‘Laat julle versoeke by God bekend word’
“Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.”—FILIPPENSE 4:6.
1. Met wie het ons die voorreg om te kommunikeer, en waarom is dit so wonderlik?
WATTER soort reaksie sou jy kry as jy sou vra om die heerser van jou land te spreek? Jy sal dalk ’n beleefde antwoord van sy kantoor ontvang, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat jy toegelaat sal word om persoonlik met die heerser te praat. Maar met die allergrootste Heerser, Jehovah God, die Soewerein van die heelal, is dit anders. Ons het toegang tot hom ongeag waar ons is en ongeag wanneer ons met hom wil praat. Aanneemlike gebede sal hom altyd bereik (Spreuke 15:29). Dit is inderdaad wonderlik! Behoort waardering hiervoor ons nie te beweeg om gereeld te bid tot die Een wat tereg die “Hoorder van die gebed” genoem word nie?—Psalm 65:2.
2. Wat is nodig sodat gebede vir God aanneemlik kan wees?
2 Maar iemand vra dalk: ‘Watter gebede is vir God aanneemlik?’ Die Bybel noem iets wat nodig is sodat gebede aanneemlik kan wees wanneer dit sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Ja, soos in die vorige artikel verduidelik is, is geloof ’n sleutelfaktor om God te nader. God is bereid om die gebede aan te neem van diegene wat hom nader, maar hulle moet dit doen in geloof en met goeie werke tesame met opregtheid en die regte hartstoestand.
3. (a) Wat kan ons in gebede insluit, soos die gebede van getroue knegte van ouds toon? (b) Watter vorme kan ons gebede aanneem?
3 Die apostel Paulus het Christene in sy dag aangespoor: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word” (Filippense 4:6, 7). Die Bybel bevat baie voorbeelde van persone wat tot God gebid het oor hulle sorge. Onder hulle is Hanna, Elia, Hiskia en Daniël (1 Samuel 2:1-10; 1 Konings 18:36, 37; 2 Konings 19:15-19; Daniël 9:3-21). Ons moet hulle voorbeeld volg. Let ook op dat ons gebede, soos Paulus se woorde toon, verskeie vorme kan aanneem. Hy het danksegging genoem, dit wil sê gebed waarin ons waardering uitspreek vir wat God vir ons doen. Dit kan met lof gepaardgaan. Smeking verwys daarna om iets nederig en ernstig te vra. En ons kan versoeke doen, of iets spesifieks vra (Lukas 11:2, 3). Wanneer ons ons hemelse Vader op enigeen van hierdie maniere nader, is dit vir hom aanneemlik.
4. Waarom rig ons nog steeds versoeke tot Jehovah, al weet hy wat ons nodig het?
4 Party vra dalk: ‘Weet Jehovah nie reeds presies wat ons nodig het nie?’ Ja, dit is waar (Matteus 6:8, 32). Waarom wil hy dan nog steeds hê dat ons hom met ons versoeke moet nader? Beskou hierdie voorbeeld: ’n Winkelier bied dalk vir sommige van sy klante ’n geskenk aan. Maar om hierdie geskenk te ontvang, moet die klante na die winkelier gaan en dit opeis. Dié wat nie die moeite wil doen nie, toon dat hulle nie werklik die aanbod waardeer nie. Net so sal dit ’n gebrek aan waardering toon vir wat Jehovah voorsien as ons nie ons versoeke in gebed bekend maak nie. Jesus het gesê: “Vra en julle sal ontvang” (Johannes 16:24). Sodoende toon ons dat ons op God vertrou.
Hoe moet ons God nader?
5. Waarom moet ons in Jesus se naam bid?
5 Jehovah lê nie ’n klomp streng reëls neer oor hoe om te bid nie. Ons moet nietemin leer hoe om God op die regte manier te nader, en dit word in die Bybel uiteengesit. Jesus het sy volgelinge byvoorbeeld geleer: “As julle die Vader enigiets vra, sal hy dit vir julle in my naam gee” (Johannes 16:23). Daar word dus van ons vereis om in Jesus se naam te bid en te erken dat Jesus die enigste kanaal is waardeur God se seëninge oor die hele mensdom uitgestort word.
