Jy kan onsekerheid die hoof bied
“SEKERLIK!” “Definitief!” “Beslis!” Jy het ongetwyfeld al baie maal sulke uitdrukkings gehoor. Maar in ons daaglikse lewe is daar nie veel waarvan ons seker kan wees nie. Die lewe is so onvoorspelbaar dat ons dikwels wonder of daar enigiets is waarvan ons absoluut seker kan wees. Dit lyk of twyfel en onsekerheid deel is van die lewe.
Dit is te verstane dat die meeste mense veiligheid en geluk vir hulleself en hulle gesin wil hê. Hulle werk baie hard om die dinge te verkry wat hulle glo hulle gelukkig en veilig sal laat voel—gewoonlik geld en materiële besittings. Maar ’n aardbewing, ’n orkaan, ’n ongeluk of ’n geweldsmisdaad kan sulke besittings in ’n oogwink vernietig. Ernstige siekte, egskeiding of werkloosheid kan lewens oornag verander. Hierdie dinge sal dalk nie noodwendig met jou gebeur nie. Maar net die wete dat iets verskrikliks te eniger tyd kan gebeur, is ontstellend en kommerwekkend. Maar dit is nie al nie.
Onsekerheid is ’n sinoniem van twyfel, en een woordeboek definieer “twyfel” as “onsekerheid van oortuiging of mening wat dikwels besluitneming belemmer”. Verder “is onsekerheid oor iets belangriks ’n vername oorsaak van angs en bekommernis”, sê die boek Managing Your Mind. As twyfel nie uit die weg geruim word nie, kan dit tot angs, frustrasie en woede lei. Ja, bekommernis oor wat kan of nie kan gebeur nie, kan ons geestes- en fisiese gesondheid benadeel.
Sommige mense gaan gevolglik na die ander uiterste oor. Hulle is soos die Brasiliaanse jeugdige wat gesê het: “Waarom bekommerd wees oor wat gaan gebeur? Vandag is vandag en môre is môre.” So ’n fatalistiese “laat ons eet en drink”-gesindheid kan net tot teleurstelling, benoudheid en uiteindelik die dood lei (1 Korintiërs 15:32). Dit is baie beter om ons tot die Skepper, Jehovah God, te wend by wie daar, volgens die Bybel, “geen verandering van die draaiing van die skaduwee [is] nie” (Jakobus 1:17). As ons God se Woord, die Bybel, ondersoek, sal ons betroubare raad en leiding vind oor hoe ons die onsekerhede van die lewe die hoof kan bied. Dit kan ons ook help om te verstaan waarom daar soveel onsekerheid is.
Redes vir onsekerheid
Die Skrif voorsien ’n realistiese beskouing van die lewe en help ons om die regte gesindheid teenoor onsekerheid en verandering aan te kweek. Hoewel familiebande, status, intelligensie, goeie gesondheid, ensovoorts, ’n mate van veiligheid kan bied, toon die Bybel dat ons nie sulke dinge as vanselfsprekend kan aanvaar of kan verwag om ’n sorgvrye lewe te lei nie. Wyse koning Salomo het gesê dat “die vinniges nie die wedloop het nie en die sterkes ook nie die geveg nie, en dat die wyses ook nie die voedsel het nie en dié met begrip ook nie die rykdom nie, en dat selfs dié wat kennis het, nie die guns het nie.” Waarom nie? “Want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.” Salomo het gevolglik gewaarsku: “Soos visse wat in ’n bose net gevang word, en soos voëls wat in ’n valstrik gevang word, so word die mensekinders op ’n rampspoedige tyd verstrik, wanneer dit hulle skielik oorval.”—Prediker 9:11, 12.
Jesus Christus het ook gepraat van ’n tyd van groot angs en onsekerheid wat oor ’n hele mensegeslag sou kom. In aanskoulike taal het hy gesê: “Daar sal tekens in son en maan en sterre wees, en op die aarde angs onder die nasies, wat radeloos is as gevolg van die gedreun van die see en sy onstuimigheid, terwyl die mense flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom; want die kragte van die hemele sal geskud word.” Tog het Jesus iets positiefs vir opregte mense van vandag in die vooruitsig gestel: “Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, . . . weet dat die koninkryk van God naby is” (Lukas 21:25, 26, 31). Ons geloof in God help ons eweneens om nie bang te wees vir ’n onsekere toekoms nie, maar om verby die onsekerheid te kyk na ’n wonderlike, veilige toekoms.
“Die volle versekerdheid van die hoop”
Hoewel ons nie seker kan wees van alles wat ons hoor, lees of sien nie, het ons goeie rede om op die Skepper te vertrou. Hy is nie net die Allerhoogste nie, maak ook ’n liefdevolle Vader, wat vir sy aardse kinders omgee. God het aangaande sy eie woord gesê: “Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:11.
Jesus Christus het die waarheid van God verkondig, en baie wat na hom geluister het, het dit met oortuiging en sekerheid aangeneem. ’n Groep Samaritane wat opreg van hart was, het byvoorbeeld vir die vrou wat eerste na Jesus geluister het, gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie; want ons het self gehoor en ons weet dat hierdie man vir seker die redder van die wêreld is” (Johannes 4:42). Net so ook vandag, al lewe ons in onsekere tye hoef ons nie onseker te wees oor wat ons kan glo nie.
Wanneer dit by godsdiensoortuigings kom, meen baie dat ons nie moet probeer verstaan nie, maar eerder net moet glo. Maar die Bybelskrywer Lukas het nie so gedink nie. Hy het navorsing gedoen en juiste inligting voorsien sodat ander ‘ten volle kon weet hoe seker die dinge was’ wat hy geskryf het (Lukas 1:4). Aangesien familie en vriende wat nie dieselfde as ons glo nie, dalk bang is dat ons ontnugter en teleurgestel sal word, is dit belangrik dat ons ons geloof kan verdedig (1 Petrus 3:15). Slegs as ons presies weet waarom ons iets glo, kan ons ander help om op God te vertrou. Die Bybel beskryf Jehovah soos volg: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy.”—Deuteronomium 32:4.
Kyk weer na daardie laaste stelling: “Regverdig en reg is hy.” Watter getuienis is daar om ons hiervan te verseker? Die apostel Petrus was heeltemal oortuig van hierdie feit. Hy het vir ’n Romeinse offisier en sy huisgenote gesê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Petrus het hierdie woorde gespreek omdat hy pas gesien het hoe God se eie hand sake gerig het sodat ’n nie-Joodse familie wat voorheen as onrein en onaanneemlik beskou is, vir Hom aanneemlik word. Soos Petrus is ons ook oortuig van God se onpartydigheid en regverdigheid wanneer ons met ons eie oë “ ’n groot menigte” mense sien—altesaam sesmiljoen—uit meer as 230 lande van oor die hele aarde wat hulle vorige lewenswyse die rug toegekeer het en in die weg van regverdigheid wandel.—Openbaring 7:9; Jesaja 2:2-4.
As ware Christene wil ons nie fanaties of dogmaties wees nie, maar nederig en redelik. Tog is ons nie onseker oor wat ons glo en wat ons in die toekoms verwag nie. Die apostel Paulus het aan eerste-eeuse Christene geskryf: “Ons begeer dat elkeen van julle dieselfde vlytigheid aan die dag sal lê om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê” (Hebreërs 6:11). Die goeie nuus van die Bybel gee ons eweneens “die volle versekerdheid van die hoop”. Daardie hoop, wat deeglik op God se Woord gegrond is, “lei nie tot teleurstelling nie”, soos Paulus ook verduidelik het.—Romeine 5:5.
Wat meer is, ons is vas oortuig dat dit geestelike en selfs emosionele en fisiese veiligheid en sekerheid vir ander kan meebring as ons die goeie nuus van die Bybel aan hulle bekend maak. Ons kan soos Paulus sê: “Die goeie nuus wat ons verkondig, [het] nie met woorde alleen tot julle gekom . . . nie, maar ook met krag en met heilige gees en sterk oortuiging.”—1 Tessalonisense 1:5.
Huidige seëninge in geestelike veiligheid
Hoewel ons nie algehele veiligheid in vandag se lewe kan verwag nie, kan ons wel dinge doen wat ons sal help om ’n betreklik bestendige en veilige lewe te lei. Byvoorbeeld, gereelde assosiasie met die Christengemeente by vergaderinge dra by tot bestendigheid omdat ons daar regte en goeie beginsels en waardes geleer word. Paulus het geskryf: “Beveel dié wat ryk is in die teenswoordige stelsel van dinge, om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf” (1 Timoteus 6:17). Baie kon ontslae raak van die angs en frustrasies wat hulle vroeër moes verduur, omdat hulle geleer het om hulle vertroue in Jehovah te stel en nie in verganklike materiële dinge of genietinge nie.—Matteus 6:19-21.
In die gemeente geniet ons ook ’n hartlike broederskap wat hulp en ondersteuning op talryke maniere bied. Op een stadium in sy bediening het die apostel Paulus en sy reisgenote “uiterste druk” ondervind en was hulle “selfs [hulle] lewe glad nie seker . . . nie”. Waar het Paulus ondersteuning en verligting gevind? Sy vertroue in God het natuurlik nooit gewankel nie. Hy is nogtans bemoedig en vertroos deur mede-Christene wat hom te hulp gekom het (2 Korintiërs 1:8, 9; 7:5-7). Vandag, wanneer daar natuurrampe of ander rampspoed is, is ons Christenbroers eerste op die toneel om die nodige materiële en geestelike hulp te gee aan mede-Christene en ander wat hulp nodig het.
Nog ’n hulpmiddel om die lewe se onsekerhede die hoof te bied, is gebed. Ons kan ons altyd tot ons liefdevolle hemelse Vader wend wanneer ons onverwags druk ondervind. “Jehovah sal ’n veilige hoogte vir die verbryselde word, ’n veilige hoogte in tye van benoudheid” (Psalm 9:9). Menseouers slaag dalk nie altyd daarin om hulle kinders te beskerm nie. God is egter bereid om ons te help om ons vrese en gevoelens van onsekerheid die hoof te bied. As ons in gebed ons sorge op Jehovah werp, kan ons seker wees dat hy “oneindig meer kan doen as alles wat ons vra of wat ons ons voorstel”.—Efesiërs 3:20.
Wend jy jou gereeld tot God in gebed? Is jy oortuig daarvan dat God jou gebede hoor? “My ma het vir my gesê dat ek tot God moet bid”, het ’n jong meisie in São Paulo gesê. “Maar ek het my afgevra: ‘Waarom moet ek met iemand praat wat ek nie eens ken nie?’ Spreuke 18:10 het my egter gehelp om te verstaan dat ons God se hulp nodig het en dat ons in gebed met hom moet praat.” Daardie teks sê: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.” Ja, hoe kan ons vertroue in Jehovah opbou as ons nie ’n gewoonte daarvan maak om met hom te praat nie? Om die seëninge van geestelike veiligheid te geniet, moet ons hartgrondige gebed ’n daaglikse gewoonte maak. Jesus het gesê: “Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:36.
Nog iets waarvan ons seker kan wees, is ons hoop op God se Koninkryk. Let op die woorde in Daniël 2:44: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.” Dít is ’n vaste hoop en is iets waarvan ons seker kan wees. Mense kom dikwels nie hulle beloftes na nie, maar ons kan altyd op Jehovah se woord staatmaak. God is nie onbetroubaar nie, hy is eerder soos ’n rots waarop ons kan vertrou. Ons kan soos Dawid voel wat gesê het: “My God is my rots. Tot hom sal ek my toevlug neem, my skild en my horing van redding, my veilige hoogte en my toevlug, my Redder; van geweld red u my.”—2 Samuel 22:3.
Die boek Managing Your Mind wat vroeër gemeld is, sê verder: “Hoe meer ’n mens oor die slegte dinge dink wat kan gebeur, hoe waarskynliker lyk dit en hoe moeiliker is dit om ’n uitweg te sien.” Waarom sal ons dan toelaat dat die sorge en twyfel wat die wêreld veroorsaak, ons belas? Laat ons eerder die onsekerhede van hierdie wêreld vervang met die sekerhede wat God bied. As ons ’n vaste geloof in Jehovah se onfeilbare beloftes behou, het ons hierdie versekering: “Niemand wat sy geloof op hom grond, sal teleurgestel word nie.”—Romeine 10:11.
[Lokteks op bladsy 29]
God se Woord verseker toekomstige seëninge vir die mensdom
[Lokteks op bladsy 30]
“Niemand wat sy geloof op hom grond, sal teleurgestel word nie”
[Prent op bladsy 31]
Die goeie nuus van die Koninkryk bied mense veiligheid