Wat kan ons help om die woord van die waarheid reg te hanteer?
’N RESENSENT vir ’n koerant het eenkeer na ’n sekere toneelstuk gaan kyk. Hy het nie baie daarvan gehou nie en het agterna geskryf: “As jy hou van beuselagtighede, gaan kyk gerus na hierdie toneelstuk.” Later het die organiseerders van die toneelstuk ’n advertensie geplaas wat ’n aanhaling uit die resensie bevat het. Die aanhaling was: “Gaan kyk gerus na hierdie toneelstuk”! Die advertensie het die resensent se woorde akkuraat aangehaal, maar dit uit verband geruk en sodoende sy mening heeltemal verkeerd voorgestel.
Daardie voorbeeld toon hoe belangrik die konteks van ’n stelling kan wees. Wanneer woorde uit verband aangehaal word, kan dit hulle betekenis verdraai, net soos Satan die betekenis van die Skrif verdraai het toe hy Jesus probeer mislei het (Matteus 4:1-11). Aan die ander kant kan dit ons help om ’n stelling beter te verstaan as ons die konteks in ag neem. Daarom is dit altyd verstandig om na die konteks te kyk wanneer ons ’n Bybelteks bestudeer en die vers in sy verband te sien, sodat ons beter kan verstaan waarvan die skrywer praat.
Hanteer versigtig
’n Woordeboek definieer verband, of konteks, as “die dele van ’n geskrewe of gesproke stelling wat ’n spesifieke woord of gedeelte voorafgaan of daarop volg, en gewoonlik die betekenis of strekking daarvan beïnvloed”. Konteks kan ook “die omstandighede of feite wees wat met ’n spesifieke gebeurtenis, situasie, ens. gepaardgaan”. ’n Sinoniem vir “konteks” sal in hierdie laasgenoemde geval “agtergrond” wees. Dit is veral belangrik om die konteks van ’n teks te ondersoek met die oog op wat die apostel Paulus vir Timoteus geskryf het: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). As ons God se Woord reg wil hanteer, moet ons ’n juiste begrip daarvan hê en dit dan op eerlike en akkurate wyse aan ander verduidelik. Eerbied vir Jehovah, die Outeur van die Bybel, sal ons beweeg om dit te probeer doen, en as ons die konteks in ag neem, sal dit baie help.
Die agtergrond van Tweede Timoteus
Kom ons ondersoek byvoorbeeld die Bybelboek Tweede Timoteus.a Om mee te begin, kan ons vrae oor die agtergrond van die boek vra. Wie het Tweede Timoteus geskryf? Wanneer? Onder watter omstandighede? Dan kan ons vra: Wat was die situasie van die “Timoteus” waarna die boek se titel verwys? Waarom het hy die inligting in die boek nodig gehad? Die antwoorde op hierdie vrae sal ons waardering vir die boek baie vergroot en ons help om te sien hoe ons vandag daarby kan baat vind.
Die eerste verse van Tweede Timoteus dui daarop dat die boek ’n brief is wat deur die apostel Paulus aan Timoteus geskryf is. Ander verse toon dat Paulus weens die goeie nuus in gevangenisboeie was toe hy dit geskryf het. Baie het Paulus in die steek gelaat, en hy het gevoel dat sy einde naby is (2 Timoteus 1:15, 16; 2:8-10; 4:6-8). Hy moes dus die boek gedurende sy tweede gevangenskap in Rome geskryf het, waarskynlik omstreeks 65 G.J. Kort daarna het Nero hom blykbaar ter dood veroordeel.
Dit is die agtergrond van Tweede Timoteus. Maar dit is opmerkenswaardig dat Paulus nie aan Timoteus geskryf het om oor sy eie probleme te kla nie. Hy het eerder gewaarsku dat daar moeilike tye vir Timoteus voorlê en sy vriend aangespoor om afleidings te vermy, deurentyd ‘krag te verkry’ en Paulus se instruksies aan ander oor te dra. Hulle sou op hulle beurt voldoende bekwaam wees om ander te help (2 Timoteus 2:1-7). Wat ’n uitstekende voorbeeld van onselfsugtige besorgdheid oor ander selfs in moeilike tye! En watter goeie raad vir ons wat vandag lewe!
Paulus noem Timoteus “’n geliefde kind” (2 Timoteus 1:2). Daar word dikwels in die Christelike Griekse Geskrifte na die jong man verwys as ’n getroue metgesel van Paulus (Handelinge 16:1-5; Romeine 16:21; 1 Korintiërs 4:17). Toe Paulus hierdie brief aan hom geskryf het, was Timoteus blykbaar in sy dertigerjare—wat nog as jeugdig beskou is (1 Timoteus 4:12). Tog het hy reeds ’n uitstekende rekord van getrouheid gehad en het hy moontlik al 14 jaar ‘soos ’n slaaf saam met Paulus gedien’ (Filippense 2:19-22). Al was Timoteus nog betreklik jonk, het Paulus hom die opdrag gegee om ander ouer manne te vermaan “om nie oor woorde te stry nie”, maar om hulle aandag te vestig op belangrike sake, soos geloof en volharding (2 Timoteus 2:14). Timoteus is ook die gesag gegee om gemeentelike opsieners en bedieningsknegte aan te stel (1 Timoteus 5:22). Maar hy was moontlik ’n bietjie huiwerig om sy gesag uit te oefen.—2 Timoteus 1:6, 7.
Die jong ouer man het voor moeilike uitdagings te staan gekom. Om maar een ding te noem, twee individue, Himeneus en Filetus, het “die geloof van party [ondermyn]” en ander geleer dat “die opstanding reeds plaasgevind het” (2 Timoteus 2:17, 18). Hulle het blykbaar aangevoer dat daar net ’n geestelike opstanding is en dat dit reeds vir Christene plaasgevind het. Dalk het hulle Paulus se stelling dat Christene dood in hulle sondes was maar lewend gemaak is deur God se gees, uit verband aangehaal (Efesiërs 2:1-6). Paulus het gewaarsku dat hierdie invloed van afvalliges sou toeneem. Hy het geskryf: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, . . . en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer en hulle tot valse stories wend” (2 Timoteus 4:3, 4). Paulus se vroegtydige waarskuwing het getoon dat dit dringend vir Timoteus was om ag te slaan op die apostel se raad.
Die boek se waarde vandag
Uit die voorgaande sien ons dat Paulus Tweede Timoteus onder meer om die volgende redes geskryf het: (1) Hy het geweet dat sy einde naby is, en hy wou Timoteus voorberei op die tyd wanneer hy nie meer daar sou wees om Timoteus te ondersteun nie. (2) Hy wou Timoteus graag toerus om die gemeentes onder sy toesig teen afvalligheid en ander skadelike invloede te beskerm. (3) Hy wou Timoteus aanmoedig om besig te bly in Jehovah se diens en op ’n juiste kennis van die geïnspireerde Skrif te vertrou om valse leringe teë te werk.
’n Begrip van hierdie agtergrond maak Tweede Timoteus vir ons betekenisvoller. Daar is vandag ook afvalliges soos Himeneus en Filetus wat hulle eie idees bevorder en ons geloof wil ondermyn. En die “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, wat Paulus voorspel het, is nou hier. Baie het al ondervind hoe geldig Paulus se waarskuwing is: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:1, 12). Hoe kan ons standvastig bly? Soos Timoteus moet ons ag slaan op die raad van diegene wat Jehovah al jare lank dien. En deur persoonlike studie, gebed en Christelike assosiasie kan ons ‘deurentyd krag verkry’ deur middel van Jehovah se onverdiende goedhartigheid. Ons kan ook met vertroue in die krag van juiste kennis Paulus se vermaning ter harte neem: “Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde.”—2 Timoteus 1:13.
“Die patroon van gesonde woorde”
Wat is die “gesonde woorde” waarvan Paulus gepraat het? Hy gebruik daardie uitdrukking om na die ware Christelike leer te verwys. In sy eerste brief aan Timoteus het Paulus verduidelik dat “gesonde woorde” basies “dié van ons Here Jesus Christus” is (1 Timoteus 6:3). As ’n mens die patroon van gesonde woorde navolg, lei dit tot ’n gesonde verstand, ’n liefdevolle gesindheid en besorgdheid oor ander. Aangesien Jesus se bediening en leringe in ooreenstemming met alle ander leringe in die Bybel is, kan die uitdrukking “gesonde woorde” by uitbreiding na alle Bybelleringe verwys.