6. Watter liggaamsposisie moet ons inneem wanneer ons bid?
6 Watter liggaamsposisie moet ons inneem wanneer ons bid? Die Bybel sê nie dat ons ’n sekere posisie moet inneem sodat ons gebede verhoor sal word nie (1 Konings 8:22; Nehemia 8:6; Markus 11:25; Lukas 22:41). Wat belangrik is, is om in opregtheid en met die regte hartstoestand tot God te bid.—Joël 2:12, 13.
7. (a) Wat beteken “amen”? (b) Hoe word dit gepas in gebede gebruik?
7 Wat van die gebruik van die woord “amen”? Die Skrif toon dat dit gewoonlik ’n gepaste manier is om ons gebede af te sluit, veral wanneer ons in die openbaar bid (Psalm 72:19; 89:52). Die Hebreeuse woord ʼa·menʹ beteken basies “beslis”. McClintock en Strong se Cyclopedia verduidelik dat “Amen” aan die einde van gebede gesê word “om die woorde wat dit voorafgaan, te bevestig en die verwesenliking daarvan af te smeek”. Deur met ’n opregte “Amen” af te sluit, toon die een wat bid dus hoe ernstig hy voel oor wat hy so pas gesê het. Wanneer ’n Christen wat die gemeente in gebed verteenwoordig, sy gebed met hierdie woord afsluit, kan dié wat luister, ook in hulle hart of hardop “Amen” sê om te toon dat hulle heelhartig saamstem met wat so pas gesê is.—1 Korintiërs 14:16.
8. Hoe kan sommige van ons gebede met Jakob of Abraham se gebede ooreenkom, en wat sal dit omtrent ons openbaar?
8 Daar is tye wanneer God ons moontlik die geleentheid sal gee om die diepte van ons besorgdheid te toon oor die sake waaroor ons bid. Ons sal dalk soos Jakob van ouds moet word, wat die hele nag met ’n engel geworstel het om ’n seën te verkry (Genesis 32:24-26). Of sommige omstandighede kan vereis dat ons soos Abraham word, wat herhaaldelik ’n beroep op Jehovah gedoen het ten behoewe van Lot en enige ander regverdiges wat dalk in Sodom was (Genesis 18:22-33). Ons kan eweneens smeekbedes tot Jehovah rig oor dinge wat ons na aan die hart lê en ’n beroep op hom doen op grond van sy geregtigheid, liefderyke goedhartigheid en barmhartigheid.
Waarvoor kan ons vra?
9. Wat moet vir ons van die allergrootste belang wees wanneer ons bid?
9 Onthou dat Paulus gesê het: “Laat julle versoeke in alles . . . by God bekend word” (Filippense 4:6). Persoonlike gebede kan dus feitlik elke aspek van die lewe insluit. Maar ons moet Jehovah se belange eerste stel in ons gebede. Daniël het ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Toe Israel weens hulle sondes gestraf is, het Daniël Jehovah gesmeek om barmhartigheid te bewys en gesê: “Moenie talm nie, ter wille van uself, o my God, want u naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep” (Daniël 9:15-19). Toon ons gebede ook dat die heiliging van Jehovah se naam en die verwesenliking van sy wil vir ons van die allergrootste belang is?
10. Hoe weet ons dat dit gepas is om oor persoonlike sake te bid?
10 Maar dit is ook gepas om oor persoonlike sake te bid. Soos die psalmis, kan ons byvoorbeeld vir dieper geestelike insig bid. Hy het gebid: “Laat my verstaan, sodat ek u wet kan bewaar en sodat ek dit met my hele hart kan onderhou” (Psalm 119:33, 34; Kolossense 1:9, 10). Jesus het “smekinge en ook bedes . . . aan die Een opgedra wat hom uit die dood kon red” (Hebreërs 5:7). Hy het sodoende getoon dat dit gepas is om krag te vra wanneer ’n mens voor gevare of beproewinge te staan kom. Toe Jesus die modelgebed aan sy dissipels gegee het, het hy persoonlike sake ingesluit, soos die vergifnis van sondes en die verkryging van daaglikse voedsel.
