Leer die geheim van vergenoegdheid
In ’n bemoedigende brief aan die Christene in Filippi het die apostel Paulus geskryf: “Ek het geleer om, in watter omstandighede ek ook al verkeer, vergenoeg te wees. . . . In alles en in alle omstandighede het ek die geheim daarvan geleer om versadig te wees sowel as om honger te wees, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.”—Filippense 4:11, 12.
Wat was die geheim van Paulus se vergenoegdheid? As ’n mens die hoë lewenskoste en ekonomiese onsekerheid van ons tyd in ag neem, sal dit beslis vir ware Christene voordelig wees om te leer hoe om vergenoeg te wees sodat hulle hulle aandag gerig kan hou op hulle diens aan God.
VROEËR in sy brief het Paulus die suksesvolle loopbaan beskryf wat hy voorheen gehad het. Hy het gesê: “As enigiemand anders dink dat hy redes het om vertroue in die vlees te stel, ek nog meer: besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam Benjamin, ’n Hebreër gebore uit Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër; wat ywer betref, ’n vervolger van die gemeente; wat regverdigheid betref wat deur middel van die wet is, iemand wat getoon het dat hy onberispelik is” (Filippense 3:4-6). As ’n ywerige Jood het Paulus ook ’n opdrag van die hoofpriesters in Jerusalem gehad en hulle ondersteuning geniet. Dit alles het vir hom die belofte ingehou van mag en aansien in die Joodse stelsel—op politieke, godsdiens- en ongetwyfeld finansiële gebied.—Handelinge 26:10, 12.
Toe Paulus ’n ywerige Christenbedienaar geword het, het sake egter drasties verander. Ter wille van die goeie nuus het hy nie geaarsel om sy suksesvolle loopbaan en alles wat hy voorheen belangrik geag het, prys te gee nie (Filippense 3:7, 8). Maar hoe sou hy nou vir homself sorg? Sou hy ’n loon as ’n bedienaar ontvang? Hoe sou daar in sy persoonlike behoeftes voorsien word?
Paulus het sy bediening sonder enige betaling uitgevoer. Sodat hy nie in sy bediening vir ander ’n las sou wees nie, het hy saam met Aquila en Priscilla tente gemaak terwyl hy in Korinte was en ook ander dinge gedoen om homself te onderhou (Handelinge 18:1-3; 1 Tessalonisense 2:9; 2 Tessalonisense 3:8-10). Paulus het drie uitgebreide sendingreise onderneem, en hy het ook na gemeentes gereis wat ’n besoek nodig gehad het. Aangesien hy al sy tyd aan God se diens gewy het, het hy min materiële besittings gehad. Gewoonlik het die broers in sy behoeftes voorsien. Maar soms het hy weens ongunstige omstandighede gebrek gely (2 Korintiërs 11:27; Filippense 4:15-18). Nogtans het Paulus nooit oor sy lot gekla nie, en hy het nie begeer wat ander gehad het nie. Hy het met ’n gewillige en gelukkige gees hard gewerk tot die voordeel van mede-Christene. Trouens, dit was Paulus wat die welbekende woorde van Jesus aangehaal het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.” Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons almal!—Handelinge 20:33-35.
Die betekenis van vergenoegdheid
’n Groot faktor wat tot Paulus se geluk en tevredenheid bygedra het, was sy vergenoegdheid. Maar wat beteken dit om vergenoeg te wees? Kortom: dit beteken om tevrede te wees met die basiese dinge. Hieroor het Paulus vir Timoteus, sy metgesel in die bediening, die volgende gesê: “Dit is ongetwyfeld ’n middel tot groot gewin, hierdie godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.”—1 Timoteus 6:6-8.
Let op dat Paulus vergenoegdheid met godvrugtige toegewydheid verbind het. Hy het besef dat ware geluk nie van materiële besittings of rykdom afhang nie, maar van godvrugtige toegewydheid, dit wil sê om ons diens aan God eerste te stel. “Voedsel, klere en onderdak” was bloot dinge wat dit vir hom moontlik gemaak het om voort te gaan om godvrugtige toegewydheid na te streef. Vir Paulus was die geheim van vergenoegdheid dus om op Jehovah te vertrou, ongeag die omstandighede.
Baie mense ervaar vandag groot angs en ongelukkigheid omdat hulle daardie geheim nie ken nie of dit ignoreer. In plaas van te leer om vergenoeg te wees, vertrou hulle op geld en die dinge wat geld kan koop. Die reklamebedryf en die media laat mense voel dat hulle slegs gelukkig kan wees as hulle die nuutste en luuksste produkte en toestelle het—en hulle moet dit nóú hê. Gevolglik word baie vasgevang in die najaging van geld en materiële dinge. Hulle vind nie geluk en tevredenheid nie, maar “val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort”.—1 Timoteus 6:9, 10.
