Gaan voort om skouer aan skouer te dien
“Ek [sal] volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien.”—SEFANJA 3:9.
1. Wat gebeur ter vervulling van Sefanja 3:9?
ONGEVEER 6 000 tale word vandag oor die hele aarde gepraat. Dan is daar ook verskeie dialekte, of plaaslike vorme van tale. Maar al praat mense tale wat soveel van mekaar verskil soos Arabies en Zulu, God het iets werklik merkwaardigs gedoen. Hy het dit vir mense in alle wêrelddele moontlik gemaak om die enigste suiwer taal te leer en te praat. Dit gebeur ter vervulling van ’n belofte wat hy deur die profeet Sefanja laat opteken het: “Ek [Jehovah God sal] volke tot ’n suiwer taal [letterlik, “’n rein lip”, voetnoot in NW] laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien.”—Sefanja 3:9.
2. Wat is die “suiwer taal”, en wat is daardeur moontlik gemaak?
2 Die “suiwer taal” is die waarheid van God wat in sy Woord, die Bybel, gevind word. Dit is veral die waarheid oor God se Koninkryk, wat Jehovah se naam sal heilig, sy soewereiniteit sal regverdig en seëninge vir die mensdom sal bring (Matteus 6:9, 10). As die enigste geestelike rein taal op aarde word die suiwer taal deur mense van alle nasies en rasse gepraat. Dit stel hulle in staat om Jehovah “skouer aan skouer”, of volgens die voetnoot “met een skouer”, te dien. Hulle dien hom dus in eenheid, oftewel “eenparig”.—The New English Bible.
Geen plek vir partydigheid
3. Wat stel ons in staat om Jehovah in eenheid te dien?
3 As Christene is ons dankbaar vir die veeltalige samewerking wat daar onder ons is. Hoewel ons die goeie nuus van die Koninkryk in baie tale op aarde verkondig, dien ons God in eenheid (Psalm 133:1). Dit is moontlik omdat ons, waar ons ook al op die aarde woon, die een suiwer taal tot lof van Jehovah praat.
4. Waarom moet daar geen partydigheid onder God se volk wees nie?
4 Daar moet geen partydigheid onder God se volk wees nie. Die apostel Petrus het dit duidelik gemaak toe hy in 36 G.J. by die huis van die nie-Joodse leëroffisier Kornelius getuig het en beweeg is om te sê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Aangesien dit die geval is, is die Christengemeente nie ’n plek waar daar partydigheid, klieke of voortrekkery kan wees nie.
5. Waarom is dit verkeerd om klieke in die gemeente te vorm?
5 ’n Kollegestudent het oor haar besoek aan die Koninkryksaal gesê: “Kerke trek gewoonlik lede van ’n sekere ras of etniese groep. . . . Jehovah se Getuies het almal saam gesit en nie in sekere groepies nie.” Party lede van die gemeente in eertydse Korinte het egter klieke gevorm. Omdat hulle sodoende verdeeldheid veroorsaak het, het hulle die werking van God se heilige gees belemmer, want daardie gees bevorder eenheid en vrede (Galasiërs 5:22). As ons klieke in die gemeente vorm, sal ons teen die leiding van die gees werk. Laat ons dus die apostel Paulus se woorde aan die Korintiërs in gedagte hou: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet praat en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang” (1 Korintiërs 1:10). Paulus het ook eenheid in sy brief aan die Efesiërs beklemtoon.—Efesiërs 4:1-6, 16.
6, 7. Watter raad het Jakobus oor voortrekkery gegee, en hoe is sy woorde van toepassing?
6 Daar is nog altyd van Christene verwag om onpartydig te wees (Romeine 2:11). Aangesien party in die eerste-eeuse gemeente ryk persone voorgetrek het, het die dissipel Jakobus geskryf: “My broers, julle hou nie by die geloof van ons Here Jesus Christus, ons heerlikheid, met voortrekkery nie, of hoe? Want as ’n man met goue ringe aan sy vingers en in pragtige klere in julle vergadering inkom, maar daar ook ’n arme in vuil klere inkom, en julle die een wat die pragtige klere dra, gunstig aansien en sê: ‘Kom sit u hier op ’n goeie plek’, en julle vir die arme sê: ‘Bly jy staan’, of: ‘Gaan sit daar onder my voetbank’, het julle klasseverskille onder julle en het julle regters geword wat goddelose beslissings gee, nie waar nie?”—Jakobus 2:1-4.