11. Hoe kan gebed ons help om nie voor versoekings te swig nie?
11 In daardie modelgebed het Jesus die volgende versoek ingesluit: “Bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose” (Matteus 6:9-13). Hy het later gemaan: “Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Matteus 26:41). Gebed is noodsaaklik wanneer ons voor versoekings te staan kom. Ons kom dalk by die werk of skool in die versoeking om Bybelbeginsels te ignoreer. Mense wat nie Getuies is nie, nooi ons dalk om saam met hulle aan twyfelagtige bedrywighede deel te neem. Ons word miskien gevra om iets te doen wat in stryd is met regverdige beginsels. Dit sal goed wees as ons op sulke tye Jesus se raad volg om te bid—voor die tyd asook wanneer ons voor ’n versoeking te staan kom—en God vra om ons te help om nie te swig nie.
12. Watter oorsake van kommer beweeg ons dalk om te bid, en wat kan ons van Jehovah verwag?
12 Vandag het God se knegte te kampe met verskeie vorme van druk en baie sorge in die lewe. Siekte en emosionele spanning is vir baie ’n bron van groot kommer. Gewelddadige toestande om ons maak die lewe stresvol. Ekonomiese ontberinge maak dit moeilik om ’n bestaan te maak. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah na sy knegte luister wat oor hierdie sake tot hom bid! Psalm 102:17 sê van Jehovah: “Hy sal hom beslis wend tot die gebed van dié wat alles ontneem is en hulle gebed nie verag nie.”
13. (a) Watter persoonlike sake is gepaste onderwerpe vir gebed? (b) Noem ’n voorbeeld van so ’n gebed.
13 Trouens, enigiets wat ons diens aan Jehovah of ons verhouding met hom raak, kan ’n gepaste onderwerp vir gebed wees (1 Johannes 5:14). As jy besluite moet neem oor die huwelik of sekulêre werk, of as jy jou bediening wil uitbrei, kan jy gerus met God daaroor praat en sy leiding vra. ’n Jong vrou in die Filippyne wou byvoorbeeld aan die voltydse bediening deelneem. Maar sy het nie ’n werk gehad om haar te onderhou nie. Sy sê: “Ek het een Saterdag spesifiek oor die pionierdiens tot Jehovah gebid. Later daardie selfde dag, terwyl ek aan die predikingswerk deelgeneem het, het ek vir ’n tiener ’n boek aangebied. Die meisie het toe uit die bloute gesê: ‘Jy moet vroeg Maandagoggend na ons skool toe kom.’ Ek het gevra: ‘Waarom?’ Sy het verduidelik dat daar ’n pos is wat so gou as moontlik gevul moes word. Ek het gegaan en is onmiddellik in diens geneem. Dit het alles so vinnig gebeur.” Talle Getuies regoor die wêreld het al soortgelyke ondervindinge gehad. Moet dus nie huiwer om oor jou hartgrondige versoeke in gebed met God te praat nie!
Sê nou ons het gesondig?
14, 15. (a) Waarom moet ’n persoon nie huiwer om te bid nie, al het hy gesondig? (b) Wat benewens persoonlike gebede sal iemand help om van sonde te herstel?
14 Hoe kan gebed help as iemand gesondig het? Party wat gesondig het, huiwer om te bid omdat hulle skaam voel. Dit is egter nie ’n wyse weg om te volg nie. Ter toeligting: As vlieëniers verdwaal, weet hulle dat hulle met lugverkeerbeheerders kan kommunikeer om hulp te kry. Maar sê nou ’n verdwaalde vlieënier huiwer om met die lugverkeerbeheerders in verbinding te tree omdat hy verleë voel oor die feit dat hy verdwaal het? Dit kan rampspoedige gevolge hê! Net so kan iemand wat gesondig het en verleë voel om tot God te bid, verder benadeel word. Skaamte oor sonde moet ’n mens nie daarvan weerhou om met Jehovah te praat nie. Trouens, God nooi diegene wat ernstige foute begaan het, om tot hom te bid. Die profeet Jesaja het sondaars in sy dag aangespoor om Jehovah aan te roep, “want hy sal ryklik vergewe” (Jesaja 55:6, 7). Natuurlik sal ’n mens dalk ‘die aangesig van Jehovah moet versag’ deur eers jou eie hart te versag, jou van die sondige weg af te keer en opreg berou te toon.—Psalm 119:58; Daniël 9:13.
