HOOFSTUK 5
Opsieners wat as herders oor die kudde toesig hou
GEDURENDE sy aardse bediening het Jesus gewys dat hy “die goeie herder” is (Joh. 10:11). Toe hy die skare sien wat hom gretig gevolg het, “het hy baie jammer vir hulle gevoel, want hulle was verwaarloos en sleg behandel, soos skape sonder ’n herder” (Matt. 9:36). Petrus en die ander apostels het sy liefdevolle besorgdheid gesien. Hoe anders was Jesus tog as die valse herders van Israel, wat die kudde so erg verwaarloos het dat die skape verstrooi was en geestelik honger gely het! (Eseg. 34:7, 8). Jesus het ’n goeie voorbeeld gestel van hoe om vir die skape te sorg en hulle te onderrig. Hy was selfs bereid om vir hulle te sterf. Die apostels het hierdeur geleer hoe om mense met geloof te help om tot Jehovah, “die herder en opsiener van [hulle] siele”, terug te keer. – 1 Pet. 2:25.
2 Toe Jesus by een geleentheid met Petrus gepraat het, het hy beklemtoon hoe belangrik dit is om die skape te voed en om as herders oor hulle toesig te hou (Joh. 21:15-17). Dit het Petrus beslis diep geraak, en hy het later vir die ouermanne in die vroeë Christengemeente gesê: “Wees herders vir die kudde van God wat onder julle sorg is en dien as opsieners, nie omdat julle gedwing word nie, maar gewillig, volgens God se wil, en ook nie uit liefde vir oneerlike wins nie, maar gretig. Moet ook nie baasspeel oor dié wat God se erfdeel is nie, maar word voorbeelde vir die kudde” (1 Pet. 5:1-3). Petrus se woorde is ook vandag op die opsieners in die gemeente van toepassing. In navolging van Jesus dien ouermanne gewillig en gretig as voorbeelde vir die kudde terwyl hulle die leiding in Jehovah se diens neem. – Heb. 13:7.
In navolging van Jesus dien ouermanne gewillig en gretig as voorbeelde vir die kudde terwyl hulle die leiding in Jehovah se diens neem
3 Ons kan dankbaar wees vir die geesaangestelde opsieners in die gemeente. Ons ontvang baie voordele as gevolg van hulle sorg. Byvoorbeeld, opsieners gee aanmoediging en persoonlike aandag aan almal in die gemeente. Hulle neem elke week ywerig die leiding by gemeentelike vergaderinge, waar almal in die geloof gevoed word (Rom. 12:8). Hulle pogings om die kudde teen skadelike elemente, soos goddelose mense, te beskerm, dra by tot ons veiligheid (Jes. 32:2; Tit. 1:9-11). Hulle leiding in die veldbediening spoor ons aan om die goeie nuus gereeld elke maand te verkondig (Heb. 13:15-17). Deur middel van hierdie “gawes in die vorm van mense” het Jehovah voorsiening gemaak dat die gemeente opgebou word. – Ef. 4:8, 11, 12.
KWALIFIKASIES VIR OPSIENERS
4 Om seker te maak dat daar behoorlik vir die gemeente gesorg word, moet manne wat as opsieners aangestel word, aan die vereistes in God se Woord voldoen. Slegs dan kan daar gesê word dat hulle deur die heilige gees aangestel is (Hand. 20:28). Ja, die skriftuurlike standaarde vir Christenopsieners is hoog omdat dit ’n ernstige verantwoordelikheid is om ’n opsiener te wees. Maar die standaarde is nie so hoog dat Christenmanne wat Jehovah regtig liefhet en bereid is om deur hom gebruik te word, nie daaraan kan voldoen nie. Dit moet vir almal duidelik wees dat die opsieners persone is wat Bybelraad in hulle daaglikse lewe toepas.
Om seker te maak dat daar behoorlik vir die gemeente gesorg word, moet manne wat as opsieners aangestel word, aan die vereistes in God se Woord voldoen
5 Die apostel Paulus het die basiese skriftuurlike vereistes vir opsieners in sy eerste brief aan Timoteus en in sy brief aan Titus gegee. In 1 Timoteus 3:1-7 lees ons: “As ’n man ’n opsiener wil wees, begeer hy ’n goeie werk. Daarom moet ’n opsiener hom so gedra dat mense geen rede het om hom te kritiseer nie. Hy moet die man van een vrou wees, matig in gewoontes, verstandig, ordelik, gasvry, iemand wat kan onderrig, nie ’n dronkaard nie, nie gewelddadig nie, maar redelik, nie iemand wat daarvan hou om te stry nie, nie iemand wat lief is vir geld nie, ’n man wat goeie leiding aan sy eie huisgesin gee, wie se kinders onderdanig is en hulle goed gedra. (Want as ’n man nie weet hoe om aan sy eie huisgesin leiding te gee nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg?) Hy moenie ’n pasbekeerde wees nie, sodat hy nie dalk opgeblase van trots word en dieselfde oordeel ontvang wat oor die Duiwel uitgespreek is nie. Hy moet ook ’n goeie reputasie hê onder mense buite die gemeente, sodat hy nie in die skande kom en in ’n strik van die Duiwel beland nie.”