Vir Timoteus, soos vir alle Christen- ouer manne, was die patroon van gesonde woorde ’n “goeie pand” wat bewaar moes word (2 Timoteus 1:13, 14). Timoteus moes ‘die woord verkondig, dringend daarmee besig bly in gunstige tye, in moeilike tye, teregwys, berispe, vermaan, met alle lankmoedigheid en onderrigkuns’ (2 Timoteus 4:2). As ons besef dat afvallige leringe in Timoteus se dag versprei het, verstaan ons waarom Paulus beklemtoon het dat dit dringend was om gesonde woorde aan ander te leer. Ons sien ook dat Timoteus die kudde sou moes beskerm deur met lankmoedigheid ‘tereg te wys, te berispe en te vermaan’, asook deur goeie onderrigvermoëns te gebruik.
Aan wie moes Timoteus die woord verkondig? Die konteks toon dat Timoteus, as ’n ouer man, die woord in die Christengemeente moes verkondig. Met die oog op die druk van teenstanders moes Timoteus sy geestelike balans handhaaf en met vrymoedigheid die woord van God verkondig, nie mensefilosofieë, persoonlike idees of nuttelose bespiegelings nie. Dit kon weliswaar gelei het tot teenstand van sommige wat dalk verkeerde neigings gehad het (2 Timoteus 1:6-8; 2:1-3, 23-26; 3:14, 15). Maar deur Paulus se raad te volg, sou Timoteus voortgaan om afvalligheid te stuit, net soos Paulus gedoen het.—Handelinge 20:25-32.
Is Paulus se woorde oor die verkondiging van die woord ook van toepassing op die predikingswerk buite die gemeente? Ja dit is, soos die konteks toon. Paulus sê verder: “Bly jy egter in alles nugter van verstand, ly kwaad, doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit” (2 Timoteus 4:5). Evangelisasie—die verkondiging van die goeie nuus van redding aan ongelowiges—is die kern van die Christelike bediening (Matteus 24:14; 28:19, 20). En net soos God se woord selfs in “moeilike tye” in die gemeente verkondig word, so hou ons aan om die woord aan diegene buite die gemeente te verkondig, selfs onder moeilike omstandighede.—1 Tessalonisense 1:6.
God se geïnspireerde Woord is die grondslag van ons predikings- en onderrigtingswerk. Ons vertrou volkome op die Bybel. Paulus het vir Timoteus gesê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:16). Daardie woorde word dikwels reg aangehaal om te toon dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is. Maar met watter doel het Paulus dit geskryf?
Paulus het met ’n ouer man gepraat, iemand met die verantwoordelikheid om in die gemeente ‘tereg te wys, dinge reg te stel en in regverdigheid te dissiplineer’. Hy het Timoteus dus daaraan herinner om die wysheid te vertrou van die geïnspireerde Woord, waarin Timoteus van kleintyd af onderrig is. Soos Timoteus moet ouer manne oortreders soms teregwys. Wanneer hulle dit doen, moet hulle altyd hulle vertroue in die Bybel stel. En aangesien die Skrif deur God geïnspireer is, kom alle teregwysing wat daarop gegrond is, in werklikheid van God. Enigeen wat teregwysing uit die Bybel verwerp, verwerp nie menslike idees nie, maar geïnspireerde raad wat van Jehovah self kom.
Wat ’n ryk skat van Goddelike wysheid is die boek Tweede Timoteus tog! En hoeveel betekenisvoller is dit tog wanneer ons die raad daarin in konteks ondersoek! In hierdie artikel het ons net vlugtig gekyk na die wonderlike, geïnspireerde inligting wat hierdie boek bevat, maar dit is genoeg om toe te lig hoe nuttig dit is om na die konteks te kyk van die dinge wat ons in die Bybel lees. Dit sal help om te verseker dat ons inderdaad “die woord van die waarheid reg hanteer”.
[Voetnoot]
a Sien Insight on the Scriptures, uitgegee deur Jehovah se Getuies, Deel 2, bladsye 1105-8, vir verdere inligting.
[Prent op bladsy 27]
Paulus wou Timoteus graag toerus om die gemeentes te beskerm
[Prent op bladsy 30]
Paulus het Timoteus daaraan herinner om die wysheid van die geïnspireerde Woord te vertrou