7 As ryk ongelowiges met goue ringe en pragtige klere sowel as arm ongelowiges in vuil klere na ’n Christelike vergadering gekom het, het die rykes spesiale behandeling gekry. Hulle is sitplekke “op ’n goeie plek” gegee, terwyl die armes aangesê is om te staan of op die vloer by iemand se voete te sit. Maar God het op onpartydige wyse Jesus se losprysoffer vir die rykes sowel as armes voorsien (Job 34:19; 2 Korintiërs 5:14). As ons Jehovah derhalwe wil behaag en hom skouer aan skouer wil dien, moet ons nie ander voortrek of vir “eie voordeel persoonlikhede bewonder” nie.—Judas 4, 16.
Vermy murmurering
8. Wat het gebeur toe die Israeliete gemurmureer het?
8 As ons ons eenheid wil bewaar en God se guns wil behou, moet ons ag slaan op Paulus se raad: “Hou aan om alles sonder murmurering . . . te doen” (Filippense 2:14, 15). Ná hulle bevryding uit Egiptiese slawerny het ontroue Israeliete teen Moses en Aäron en sodoende selfs teen Jehovah God gemurmureer. Om dié rede het al die mans van 20 jaar en ouer, behalwe die getroue Josua en Kaleb en die Leviete, nie die Beloofde Land binnegegaan nie, maar gedurende Israel se 40 jaar lange trek in die wildernis gesterf (Numeri 14:2, 3, 26-30; 1 Korintiërs 10:10). Wat ’n hoë prys moes hulle tog betaal omdat hulle gemurmureer het!
9. Wat het met Mirjam gebeur omdat sy gemurmureer het?
9 Dit toon wat met ’n hele nasie van murmureerders kan gebeur. Wat van individuele murmureerders? Wel, Moses se suster, Mirjam, tesame met haar broer Aäron, het gemurmureer: “Praat Jehovah net deur Moses alleen? Het hy nie ook deur ons gepraat nie?” Die verslag sê verder: “Jehovah het geluister” (Numeri 12:1, 2). Wat was die gevolg? Mirjam, wat klaarblyklik die voortou in hierdie klagte geneem het, is deur God verneder. Hoe? Sy is met melaatsheid getref en was verplig om sewe dae lank buite die kamp te bly totdat sy gereinig is.—Numeri 12:9-15.
10, 11. Waartoe kan dit lei as murmurering nie in die kiem gesmoor word nie? Lig toe.
10 Murmurering is nie net ’n klagte oor ’n oortreding nie. Mense wat gedurig murmureer, heg te veel waarde aan hulle eie gevoelens of posisie en vestig die aandag op hulleself in plaas van op God. As dit nie in die kiem gesmoor word nie, veroorsaak dit verdeeldheid onder geestelike broers en belemmer dit hulle pogings om Jehovah skouer aan skouer te dien. Dit is so omdat murmureerders knaend hulle klagtes lug, waarskynlik in die hoop dat ander simpatie met hulle sal hê.
11 Byvoorbeeld, iemand kritiseer dalk die manier waarop ’n sekere ouer man sy dele in die gemeente behartig of na sy pligte omsien. As ons na die klaer luister, kan ons soos hy begin dink. Voordat hierdie saadjie in ons verstand gesaai is, het die ouer man se werksaamhede ons dalk glad nie gepla nie, maar nou pla dit ons skielik. Uiteindelik is niks wat die ouer man doen, reg in ons oë nie, en ons begin dalk ook oor hom kla. Hierdie soort gedrag is nie gepas in ’n gemeente van Jehovah se volk nie.
12. Watter uitwerking kan murmurering op ons verhouding met God hê?
12 As ons murmureer oor manne wat as herders toesig hou oor die kudde van God, kan ons later van hulle begin kwaadspreek. Om so te murmureer of op lasterlike wyse van hulle kwaad te spreek, kan ons verhouding met Jehovah ernstig skaad (Eksodus 22:28). Onberouvolle kwaadsprekers sal nie God se Koninkryk beërf nie (1 Korintiërs 5:11; 6:10). Die dissipel Judas het geskryf oor murmureerders wat ‘heerskappy verontagsaam en smadend praat van heerlikes’, oftewel verantwoordelike manne in die gemeente (Judas 8). Hierdie murmureerders het nie God se goedkeuring weggedra nie, en ons tree verstandig op deur hulle goddelose weg te vermy.
