-
Maak jou vooruitgang duidelikDie Wagtoring — 2009 | Desember 15
-
-
6 Paulus het aan Timoteus geskryf: “Wees ’n voorbeeld vir die getroues in woord, in gedrag, in liefde, in geloof, in kuisheid.” Paulus het bygevoeg: “Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Tim. 4:12, 15). Hierdie vooruitgang het te doen gehad met Timoteus se geestelike eienskappe, nie met enige gesagsposisie nie. Dit is die soort vooruitgang waarna elke Christen moet streef.
-
-
Maak jou vooruitgang duidelikDie Wagtoring — 2009 | Desember 15
-
-
Word voorbeeldig in spraak
8. Watter uitwerking het ons spraak op ons aanbidding?
8 Een van die gebiede waarop Timoteus voorbeeldig moes wees, was in sy spraak. Hoe kan ons ons vooruitgang op dié gebied duidelik maak? Ons spraak sê baie oor ons. Jesus het gepas gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matt. 12:34). Jesus se halfbroer Jakobus het ook besef watter uitwerking ons spraak op ons aanbidding kan hê. Hy het geskryf: “As iemand meen dat hy ’n vormlike aanbidder is en tog nie sy tong in toom hou nie, maar voortgaan om sy eie hart te bedrieg, dié man se vorm van aanbidding is vergeefs.”—Jak. 1:26.
9. In watter opsigte moet ons spraak voorbeeldig wees?
9 Ons spraak kan aan ander in die gemeente openbaar in watter mate ons geestelike vooruitgang gemaak het. Gevolglik is ryp Christene se spraak nie onwaardig, negatief, krities of skadelik nie, maar hulle streef eerder daarna om ander op te bou, te vertroos, op te beur en aan te moedig (Spr. 12:18; Ef. 4:29; 1 Tim. 6:3-5, 20). Ons bereidwilligheid om ander van ons sedelike oortuigings te vertel en God se verhewe standaarde te verdedig, kan ons toegewydheid aan God openbaar (Rom. 1:15, 16). Regskapenes sal beslis sien hoe ons die gawe van spraak gebruik en dalk ons voorbeeld volg.—Fil. 4:8, 9.
Voorbeeldig in ons gedrag en kuisheid
10. Waarom is geloof sonder huigelary noodsaaklik vir ons geestelike vooruitgang?
10 Opbouende spraak is nie al wat nodig is vir ’n Christen om ’n goeie voorbeeld te wees nie. Om die regte dinge te sê sonder om die regte dinge te doen, sal van iemand ’n huigelaar maak. Paulus was deeglik bewus van die huigelary van die Fariseërs en die skadelike gevolge van hulle weg. Hy het Timoteus meer as een keer teen sulke onopregtheid en skynheiligheid gewaarsku (1 Tim. 1:5; 4:1, 2). Maar Timoteus was nie ’n huigelaar nie. In sy tweede brief aan Timoteus het Paulus geskryf: “Ek herinner my die geloof wat sonder enige huigelary in jou is” (2 Tim. 1:5). Nogtans moes Timoteus sy opregtheid as ’n Christen duidelik maak vir ander. Hy moes voorbeeldig wees in sy gedrag.
11. Wat het Paulus aan Timoteus oor rykdom geskryf?
11 In sy twee briewe aan Timoteus het Paulus raad oor verskeie aspekte van gedrag gegee. Byvoorbeeld, Timoteus moes nie rykdom najaag nie. Paulus het geskryf: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Tim. 6:10). Die liefde vir rykdom is ’n teken dat ons geestelik te kort skiet. In teenstelling hiermee maak Christene wat tevrede is met ’n eenvoudige lewe, dit wil sê met “voedsel, klere en onderdak”, hulle geestelike vooruitgang duidelik.—1 Tim. 6:6-8; Fil. 4:11-13.