6 Paulus het aan Titus geskryf: “Ek het jou in Kreta agtergelaat om sekere dinge reg te stel en om in een stad ná die ander ouermanne aan te stel volgens die instruksies wat ek jou gegee het:’n Ouerman moet vry van beskuldiging wees, die man van een vrou, die pa van gelowige kinders wat nie van wilde of opstandige gedrag aangekla word nie. Want as God se bestuurder moet ’n opsiener vry van beskuldiging wees. Hy moenie hardkoppig wees, gou kwaad word of ’n dronkaard wees nie. Hy moenie gewelddadig wees of gierig op soek wees na oneerlike wins nie. Hy moet eerder gasvry wees, die goeie liefhê, en hy moet verstandig, regverdig en lojaal wees. Hy moet selfbeheersing hê en in sy onderrigting stewig aan die betroubare woord vashou, sodat hy mense deur die gesonde lering kan opbou en dié wat daarteen praat, kan teregwys.” – Tit. 1:5-9.
7 Hoewel die skriftuurlike vereistes vir opsieners aan die begin oorweldigend kan lyk, moet Christenmanne nie huiwer om uit te reik nie. Wanneer hulle die goeie Christelike eienskappe openbaar wat van opsieners vereis word, spoor hulle ander in die gemeente aan om dit ook te doen. Paulus het geskryf dat hierdie “gawes in die vorm van mense” voorsien word “om die heiliges reg te help, om te dien, om die liggaam van die Christus op te bou. Hulle sal dit doen totdat ons almal die eenheid van die geloof bereik en akkurate kennis van die Seun van God verkry, sodat ons soos ’n volgroeide man kan word en die standaard van volwassenheid van die Christus kan bereik”. – Ef. 4:8, 12, 13.
8 Opsieners is nie blote seuns of pasbekeerdes nie. Hulle is eerder persone met ondervinding in die Christelike lewenswyse en het ’n breë kennis en goeie begrip van die Bybel en is waarlik lief vir die gemeente. Hulle het die moed om te praat wanneer hulle van oortredings uitvind en om oortreders reg te help. So beskerm hulle die skape teen enigiemand wat hulle vir selfsugtige redes wil uitbuit (Jes. 32:2). Dit is vir almal in die gemeente duidelik dat die opsieners geestelik volwasse manne is en opreg besorg is oor die kudde van God.
9 Diegene wat kwalifiseer om as opsieners aangestel te word, openbaar praktiese wysheid in hulle lewe. As ’n opsiener getroud is, hou hy by die Christelike standaard vir die huwelik, naamlik om die man van een vrou te wees en om aan sy eie huisgesin goeie leiding te gee. As die opsiener gelowige kinders het wat onderdanig is en hulle goed gedra en nie van wilde of opstandige gedrag aangekla word nie, kan die gemeente met vertroue na hom toe gaan vir raad oor gesinslewe en die Christelike lewenswyse. Die opsiener moet hom so gedra dat mense geen rede het om hom te kritiseer nie. Hy moet vry van beskuldiging wees en ’n goeie reputasie hê selfs onder mense buite die gemeente. Daar moet geen geldige beskuldiging van verkeerde gedrag teen hom wees nie waardeur die reputasie van die gemeente beskadig kan word nie. Hy sou nie kort tevore as gevolg van ’n ernstige oortreding teregwysing ontvang het nie. Ander in die gemeente word beweeg om sy goeie voorbeeld na te volg en huiwer nie om hulle geestelike lewe aan sy sorg toe te vertrou nie. – 1 Kor. 11:1; 16:15, 16.
10 Sulke bekwame manne kan die Christengemeente dien op ’n soortgelyke manier as die ouermanne van Israel wat as “wyse, verstandige en ervare manne” beskryf is (Deut. 1:13). Christenouermanne is nie volmaak nie, maar die gemeente en die gemeenskap ken hulle as regverdige en godvresende manne wat oor ’n tydperk gewys het dat hulle volgens goddelike beginsels lewe. Omdat hulle ’n rein lewe lei, gee dit hulle vrymoedigheid van spraak voor die gemeente. – Rom. 3:23.
11 Manne wat kwalifiseer om as opsieners aangestel te word, is matig in persoonlike gewoontes sowel as in hoe hulle ander behandel. Hulle is nie fanaties nie. Hulle lewenswyse word eerder gekenmerk deur balans en selfbeheersing. Hulle beoefen matigheid in dinge soos hulle eet- en drinkgewoontes, ontspanning, stokperdjies en vermaak. Hulle gebruik alkoholiese drank met matigheid sodat hulle nie beskuldig kan word van dronkenskap of dat hulle ’n dronkaard is nie. Iemand wat onder die invloed van sterk drank is, verloor maklik sy selfbeheersing en is nie in ’n posisie om oor die geestelike belange van die gemeente te waak nie.
12 Om toesig oor die gemeente te hou, vereis dat ’n man ’n mate van ordelikheid openbaar. Sy goeie gewoontes kan duidelik gesien word in sy voorkoms, sy huis en sy daaglikse bedrywighede. So ’n man vermy uitstellery; hy sien wat nodig is en doen die nodige beplanning. Hy bly getrou by goddelike beginsels.
13 ’n Opsiener moet redelik wees. Hy moet met ander in die liggaam van ouermanne in eenheid kan saamwerk. Hy moet die regte beskouing van homself hê en nie te veel van ander verwag nie. As ’n redelike persoon is die opsiener nie eiewys nie; hy dink nie dat sy beskouings beter as dié van sy mede-ouermanne is nie. Ander blink moontlik uit in eienskappe of vermoëns wat hy nie het nie. ’n Ouerman wys hoe redelik hy is wanneer hy sy gevolgtrekkings heeltemal op die Bybel baseer en hard probeer om die voorbeeld van Jesus Christus na te volg (Fil. 2:2-8). ’n Ouerman is nie iemand wat daarvan hou om te stry of wat gewelddadig is nie, maar hy het gepaste respek vir ander en beskou hulle hoër as homself. Hy is nie hardkoppig nie, en daarom dring hy nie altyd daarop aan dat sy manier om dinge te doen of sy beskouing aanvaar moet word nie. Hy word nie gou kwaad nie, maar hy lewe in vrede met alle mense.
14 Iemand wat kwalifiseer om as ’n opsiener in die gemeente te dien, is ook verstandig. Dit beteken dat hy wys optree en nie oorhaastig oordeel nie. Hy het ’n goeie begrip van Jehovah se beginsels en die toepassing daarvan. Iemand wat gesond van verstand is, is bereid om raad en leiding te aanvaar. Hy is nie skynheilig nie.
15 Paulus het Titus daaraan herinner dat ’n opsiener die goeie liefhet. Hy moet regverdig en lojaal wees. Hierdie eienskappe kan duidelik gesien word in hoe hy ander behandel en in die ferm standpunt wat hy inneem vir wat reg en goed is. Hy is vasbeslote om toegewyd aan Jehovah te bly en hy pas regverdige beginsels konsekwent toe. Hy kan vertroulikheid handhaaf. Hy is ook werklik gasvry, iemand wat vryelik van homself en sy besittings vir ander gee om hulle te help. – Hand. 20:33-35.
16 Om sy toewysing doeltreffend uit te voer, moet ’n opsiener iemand wees wat kan onderrig. Volgens Paulus se woorde aan Titus sal die opsiener “in sy onderrigting stewig aan die betroubare woord vashou, sodat hy mense deur die gesonde lering kan opbou en dié wat daarteen praat, kan teregwys” (Tit. 1:9). Hy het die vermoë om met ander te redeneer, bewyse voor te lê, besware te oorkom en die Skrif op so ’n manier toe te pas dat dit ander oortuig en hulle geloof versterk. Die opsiener gebruik hierdie onderrigvermoë in goeie tye sowel as in moeilike tye (2 Tim. 4:2). Hy het die nodige geduld om iemand wat oortree het, met sagmoedigheid tereg te wys of om iemand wat twyfel, te oortuig en hom te beweeg om goeie werke op grond van geloof te verrig. Die opsiener se vermoë om voor ’n gehoor of privaat te onderrig, wys dat hy aan hierdie belangrike vereiste voldoen.
17 Dit is belangrik dat ouermanne ywerig aan die bediening deelneem. Vir Jesus was die verkondiging van die goeie nuus baie belangrik. Dit moet duidelik wees dat hulle hom ook hierin probeer navolg. Jesus het in sy dissipels belanggestel deur hulle te help om doeltreffende evangeliepredikers te wees (Mark. 1:38; Luk. 8:1). Die ouermanne se vasbeslotenheid om tyd in die bediening deur te bring al is hulle baie besig, spoor die hele gemeente aan om dieselfde ywer te hê. En wanneer die ouermanne saam met lede van hulle gesin sowel as ander in die gemeente velddiens doen, ‘moedig hulle mekaar aan’. – Rom. 1:11, 12.
18 Dit alles lyk miskien na baie om te verwag van iemand wat as ’n opsiener dien. Geen opsiener kan natuurlik volmaak aan die hoë standaard voldoen wat in die Bybel uiteengesit word nie. Maar nie een van die aangestelde ouermanne in die gemeente moet so erg in enige van hierdie eienskappe te kort skiet dat dit as ’n ernstige gebrek beskou kan word nie. Party ouermanne het moontlik sekere uitsonderlike eienskappe, terwyl ander miskien op ander gebiede uitblink. Die gevolg is dat die liggaam van ouermanne as ’n geheel al die goeie eienskappe sal hê wat nodig is om behoorlik toesig te hou oor die gemeente van God.
