaplike redding”. Maar weens die slegte sedelike klimaat wat toe geheers het, het hy verplig gevoel om sy broers te vermaan om “hard te stry vir die geloof”. Ja, as ’n mens gered wil word, is dit nie genoeg om net geloof te hê, by die ware Christelike geloof te bly en gehoorsaam te wees wanneer alles goed gaan nie. Ons toegewydheid aan Jehovah moet sterk genoeg wees om ons te help om versoekings en onsedelike invloede te weerstaan. Seksuele oordadighede en verdorwenhede, minagting vir gesag, verdeeldhede en twyfelgedagtes het egter die gees van die eerste-eeuse gemeente aangetas. Om hulle te help om teen hierdie neigings te stry, het Judas sy mede-Christene aangespoor om hulle doelwit duidelik voor oë te hou: “Julle, geliefdes, moet julle, deur julle op julle allerheiligste geloof op te bou en met heilige gees te bid, in God se liefde hou, terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig” (Judas 3, 4, 8, 19-21). Die hoop op redding kon hulle versterk in hulle stryd om sedelik rein te bly.
13. Hoe kan ons toon dat ons nie die doel van God se onverdiende goedhartigheid mis nie?
13 Jehovah God verwag voorbeeldige sedelike gedrag van diegene wat hy gaan red (1 Korintiërs 6:9, 10). Maar om God se sedelike standaarde na te leef, beteken nie dat ons veroordelend teenoor ander moet begin optree nie. Dit berus nie by ons om te besluit wat die ewige bestemming van ons medemens gaan wees nie. Dit berus eerder by God, soos Paulus vir die Grieke in Atene gesê het: “Hy het ’n dag vasgestel waarop hy voornemens is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man wat hy aangestel het”—Jesus Christus (Handelinge 17:31; Johannes 5:22). As ons met geloof in Jesus se losprys lewe, hoef ons glad nie bang te wees vir ’n komende oordeelsdag nie (Hebreërs 10:38, 39). Wat belangrik is, is dat ons nooit ‘die onverdiende goedhartigheid van God [ons versoening met hom deur die losprys] moet aanneem en die doel daarvan mis’ deur toe te laat dat ons tot verkeerde denke en gedrag verlei word nie (2 Korintiërs 6:1). En as ons ander help om redding te verkry, toon ons dat ons nie die doel van God se barmhartigheid mis nie. Hoe kan ons hulle help?
Verkondig die hoop op redding
14, 15. Aan wie het Jesus die werk gegee om die goeie nuus van redding te verkondig?
14 Paulus het die profeet Joël aangehaal en geskryf: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” Toe het hy bygevoeg: “Maar hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?” ’n Paar verse later toon Paulus dat geloof nie sommer vanself kom nie, maar dit “volg . . . op wat gehoor word”, dit wil sê “die woord oor Christus”.—Romeine 10:13, 14, 17; Joël 2:32.
15 Wie sal “die woord oor Christus” na die nasies neem? Jesus het daardie werk aan sy dissipels gegee—diegene wat reeds daardie “woord” geleer is (Matteus 24:14; 28:19, 20; Johannes 17:20). Wanneer ons aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem, doen ons presies waarvan die apostel Paulus geskryf het toe hy Jesaja aangehaal het: “Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!” Selfs as baie mense nie die goeie nuus aanneem wat ons na hulle bring nie, is ons voete nog steeds “lieflik” in Jehovah se oë.—Romeine 10:15; Jesaja 52:7.
16, 17. Watter tweevoudige doel het ons predikingswerk?
16 Die uitvoering van hierdie opdrag bereik twee belangrike oogmerke. Eerstens moet die goeie nuus verkondig word sodat God se naam verheerlik kan word en sodat diegene wat redding wil ontvang, kan weet waarheen hulle hulle moet wend. Paulus het hierdie aspek van die opdrag verstaan. Hy het gesê: “Trouens, Jehovah het ons met hierdie woorde die gebod opgelê: ‘Ek het jou as ’n lig van die nasies aangestel, sodat jy tot aan die uiterste van die aarde tot redding sal wees.’” As dissipels van Christus moet elkeen van ons derhalwe ’n aandeel daaraan hê om die boodskap van redding na mense te neem.—Handelinge 13:47; Jesaja 49:6, NW.
17 Tweedens lê die verkondiging van die goeie nuus die grondslag vir God se regverdige oordeel. Jesus het van hierdie oordeel gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy heerlike troon gaan sit. En al die nasies sal voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei.” Hoewel die oordeel en skeiding sal plaasvind “wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom”, bied die predikingswerk mense vandag die geleentheid om Christus se geestelike broers te identifiseer en dan saam met hulle te werk tot hulle eie ewige redding.—Matteus 25:31-46.
Behou “die volle versekerdheid van die hoop”
18. Hoe kan ons ons “hoop op redding” helder voor oë hou?
18 Ons ywerige deelname aan die predikingswerk help ons ook om ons hoop helder voor oë te hou. Paulus het geskryf: “Ons begeer dat elkeen van julle dieselfde vlytigheid aan die dag moet lê om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê” (Hebreërs 6:11). Mag elkeen van ons dan “as ’n helm die hoop op redding” opsit, en sodoende onthou ons dat ‘God ons nie tot gramskap bestem het nie, maar tot die verwerwing van redding deur middel van ons Here Jesus Christus’ (1 Tessalonisense 5:8, 9). Laat ons ook Petrus se aansporing ter harte neem: “Versterk . . . julle verstand vir bedrywigheid, bly volkome nugter van verstand; vestig julle hoop op die onverdiende goedhartigheid wat julle . . . ten deel gaan val” (1 Petrus 1:13). Almal wat dit doen, sal sien hoe hulle “hoop op redding” volkome vervul word!
19. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
19 Wat moet intussen ons beskouing wees van die tyd wat vir hierdie stelsel oorbly? Hoe kan ons hierdie tyd gebruik om redding vir onsself en ander te bewerk? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.
Kan jy verduidelik?
• Waarom moet ons ons “hoop op redding” helder voor oë hou?
• Wat sluit redding in?
• Wat moet ons doen om die gawe van redding te ontvang?
• Wat word deur ons predikingswerk bereik, in ooreenstemming met God se voorneme?
[Prente op bladsy 10]
Redding beteken meer as om net deur ’n vernietiging heen veilig bewaar te word