‘Bring die boekrolle, veral die perkamente’
MET die woorde hierbo het die apostel Paulus sy medesendeling Timoteus aangespoor om vir hom sekere geskrifte te bring. Na watter soorte boekrolle en perkamente het Paulus verwys? Wat het hom dit laat sê? En wat kan ons uit hierdie versoek leer?
Toe Paulus hierdie woorde teen die middel van die eerste eeu HJ neergeskryf het, was die 39 boeke van die Hebreeuse Geskrifte in 22 of 24 boeke verdeel, waarvan die meeste waarskynlik afsonderlike boekrolle was. Professor Alan Millard het gesê dat hierdie boekrolle, hoewel dit duur was, “nie . . . buite die bereik van die redelik welgesteldes” was nie. Party het toegang tot ten minste een boekrol gehad. Die Etiopiese eunug het byvoorbeeld ’n boekrol in sy wa gehad en het “die profeet Jesaja hardop gelees”. Hy was ‘’n maghebber onder Kandake, die koningin van die Etiopiërs, en was oor al haar skatte’. Hy moes ryk genoeg gewees het om gedeeltes van die Skrif te besit.—Hand. 8:27, 28.
In sy versoek aan Timoteus het Paulus geskryf: “Wanneer jy kom, moet jy die mantel bring wat ek in Troas by Karpus agtergelaat het, en die boekrolle, veral die perkamente” (2 Tim. 4:13). Dit gee te kenne dat Paulus ’n aantal boeke besit het. Wat sou ’n belangriker plek in sy biblioteek beklee het as die Woord van God? Aangaande die woord “perkamente” in hierdie vers het die Bybelgeleerde A.T. Robertson gesê: “Hierdie spesifieke [geskrifte] was waarskynlik afskrifte van Ou-Testamentiese boeke, aangesien perkament duurder was as papirus.” Paulus is van jongs af “opgevoed . . . aan die voete van Gamaliël”, wat die Mosaïese Wet aan ander geleer het en by die hele volk in aansien was. Dit is dus te verstane dat Paulus persoonlike afskrifte van die boekrolle van God se Woord sou bekom het.—Hand. 5:34; 22:3.
Christene se gebruik van boekrolle
Diegene wat boekrolle van die Heilige Skrif besit het, was nietemin bevoorreg. Hoe het die meeste Christene dan destyds toegang tot die Woord van God verkry? Paulus se vroeëre brief aan Timoteus gee ons ’n aanduiding. Hy het geskryf: “Totdat ek kom, moet jy voortgaan om jou toe te lê op openbare voorlesing” (1 Tim. 4:13). Openbare voorlesing was deel van die vergaderingprogram van Christengemeentes, ’n tradisionele gebruik onder God se volk sedert die tyd van Moses.—Hand. 13:15; 15:21; 2 Kor. 3:15.
As ’n ouer man moes Timoteus hom daarop ‘toelê’ om hardop te lees, ’n gebruik wat diegene wat nie hulle eie afskrifte van die Skrif gehad het nie, tot voordeel sou strek. Gedurende die openbare voorlesing van die Woord van God het almal ongetwyfeld aandagtig geluister sodat hulle nie een woord mis nie, en ouers en kinders het sekerlik by die huis bespreek wat by die vergaderinge gelees is.
Die bekende Dooie See-rol van Jesaja is byna 7,3 meter lank. Aangesien ’n boekrol ’n staaf aan elke kant en dikwels ’n beskermende omhulsel gehad het, sou dit swaar gewees het. Die meeste Christene kon waarskynlik nie baie daarvan saam met hulle dra in die predikingswerk nie. Selfs al het Paulus etlike boekrolle van die Skrif vir sy persoonlike gebruik besit, kon hy waarskynlik nie al sy boekrolle saam met hom op sy reise neem nie. Hy het blykbaar party daarvan by sy vriend Karpus in Troas agtergelaat.
Wat kan ons uit Paulus se voorbeeld leer?
Kort voordat hy sy versoek gerig het, het Paulus, wat ’n tweede keer in Rome ’n gevangene was, geskryf: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop . . . Van nou af is die kroon van regverdigheid vir my weggelê” (2 Tim. 4:7, 8). Hy het waarskynlik hierdie woorde omstreeks 65 HJ geskryf, gedurende die vervolging wat deur Nero aangestig is. Hierdie keer was die omstandighede van sy gevangenskap baie moeilik. Trouens, hy het besef dat sy teregstelling op hande is (2 Tim. 1:16; 4:6). Dit is te verstane dat Paulus sy opregte begeerte uitgespreek het om sy boekrolle by hom te hê. Hoewel hy vol vertroue was dat hy die goeie stryd enduit gestry het, wou hy voortgaan om hom te versterk deur die Woord van God te bestudeer.
Timoteus was moontlik nog in Efese toe hy Paulus se versoek ontvang het (1 Tim. 1:3). Van Efese na Rome via Troas is min of meer 1 600 kilometer. In dieselfde brief het Paulus Timoteus aangespoor: “Doen jou uiterste bes om voor die winter hier aan te kom” (2 Tim. 4:21). Die Bybel sê nie of Timoteus ’n boot gevind het om hom in Rome te kry teen die tyd wat Paulus gesê het hy daar moet wees nie.
Wat kan ons leer uit Paulus se versoek om “die boekrolle, veral die perkamente”, te bring? Hy het gedurende hierdie uiters moeilike tyd in sy lewe ’n verlange na God se Woord behou. Dink jy nie dat dit die geheim was waarom hy altyd geestelik lewend en bedrywig asook ’n bron van aanmoediging vir baie was nie?
Hoe geseënd is ons tog vandag om ’n persoonlike eksemplaar van die hele Bybel te hê! Party van ons het selfs ’n hele paar eksemplare en uitgawes. Soos Paulus, moet ons ’n begeerte ontwikkel om ’n dieper begrip van die Skrif te verkry. Paulus se tweede brief aan Timoteus was die laaste van die 14 geïnspireerde briewe wat hy die voorreg gehad het om te skryf. Sy persoonlike versoek verskyn na aan die einde van die boek. Trouens, Paulus se versoek aan Timoteus om ‘die boekrolle, veral die perkamente, te bring’, was een van sy laaste opgetekende wense.
Is dit jou vurige begeerte om, soos Paulus, die goeie stryd van die geloof enduit te stry? Wil jy jou geestelik lewend en gereed hou om aan die getuieniswerk deel te neem so lank as wat die Here wil hê ons moet voortgaan? Doen dan gerus wat Paulus Christene aangespoor het om te doen. “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting” deur ywerige en gereelde studie van die Bybel, wat nou beskikbaar is aan meer mense as ooit tevore en in vorms wat baie geriefliker is as boekrolle.—1 Tim. 4:16.
[Kaart/Prente op bladsye 18, 19]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Efese
Troas
Rome