19 Wanneer die ouermanne as ’n liggaam aanbeveel dat iemand as ’n opsiener aangestel word, moet hulle die apostel Paulus se woorde in gedagte hou: “Ek [sê] vir elkeen van julle om nie meer van homself te dink as wat nodig is nie, maar om op ’n manier te dink wat toon dat hy verstandig is, elkeen volgens die geloof wat God hom gegee het” (Rom. 12:3). Elke ouerman moet homself as ’n mindere beskou. Niemand moet “alte regverdig” wees wanneer daar na die kwalifikasies van iemand anders gekyk word nie (Pred. 7:16). Terwyl die liggaam van ouermanne die skriftuurlike vereistes vir opsieners duidelik in gedagte hou, moet dit hulle begeerte wees om vas te stel of ’n broer wat oorweeg word, in ’n redelike mate aan daardie standaarde voldoen. Wanneer ouermanne aanbevelings maak, moet hulle besef dat almal onvolmaak is. Hulle moet ook nie bevooroordeeld of skynheilig wees nie. So sal hulle wys dat hulle gepaste respek vir Jehovah se regverdige standaarde het en die beste vir die gemeente wil hê. Hulle sal elke aanbeveling biddend oorweeg en die leiding van God se heilige gees volg. Dit is een van die ernstige verantwoordelikhede wat op hulle rus, en hulle moet dit nakom in ooreenstemming met Paulus se woorde: “Moet nooit haastig wees om jou hande op enigiemand te lê nie.” – 1 Tim. 5:21, 22.
DIE VRUG VAN DIE GEES
20 Geestelik bekwame manne wys dat hulle deur die heilige gees gelei word, en hulle openbaar die vrug van die gees in hulle lewe. Paulus noem die nege aspekte van die vrug van die gees, naamlik “liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22, 23). Sulke opsieners maak dat die broers nuwe krag kry en help om die gemeente te verenig terwyl hulle heilige diens verrig. Die manier hoe hulle lewe en die vrugte van hulle arbeid wys dat hulle deur die heilige gees aangestel is. – Hand. 20:28.
MANNE WAT EENHEID BEVORDER
21 Dit is noodsaaklik dat ouermanne saam werk om eenheid in die gemeente te bevorder. Hoewel hulle persoonlikhede dalk baie verskil, bewaar hulle die eenheid in die liggaam deur met respek na mekaar te luister, al stem hulle miskien nie saam oor elke saak wat hulle bespreek nie. Solank geen Bybelbeginsel gebreek word nie, moet elkeen bereid wees om toe te gee en die finale besluit van die liggaam van ouermanne te ondersteun. As jy bereid is om toe te gee, wys dit dat jy gerig word deur “die wysheid van bo”, wat ‘vreedsaam en redelik’ is (Jak. 3:17, 18). Geen ouerman moet dink dat hy belangriker as die ander is nie, en geen ouerman moet die ander probeer oorheers nie. Ouermanne gee in werklikheid hulle samewerking aan Jehovah wanneer hulle as ’n liggaam saamwerk tot voordeel van die gemeente. – 1 Kor., hfst. 12; Kol. 2:19.
REIK UIT
22 Volwasse Christenmanne moet ’n begeerte hê om opsieners te word (1 Tim. 3:1). Maar om as ’n ouerman te dien, behels werk en selfopoffering. Dit beteken dat ’n mens jou beskikbaar stel om in die behoeftes van die broers te voorsien deur na hulle geestelike belange om te sien. As ’n man ’n opsiener wil wees, moet hy hard werk om aan die vereistes te voldoen wat in die Skrif uiteengesit word.
PERSOONLIKE OMSTANDIGHEDE KAN VERANDER
23 ’n Broer wat al lank getrou dien, kan fisies siek word of vir ander redes beperk wees in wat hy kan doen. As gevolg van sy ouderdom kan hy miskien nie meer die verantwoordelikhede van ’n opsiener nakom nie. Maar solank as wat hy aangestel is, moet hy nog steeds gerespekteer en as ’n ouerman beskou word. Hy hoef nie as gevolg van sy beperkings af te staan nie. Hy verdien nog steeds die dubbele eer wat aan alle hardwerkende ouermanne gegee word wat hulle bes doen om as herders oor die kudde toesig te hou.
24 Maar as ’n broer sou voel dat dit vir hom beter is om af te staan omdat sy persoonlike omstandighede verander het wat sy diens beperk, kan hy kies om dit te doen (1 Pet. 5:2). Hy moet nog steeds gerespekteer word. Hy kan heelwat goeie werk in die gemeente doen, al het hy nie meer die toewysings en pligte van ’n ouerman nie.
