Behou “die liefde wat jy eers gehad het”
“Hou vas wat jy het.”—OP. 3:11.
1, 2. Hoe het jy gevoel toe jy oortuig geraak het dat die dinge wat jy omtrent Jehovah leer, die waarheid is?
ONTHOU jy toe jy die eerste keer geleer het van die wonderlike vooruitsig wat Jehovah gehoorsame mense bied? As jy aan ’n ander godsdiens behoort het, hoe het jy gevoel toe God se voornemens aan die hand van die Skrif aan jou verduidelik is of toe leringe wat voorheen vir jou moeilik was om te verstaan, opgeklaar is? Jy het dalk besef dat jy mislei is. Maar hoe bly is jy tog nou dat jy die waarheid geleer het! As jy deur Christenouers grootgemaak is, kan jy nog onthou hoe jy gevoel het toe jy oortuig geraak het dat die dinge wat jy omtrent Jehovah leer, die waarheid is en jy besluit het om in ooreenstemming daarmee te lewe?—Rom. 12:2.
2 Baie van jou geestelike broers sal vir jou sê dat hulle verheug was, na aan Jehovah gevoel het en dankbaar was dat hy hulle getrek het (Joh. 6:44). Hulle vreugde het hulle beweeg om aan Christelike bedrywighede deel te neem. Hulle was so verheug dat hulle hulle gevoelens met almal wou deel. Het jy ’n soortgelyke ondervinding gehad?
3. Watter situasie het in die gemeente in Efese bestaan toe Jesus ’n boodskap aan hulle gestuur het?
3 Toe Jesus met die eerste-eeuse Christengemeente in Efese gepraat het, het hy melding gemaak van “die liefde wat jy eers gehad het”. Die Efesiërs het talle goeie eienskappe gehad, maar die liefde wat hulle vroeër vir Jehovah getoon het, het verflou. Gevolglik het Jesus vir hulle gesê: “Ek ken jou dade, en jou arbeid en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie, en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het. Jy lê ook volharding aan die dag, en jy het ter wille van my naam uitgehou en nie moeg geword nie. Nietemin het ek dít teen jou, dat jy die liefde wat jy eers gehad het, verlaat het.”—Op. 2:2-4.
4. Waarom is Jesus se boodskap aan die Efesiërs vandag toepaslik?
4 Jesus se raad aan die Efesiërs en aan die ander gemeentes met wie hy in die boek Openbaring gepraat het, was gepas met die oog op toestande wat vanaf 1914 ’n tyd lank onder gesalfde Christene geheers het (Op. 1:10). Maar selfs vandag bestaan die moontlikheid dat party Christene “die liefde wat [hulle] eers gehad het” vir Jehovah en vir Christelike waarheid, kan verloor. Laat ons met die oog hierop kyk hoe jy, deur aan jou eie ondervindinge te dink en daaroor te peins, die liefde en ywer wat jy aanvanklik vir God en die waarheid gehad het, kan behou, hernieu en vergroot.
Wat het jou van die waarheid oortuig?
5, 6. (a) Waarvan moet elke Christen homself oortuig? (b) Wat het jou oortuig dat Jehovah se Getuies die waarheid leer? (c) Wat kan iemand help om die liefde wat hy eers gehad het, te verkwik?
5 Elkeen wat hom aan Jehovah toewy, moet eers self “seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1, 2). Dit behels onder andere dat ’n mens Bybelwaarheid leer. Wat een persoon oortuig dat Jehovah se Getuies die waarheid leer, is dalk iets heeltemal anders as wat ’n ander oortuig. Party onthou dat dit vir hulle ’n keerpunt was toe hulle God se naam in die Bybel gelees het of toe hulle verstaan het wat die ware toestand van die dooies is (Ps. 83:18; Pred. 9:5, 10). Ander was beïndruk deur die liefde onder Jehovah se volk (Joh. 13:34, 35). Nog ander het geredeneer oor wat dit beteken om geen deel van die wêreld te wees nie. Hulle het tot die slotsom gekom dat ware Christene nie by die politieke geskille of oorloë van enige nasie betrokke kan raak nie.—Jes. 2:4; Joh. 6:15; 17:14-16.