Hulle het die geheim geleer
Is dit in ons tyd werklik moontlik om geluk en tevredenheid te vind deur met godvrugtige toegewydheid en vergenoegdheid te lewe? Ja, dit is. Trouens, daar is vandag miljoene mense wat dit doen. Hulle het die geheim daarvan geleer om tevrede te wees met die materiële dinge wat hulle het. Hulle is Jehovah se Getuies, wat hulle aan God toegewy het, sy wil doen en vir mense regoor die wêreld sy voornemens leer.
Beskou byvoorbeeld diegene wat hulle beskikbaar gestel het om as sendelinge opgelei en na vreemde lande gestuur te word om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14). Die lande waarheen hulle gestuur word, het dikwels baie swakker lewenstoestande as waaraan hulle gewoond is. Toe sendelinge byvoorbeeld vroeg in 1947 in ’n land in Asië aangekom het, was die gevolge van die oorlog nog sigbaar, en min huise het elektrisiteit gehad. In baie lande het die sendelinge gevind dat wasgoed nog op ’n wasplank of op klippe by ’n rivier gewas word en nie met ’n elektriese wasmasjien nie. Maar hulle het gekom om mense Bybelwaarheid te leer, en daarom het hulle hulle aangepas by die plaaslike toestande en hulle op die bediening toegespits.
Ander het die voltydse bediening betree of na gebiede getrek wat nog nie met die goeie nuus bereik is nie. Adulfo dien al meer as 50 jaar lank as ’n voltydse bedienaar in verskeie dele van Mexiko. Hy sê: “Soos die apostel Paulus het ek en my vrou geleer om ons by omstandighede aan te pas. Een van die gemeentes wat ons besoek het, was byvoorbeeld ver van ’n stad of ’n mark af. Die broers was tevrede om elke maaltyd net een tortilla met ’n bietjie varkvet en sout daarop te eet, saam met ’n koppie koffie. Dit was al wat hulle gehad het om te eet—drie tortillas per dag. Ons het dus geleer om net soos die broers te lewe. Ek het baie soortgelyke ondervindinge geniet gedurende die 54 jaar dat ek Jehovah al voltyds dien.”
Florentino onthou hoe hy en sy gesin by moeilike omstandighede moes aanpas. Hy vertel van sy jong dae: “My pa was ’n welvarende handelaar. Hy het baie grond besit. Ek onthou nog die toonbank in ons kruidenierswinkel. Daar was ’n laai wat omtrent 50 sentimeter breed en 20 sentimeter diep was, en dit het vier vakkies gehad. Daarin het ons die geld gesit wat ons vir die dag gemaak het. Aan die einde van die dag was dit altyd propvol munte en note.
“Toe het ons skielik ’n finansiële terugslag gekry, en ons het oornag arm geword. Ons het alles behalwe ons huis verloor. Boonop het een van my broers ’n ongeluk gehad, waarna hy ’n parapleeg was. Niks was meer dieselfde nie. Ek het ’n tyd lank vrugte en vleis verkoop. Ek het ook katoen, druiwe en lusern geoes en gehelp om die landerye nat te lei. Party mense het gesê my hande staan vir niks verkeerd nie. My ma het ons dikwels vertroos deur te sê dat ons die waarheid het, geestelike rykdom wat min mense het. Ek het dus geleer wat dit beteken om baie te hê en ook om min of niks te hê nie. Noudat ek Jehovah al sowat 25 jaar lank voltyds dien, kan ek sê dat ek my dag na dag verheug in die wete dat ek die beste lewensweg gekies het—voltydse diens aan Jehovah.”
Die Bybel sê nadruklik dat ‘die toneel van hierdie wêreld aan die verander is’. Daarom maan dit ons ook: “[Laat] dié wat bly is, [wees] soos dié wat nie bly is nie, en dié wat koop, soos dié wat nie besit nie, en dié wat van die wêreld gebruik maak, soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie.”—1 Korintiërs 7:29-31.
Dit is dus nou die tyd om goed na te dink oor jou lewenswyse. As jy beperkte middele het, moet jy daarteen waak dat jy gegrief, selfs bitter en afgunstig, raak. Aan die ander kant sal dit verstandig wees om die regte beskouing te behou van die materiële besittings wat jy het, sodat hulle nie jou meester word nie. Soos die apostel Paulus gemaan het, moet jy jou hoop “nie op onsekere rykdom . . . vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf”. As jy dit doen, kan jy ook sê dat jy die geheim van vergenoegdheid geleer het.—1 Timoteus 6:17-19.
[Prent op bladsy 9]
Paulus het met sy hande gewerk sodat hy nie ’n las vir ander sou wees nie
[Prente op bladsy 10]
Duisende vind geluk in ’n lewe van “godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid”