Hoofstuk 11
Wat kan ek aantrek?
Heather is gereed om by die deur uit te stap, en haar ouers kan hulle oë nie glo nie.
“Gaan jy dít dra?” wil haar pa geskok weet.
“Hoekom nie?” antwoord Heather verbaas. “Ek gaan net winkels toe saam met vriende.”
“Nie met daardie klere nie!” sê haar ma.
“Maar, Ma”, kerm Heather, “dis wat al die kinders dra. En boonop sê dit iets van my!”
“Wel, ons hou nie van wat dit sê nie!” kap haar pa terug. “Gaan nou terug kamer toe en trek iets anders aan, juffroutjie, of jy gaan nêrens nie!”
KONFLIKTE oor kleredrag is niks nuuts nie. Toe jou ouers so oud soos jy was, het hulle dalk soortgelyke botsings met hulle ouers gehad. En destyds het hulle waarskynlik gevoel soos jy vandag voel! Maar nou is die rolle omgekeer, en die kwessie oor kleredrag veroorsaak die een stryery ná die ander.
Jy sê: Dis gemaklik.
Hulle sê: Dis slordig.
Jy sê: Dis so mooi!
Hulle sê: Dis te verleidelik.
Jy sê: Dis halfprys.
Hulle sê: Dit behoort te wees. . . . Die helfte daarvan is weg!
Is ’n wapenstilstand enigsins moontlik? Ja! Megan, 23, het geleer wat die geheim is. “Daar hoef nie ’n stryery te wees nie”, sê sy. “Julle kan ’n ooreenkoms bereik.” ’n Ooreenkoms? Beteken dit dat jy soos ’n 40-jarige moet aantrek? Ontspan! Dit beteken net dat jy en jou ouers julle verskille bespreek en met ander opsies vorendag kom waarmee hulle—en jy—gelukkig kan wees. Die voordele?
1. Jy sal op jou beste lyk, selfs vir jou portuurs.
2. Jou ouers sal minder geneig wees om jou klere te kritiseer.
3. Wanneer jou ouers sien hoe verantwoordelik jy op hierdie gebied is, sal hulle jou dalk selfs op ander gebiede vryheid gee.
Kom ons begin dan. Dink aan ’n kledingstuk wat jy op die Internet of in ’n winkel gesien het en eenvoudig “moet hê”. Die eerste ding om te doen, is . . .
Neem Bybelbeginsels in ag
Die Bybel sê verbasend min oor kleredrag. Om die waarheid te sê, jy sal al die skriftuurlike raad wat direk hiermee verband hou, binne net ’n paar minute kan lees! Maar in dié tyd sal jy betroubare, waardevolle riglyne vind. Byvoorbeeld:
● Die Bybelse raad aan vroue is om hulle te versier “met beskeidenheid en gesonde verstand”.a—1 Timoteus 2:9, 10.
Die woord “beskeidenheid” maak jou miskien bekommerd. ‘Moet ek dan ’n sak dra?’ wonder jy dalk. Glad nie! In hierdie konteks beteken beskeidenheid dat jou klere toon dat jy selfrespek het en ander mense se gevoelens in ag neem (2 Korintiërs 6:3). Daar is baie klerestyle wat aan hierdie vereistes voldoen. “Dit sal dalk ’n uitdaging wees”, sê Danielle, 23, “maar jy kan in die mode wees sonder om uitspattige style te dra.”
● Wat jou voorkoms betref, sê die Bybel dat jy jou moet toespits op “die geheime persoon van die hart”—of soos die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling dit stel, “die innerlike mens”.—1 Petrus 3:4.
Onbeskeie klere laat die koppe miskien vir ’n oomblik draai, maar dit is jou innerlike skoonheid wat jou die blywende respek van volwassenes en jou portuurs sal wen. Jou portuurs? Ja—selfs hulle sal dalk die dwaasheid van uitspattige style insien. “Dis aaklig om te sien hoe vroue mans uitlok deur wat hulle dra!” sê die 16-jarige Brittany. Kay stem saam. Sy beskryf ’n voormalige vriendin en sê: “Alles wat sy gedra het, het gesê ‘kyk-na-my’. Sy wou hê dat die ouens haar moes raaksien, en daarom het sy die soort klere gedra wat die meeste aandag sou trek.”
Vra jou ouers se mening
Om gewaagde klere in jou rugsak te druk en dit aan te trek wanneer jy weg van die huis af is, is nie ’n goeie idee nie. Jou ouers sal jou meer vertrou as jy openhartig en eerlik is met hulle, selfs as jy dink dat jy met iets kan wegkom. Om die waarheid te sê, dit sal waarskynlik goed wees om hulle mening te vra wanneer jy oor ’n kledingstuk besluit (Spreuke 15:22).—Gebruik die “Kleredragwerkblad” op bladsye 82 en 83.
Maar waarom sou jy hulle mening wou vra? Is dit nie jou ouers se plig om jou modesin te onderdruk nie? Nie eintlik nie. Dit is waar dat jou pa en ma dinge dalk uit ’n ander oogpunt beskou, maar soms is dit wat jy nodig het. “Ek waardeer my ouers se raad”, sê die 17-jarige Nataleine, “want ek wil nie by die huis uitloop en my in die skande steek of hê dat mense van my sleg praat as gevolg van hoe ek lyk nie.”
En kom ons wees nou maar eerlik: So lank as wat jy onder jou ouers se dak woon, is jy onder hulle gesag (Kolossense 3:20). Maar wanneer jy hulle beskouings verstaan—en hulle joune verstaan—sal jy dalk verbaas wees oor hoe dikwels julle kan ooreenkom. En dan kan die konflikte oor kleredrag uiteindelik iets van die verlede wees!
Modewenk: Wanneer jy klere aanpas, moet jy nie net dink aan wat jy in die spieël sien nie. ’n Skynbaar beskeie kledingstuk is dalk nie so beskeie wanneer jy gaan sit of buk om iets op te tel nie. Vra indien moontlik die mening van een van jou ouers of ’n geestelik volwasse vriendin.
Is jy jou grootste vyand? Wat kan jy doen as jy eenvoudig nie van jouself hou nie?
[Voetnoot]
a Hoewel hierdie Bybelse vermaning aan vroue gerig is, geld die beginsels vir albei geslagte.
SLEUTELTEKSTE
‘Laat julle versiering nie die dra van boklere wees nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart wees.’—1 Petrus 3:3, 4.
WENK
Vermy style wat seksualiteit beklemtoon. Dit laat jou desperaat en selfbehep lyk.
HET JY GEWEET . . . ?
Die eerste indruk wat mense van jou kry, hang dikwels af van wat jy dra.
AKSIEPLAN!
Die gesinslid of volwasse vriend(in) wie se mening ek kan vra oor ’n kledingstuk wat ek wil koop, is ․․․․․
Wanneer ek weer klere koop, sal ek die volgende faktore in ag neem: ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom bots ouers en tieners dikwels oor kleredrag?
● Watter vaardighede kan jy aanleer deur met jou ouers te praat oor kleredrag?
[Lokteks op bladsy 81]
Wanneer ek meisies met skrapse klere sien, het ek minder respek vir hulle. Maar wanneer ek mense beskeie klere sien dra wat terselfdertyd stylvol is, dink ek by myself: ‘Dis hoe ek wil hê dat mense my moet sien.’’’—Nataleine
[Venster/Prente op bladsye 82, 83]
Werkblad
kleredragwerkblad
Instruksies: Maak ’n afskrif van hierdie bladsye. Vra jou ouers om die werkblad aan die regterkant in te vul, en vul jy die een aan die linkerkant in. Ruil later julle werkblaaie om en bespreek julle antwoorde. Is daar enige verrassings? Wat het julle oor mekaar se beskouing geleer wat julle nie voorheen geweet het nie?
vir jou Dink aan ’n spesifieke kledingstuk wat jy wil dra of koop.
Waarom hou jy van hierdie spesifieke kledingstuk? Nommer die punte hieronder volgens wat vir jou die belangrikste is.
․․․․․ Handelsmerk
․․․․․ Aantreklik vir die teenoorgestelde geslag
․․․․․ Aanvaarbaar vir portuurs
․․․․․ Gemaklik
․․․․․ Prys
․․․․․ Ander ․․․․․
My ouers se eerste reaksie op hierdie kledingstuk sal waarskynlik wees
□ “Vergeet dit!”
□ “Miskien.”
□ “Geen probleem nie.”
As hulle beswaar maak, is die waarskynlikste rede hiervoor
□ “Dis te verleidelik.”
□ “Dis te slordig.”
□ “Dis te modieus.”
□ “Dit stel ons as jou ouers in ’n slegte lig.”
□ “Dis te duur.”
□ Ander ․․․․․
kan ons ’n ooreenkoms bereik?
Het my ouers dalk ’n punt beet?
․․․․․
Kan enigiets gedoen word om die kledingstuk aanvaarbaar te maak?
․․․․․
vir jou ouers Dink aan ’n spesifieke kledingstuk wat jou tiener wil dra of koop.
Waarom dink jy hou jou kind van hierdie kledingstuk? Nommer die punte hieronder volgens wat jy dink vir hom of haar die belangrikste is.
․․․․․ Handelsmerk
․․․․․ Aantreklik vir die teenoorgestelde geslag
․․․․․ Aanvaarbaar vir portuurs
․․․․․ Gemaklik
․․․․․ Prys
․․․․․ Ander ․․․․․
My eerste reaksie is
□ “Vergeet dit!”
□ “Miskien.”
□ “Geen probleem nie.”
Die rede waarom ek dalk beswaar sal maak, is
□ “Dis te verleidelik.”
□ “Dis te slordig.”
□ “Dis te modieus.”
□ “Dit stel ons as jou ouers in ’n slegte lig.”
□ “Dis te duur.”
□ Ander ․․․․․
kan ons ’n ooreenkoms bereik?
Is ons beswaar teen hierdie kledingstuk maar net ’n kwessie van persoonlike smaak?
□ Ja □ Moontlik □ Nee
Kan enigiets gedoen word om die kledingstuk aanvaarbaar te maak?
․․․․․
Die besluit ․․․․․
[Venster op bladsy 84]
wat van seuns?
Die Bybelbeginsels in hierdie hoofstuk is ook op seuns van toepassing. Wees beskeie. Laat die geheime persoon van die hart—die ware innerlike mens—na vore kom. Wanneer jy oor ’n kledingstuk besluit, moet jy jou afvra: ‘Wat sal dit oor my sê? Weerspieël dit wie ek werklik is?’ Onthou, klere stuur ’n boodskap uit. Maak seker dat jou klere jou standaarde weerspieël!
[Prent op bladsy 80]
Jou klere is soos ’n advertensie wat vir mense alles omtrent jou vertel. Wat sê jou klere van jou?