VOLG HULLE GELOOF NA | NOAG
Hy is “met sewe ander veilig bewaar”
NOAG en sy gesin het styf teen mekaar gesit terwyl die reën in strome neergestort het. Stel jou net hulle gesigsuitdrukking voor in die dowwe flikkerende lig van ’n olielamp terwyl hulle met groot oë luister hoe die water op die dak neerstort en teen die kante van die ark kletter. Die geraas was sekerlik oorverdowend.
Terwyl Noag gekyk het na die gesigte van sy geliefde gesinslede—sy getroue vrou en sy drie standvastige seuns tesame met hulle vrouens—het sy hart ongetwyfeld oorgeloop van dankbaarheid. In hierdie donker uur het dit hom sekerlik vertroos dat hy die mense vir wie hy die liefste was, by hom gehad het. Hulle was almal veilig en wel. Hy het sekerlik die leiding geneem in ’n dankgebed en hard genoeg gepraat sodat sy gesin hom bo die geraas kon hoor.
Noag was ’n man van groot geloof. Dit was weens Noag se geloof dat sy God, Jehovah, hom en sy gesin beskerm het (Hebreërs 11:7). Maar was geloof nog nodig nadat die reën opgehou het? Beslis. Hulle het hierdie eienskap broodnodig gehad in die moeilike dae wat voorgelê het. Dieselfde kan van ons gesê word in hierdie onstuimige tye. Kom ons kyk dus wat ons uit die geloof van Noag kan leer.
“VEERTIG DAE EN VEERTIG NAGTE”
Buite het die stortreën “veertig dae en veertig nagte” aangehou (Genesis 7:4, 11, 12). Die watervlak het aanhou styg. Noag kon sien dat sy God, Jehovah, regverdigheid beskerm en terselfdertyd goddeloosheid straf.
Die Vloed het ’n opstand stopgesit wat onder die engele uitgebreek het. Baie engele is deur Satan se selfsugtige gesindheid beïnvloed en het hulle “gepaste woonplek” in die hemel verlaat om met vroue saam te lewe en het sodoende ’n basternageslag verwek wat die Nefilim genoem word (Judas 6; Genesis 6:4). Satan was ongetwyfeld in sy skik toe hierdie opstand plaasgevind het, want dit het die mensdom, die kroon van Jehovah se skepping op die aarde, verder verlaag.
Maar toe die vloedwaters hoër gestyg het, moes die opstandige engele hulle vleeslike liggaam aflê en na die geesteryk terugkeer, en hulle kon nooit weer ’n menseliggaam aanneem nie. Hulle het hulle vrouens en hulle nageslag agtergelaat om in die vloedwaters te sterf, tesame met daardie mensegemeenskap.
Vanaf die tyd van Henog, byna sewe eeue vroeër, het Jehovah die mensdom gewaarsku dat Hy die goddeloses sou vernietig (Genesis 5:24; Judas 14, 15). Van toe af het mense net slegter geword; hulle het die aarde verderf en dit met geweld gevul. Nou het vernietiging oor hulle gekom. Was Noag en sy gesin bly oor hierdie voltrekking van oordeel?
Nee! En hulle barmhartige God was ook nie (Esegiël 33:11). Jehovah het alles in sy vermoë gedoen om soveel mense as moontlik te red. Hy het Henog die opdrag gegee om ’n waarskuwingsboodskap te verkondig, en hy het Noag beveel om ’n ark te bou. Noag en sy gesin het dekades lank, voor die oë van al die mense, aan hierdie reuseprojek gewerk. Wat meer is, Jehovah het vir Noag gesê dat hy “’n prediker van regverdigheid” moet wees (2 Petrus 2:5). Soos Henog voor hom, het hy mense gewaarsku oor die oordeel wat oor die wêreld sou kom. En hoe het hulle gereageer? Jesus, wat uit die hemel gesien het wat gebeur, het later omtrent die mense van Noag se dag gesê: “Hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie.”—Matteus 24:39.
Stel jou voor hoe Noag en sy gesin moes gevoel het gedurende die eerste 40 dae nadat Jehovah die deur van die ark toegemaak het. Terwyl die stortreën dag ná dag op die ark neergekletter het, het hulle agt waarskynlik in die een of ander soort roetine gekom—hulle het na mekaar omgesien, vir hulle tuiste gesorg en die diere in hulle lêplekke versorg. Maar skielik het die ontsaglike vaartuig geskud. Die ark het begin beweeg! Die stygende water het die ark al hoe hoër opgelig totdat dit “hoog bo die aarde gedryf” het (Genesis 7:17). Wat ’n verstommende vertoning van die krag van die almagtige God, Jehovah!
Noag was ongetwyfeld dankbaar—nie net omdat hy en sy gesin veilig was nie, maar ook omdat Jehovah barmhartigheid bewys het deur hulle te gebruik om die mense te waarsku wat buite die ark omgekom het. Dit het destyds dalk gelyk asof daardie jare se harde werk nie die moeite werd was nie. Die mense was so onverskillig! Dink net—Noag het waarskynlik voor die Vloed broers, susters, neefs en niggies gehad; tog het niemand behalwe sy naaste familie na hom geluister nie (Genesis 5:30). Nou, terwyl hierdie agt siele veilig in die ark was, het dit hulle sekerlik vertroos om terug te dink aan al die tyd wat hulle daaraan bestee het om mense ’n kans op oorlewing te bied.