6 Hierdie en ander waarhede het baie mense se eerste liefde vir God gewek. Neem die tyd om te dink aan wat jou van die waarheid oortuig het. Jy is ’n individu met unieke omstandighede en eienskappe; daarom verskil die basiese redes waarom jy Jehovah liefhet en in sy beloftes glo, heel waarskynlik van dié van ander. Na alle waarskynlikheid is dieselfde redes vandag vir jou nog net so geldig as toe jy die eerste keer daarvan geleer het. Die waarheid het nie verander nie. Gevolglik kan bepeinsing oor hierdie gedagtes en gevoelens jou eerste liefde vir die waarheid in sekere sin hernieu en verkwik.—Lees Psalm 119:151, 152; 143:5.
Bou voort op jou fondament
7. Waarom moet ons voortbou op ons eerste liefde vir die waarheid, en hoe kan ons dit doen?
7 Baie dinge in jou lewe het miskien verander sedert jy jou aan Jehovah toegewy het. Jou eerste liefde vir die waarheid was belangrik, maar met die verloop van tyd het jy ’n dieper liefde nodig gehad om nuwe uitdagings wat jou geloof beproef het, die hoof te bied. Maar Jehovah het jou onderskraag (1 Kor. 10:13). Die ondervindinge wat jy deur die jare heen gehad het, is dus ook vir jou kosbaar. Dit het jou gehelp om voort te bou op die liefde wat jy eers gehad het, en dit is nog ’n manier om seker te maak wat die goeie, aanneemlike wil van God is.—Jos. 23:14; Ps. 34:8.
8. Hoe het Jehovah hom aan Moses geïdentifiseer, en hoe het die Israeliete God intiemer leer ken?
8 Ter toeligting: Beskou die situasie waarin die Israeliete hulle bevind het toe Jehovah sy voorneme bekend gemaak het om hulle uit slawerny in Egipte te verlos. God het hom aan Moses geïdentifiseer deur te sê: “Ek sal word wat ek sal word” (Eks. 3:7, 8, 13, 14). Jehovah het in werklikheid gesê dat hy enige rol sal aanneem wat nodig is om sy volk te bevry. Tydens die gebeure wat hierop gevolg het en na gelang van die omstandighede, het die Israeliete gesien hoe Jehovah verskillende fasette van sy persoonlikheid openbaar—as die Almagtige, as ’n Regter, ’n Leier, ’n Verlosser, ’n Krygsman en ’n Voorsiener.—Eks. 12:12; 13:21; 14:24-31; 16:4; Neh. 9:9-15.
9, 10. Watter situasie kan ’n mens help om God te leer ken, en waarom is dit goed om aan hierdie ondervindinge te dink?
9 Jou situasie verskil van dié van die eertydse Israeliete. Nietemin het jy waarskynlik al ondervindinge gehad wat jou oortuig het van God se persoonlike belangstelling in jou en wat jou geloof versterk het. Dalk het Jehovah op die een of ander manier getoon dat hy ’n Voorsiener, ’n Vertrooster of ’n Onderrigter is. (Lees Jesaja 30:20b, 21.) Of miskien het jy ’n duidelike antwoord op ’n gebed gesien. Moontlik het jy voor ’n uitdaging te staan gekom en het ’n mede-Christen jou te hulp gekom. Of persoonlike studie het dalk gepaste tekste onder jou aandag gebring.
