Wat is geloof?
HOE sal jy geloof omskryf? Party stel dit gelyk met blinde geloof. Die invloedryke Amerikaanse essayis en joernalis H. L. Mencken het geloof eenkeer beskryf as “’n onlogiese vertroue dat die onwaarskynlike sal gebeur”.
Die Bybel daarenteen beskryf geloof nie as blind of onlogies nie. God se Woord sê: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie.”—Hebreërs 11:1.
Laat ons, met die oog op die verskillende menings oor geloof, na die antwoorde op die volgende vrae kyk:
• Hoe verskil die Bybel se definisie van wat baie mense bedoel wanneer hulle van geloof praat?
• Waarom is dit noodsaaklik dat ons die soort geloof opbou wat in die Bybel beskryf word?
• Hoe kan jy sterk geloof opbou?
’n Eiendomsbewys en gegrond op vaste bewyse
Toe die Bybelboek Hebreërs geskryf is, was die Griekse woord wat met “gewaarborgde verwagting” vertaal word, algemeen in gebruik. Dit het dikwels in sakedokumente voorgekom en die gedagte oorgedra van ’n waarborg van toekomstige besit. Daarom sê een naslaanwerk dat Hebreërs 11:1 soos volg vertaal kan word: “Geloof is die eiendomsbewys van dinge waarop gehoop word.”
As jy al ooit iets by ’n betroubare maatskappy gekoop het en dan gewag het dat dit afgelewer word, het jy hierdie soort geloof beoefen. Die kwitansie in jou hand het jou rede gegee vir geloof in die maatskappy waar jy die artikel gekoop het. In sekere sin was daardie kwitansie jou eiendomsbewys, jou waarborg dat jy sal ontvang wat jy gekoop het. As jy die kwitansie verloor of weggegooi het, sou jy die bewys van jou eienaarsreg verloor het. Diegene wat geloof het dat God sy beloftes sal vervul, het eweneens die waarborg dat hulle sal ontvang waarop hulle hoop. Daarenteen is diegene wat nie geloof het nie, of wat dit verloor, nie daarop geregtig om die dinge te ontvang wat God belowe nie.—Jakobus 1:5-8.
Die tweede uitdrukking in Hebreërs 11:1, wat met “duidelike bewys” vertaal word, dra die gedagte oor van die voorlegging van bewyse wat iets weerspreek wat net feitelik lyk. Byvoorbeeld, dit lyk of die son om die aarde wentel—dit kom in die ooste op, beweeg deur die lugruim en gaan in die weste onder. Maar sterrekundige en wiskundige bewyse toon dat die aarde nie die middelpunt van die sonnestelsel is nie. Wanneer jy hierdie bewyse bestudeer en dit as waar aanneem, het jy geloof dat die aarde om die son wentel—ten spyte van wat jou oë vir jou sê. Jou geloof is nie blind nie. Inteendeel, dit gee jou die vermoë om dinge te sien soos dit werklik is, nie soos dit net lyk nie.
Hoe belangrik is sterk geloof?
Dit is die soort geloof wat die Bybel bevorder—sterk geloof wat op vaste bewyse gegrond is, al vereis dit dat ons ons opvattings verander. Hierdie soort geloof is noodsaaklik. Die apostel Paulus het geskryf: “Sonder geloof kan niemand God behaag nie. Enigiemand wat God nader, moet glo dat hy werklik bestaan en dat hy diegene beloon wat hom werklik wil vind.”—Hebreërs 11:6, New Century Version.
Daar is baie uitdagings daaraan verbonde om sterk geloof op te bou. Maar as jy die vier stappe doen wat op die volgende bladsye bespreek word, kan jy daarin slaag.