Jehovah het sedert Noag se dag nie verander nie (Maleagi 3:6). Jesus Christus het verduidelik dat ons tyd baie soos “die dae van Noag” sou wees (Matteus 24:37). Ons lewe in ’n unieke tyd, ’n baie moeilike tyd wat sal eindig in die vernietiging van ’n verdorwe wêreldstelsel van dinge. Vandag verkondig God se volk ook ’n waarskuwingsboodskap aan almal wat sal luister. Sal jy gunstig op hierdie boodskap reageer? Sal jy, as jy reeds die waarheid van hierdie lewensreddende boodskap aangeneem het, ook met ander daaroor praat? Noag en sy gesin het vir ons almal die voorbeeld gestel.
“VEILIG DEUR DIE WATER HEEN GEVOER”
Terwyl die ark op daardie onstuimige see gedryf het, het die mense in die ark sekerlik die ontsaglike houtbalke se simfonie van kraak- en knarsgeluide gehoor. Was Noag bekommerd oor hoe groot die golwe of hoe sterk die ark is? Nee. Vandag se skeptici sal moontlik hieroor besorg wees, maar Noag was glad nie skepties nie. Die Bybel sê: “Deur geloof het Noag . . . ’n ark gebou” (Hebreërs 11:7). Geloof waarin? Jehovah het ’n verbond gesluit, of ’n amptelike ooreenkoms aangegaan, om Noag en almal saam met hom veilig deur die Vloed heen te bring (Genesis 6:18, 19). Kon die Skepper van die heelal, die aarde en alles wat daarop lewe, nie die ark behoue laat bly nie? Natuurlik kon hy! Noag het tereg vertrou dat Jehovah Sy belofte sal nakom. En hy en sy gesin is toe wel “veilig deur die water heen gevoer”.—1 Petrus 3:20.
Ná 40 dae en 40 nagte het die reën uiteindelik opgehou. Volgens ons kalender was dit êrens in Desember 2370 VHJ. Maar die gesin se avontuur in die ark was nog lank nie verby nie. Daardie ark vol lewende wesens het alleen op ’n wêreldwye see gedryf, ver bo die bergtoppe (Genesis 7:19, 20). Ons kan ons voorstel dat Noag die harde werk verdeel het tussen hom en sy seuns—Sem, Gam en Jafet—sodat hulle al die diere kos kon gee en hulle skoon en gesond kon hou. Die God wat gesorg het dat al daardie wilde diere mak genoeg is om in die ark in te gaan, kon hulle gedurende die hele Vloed in so ’n toestand hou.a
Noag het blykbaar noukeurig verslag gehou van wat gebeur het. Hierdie verslag meld wanneer die reën begin het en opgehou het. Dit openbaar ook dat die waters die aarde 150 dae lank oorweldig het. Uiteindelik het die waters begin sak. Toe het die dag aangebreek dat die ark tot rus gekom het op “die Araratberge”, wat in hedendaagse Turkye is. Dit was in April 2369 VHJ. Drie-en-sewentig dae later, in Junie, het die toppe van die berge sigbaar geword. Drie maande later, in September, het Noag besluit om ’n deel van die ark se bedekking, of dak, te verwyder. Hy is beslis vir hierdie harde werk beloon toe lig en vars lug ingestroom het. Noag het vroeër ook begin toets of die omgewing veilig en bewoonbaar is. Hy het ’n raaf uitgestuur, wat ’n ruk lank heen en weer gevlieg het en dalk tussenin op die ark gaan sit het; toe het Noag ’n duif uitgestuur, wat bly terugkeer het totdat hy uiteindelik ’n plek gevind het om nes te maak.—Genesis 7:24–8:13.
Noag se roetine het ongetwyfeld veral om geestelike sake gedraai. Ons kan ons goed voorstel hoe die gesin gereeld bymekaargekom het om saam te bid en oor hulle beskermende hemelse Vader te praat. Noag het hom altyd tot Jehovah gewend wanneer hy ’n belangrike besluit moes neem. Selfs toe Noag kon sien dat die aarde uiteindelik ‘droog is’—ná meer as ’n jaar in die ark—het hy nie die deur oopgemaak en al die mense en diere uit die ark uitgelei nie (Genesis 8:14). Nee, hy het op Jehovah se opdrag gewag!
Gesinshoofde van vandag kan baie by hierdie getroue man leer. Hy was georganiseerd, hardwerkend, geduldig en beskermend teenoor almal onder sy sorg. Maar nog belangriker, hy het die wil van Jehovah God in alles eerste gestel. As ons Noag se geloof in hierdie opsigte navolg, sal dit seëninge meebring vir almal vir wie ons lief is.