10 As jy hierdie ondervindinge aan ander sou vertel, sal dit party miskien nie juis beïndruk nie. Dit was immers nie wonderdadige gebeure nie. Maar vir jou was dit baie betekenisvol. Ja, Jehovah het geword presies wat hy vir jou moes wees. Dink terug oor die jare wat jy al in die waarheid is. Kan jy aan meer as een geleentheid dink toe jy Jehovah se persoonlike sorg in jou lewe ervaar het? Indien wel, kan die herinnering aan hierdie geleenthede en hoe dit jou laat voel het, weer dieselfde gevoel van liefde vir Jehovah in jou hart laat opkom as wat jy destyds gehad het. Koester hierdie ondervindinge. Peins daaroor. Dit bewys dat Jehovah in jou as persoon belangstel, en niemand kan jou van hierdie oortuiging beroof nie.
Ontleed jouself
11, 12. Wat kan die oorsaak wees as ’n Christen se liefde vir die waarheid verflou het, en watter raad het Jesus gegee?
11 As jy nie dieselfde liefde vir God en die waarheid voel as vroeër nie, is dit nie omdat enigiets van sy kant verander het nie. Jehovah verander nooit nie (Mal. 3:6; Jak. 1:17). Hy het destyds in jou belanggestel, en hy stel vandag nog net soveel in jou belang. Wat, indien enigiets, kon dan in jou verhouding met Jehovah verander het? Voel jy dalk dat jy onder groter druk verkeer, meer gebuk gaan onder die sorge van die lewe? Miskien het jy in die verlede ernstiger gebid, yweriger gestudeer, meer dikwels gepeins. Was jy yweriger in die bediening en gereelder by gemeentelike vergaderinge as nou?—2 Kor. 13:5.
12 Jy sien moontlik nie enige van hierdie tendense in jouself raak nie, maar indien wel, wat het daartoe gelei? Het geldige bekommernisse, soos om jou gesin van die nodige te voorsien, vir jou gesondheid te sorg en dies meer, dalk jou gevoel van dringendheid ten opsigte van die nabyheid van Jehovah se dag laat afneem? Jesus het vir sy apostels gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur.”—Luk. 21:34-36.
13. Waarmee het Jakobus God se Woord vergelyk?
13 Die geïnspireerde Bybelskrywer Jakobus het medegelowiges aangespoor om hulleself eerlik in die lig van God se Woord te ontleed. Jakobus het geskryf: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself met valse redenering bedrieg nie. Want as iemand ’n hoorder van die woord is, en nie ’n dader nie, is hy soos ’n mens wat sy natuurlike gesig in ’n spieël bekyk. Want hy bekyk homself en gaan dan weg en vergeet onmiddellik watter soort mens hy is. Maar hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen.”—Jak. 1:22-25.
14, 15. (a) Hoe kan die Bybel jou help om jou geestelike toestand te verbeter? (b) Oor watter vrae kan jy peins?
14 Iemand kan ’n spieël gebruik om seker te maak dat hy netjies lyk. Byvoorbeeld, as ’n man sien dat sy das skeef is, kan hy dit regtrek. As ’n vrou sien dat haar hare ’n bietjie deurmekaar is, kan sy iets daaromtrent doen. Net so help die Skrif ons om te ondersoek wat ons is. Wanneer ons ons vergelyk met hoe die Bybel sê ons moet wees, gebruik ons dit soos ’n spieël. Maar wat help dit om in ’n spieël te kyk as ons niks doen om ’n fout wat ons sien, reg te stel nie? Ons is verstandig as ons optree op grond van wat ons in God se “volmaakte wet” sien en “daders” daarvan word. Enigiemand wat dus bemerk dat sy eerste liefde vir Jehovah en die waarheid verflou het, kan gerus oor hierdie vrae nadink: ‘Watter druk ondervind ek in die lewe, en hoe reageer ek daarop? Hoe het ek in die verlede gereageer? Het iets verander?’ As so ’n selfondersoek enige swakhede aan die lig bring, moet jy dit nie ignoreer nie. As veranderinge nodig is, moet jy dit beslis sonder versuim aanbring.—Heb. 12:12, 13.