POSISIES VAN VERANTWOORDELIKHEID IN DIE GEMEENTE
25 Ouermanne sien om na ’n verskeidenheid verantwoordelikhede in die gemeente. Daar is ’n koördineerder van die liggaam van ouermanne, ’n sekretaris, ’n diensopsiener, ’n Wagtoring-studiehouer en ’n opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering. Baie ouermanne dien as groepopsieners. Die ouermanne dien vir ’n onbepaalde tyd in hierdie posisies. As ’n broer trek of as gevolg van gesondheidsredes nie na sy verantwoordelikhede kan omsien nie of nie meer aan die skriftuurlike vereistes voldoen nie, word ’n ander ouerman natuurlik gekies om die toewysing te behartig. In gemeentes met min opsieners is dit dalk nodig dat ’n ouerman meer as een toewysing hanteer totdat ander broers kwalifiseer om as ouermanne aangestel te word.
26 Die koördineerder van die liggaam van ouermanne dien as voorsitter by vergaderinge van die liggaam van ouermanne. Hy werk nederig met die ander ouermanne saam om vir die kudde van God te sorg (Rom. 12:10; 1 Pet. 5:2, 3). Hy moet ’n goeie organiseerder wees en moet ywerig die leiding neem. – Rom. 12:8.
27 Die sekretaris sien om na gemeentelike verslae en hou die ouermanne op hoogte van belangrike korrespondensie. Indien nodig, kan ’n ander ouerman of ’n bekwame bedieningskneg toegewys word om hom te help.
28 Velddiensreëlings en ander sake wat met die veldbediening verband hou, val onder die toesig van die diensopsiener. Hy reël gereelde besoeke by al die velddiensgroepe sodat hy een naweek elke maand ’n ander groep kan besoek. In kleiner gemeentes waar daar net ’n paar velddiensgroepe is, kan hy elke groep twee keer per jaar besoek. Gedurende sy besoek sal hy die velddiensvergaderinge hou, saam met die groep in die bediening werk en verkondigers met hulle herbesoeke en Bybelstudies help.
GROEPOPSIENERS
29 Een van die grootste voorregte in die gemeente is om as ’n groepopsiener te dien. Sy verantwoordelikhede sluit in dat hy (1) opreg belangstel in die geestelikheid van elkeen in die velddiensgroep; (2) elkeen in die groep help om ’n gereelde, betekenisvolle en genotvolle deelname aan die bediening te hê; en (3) bedieningsknegte in die groep help en oplei om uit te reik na en te kwalifiseer vir gemeentelike verantwoordelikhede. Die liggaam van ouermanne bepaal watter broers in die beste posisie is om al hierdie aspekte van die toewysing na te kom.
30 As gevolg van die tipe toewysing moet groepopsieners ouermanne wees, indien moontlik. Of ’n bekwame bedieningskneg kan gebruik word totdat ’n ouerman kan oorneem. ’n Bedieningskneg wat hierdie rol vervul, word ’n groepkneg genoem, aangesien hy nie as ’n opsiener in die gemeente dien nie. Hy werk eerder onder leiding van die ouermanne terwyl hy sy verantwoordelikheid nakom.
31 ’n Belangrike aspek van die groepopsiener se werk is om die leiding in die veldbediening te neem. Sy gereeldheid, ywer en entoesiasme sal diegene in sy groep aanmoedig. Omdat die verkondigers die aanmoediging en hulp waardeer wat hulle ontvang wanneer hulle bymekaarkom, sal dit goed wees om ’n rooster vir groepgetuieniswerk te hê wat die meeste pas (Luk. 10:1-16). Die opsiener moet seker maak dat daar altyd genoeg gebied is. Hy sal gewoonlik die velddiensvergadering hou en die verkondigers vir daardie dag se werk organiseer. Wanneer hy nie daar kan wees nie, moet hy reël dat ’n ander ouerman, ’n bedieningskneg of, as nie een van die twee beskikbaar is nie, ’n bekwame verkondiger na hierdie verantwoordelikhede omsien sodat die verkondigers die leiding kry wat hulle nodig het.
32 Die groepopsiener moet voorberei vir die besoek van die diensopsiener deur sy groep in te lig oor die besoek en afwagting te wek vir die voordele wat dit inhou. As almal in die groep op hoogte gehou word van die reëling, kan hulle dit entoesiasties ondersteun.
