Vrae van lesers
Waarom word Satan in Hebreërs 2:14 die een genoem “wat die vermoë het om die dood te veroorsaak”?
Kortom, Paulus het bedoel dat Satan, self of deur sy agente, die fisiese dood van mense kan veroorsaak. In ooreenstemming hiermee het Jesus Satan “’n mensemoordenaar toe hy begin het”, genoem.—Johannes 8:44.
Soms word Hebreërs 2:14 verkeerd verstaan weens die manier waarop party vertalings dit weergee, deur te sê dat Satan die “mag oor die dood” het (Die Bybel, 1953). Sulke vertalings kan dit laat voorkom of Satan onbeperkte vermoë het om enigeen wat hy wil, dood te maak. Maar dit is beslis nie die geval nie. As dit so was, sou hy heel waarskynlik Jehovah se aanbidders al lank al van die aarde af verdelg het.—Genesis 3:15.
Die Griekse uitdrukking wat in sommige vertalings as “mag oor die dood” en in die Nuwe Wêreld-vertaling as ‘vermoë om die dood te veroorsaak’ vertaal is, is “kraʹtos tou tha·naʹtou”. Tou tha·naʹtou is ’n vorm van die uitdrukking wat “die dood” beteken. Kraʹtos beteken basies “krag, sterkte, mag”. Volgens die Theological Dictionary of the New Testament dui dit op “die teenwoordigheid en implikasie van krag of sterkte eerder as op die uitoefening daarvan”. In Hebreërs 2:14 impliseer Paulus dus nie dat Satan onbeperkte mag oor die dood het nie. Hy verwys eerder na Satan se vermoë om die dood te veroorsaak.
Hoe gebruik Satan ‘die vermoë om die dood te veroorsaak’? In die boek Job lees ons van een geval wat dalk ietwat buitengewoon is. Die verslag sê dat Satan ’n storm gebruik het om “die dood te veroorsaak” van Job se kinders. Let egter op dat Satan dit net kon doen met God se toestemming, wat aan hom gegee is omdat ’n lewensbelangrike geskil besleg moes word (Job 1:12, 18, 19). Trouens, Satan kon Job self nie doodmaak nie. Daarvoor het hy nie toestemming gehad nie (Job 2:6). Hoewel dit dus vir Satan moontlik was om soms die dood van getroue mense te veroorsaak, is dit duidelik dat ons nie bang hoef te wees dat hy ons lewe na willekeur kan beëindig nie.
Satan het ook al die dood veroorsaak deur mense as agente te gebruik. Gevolglik het baie Christene vir hulle geloof gesterf—sommige is deur oproerige skares vermoor of hulle is onregverdig tereggestel op bevel van regeringsamptenare of korrupte regters.—Openbaring 2:13.
Verder het Satan partykeer die dood veroorsaak deur menslike swakhede uit te buit. In die dae van Israel het die profeet Bileam die Moabiete aangeraai om die Israeliete te verlei “om ontrouheid teenoor Jehovah te pleeg” (Numeri 31:16). Dit het die dood van 23 000 Israeliete tot gevolg gehad (Numeri 25:9; 1 Korintiërs 10:8). Vandag swig party ook voor Satan se “sette” en word hulle verlok tot onsedelikheid of ander goddelose gebruike (Efesiërs 6:11). Hierdie persone verloor gewoonlik nie onmiddellik hulle lewe nie. Maar hulle loop wel gevaar om die ewige lewe te verloor, en op dié manier veroorsaak Satan hulle dood.
Al besef ons dat Satan die vermoë het om mense leed aan te doen, hoef ons hom nie uitermatig te vrees nie. Toe Paulus gesê het dat Satan die vermoë het om die dood te veroorsaak, het hy ook gesê dat Christus gesterf het sodat hy Satan ‘tot niet kan maak en almal kan bevry wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank aan slawerny onderworpe was’ (Hebreërs 2:14, 15). Ja, Jesus het die losprys betaal en sodoende die gelowige mensdom van slawerny aan sonde en die dood bevry.—2 Timoteus 1:10.
Die feit dat Satan die vermoë het om die dood te veroorsaak, is natuurlik nie ’n aangename gedagte nie, maar ons is vol vertroue dat Jehovah enige skade wat Satan en sy agente aanrig, ongedaan kan maak. Jehovah verseker ons dat die verrese Jesus “die werke van die Duiwel [sal] verbreek” (1 Johannes 3:8). Jesus sal deur Jehovah se krag die dooies opwek en sodoende die dood tot niet maak (Johannes 5:28, 29). Uiteindelik sal Jesus op dramatiese wyse toon dat Satan se mag beperk is deur hom in die afgrond te werp. Ten slotte word Satan aan ewige vernietiging oorgelewer.—Openbaring 20:1-10.