Moenie vergeetagtige hoorders word nie
“Word . . . daders van die woord en nie net hoorders wat julleself met valse redenering bedrieg nie.”—JAKOBUS 1:22.
1. Die eertydse Israeliete het die voorreg gehad om watter wonderwerke te sien?
“ONVERGEETLIK” sal ’n goeie woord wees om die wonderwerke te beskryf wat Jehovah in eertydse Egipte verrig het. Elk van die Tien Plae was ongetwyfeld ontsagwekkend. Daardie plae is gevolg deur die verstommende bevryding van die volk Israel deur die Rooi See waarvan die waters geskei is (Deuteronomium 34:10-12). As jy ’n ooggetuie van daardie gebeure was, sou jy hopelik nooit die Een vergeet het wat dit teweeggebring het nie. En tog het die psalmis gesing: “Hulle [die Israeliete] het God, hulle Redder, vergeet, wat groot dinge in Egipte gedoen het, wonderlike werke in die land van Gam, vreesinboesemende dinge by die Rooi See.”—Psalm 106:21, 22, NW.
2. Wat toon dat Israel se waardering vir God se magtige dade van korte duur was?
2 Nadat die Israeliete deur die Rooi See getrek het, het hulle “begin om Jehovah te vrees en om geloof in Jehovah . . . te stel” (Exodus 14:31, NW). Die manne van Israel het saam met Moses ’n oorwinningslied tot Jehovah gesing, en Mirjam en ander vroue het by hulle aangesluit met tamboeryne en danse (Exodus 15:1, 20). Ja, God se volk was beïndruk met Jehovah se magtige dade. Maar hulle waardering vir die Een wat daardie dade verrig het, was van korte duur. Kort daarna het baie van hulle opgetree asof hulle aan ernstige geheueverlies gely het. Hulle het teen Jehovah begin murmureer en kla. Party het hulle aan afgodediens en geslagsonsedelikheid skuldig gemaak.—Numeri 14:27; 25:1-9.
Wat kan ons laat vergeet?
3. Wat kan ons weens ons onvolmaaktheid vergeet?
3 Israel se gebrek aan waardering is inderdaad moeilik om te begryp. Dieselfde kan egter met ons gebeur. Ons het weliswaar nie sulke wonderwerke van God aanskou nie. Maar in ons verhouding met God was daar beslis al onvergeetlike gebeurtenisse. Party van ons onthou dalk die tyd toe ons Bybelwaarheid aangeneem het. Ander vreugdevolle tye kan ons toewydingsgebed tot Jehovah en ons waterdoop as ware Christene insluit. Baie van ons het Jehovah se helpende hand op ander tye in ons lewe ervaar (Psalm 118:15). Bowenal het ons deur die offerdood van God se eie Seun, Jesus Christus, die hoop op redding verkry (Johannes 3:16). Maar weens ons onvolmaaktheid kan ons ook maklik die goeie dinge vergeet wat Jehovah vir ons doen wanneer ons met verkeerde begeertes en die sorge van die lewe te kampe kry.
4, 5. (a) Hoe waarsku Jakobus teen die gevaar om vergeetagtige hoorders te wees? (b) Hoe kan ons Jakobus se illustrasie van die man en die spieël toepas?
4 Jesus se halfbroer Jakobus het in sy brief aan mede-Christene gewaarsku teen die gevaar om vergeetagtige hoorders te wees. Hy het geskryf: “Word . . . daders van die woord en nie net hoorders wat julleself met valse redenering bedrieg nie. Want as iemand ’n hoorder van die woord is, en nie ’n dader nie, is hy soos ’n mens wat na sy natuurlike gesig in ’n spieël kyk. Want hy kyk na homself en gaan dan weg en vergeet onmiddellik watter soort mens hy is” (Jakobus 1:22-24). Wat het Jakobus met hierdie woorde bedoel?
5 Wanneer ons soggens opstaan, kyk ons gewoonlik in die spieël om te sien wat ons omtrent ons voorkoms moet verander. Namate ons aan verskillende bedrywighede deelneem en ons aandag op ander dinge vestig, dink ons nie meer aan wat ons in die spieël gesien het nie. Dit kan ook in geestelike sin gebeur. Wanneer ons in die Woord van God inkyk, kan ons onsself vergelyk met wat Jehovah van ons verwag. Gevolglik sien ons ons swakhede baie duidelik. Hierdie kennis moet ons beweeg om veranderinge in ons persoonlikheid aan te bring. Maar terwyl ons met ons daaglikse bedrywighede besig is en met ons probleme worstel, kan ons maklik ophou om aan geestelike sake te dink (Matteus 5:3; Lukas 21:34). Dit is asof ons God se liefdevolle dade ten behoewe van ons vergeet. As dit sou gebeur, kan ons makliker aan sondige neigings toegee.