33 Elke velddiensgroep word doelbewus klein gehou. Dit maak dit vir die groepopsiener moontlik om almal in die groep goed te leer ken. As ’n liefdevolle herder stel hy opreg in elkeen belang. Hy probeer om persoonlike hulp en aanmoediging te gee vir die veldbediening en vir die ondersteuning van gemeentelike vergaderinge. En hy probeer doen wat ook al nodig is om elkeen te help om geestelik sterk te bly. Dit sal goed wees vir iemand wat siek of depressief is, om persoonlik besoek te word. ’n Aanmoedigende voorstel of ’n woordjie van raad kan party aanspoor om uit te reik na meer voorregte in die gemeente en so kan hulle hulle broers meer help. Die groepopsiener konsentreer natuurlik hoofsaaklik daarop om diegene in sy eie groep te help. Maar as ’n ouerman en herder is hy liefdevol besorg oor almal in die gemeente en is hy bereid om enigiemand te help wat dit nodig het. – Hand. 20:17, 28.
34 ’n Ander verantwoordelikheid van die groepopsiener is om die velddiensrapporte van almal in sy groep bymekaar te maak. Hierdie rapporte word aan die sekretaris gegee. Verkondigers kan die groepopsiener help deur hulle velddiensrapporte op tyd in te gee. Hulle kan dit doen deur hulle rapporte aan die einde van elke maand aan die groepopsiener self te gee of deur dit in die bussie vir velddiensrapporte by die Koninkryksaal te sit.
DIE GEMEENTELIKE DIENSKOMITEE
35 Sekere pligte word uitgevoer deur die Gemeentelike Dienskomitee, wat bestaan uit die koördineerder van die liggaam van ouermanne, die sekretaris en die diensopsiener. Byvoorbeeld, die dienskomitee keur die gebruik van die Koninkryksaal vir troues en begrafnisse goed en deel verkondigers in velddiensgroepe in. Die komitee keur ook aansoeke vir gewone of hulppionierdiens en ander diensvoorregte goed. Die dienskomitee werk onder die leiding van die liggaam van ouermanne.
36 Die spesifieke pligte van hierdie broers – asook van die Wagtoring-studiehouer, die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering en ander wat op die liggaam van ouermanne dien – word deur die takkantoor uiteengesit.
37 Die liggaam van ouermanne in elke gemeente vergader van tyd tot tyd om sake in verband met die geestelike vooruitgang van die gemeente te bespreek. Behalwe vir die ouermanvergadering wat gehou moet word gedurende die kringbesoek, moet nog ’n ouermanvergadering omtrent drie maande ná die kringbesoek gehou word. Die ouermanne kan natuurlik bymekaarkom wanneer dit ook al nodig is.
WEES ONDERDANIG
38 Die opsieners is onvolmaak; nogtans word almal in die gemeente aangespoor om aan hulle onderdanig te wees, aangesien dit Jehovah se reëling is. Hy sal die opsieners aanspreeklik hou vir hulle dade. Hulle verteenwoordig hom en sy teokratiese heerskappy. Hebreërs 13:17 sê: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle en sal daarvoor aanspreeklik gehou word. As julle dit doen, sal hulle hulle werk met vreugde kan doen sonder om te sug, want anders sal dit vir julle skadelik wees.” Net soos Jehovah die heilige gees gebruik om ’n man aan te stel, sal Jehovah dieselfde heilige gees gebruik om ’n opsiener uit sy posisie te verwyder. Dit sal gebeur as ’n opsiener nie die vrug van die gees openbaar nie en as sy lewe nie aan skriftuurlike vereistes voldoen nie.
39 Ons waardeer werklik die harde werk en goeie voorbeeld van die gemeentelike opsieners. In sy brief aan die gemeente in Tessalonika het Paulus vir die broers gesê: “Broers, ons vra julle om respek te hê vir dié wat hard onder julle werk en die leiding onder julle neem in die Here en julle raad gee, en om buitengewone waardering en liefde vir hulle te hê as gevolg van hulle werk” (1 Tess. 5:12, 13). Baie van die harde werk van die gemeentelike opsieners maak ons diens aan God makliker en lekkerder. Paulus verwys ook in sy eerste brief aan Timoteus na die gesindheid wat mense in die gemeente teenoor die opsieners moet ontwikkel. Hy sê: “Die ouermanne wat goeie leiding gee, verdien dubbele eer, veral dié wat hard werk in woord en onderrigting.” – 1 Tim. 5:17.
ANDER POSISIES VAN VERANTWOORDELIKHEID IN DIE ORGANISASIE
40 Soms word sekere ouermanne aangestel om as lede van Pasiëntbesoekgroepe te dien. Ander dien op Hospitaalskakelkomitees en besoek hospitale en dokters. Hulle moedig dokters aan om Jehovah se Getuies sonder bloed te behandel en gee hospitale en dokters inligting oor bloedlose behandeling. Ander opsieners bevorder Koninkryksbelange deur te help met die bou van Koninkryksale en Byeenkomssale of as lede van Streekbyeenkomskomitees te dien. Die harde werk van hierdie broers en hulle bereidwilligheid om op hierdie manier van hulleself te gee, word baie waardeer deur almal in die organisasie. Ons “respekteer en waardeer sulke manne” beslis. – Fil. 2:29.