15 Waar sonde betrokke is, word gebed om nog ’n rede belangrik. Die dissipel Jakobus sê van iemand wat geestelike hulp nodig het: “Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid . . . , en Jehovah sal hom oprig” (Jakobus 5:14, 15). Ja, ’n persoon moet self sy sonde in gebed aan Jehovah bely, maar hy kan ook die ouer manne vra om ten behoewe van hom te bid. Dit sal hom help om geestelik te herstel.
Antwoorde op gebede
16, 17. (a) Hoe verhoor Jehovah gebede? (b) Watter ondervindinge toon dat daar ’n noue verband tussen gebed en die predikingswerk is?
16 Hoe word gebede verhoor? Party word dalk gou verhoor en op ’n manier wat maklik is om raak te sien (2 Konings 20:1-6). Ander neem dalk tyd, en dit is dalk moeiliker om te sien hoe dit verhoor is. Soos gesien kan word in Jesus se illustrasie van die weduwee wat aanhoudend na die regter teruggegaan het, is dit dalk nodig om herhaaldelik tot God te bid (Lukas 18:1-8). Maar wanneer ons in ooreenstemming met God se wil bid, kan ons seker wees dat Jehovah nooit vir ons sal sê: “Hou op om my lastig te val” nie.—Lukas 11:5-9.
17 Jehovah se knegte het al baie keer gesien hoe gebede verhoor word. Dit was al dikwels in ons openbare bediening die geval. Twee Christensusters in die Filippyne het byvoorbeeld Bybellektuur in ’n afgeleë deel van die land versprei. Toe hulle vir een vrou ’n traktaat gee, het haar oë vol trane geword. Sy het gesê: “Ek het gisteraand tot God gebid dat hy iemand moet stuur om my die Bybel te leer, en ek dink dat dit die antwoord op my gebed is.” Die vrou het kort daarna vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. In ’n ander deel van Suidoos-Asië het ’n Christenbroer senuweeagtig gevoel om in ’n hoësekuriteitskompleks te getuig. Maar hy het tot Jehovah gebid, moed geskep en in die gebou ingegaan. Hy het aan die deur van ’n woonstel geklop, en ’n jong vrou het oopgemaak. Toe die broer die rede vir sy besoek verduidelik, het sy begin huil. Sy het gesê dat sy na Jehovah se Getuies gesoek het en gebid het vir hulp om hulle te vind. Die broer was bly om haar te help om met die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies in verbinding te tree.
18. (a) Wat moet ons doen wanneer ons gebede verhoor word? (b) Waarvan kan ons seker wees as ons by elke geleentheid bid?
18 Gebed is werklik ’n wonderlike voorsiening. Jehovah is gewillig om na ons gebede te luister en daarop te reageer (Jesaja 30:18, 19). Ons moet egter let op hoe Jehovah ons gebede verhoor. Dit is dalk nie altyd op die manier wat ons verwag nie. Maar wanneer ons sy leiding onderskei, moet ons nooit vergeet om hom te dank en te loof nie (1 Tessalonisense 5:18). Onthou ook altyd die apostel Paulus se vermaning: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.” Ja, maak gebruik van elke geleentheid om met God te praat. Sodoende sal jy aanhou om te ondervind hoe waar Paulus se woorde is aangaande diegene wie se gebede verhoor word: “Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.”—Filippense 4:6, 7.
Kan jy antwoord?
• Watter vorme kan ons gebede aanneem?
• Hoe moet ons bid?
• Watter onderwerpe kan ons in ons gebede insluit?
• Watter rol speel gebed wanneer ’n mens gesondig het?
[Prente op bladsy 29]
Hartgrondige gebed help ons om nie voor versoekings te swig nie
[Prente op bladsy 31]
In gebed spreek ons ons dankbaarheid teenoor God uit en bring ons ons bekommernisse en versoeke voor hom