6. Watter skriftuurlike bespreking kan ons help om nie Jehovah se woord te vergeet nie?
6 In die apostel Paulus se eerste geïnspireerde brief aan die Korintiërs verwys hy na die vergeetagtige Israeliete in die wildernis. Net soos eerste-eeuse Christene by Paulus se woorde baat gevind het, kan ’n hersiening van wat hy geskryf het, ons help om nie Jehovah se woord te vergeet nie. Kom ons kyk dus na 1 Korintiërs 10:1-12.
Verwerp wêreldse begeertes
7. Watter onmiskenbare bewyse van Jehovah se liefde het die Israeliete ontvang?
7 Wat Paulus oor die Israeliete sê, dien as ’n waarskuwing vir Christene. Paulus skryf: “Ek wil dan nou nie hê dat julle onkundig daaromtrent moet wees nie, broers, dat ons voorvaders almal onder die wolk was en almal deur die see gegaan het en almal deur middel van die wolk en van die see in Moses in gedoop is” (1 Korintiërs 10:1-4). Die Israeliete van Moses se dag het indrukwekkende openbarings van God se krag gesien, insluitende die wolkkolom wat God wonderdadig voorsien het om hulle bedags te lei en te sorg dat hulle veilig deur die Rooi See kon trek (Exodus 13:21; 14:21, 22). Ja, daardie Israeliete het onmiskenbare bewyse van Jehovah se liefde vir hulle ontvang.
8. Wat was die gevolge van Israel se geestelike vergeetagtigheid?
8 “Nietemin”, sê Paulus verder, “het God teenoor die meeste van hulle nie sy goedkeuring geopenbaar nie, want hulle is in die wildernis neergevel” (1 Korintiërs 10:5). Hoe jammer tog! Die meeste Israeliete wat Egipte verlaat het, het hulleself ongeskik gemaak om die Beloofde Land binne te gaan. Hulle is weens hulle ongeloof deur God afgekeur en het in die wildernis gesterf (Hebreërs 3:16-19). Wat kan ons hieruit leer? Paulus sê: “Hierdie dinge het voorbeelde vir ons geword, dat ons nie mense moet wees wat skadelike dinge begeer, net soos hulle dit begeer het nie.”—1 Korintiërs 10:6.
9. Hoe het Jehovah vir sy volk voorsien, en hoe het Israel daarop gereageer?
9 Die Israeliete het oorgenoeg gehad om hulle aandag op geestelike sake gerig te hou terwyl hulle in die wildernis was. Hulle het ’n verbond met Jehovah gesluit en ’n nasie geword wat aan hom toegewy was. Daarbenewens is hulle van ’n priesterdom voorsien, asook van ’n tabernakel as ’n sentrum van aanbidding en ’n reëling om offerandes aan Jehovah te bring. Maar in plaas van verheug te wees oor hierdie geestelike gawes, het hulle toegelaat dat hulle ontevrede raak oor God se materiële voorsienings.—Numeri 11:4-6.
10. Waarom moet ons voortdurend aan God dink?
10 Anders as die Israeliete in die wildernis geniet Jehovah se volk vandag God se goedkeuring. Maar as individue is dit noodsaaklik dat ons voortdurend aan God dink. As ons dit doen, sal dit ons help om selfsugtige begeertes te verwerp wat ons geestelike sig kan belemmer. Ons moet vasbeslote wees “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe” (Titus 2:12). Dié van ons wat al van kleins af deel van die Christengemeente is, moet nooit dink dat ons iets goeds ontsê word nie. As sulke gedagtes ooit by ons sou opkom, sou dit vir ons raadsaam wees om aan Jehovah en aan die wonderlike seëninge wat hy vir ons in gedagte het, te dink.—Hebreërs 12:2, 3.
Volkome gehoorsaamheid aan Jehovah
11, 12. Hoe kan iemand hom aan afgodediens skuldig maak sonder om beelde te aanbid?
11 Paulus gee ons nog ’n waarskuwing wanneer hy skryf: “Moet ook nie, soos party van hulle, afgodedienaars word nie; net soos daar geskrywe staan: ‘Die volk het gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om ’n vrolike tyd te hê’” (1 Korintiërs 10:7). Paulus verwys na die keer toe die Israeliete Aäron oorreed het om ’n goue kalf te maak (Exodus 32:1-4). Hoewel dit onwaarskynlik is dat ons openlik afgode sal begin aanbid, kan ons afgodedienaars word deur toe te laat dat ons eie selfsugtige begeertes ons verhinder om Jehovah heelhartig te aanbid.—Kolossense 3:5.