DIE KRINGOPSIENER
41 Die Bestuursliggaam reël dat bekwame ouermanne aangestel word om as kringopsieners te dien. Die takkantoor besluit watter kringe aan hierdie broers toegewys word, en hulle besoek gewoonlik die gemeentes in hulle kring twee keer per jaar. Van tyd tot tyd besoek hulle ook pioniers wat in afgesonderde gebiede dien. Hulle beplan hulle roete en stel elke gemeente vroeg genoeg in kennis sodat die besoek tot die grootste voordeel sal wees.
42 Die koördineerder van die liggaam van ouermanne neem die leiding daarin om sake so te reël dat die besoek vir almal geestelik aanmoedigend sal wees (Rom. 1:11, 12). Nadat hy in kennis gestel is van die besoek, moet hy uitvind wat die behoeftes van die kringopsiener en sy vrou (as hy getroud is) is. Die koördineerder van die liggaam van ouermanne sal dan deur middel van verskillende broers reëlings vir blyplek en ander noodsaaklike dinge maak. Hy sorg dat almal, insluitende die kringopsiener, weet van hierdie reëlings.
43 Die kringopsiener sal die koördineerder van die liggaam van ouermanne kontak oor die rooster vir vergaderinge, insluitende velddiensvergaderinge. Dit sal gereël word in ooreenstemming met die kringopsiener se voorstelle sowel as leiding van die takkantoor. Almal moet vooraf ingelig word oor waar en wanneer velddiensvergaderinge sowel as vergaderinge met die gemeente, met die pioniers en met die ouermanne en bedieningsknegte gehou sal word.
44 Die kringopsiener sal Dinsdagmiddag die Gemeente se verkondigerverslae, vergaderingbywoningsverslae, gebiedsverslae en die rekeninge nagaan. Dit sal hom help om vas te stel wat die moontlike behoeftes van die gemeente is en hoe hy diegene kan help wat verantwoordelik is vir hierdie verslae. Die koördineerder van die liggaam van ouermanne moet vooraf reël dat die kringopsiener hierdie verslae ontvang.
45 Gedurende sy besoek praat die kringopsiener met die broers wanneer hy ook al die kans kry – by vergaderinge, in velddiens, gedurende etes en by ander geleenthede. Hy hou ook ’n vergadering met die ouermanne en bedieningsknegte en gee gepaste skriftuurlike raad, wenke en aanmoediging wat hulle sal help om hulle verantwoordelikhede na te kom om as herders toesig te hou oor die kudde onder hulle sorg (Spr. 27:23; Hand. 20:26-32; 1 Tim. 4:11-16). Hy hou ook ’n vergadering met die pioniers om hulle in hulle werk aan te moedig en om hulle te help met enige probleme wat hulle in die bediening het.
46 As enigiets anders aandag nodig het, sal die kringopsiener sover moontlik gedurende die week hiermee help. As dit nie gedurende hierdie tyd afgehandel kan word nie, kan die kringopsiener die ouermanne of die persone wat daarby betrokke is, help om navorsing te doen oor die skriftuurlike beginsels wat van toepassing is. As die takkantoor die saak moet opvolg, sal hy en die ouermanne ’n breedvoerige verslag oor die saak na die takkantoor stuur.
47 Terwyl die kringopsiener die gemeente besoek, woon hy die gemeentelike vergaderinge by. Hierdie vergaderinge kan van tyd tot tyd aangepas word in ooreenstemming met riglyne van die takkantoor. Hy sal toesprake hou om die gemeente aan te moedig, te motiveer, te onderrig en te versterk. Hy streef daarna om die broers se liefde vir Jehovah, Jesus Christus en die organisasie op te bou.
48 Een van die doelwitte van die kringopsiener se besoek is om almal aan te spoor om ywerig aan die bediening deel te neem en om praktiese voorstelle te gee. Baie in die gemeente kan moontlik hulle rooster aanpas sodat hulle daardie week soveel moontlik in die veldbediening kan doen. Dalk kan hulle reëlings maak om hulppionierdiens gedurende die maand van sy besoek te doen. Enigiemand wat graag saam met hom of sy vrou wil werk, kan ’n afspraak met hulle maak. Dit hou groot voordele in om die kringopsiener of sy vrou saam te neem na Bybelstudies en herbesoeke. Jou ekstra inspanning om hierdie aspek van die week se besoek ten volle te ondersteun, word baie waardeer. – Spr. 27:17.
49 Elke jaar word twee kringbyeenkomste vir elke kring gereël. Die kringopsiener is verantwoordelik vir die byeenkomsorganisasie by hierdie geleenthede. Die kringopsiener stel ’n byeenkomsopsiener en ’n assistent-byeenkomsopsiener aan. Hulle moet saam met hom werk om na die byeenkomsorganisasie om te sien. Dit sal die kringopsiener in staat stel om hoofsaaklik op die byeenkomsprogram te konsentreer. Die kringopsiener wys ook ander bekwame manne aan om na verskillende afdelings om te sien. Hy reël ook dat die kring se rekeninge ná elke byeenkoms geouditeer word. Een kringbyeenkoms per jaar sal deur ’n takverteenwoordiger bedien word, wat ’n besoekende spreker sal wees. Omdat sekere plekke ver van mekaar af is of omdat byeenkomsfasiliteite klein is, word party kringe in groepe verdeel en word ’n kringbyeenkoms vir elke groep gehou.