13. Waarom is nie alle klagtes verkeerd nie?
13 Maar nie alle klagtes mishaag God natuurlik nie. Hy het nie “die klaaggeroep” oor Sodom en Gomorra geïgnoreer nie, maar het daardie goddelose stede vernietig (Genesis 18:20, 21; 19:24, 25). In Jerusalem, kort ná Pinkster 33 G.J., “het daar ’n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreeussprekende Jode, omdat hulle weduwees in die daaglikse uitdeling oor die hoof gesien is”. Gevolglik het “die twaalf” die situasie reggestel deur “sewe manne van goeie getuienis” oor die “nodige aangeleentheid” aan te stel om voedsel uit te deel (Handelinge 6:1-6). Hedendaagse ouer manne moenie hulle ‘ore toestop’ vir gegronde klagtes nie (Spreuke 21:13). En ouer manne moenie medeaanbidders kritiseer nie, maar hulle eerder aanmoedig en opbou.—1 Korintiërs 8:1.
14. Watter eienskap is veral nodig om murmurering te vermy?
14 Ons almal moet murmurering vermy, want ’n klaerige gees is geestelik skadelik. So ’n gesindheid sal ons eenheid versteur. Laat ons eerder te alle tye die heilige gees toelaat om liefde in ons voort te bring (Galasiërs 5:22). As ons ‘die koninklike wet van liefde’ toepas, sal dit ons help om voort te gaan om Jehovah skouer aan skouer te dien.—Jakobus 2:8; 1 Korintiërs 13:4-8; 1 Petrus 4:8.
Waak teen laster
15. Hoe sou jy onderskei tussen skinderpraatjies en laster?
15 Aangesien murmurering tot skadelike skinderpraatjies kan lei, moet ons let op wat ons sê. Skinderpraatjies is ydel praatjies oor mense en hulle sake. Maar laster is ’n valse gerug wat daarop gemik is om iemand anders se goeie naam te skend. Sulke praatjies is kwaadwillig en boos. God het derhalwe vir die Israeliete gesê: “Jy mag nie onder jou volk rondgaan om te laster nie.”—Levitikus 19:16.
16. Wat het Paulus oor sekere skindertonge gesê, en hoe moet sy raad ons raak?
16 Aangesien ydel praatjies tot laster kan lei, het Paulus hom sterk uitgespreek teen sekere skindertonge. Nadat hy gepraat het van weduwees wat kwalifiseer om bystand van die gemeente te ontvang, het hy na weduwees verwys wat leer “om ledig te wees en by die huise rond te slenter; ja, nie net ledig nie, maar ook skindertonge en persone wat hulle met ander se sake bemoei en oor dinge praat waaroor hulle nie behoort te praat nie” (1 Timoteus 5:11-15). As ’n Christenvrou vind dat sy ’n swakheid het wanneer dit kom by praatjies wat tot laster kan lei, sal dit goed wees as sy ag slaan op Paulus se raad om ‘ernstig te wees en nie te laster nie’ (1 Timoteus 3:11). Christenmans moet natuurlik ook waak teen skadelike skinderpraatjies.—Spreuke 10:19.
Hou op om te oordeel!
17, 18. (a) Hoe voel Jesus daaroor as ons ons broer oordeel? (b) Hoe kan ons Jesus se woorde oor oordeel toepas?
17 Selfs al laster ons teen niemand nie, moet ons moontlik ’n opregte poging aanwend om nie veroordelend teenoor ander te wees nie. Jesus het so ’n gesindheid afgekeur toe hy gesê het: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie; want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle vir julle uitmeet. Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Laat my toe om die strooihalm uit jou oog uit te haal’; wanneer daar, kyk! ’n balk in jou eie oog is? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien hoe om die strooihalm uit jou broer se oog uit te haal.”—Matteus 7:1-5.
18 Ons moet ons nie aanmatig en aanbied om ’n blote “strooihalm” uit ons broer se oog te haal om hom te help, terwyl ’n figuurlike “balk” ons eie vermoë belemmer om goeie oordeel aan die dag te lê nie. Trouens, as ons werklik begryp hoe barmhartig God is, sal ons nie geneig wees om ons geestelike broers en susters [te] oordeel nie. Hoe sou ons hulle ooit so goed soos ons hemelse Vader kan verstaan? Geen wonder Jesus het gewaarsku dat ons moet ‘ophou om te oordeel sodat ons nie geoordeel word nie’! ’n Eerlike ondersoek van ons eie tekortkominge behoort ons daarvan te weerhou om ander te oordeel op ’n manier wat God as onregverdig sou beskou.