15 Sulke bepeinsing kan jou ook help om redelike doelwitte vir geestelike groei te stel. Die apostel Paulus het geïnspireerde raad aan sy medewerker Timoteus gegee om sy bediening te verbeter. Paulus het die jonger man aangespoor: “Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” Dit sal ook vir ons goed wees om, in die lig van God se Woord, te peins oor watter vooruitgang ons kan maak.—1 Tim. 4:15.
16. Vir watter gevaar moet jy op jou hoede wees wanneer jy jou in die lig van die Skrif ondersoek?
16 Enige eerlike selfondersoek sal ongetwyfeld sekere swakhede aan die lig bring. Dit kan ’n mens mismoedig laat voel, maar moenie toelaat dat dit met jou gebeur nie. Die doel van selfondersoek is immers om vas te stel waar ’n mens kan verbeter. Satan wil natuurlik hê dat ’n Christen waardeloos moet voel weens sy onvolmaakthede. Trouens, daar is al gesê dat God alle pogings om hom te dien, minag (Job 15:15, 16; 22:3). Dit is ’n leuen wat Jesus kragtig weerlê het; God beskou elkeen van ons as kosbaar. (Lees Matteus 10:29-31.) ’n Bewustheid van jou onvolmaakthede moet jou eerder vervul met nederige vasbeslotenheid om met Jehovah se hulp te verbeter (2 Kor. 12:7-10). As siekte of ouderdom onder andere beperk wat jy kan doen, stel dan redelike doelwitte, maar moenie tou opgooi of jou liefde laat verflou nie.
Baie om voor dankbaar te wees
17, 18. Watter voordele hou dit in om voort te bou op die liefde wat jy eers gehad het?
17 Dit hou groot voordele in as jy bly voortbou op die fondament van die liefde wat jy eers gehad het. Jy kan jou kennis van God en jou waardering vir sy liefdevolle leiding vergroot. (Lees Spreuke 2:1-9; 3:5, 6.) “In die onderhouding [van Jehovah se regterlike beslissings] is ’n groot beloning”, het die psalmis gesê. “Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys.” En “gelukkig is dié wat onberispelik is in hulle weg, dié wat in die wet van Jehovah wandel”.—Ps. 19:7, 11; 119:1.
18 Jy sal sekerlik saamstem dat daar talle goeie dinge is om voor dankbaar te wees. Jy verstaan die redes agter die dinge wat in die wêreld gebeur. Jy vind baat by die geestelike sorg en aandag wat God vandag aan sy volk gee. Jy is ongetwyfeld ook dankbaar dat Jehovah jou na sy wêreldwye gemeente getrek het en jou die voorreg gegee het om een van sy Getuies te wees. Tel jou seëninge! As jy ’n lys daarvan sou maak, sal dit waarskynlik lank wees. As jy dit van tyd tot tyd doen, sal dit jou ongetwyfeld help om die vermaning toe te pas: “Hou vas wat jy het.”—Op. 3:11.
19. Wat benewens bepeinsing oor jou verhouding met God is noodsaaklik om geestelik gesond te bly?
19 Bepeinsing oor hoe jou geloof met verloop van tyd toegeneem het, is net een stap wat jou kan help om vas te hou wat jy het. Hierdie tydskrif het al herhaaldelik die aandag gevestig op ander dinge wat noodsaaklik is om geestelik gesond te bly. Party hiervan is gebed, bywoning en deelname aan Christelike vergaderinge en ’n ywerige aandeel aan die openbare bediening. Hierdie dinge kan jou help om die liefde wat jy eers gehad het, voortdurend te hernieu, te versterk en daarop voort te bou.—Ef. 5:10; 1 Pet. 3:15; Jud. 20, 21.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan die redes waarom jy Jehovah liefgekry het, nou vir jou ’n bron van aanmoediging wees?
• Waarvan kan bepeinsing oor jou eie ondervindinge deur die jare heen jou oortuig?
• Waarom moet jy jou liefde vir God ontleed?
[Prent op bladsy 23]
Wat omtrent die waarheid het jou aangetrek en daarvan oortuig?
[Prent op bladsy 25]
Sien jy dinge in jouself raak wat verander moet word?