12 By ’n ander geleentheid het Paulus geskryf oor sommige wat meer besorg was oor materiële dinge as oor geestelike sake. Hy het aangaande diegene “wat as die vyande van die folterpaal van die Christus wandel”, geskryf: “Hulle einde is vernietiging, en hulle god is hulle buik” (Filippense 3:18, 19). Hulle afgod was nie ’n gesnede beeld nie. Dit was hulle begeerte na fisiese dinge. Nie alle begeertes is natuurlik verkeerd nie. Jehovah het ons geskep met menslike behoeftes en die vermoë om verskillende dinge te geniet. Maar diegene wat die najaging van genot bo hulle verhouding met God stel, word inderdaad afgodedienaars.—2 Timoteus 3:1-5.
13. Wat kan ons uit die verslag oor die goue kalf leer?
13 Nadat die Israeliete Egipte verlaat het, het hulle ’n goue kalf gemaak om te aanbid. Benewens die waarskuwing teen afgodediens is daar nog ’n belangrike les in hierdie verslag. Die Israeliete was ongehoorsaam aan Jehovah se uitdruklike bevel (Exodus 20:4-6). En tog was hulle nie van plan om Jehovah as hulle God te verwerp nie. Hulle het offerandes aan die gegote kalf gebring en die geleentheid “’n fees vir Jehovah” genoem. Hulle het hulleself op die een of ander manier wysgemaak dat God hulle ongehoorsaamheid sou oorsien. Dit was ’n belediging vir Jehovah en het sy toorn laat ontvlam.—Exodus 32:5, 7-10, NW; Psalm 106:19, 20, NW.
14, 15. (a) Waarom het die Israeliete geen verskoning gehad vir die feit dat hulle vergeetagtige hoorders geword het nie? (b) Wat sal ons met Jehovah se gebooie doen as ons vasbeslote is om nie vergeetagtige hoorders te word nie?
14 Dit sou uiters ongewoon wees vir een van Jehovah se Getuies om by ’n valse godsdiens aan te sluit. Maar party kan Jehovah se bevele op ander maniere verwerp terwyl hulle nog in die gemeente bly. Die volk Israel het geen verskoning gehad vir die feit dat hulle vergeetagtige hoorders geword het nie. Hulle het die Tien Gebooie gehoor en was daar toe Moses hulle God se gebod gegee het: “Julle mag naas My geen silwergode maak en geen goue gode vir julle maak nie” (Exodus 20:18, 19, 22, 23). En tog het die Israeliete die goue kalf aanbid.
15 Ons sou ook geen geldige verskoning hê as ons vergeetagtige hoorders word nie. In die Skrif het ons God se riglyne aangaande baie gebiede van die lewe. Jehovah se Woord veroordeel byvoorbeeld uitdruklik die gebruik om te leen en nie terug te betaal nie (Psalm 37:21). Kinders word beveel om gehoorsaam aan hulle ouers te wees, en van vaders word verwag om hulle kinders in die “verstandsregulering van Jehovah” op te voed (Efesiërs 6:1-4). Ongetroude Christene word beveel om “net in die Here” te trou, en daar word vir getroude knegte van God gesê: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (1 Korintiërs 7:39; Hebreërs 13:4). As ons vasbeslote is om nie vergeetagtige hoorders te word nie, sal ons hierdie en ander voorskrifte van God baie ernstig opneem en dit nakom.
16. Wat was die gevolge van die aanbidding van die goue kalf?
16 Jehovah het nie die Israeliete se poging aanvaar om hom op hulle eie manier te aanbid nie. Die gevolg was eerder dat 3 000 vernietig is, waarskynlik weens hulle vername rol in die opstandige daad om die goue kalf te aanbid. Jehovah het ander oortreders met ’n plaag getref (Exodus 32:28, 35, NW). Wat ’n les is dit tog vir enigeen wat God se Woord lees, maar self besluit wat hy wil gehoorsaam!
“Vlug vir die hoerery”
17. Na watter voorval het 1 Korintiërs 10:8 verwys?
17 Paulus noem een gebied waarop vleeslike begeertes geestelike vergeetagtigheid tot gevolg kan hê deur te sê: “Laat ons ook nie hoerery beoefen, soos party van hulle hoerery gepleeg het nie, sodat hulle geval het, drie-en-twintigduisend van hulle op een dag” (1 Korintiërs 10:8). Hier verwys Paulus na ’n voorval op die Vlaktes van Moab aan die einde van Israel se 40 jaar lange trek deur die wildernis. Die Israeliete is kort tevore deur Jehovah gehelp om lande oos van die Jordaan in te neem, maar baie het vergeetagtig geword en geen waardering geopenbaar nie. Op die grens van die Beloofde Land het hulle voor geslagsonsedelikheid en die onrein aanbidding van Baäl-Peor geswig. Ongeveer 24 000 is vernietig, waarvan 1 000 die aanstigters was.—Numeri 25:9.