12. Hoe kan ons in ons persoonlike lewe ons vooruitgang duidelik maak?
12 Paulus het vir Timoteus gesê hoe belangrik dit vir Christenvroue is om hulle “met goed versorgde kleredrag [te] versier, met beskeidenheid en gesonde verstand” (1 Tim. 2:9). Vroue wat beskeie is en gesonde verstand aan die dag lê in hulle keuse van kleredrag en persoonsversorging, sowel as op ander gebiede van hulle persoonlike lewe, stel ’n uitstekende voorbeeld (1 Tim. 3:11). Hierdie beginsel is ook van toepassing op Christenmans. Paulus het opsieners vermaan om “matig in gewoontes, gesond van verstand, ordelik” te wees (1 Tim. 3:2). Wanneer ons hierdie eienskappe in ons daaglikse bedrywighede aan die dag lê, sal ons ons vooruitgang vir almal duidelik maak.
13. Hoe kan ons, soos Timoteus, voorbeelde in kuisheid wees?
13 Timoteus moes ook voorbeeldig wees in kuisheid. Toe Paulus hierdie woord gebruik het, het hy na ’n baie spesifieke aspek van gedrag verwys, dié van geslagsedelikheid. Timoteus moes onberispelik wees veral in sy handelinge met vroue. Hy moes “ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters met alle kuisheid” behandel (1 Tim. 4:12; 5:2). Selfs onsedelike dade wat skynbaar verborge is, is aan God bekend en sal beslis op die ou end aan ander mense bekend word. Maar dit is ook waar dat ’n Christen se goeie werke nie verborge kan bly nie (1 Tim. 5:24, 25). Almal in die gemeente het die geleentheid om hulle vooruitgang duidelik te maak in hulle gedrag en kuisheid.
Liefde en geloof is noodsaaklik
14. Hoe beklemtoon die Skrif die belangrikheid daarvan om liefde onder mekaar te hê?
14 ’n Belangrike aspek van die ware Christelike geloof is liefde. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Hoe toon ons sulke liefde? God se Woord spoor ons aan om “mekaar in liefde [te] verdra”, om ‘goedhartig teenoor mekaar te word, vol tere medelye, mekaar vryelik te vergewe’ en om gasvry te wees (Ef. 4:2, 32; Heb. 13:1, 2). “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê”, het die apostel Paulus geskryf.—Rom. 12:10.
15. Waarom moet almal, veral Christenopsieners, liefde betoon?
15 As Timoteus sy mede-Christene ongevoelig of onvriendelik behandel het, sou dit sy goeie werke as onderrigter en opsiener kanselleer. (Lees 1 Korintiërs 13:1-3.) Aan die ander kant sou sy opregte blyke van geneentheid vir sy broers, tesame met sy gasvryheid en goeie werke ten behoewe van hulle, beslis sy geestelike vooruitgang duidelik maak. Dit was dus gepas dat die apostel Paulus in sy brief aan Timoteus spesifiek verwys het na liefde as een van die eienskappe waarin Timoteus voorbeeldig moes wees.
16. Waarom moes Timoteus sterk geloof aan die dag lê?
16 Terwyl Timoteus in Efese was, is sy geloof op die proef gestel. Sekere persone het leerstellings bevorder wat nie in ooreenstemming met Christelike waarheid was nie. Ander het “valse stories” versprei of idees nagevors wat niks tot die gemeente se geestelikheid bygedra het nie. (Lees 1 Timoteus 1:3, 4.) Paulus het gesê dat sulke mense ‘opgeblase is van trots en niks verstaan nie, maar dat hulle verstandelik siek is ten opsigte van twisvrae en debatte oor woorde’ (1 Tim. 6:3, 4). Kon Timoteus dit waag om betrokke te raak by die skadelike idees wat in die gemeente ingesypel het? Nee, want Paulus het Timoteus aangespoor: “Stry die goeie stryd van die geloof . . . en keer jou af van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die sogenaamde ‘kennis’” (1 Tim. 6:12, 20, 21). Daar bestaan geen twyfel dat Timoteus Paulus se wyse raad gevolg het nie.—1 Kor. 10:12.
17. Hoe kan ons geloof vandag op die proef gestel word?
17 Interessant genoeg, daar is vir Timoteus gesê dat “party in latere tye van die geloof afvallig sal word en aandag sal skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” (1 Tim. 4:1). Almal in die gemeente, insluitende dié in verantwoordelike posisies, moet soos Timoteus wees en sterk, onwankelbare geloof openbaar. Deur ’n sterk standpunt in te neem en daadwerklik op te tree teen afvalligheid, kan ons ons vooruitgang duidelik maak en voorbeeldig wees in geloof.
-