-
Luister na jou geweteDie Wagtoring – 2007 | Oktober 15
-
-
Luister na jou gewete
“Alles is rein vir die reines. Maar vir die verontreinigdes en ongelowiges is niks rein nie.”—TITUS 1:15.
1. Hoe was Paulus betrokke by die gemeentes op Kreta?
NADAT die apostel Paulus drie sendingreise voltooi het, is hy in hegtenis geneem en uiteindelik na Rome gestuur, waar hy twee jaar lank in aanhouding was. Wat het hy gedoen toe hy vrygelaat is? Op die een of ander stadium het hy die eiland Kreta saam met Titus besoek, aan wie Paulus geskryf het: “Ek [het] jou in Kreta agtergelaat, dat jy die dinge wat gebrekkig was, sou regstel en . . . ouer manne sou aanstel” (Titus 1:5). Mense se gewetens was betrokke by hierdie toewysing wat Titus moes uitvoer.
2. Met watter probleem het Titus op die eiland Kreta te kampe gehad?
2 Paulus het Titus ingelig oor die vereistes vir gemeentelike ouer manne en het toe daarop gewys dat daar “talle weerbarstiges, onsinpraters en bedrieërs van die verstand” was. Hulle het “hele huisgesinne . . . ondermyn deur . . . dinge te leer wat hulle nie behoort te leer nie”. Titus moes ‘aanhou om hulle tereg te wys’ (Titus 1:10-14; 1 Timoteus 4:7). Paulus het gesê dat hulle verstand en gewete “verontreinig” was, en hy het ’n woord gebruik wat gevlek beteken, soos wanneer ’n mooi kledingstuk deur kleurstof gevlek is (Titus 1:15). Party van daardie mense het moontlik ’n Joodse agtergrond gehad, want hulle ‘het aan die besnydenis vasgehou’. Gemeentes word nie vandag ondermyn deur mense met dié spesifieke beskouing nie; ons kan nietemin baie oor die gewete leer uit die raad wat Paulus aan Titus gegee het.
Dié met ’n verontreinigde gewete
3. Wat het Paulus oor die gewete aan Titus geskryf?
3 Let op die agtergrond waarteen Paulus die gewete gemeld het. “Alles is rein vir die reines. Maar vir die verontreinigdes en ongelowiges is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is verontreinig. Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke.” Dit is duidelik dat party mense van daardie tyd veranderinge moes maak sodat hulle “gesond in die geloof” kon wees (Titus 1:13, 15, 16). Hulle het gesukkel om te onderskei tussen wat rein en wat onrein was, en dit het verband gehou met hulle gewete.
4, 5. Watter tekortkoming het party in die gemeentes gehad, en watter uitwerking het dit op hulle gehad?
4 Meer as tien jaar vroeër het die Christenbestuursliggaam beslis dat besnydenis nie meer ’n vereiste was om ’n ware aanbidder te word nie, en hulle het die gemeentes dienooreenkomstig ingelig (Handelinge 15:1, 2, 19-29). Maar party op Kreta het nog ‘aan die besnydenis vasgehou’. Hulle het openlik van die bestuursliggaam verskil en ‘dinge geleer wat hulle nie behoort te geleer het nie’ (Titus 1:10, 11). As gevolg van verdraaide denke het hulle moontlik voorskrifte van die Wet oor voedsel en rituele reinheid voorgestaan. Hulle het dalk selfs verder gegaan as wat die Wet gesê het, net soos hulle voorgangers in Jesus se dag gedoen het, asook Joodse fabels en gebooie van mense voorgestaan.—Markus 7:2, 3, 5, 15; 1 Timoteus 4:3.
5 Hierdie denke het ’n negatiewe invloed gehad op hulle oordeel en sedelikheidsgevoel, hulle gewete. Paulus het geskryf: “Vir die verontreinigdes en ongelowiges is niks rein nie.” Hulle gewete is in so ’n mate aangetas dat dit nie meer betroubare leiding vir hulle dade en menings voorsien het nie. Daarbenewens het hulle mede-Christene in verband met persoonlike sake geoordeel, sake waaroor Christene dalk verskillende besluite sal neem. In hierdie opsig het hierdie Kretensers dinge wat in werklikheid nie onrein was nie, as onrein beskou (Romeine 14:17; Kolossense 2:16). Terwyl hulle verkondig het dat hulle God ken, het hulle deur hulle werke die teenoorgestelde bewys.—Titus 1:16.
“Rein vir die reines”
6. Watter twee soorte mense het Paulus gemeld?
6 Hoe kan ons baat vind by wat Paulus aan Titus geskryf het? Wel, let op die teenstelling in hierdie verklaring: “Alles is rein vir die reines. Maar vir die verontreinigdes en ongelowiges is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is verontreinig” (Titus 1:15). Paulus het beslis nie gesê dat absoluut alles rein en toelaatbaar is vir ’n sedelik rein Christen nie. Ons kan seker wees hiervan, want in ’n ander brief het Paulus dit duidelik gestel dat iemand wat hoerery, afgodediens, spiritisme, ensovoorts beoefen, “God se koninkryk nie sal beërf nie” (Galasiërs 5:19-21). Ons moet dus tot die gevolgtrekking kom dat Paulus ’n algemene waarheid oor twee soorte mense genoem het, dié wat sedelik en geestelik rein is en dié wat dit nie is nie.
-
-
Luister na jou geweteDie Wagtoring – 2007 | Oktober 15
-
-
Verskillende stemme, verskillende besluite
9. Wat is die rol van die gewete as ‘alles rein is’?
9 Maar wat het Paulus bedoel toe hy gesê het: “Alles is rein vir die reines”? Paulus het verwys na Christene wat hulle denke en sedelikheidsgevoel in ooreenstemming gebring het met God se standaarde, wat ons in sy geïnspireerde Woord vind. Hierdie Christene besef dat daar oor baie sake wat nie regstreeks veroordeel word nie, verskillende beskouings onder gelowiges kan wees. Hulle veroordeel ander nie, maar erken eerder dinge wat God nie veroordeel nie, as “rein”. Hulle verwag nie dat almal presies soos hulle sal dink oor aspekte van die lewe waaroor die Bybel nie spesifieke riglyne gee nie. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.
-