50 Die kringopsiener stuur aan die einde van elke maand sy velddiensrapport direk na die takkantoor. As hy sekere basiese uitgawes het – soos reis-, voedsel- en verblyfkoste, sowel as ander noodsaaklike uitgawes wat nodig is om sy werk uit te voer – en dit nie gedek word deur die gemeente wat hy dien nie, kan hy dit aan die takkantoor stuur. Reisende verteenwoordigers het die vertroue dat daar, net soos Jesus belowe het, in hulle materiële behoeftes voorsien sal word as hulle die belange van Jehovah se Koninkryk eerste stel (Luk. 12:31). Die gemeentes moet bewus wees van hulle voorreg om gasvryheid te betoon aan hierdie toegewyde ouermanne wat hulle dien. – 3 Joh. 5-8.
DIE TAKKOMITEE
51 In elke takkantoor van Jehovah se Getuies regoor die wêreld dien drie of meer geestelik bekwame, ervare broers as ’n Takkomitee. Hulle hou toesig oor die predikingswerk in die land of lande wat onder hulle val. Een van die komiteelede dien as die koördineerder van die Takkomitee.
52 Diegene wat op die Takkomitee dien, hanteer sake in verband met al die gemeentes in die takkantoor se gebied. Die komitee hou toesig oor die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk in die gebied van die takkantoor. Hulle maak ook seker dat gemeentes en kringe gevorm word om behoorlik in die behoeftes van die veld te voorsien. Die Takkomitee sien ook om na die sendingveld en die werk van spesiale, gewone en hulppioniers. Wanneer daar kring- en streekbyeenkomste is, tref die komitee reëlings en doen hulle toewysings om seker te maak dat “alles reg en ordelik plaasvind”. – 1 Kor. 14:40.
53 ’n Landskomitee word aangestel in party lande wat onder die toesig van ’n Takkomitee in ’n ander land val. Dit maak dit moontlik om beter toesig te hou oor die werk waar die Landskomitee dien. Hulle hanteer sake in verband met die Bethelhuis en -kantoor, korrespondensie, verslae en rapporte en sien om na enige ander sake in verband met die bedrywighede in die veld. Die Landskomitee werk saam met die Takkomitee om Koninkryksbelange te bevorder.
54 Die Bestuursliggaam doen al die aanstellings van diegene wat as lede van Takkomitees en Landskomitees dien.
HOOFKWARTIERVERTEENWOORDIGERS
55 Van tyd tot tyd reël die Bestuursliggaam dat bekwame broers elkeen van die takke regoor die wêreld besoek. ’n Broer wat hierdie soort werk doen, staan bekend as ’n hoofkwartierverteenwoordiger. Sy vernaamste werk is om die Bethelgesin aan te moedig en om die Takkomitee te help met probleme of vrae wat ontstaan in verband met die uitvoering van die predikings- en dissipelmaakwerk. Hierdie broer sal ook met sekere kringopsieners en van tyd tot tyd met veldsendelinge bymekaarkom. Wanneer hy dit doen, praat hy met hulle oor hulle probleme en behoeftes. Hy gee ook vir hulle die nodige aanmoediging sodat hulle kan aanhou met hulle belangrikste werk, die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk.
56 Die hoofkwartierverteenwoordiger stel baie belang in wat in die veld gedoen word wanneer dit kom by die Koninkrykspredikingswerk en ander gemeentelike bedrywighede. As daar genoeg tyd is, sal hy dalk ook vertaalkantore besoek. Wanneer die hoofkwartierverteenwoordiger ’n takkantoor besoek, neem hy ook sover moontlik aan die Koninkrykspredikingswerk deel.
Terwyl ons aanhou om ons te onderwerp aan aangestelde opsieners wat as herders oor die kudde moet wees, geniet ons eenheid met die Hoof van die gemeente, Christus Jesus
LIEFDEVOLLE TOESIG
57 Ons word baie gehelp deur die harde werk en liefdevolle sorg van geestelik volwasse Christenmanne. Terwyl ons aanhou om ons te onderwerp aan aangestelde opsieners wat as herders oor die kudde moet wees, geniet ons eenheid met die Hoof van die gemeente, Christus Jesus (1 Kor. 16:15-18; Ef. 1:22, 23) Daarom vloei God se gees vryelik in al die gemeentes regoor die wêreld en voorsien God se Woord leiding vir die werk oor die hele aarde. – Ps. 119:105.