18. Watter soort gedrag kan tot geslagsonsedelikheid lei?
18 Jehovah se volk is vandag welbekend vir hulle hoë sedelike standaarde. Maar party Christene wat in versoeking gekom het om hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak, het ophou dink aan God en sy beginsels. Hulle het vergeetagtige hoorders geword. Aanvanklik behels die versoeking dalk nie hoerery nie. Dit kan ’n neiging wees om in pornografie te delf, om toe te gee aan ongepaste skertsery of flankeerdery of om intieme assosiasie te hê met mense wat sedelik swak is. Dit alles het Christene al in sondige gedrag laat verval.—1 Korintiërs 15:33; Jakobus 4:4.
19. Watter skriftuurlike raad help ons om te “vlug vir die hoerery”?
19 As ons in die versoeking kom om ons aan onsedelike gedrag skuldig te maak, moet ons nie ophou dink aan Jehovah nie. Ons moet eerder ag gee op die herinneringe in sy Woord (Psalm 119:1, 2, NW). As Christene doen die meeste van ons ons bes om sedelik rein te bly, maar dit verg voortdurend inspanning om te doen wat reg is in God se oë (1 Korintiërs 9:27). Paulus het aan Christene in Rome geskryf: “Julle gehoorsaamheid het aan almal bekend geword. Daarom verheug ek my oor julle. Maar ek wil hê dat julle wys moet wees ten opsigte van wat goed is, maar onskuldig ten opsigte van wat boos is” (Romeine 16:19). Net soos die 24 000 Israeliete met die dood gestraf is vir hulle sondes, sal hoereerders en ander oortreders binnekort Jehovah se ongunstige oordeel ontvang (Efesiërs 5:3-6). Laat ons dan aanhou om te “vlug vir die hoerery” en nie vergeetagtige hoorders word nie.—1 Korintiërs 6:18.
Waardeer altyd Jehovah se voorsienings
20. Hoe het die Israeliete Jehovah op die proef gestel, en wat was die gevolg?
20 Die meeste Christene swig nooit voor geslagsonsedelikheid nie. Ons moet nietemin versigtig wees dat ons nie ’n weg begin inslaan wat tot ’n patroon van murmurering lei en ons sodoende God se misnoeë op die hals haal nie. Paulus vermaan ons: “Laat ons Jehovah ook nie op die proef stel, soos party van [die Israeliete] hom op die proef gestel het nie, sodat hulle deur die slange omgekom het. Moet ook nie murmureerders wees, net soos party van hulle gemurmureer het nie, sodat hulle deur die vernietiger omgekom het” (1 Korintiërs 10:9, 10). Die Israeliete het teen Moses en Aäron gemurmureer—ja, selfs teen God—en gekla oor die manna wat wonderdadig voorsien is (Numeri 16:41; 21:5). Het hulle murmurering Jehovah minder gegrief as hulle hoerery? Die Bybelverslag toon dat baie murmureerders deur slange doodgemaak is (Numeri 21:6). By ’n vroeër geleentheid is meer as 14 700 opstandige murmureerders vernietig (Numeri 16:49). Laat ons dus nie Jehovah se geduld op die proef stel deur sy voorsienings te minag nie.
21. (a) Watter vermaning is Paulus geïnspireer om op te teken? (b) Hoe kan ons, volgens Jakobus 1:25, waarlik gelukkig wees?
21 In Paulus se brief aan sy mede-Christene sluit hy die lys waarskuwings af met hierdie vermaning: “En hierdie dinge het hulle as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het. Gevolglik moet hy wat dink dat hy staan, oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:11, 12). Soos die Israeliete het ons baie seëninge van Jehovah ontvang. Maar laat ons anders as hulle optree deur nooit die goeie dinge wat God vir ons doen, te vergeet en op te hou waardeer nie. Wanneer die sorge van die lewe ons oorweldig, laat ons nadink oor die wonderlike beloftes wat in sy Woord gevind word. Laat ons aan ons kosbare verhouding met Jehovah dink en voortgaan met die Koninkrykspredikingswerk wat aan ons toevertrou is (Matteus 24:14; 28:19, 20). Dit sal ons beslis ware geluk verskaf, want die Skrif beloof: “Hy wat in die volmaakte wet tuur wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen.”—Jakobus 1:25.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat kan ons vergeetagtige hoorders laat word?
• Waarom is volkome gehoorsaamheid aan God noodsaaklik?
• Hoe kan ons “vlug vir die hoerery”?
• Watter gesindheid moet ons teenoor Jehovah se voorsienings hê?
[Prent op bladsy 15]
Die Israeliete het Jehovah se magtige dade ten behoewe van hulle vergeet
[Prent op bladsy 16]
Jehovah se volk is vasbeslote om hoë sedelike standaarde te handhaaf