Swak maar eervol
19. Hoe moet ons medegelowiges beskou?
19 As ons vasbeslote is om God skouer aan skouer met medegelowiges te dien, sal ons nie net ’n veroordelende gesindheid vermy nie, maar ons sal ook die leiding daarin neem om eer aan hulle te betoon (Romeine 12:10). Ja, ons sal hulle voordeel soek, nie ons eie nie, en ons sal nederige take met vreugde ten behoewe van hulle doen (Johannes 13:12-17; 1 Korintiërs 10:24). Hoe kan ons so ’n uitstekende gees behou? Deur in gedagte te hou dat elke gelowige kosbaar in Jehovah se oë is en dat ons mekaar nodig het, net soos elke lid van die menseliggaam afhanklik van die ander is.—1 Korintiërs 12:14-27.
20, 21. Wat beteken die woorde in 2 Timoteus 2:20, 21 vir ons?
20 Dit is egter so dat Christene swak erdehouers is aan wie die glorieryke skat van die bediening toevertrou is (2 Korintiërs 4:7). As ons hierdie geseënde werk tot Jehovah se lof wil uitvoer, moet ons ’n eervolle posisie voor hom en sy Seun behou. Slegs as ons sedelik en geestelik rein bly, kan ons ’n eervolle voorwerp vir God se gebruik bly. In dié verband het Paulus geskryf: “In ’n groot huis is daar dan nou nie net voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk, en party vir ’n eervolle doel, maar ander vir ’n oneervolle doel. As iemand dus van laasgenoemdes wegbly, sal hy ’n voorwerp vir ’n eervolle doel wees, geheilig, nuttig vir sy eienaar, toeberei vir elke goeie werk.”—2 Timoteus 2:20, 21.
21 Individue wat nie in ooreenstemming met God se vereistes optree nie, is ‘voorwerpe vir ’n oneervolle doel’. Maar as ons ’n godvrugtige weg volg, sal ons ‘voorwerpe vir ’n eervolle doel wees, geheilig, of afgesonder, vir Jehovah se diens en toeberei vir elke goeie werk’. Ons kan ons gerus afvra: ‘Is ek ’n “voorwerp vir ’n eervolle doel”? Het ek ’n goeie invloed op medegelowiges? Is ek ’n lid van die gemeente wat skouer aan skouer met medeaanbidders werk?’
Gaan voort om skouer aan skouer te dien
22. Waarmee kan die Christengemeente vergelyk word?
22 Die Christengemeente funksioneer soos ’n gesin. Daar is ’n liefdevolle, behulpsame en aangename atmosfeer in ’n gesin wanneer al die lede Jehovah aanbid. ’n Gesin bestaan dalk uit ’n paar individue met verskillende persoonlikhede, maar almal het ’n eervolle plek. Die situasie is soortgelyk in die gemeente. Hoewel ons almal verskillend—en onvolmaak—is, het God ons deur Christus na hom toe getrek (Johannes 6:44; 14:6). Jehovah en Jesus het ons lief, en net soos in ’n verenigde gesin is dit beslis belangrik dat ons liefde teenoor mekaar betoon.—1 Johannes 4:7-11.
23. Wat moet ons onthou en vasbeslote wees om te doen?
23 In die gesinsatmosfeer van die Christengemeente kan ons tereg verwag om lojaliteit te vind. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek [wil] hê dat die manne op elke plek moet aanhou bid en lojale hande moet ophef, sonder gramskap en debatte” (1 Timoteus 2:8). Paulus het dus lojaliteit verbind met openbare gebede “op elke plek” waar Christene vergader. Slegs lojale manne moet die gemeente in openbare gebed verteenwoordig. God verwag natuurlik van ons almal om lojaal teenoor hom en teenoor mekaar te wees (Prediker 12:13, 14). Laat ons derhalwe vasbeslote wees om harmonies saam te werk, soos die lede van die menseliggaam. Mag ons ook in eenheid dien as deel van Jehovah se gesin van aanbidders. En laat ons bowenal onthou dat ons mekaar nodig het en Goddelike goedkeuring en seëninge sal geniet as ons voortgaan om Jehovah skouer aan skouer te dien.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat stel Jehovah se knegte in staat om hom skouer aan skouer te dien?
• Waarom vermy Christene partydigheid?
• Waarom sou jy sê dat dit verkeerd is om te murmureer?
• Waarom moet ons medegelowiges eer?
[Prent op bladsy 15]
Petrus het gesien dat “God nie partydig is nie”
[Prent op bladsy 16]
Weet jy waarom God Mirjam verneder het?
[Prent op bladsy 18]
Lojale Christene dien Jehovah vreugdevol skouer aan skouer