’n Eerlike gewete
TERWYL Charles, ’n werknemer by ’n universiteit in Kenia, eendag van die werk af op pad huis toe was, het hy sy selfoon verloor. In Kenia is dit nog steeds ’n duur, luukse item.
“Ek het nie gedink dat enigiemand dit sou terugbesorg nie”, het Charles gesê. Maar ’n paar dae later was hy verbaas om ’n telefoonoproep van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Kenia te ontvang. Hy kon skaars sy ore glo toe hy gevra is om sy selfoon te kom afhaal! ’n Voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies het in dieselfde voertuig as Charles gery en die selfoon opgetel. In ’n poging om die eienaar te vind, het die bedienaar die telefoon na die takkantoor geneem, en die vrywillige werkers daar het Charles uiteindelik opgespoor deur middel van die nommer wat op die selfoon vertoon is.
“Ek waardeer werklik dat julle soveel moeite gedoen het om met my in aanraking te kom”, het Charles in sy brief aan die takkantoor gesê. “Ek wil my opregte dank uitspreek teenoor die lede van julle organisasie wat die selfoon opgetel het, uitgevind het dat dit aan my behoort en dit terugbesorg het. Vandag is dit nie maklik om ’n eerlike persoon te vind nie, maar dit is bemoedigend dat daar mense is wat uitstaan as ware Getuies van Jehovah God.”
Jehovah se Getuies is oral bekend vir hulle eerlikheid. Hulle volg die apostel Paulus na, wat gesê het: “Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra” (Hebreërs 13:18; 1 Korintiërs 11:1). Hulle besef dat sulke gedrag Jehovah God verheerlik, soos Jesus gesê het: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:16.