“GAAN UIT DIE ARK UIT”
Uiteindelik het Jehovah die bevel gegee. Hy het vir Noag gesê: “Gaan uit die ark uit, jy en jou vrou en jou seuns en jou seuns se vrouens saam met jou.” Die gesin het gehoorsaam uitgegaan, en al die diere het hulle gevolg. Hoe? In ’n wanordelike stormloop? Beslis nie! Die verslag sê dat hulle “volgens hulle families . . . uit die ark uitgegaan” het (Genesis 8:15-19). Buite die ark het Noag en sy gesin die vars berglug ingeasem terwyl hulle vanaf Ararat oor die landskap uitgekyk en ’n gereinigde aarde voor hulle gesien het. Die Nefilim, die geweld, die opstandige engele en daardie hele goddelose mensegemeenskap was iets van die verlede!b Die mensdom het die geleentheid gehad om ’n nuwe begin te maak.
Noag het geweet wat om te doen. Hy het begin aanbid. Hy het ’n altaar gebou en van die diere wat God as rein beskou het—wat hulle in “groepe van sewe” in die ark ingeneem het—as ’n brandoffer aan Jehovah gebring (Genesis 7:2; 8:20). Het hierdie aanbidding Jehovah behaag?
Die Bybel antwoord met hierdie gerusstellende woorde: “Jehovah het ’n rustige geur begin ruik.” Die hartseer wat God ervaar het toe die mensdom die wêreld met geweld gevul het, is vervang deur ’n rustige, aangename gevoel toe hy ’n gesin van getroue aanbidders op die aarde gesien het wat vasbeslote was om sy wil te doen. Jehovah het nie volmaaktheid van hulle verwag nie. Dieselfde vers sê verder: “Die neiging van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21). Kom ons kyk op watter ander maniere Jehovah sy geduldige medelye met die mensdom getoon het.
God het die vloek wat op die grond gerus het, verwyder. Toe Adam en Eva in opstand gekom het, het God hierdie vloek uitgespreek, wat dit besonder moeilik gemaak het om die grond te bewerk. Noag se vader, Lameg, het sy seun Noag genoem—wat waarskynlik “Rus” of “Vertroosting” beteken—en het voorspel dat die mensdom uiteindelik deur sy seun rus van hierdie vloek sou hê. Noag was sekerlik baie bly toe hy uitvind dat hy nou die vervulling van hierdie profesie sou sien en dat dit makliker sou wees om die aarde te bewerk. Dit is geen wonder dat Noag kort voor lank ’n landbouer geword het nie!—Genesis 3:17, 18; 5:28, 29; 9:20.
Jehovah het terselfdertyd al die nakomelinge van Noag ’n paar duidelike, eenvoudige wette gegee om hulle in hulle lewe te rig—onder andere ’n verbod teen moord en die misbruik van bloed. God het ook ’n verbond met die mensdom gesluit en belowe dat hy nooit weer ’n vloed sal bring om alle lewe op die aarde te vernietig nie. As ’n teken van die betroubaarheid van sy woord het Jehovah die mensdom hulle eerste kykie gegee op ’n pragtige natuurverskynsel—die reënboog. Tot vandag toe is elke reënboog wat ons sien, ’n vertroostende herinnering aan Jehovah se liefdevolle belofte.—Genesis 9:1-17.
As Noag se verhaal blote fiksie was, sou dit heel moontlik met hierdie reënboog geëindig het. Maar Noag het werklik bestaan, en sy lewe was nie so eenvoudig nie. Destyds, toe mense oor die algemeen baie lank gelewe het, moes hierdie getroue man nog 350 jaar lank volhard, en hierdie eeue het baie hartseer vir hom meegebring. Hy het ’n ernstige fout begaan toe hy hom by een geleentheid aan dronkenskap skuldig gemaak het, maar hierdie fout is vererger toe sy kleinseun Kanaän selfs ’n ernstiger sonde gepleeg het—’n sonde wat droewige gevolge vir Kanaän se familie gehad het. Noag het lank genoeg gelewe om te sien hoe sy nakomelinge in die dae van Nimrod in sondes soos afgodediens en geweld verval. Noag het egter ook gesien hoe sy seun Sem ’n goeie voorbeeld van geloof vir sy gesin stel.—Genesis 9:21-28; 10:8-11; 11:1-11.
Soos Noag moet ons in ’n weg van geloof volhard. Wanneer ander om ons geen ag slaan op die ware God nie of selfs ophou om hom te dien, moet ons soos Noag op die regte weg bly. Jehovah stel sulke getroue volharding hoog op prys. Dit is soos Jesus Christus gesê het: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 24:13.
a Party het al aan die hand gedoen dat God die diere dalk in ’n toestand soortgelyk aan winterslaap gehou het en dat hulle gevolglik minder kos nodig sou gehad het. Hetsy hy dit gedoen het of nie, hy het beslis sy belofte nagekom om die veiligheid en oorlewing van al die mense en diere in die ark te verseker.
b Enige spoor van die oorspronklike Tuin van Eden is waarskynlik ook deur die vloedwaters van die aarde af uitgewis. Indien wel, kon die gerubs wat die ingang bewaak het, na die hemel terugkeer, aangesien hulle hulle 1 600 jaar lange toewysing uiteindelik voltooi het.—Genesis 3:22-24.