Is jy ’n ‘bestuurder van God se onverdiende goedhartigheid’?
“In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—ROM. 12:10.
1. Watter versekeringe vind ons in God se Woord?
GOD SE WOORD verseker ons herhaaldelik dat Jehovah ons te hulp sal kom wanneer ons mismoedig of gebroke van hart is. Let byvoorbeeld op hierdie vertroostende woorde: “Jehovah ondersteun almal wat val en rig almal op wat neergeboë is.” “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle pynlike plekke” (Ps. 145:14; 147:3). Daarbenewens sê ons hemelse Vader self: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”—Jes. 41:13.
2. Hoe voorsien Jehovah ondersteuning aan sy knegte?
2 Maar hoe kan Jehovah, wat in die onsigbare hemele woon, ‘ons hand vasgryp’? Hoe ‘rig hy ons op wanneer ons neergeboë is’ weens hartseer? Jehovah God voorsien hierdie ondersteuning op verskillende maniere. Byvoorbeeld, deur middel van sy heilige gees gee hy sy volk “krag wat bo die normale is” (2 Kor. 4:7; Joh. 14:16, 17). God se knegte ervaar ook die bemoedigende krag wat uitgeoefen word deur die boodskap in God se geïnspireerde Woord, die Bybel (Heb. 4:12). Is daar nog ’n manier waarop Jehovah ons versterk? Ons vind ’n antwoord in die boek Eerste Petrus.
“God se onverdiende goedhartigheid waaraan daar op verskillende maniere uiting gegee word”
3. (a) Wat sê die apostel Petrus oor beproewinge? (b) Wat word in die laaste deel van Petrus se eerste brief bespreek?
3 Die apostel Petrus skryf aan geesgesalfde gelowiges en sê dat hulle goeie rede het om hulle te verbly omdat ’n ryk beloning op hulle wag. Dan voeg hy by: “Hoewel julle nou—as dit moet wees—’n klein rukkie deur allerhande beproewinge bedroef word” (1 Pet. 1:1-6). Let op die woord “allerhande”. Dit gee te kenne dat daar verskillende beproewinge sal wees. Petrus hou egter nie hier op en laat sy broers wonder of hulle opgewasse sou wees teen so ’n verskeidenheid toetse nie. Inteendeel, Petrus wys daarop dat Christene seker kan wees dat Jehovah hulle sal help om elke beproewing te verduur wat oor hulle kom, ongeag wat dit is. Hierdie versekering word in die laaste gedeelte van Petrus se brief gegee, waar die apostel sake in verband met “die einde van alles” bespreek.—1 Pet. 4:7.
4. Waarom is die woorde van 1 Petrus 4:10 vir ons vertroostend?
4 Petrus sê: “Na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien as goeie bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid waaraan daar op verskillende maniere uiting gegee word” (1 Pet. 4:10). Hier gebruik Petrus die woord “verskillende”, ’n sinoniem van “allerhande”. Hy sê in werklikheid: ‘Beproewinge neem talle verskillende vorme aan, maar God se blyke van onverdiende goedhartigheid neem ook talle verskillende vorme aan.’ Waarom is hierdie woorde vertroostend? Dit impliseer dat daar altyd, ongeag watter beproewing ons deurmaak, ’n ooreenstemmende blyk van God se onverdiende goedhartigheid sal wees. Het jy egter in Petrus se woorde opgemerk presies hoe Jehovah se onverdiende goedhartigheid aan ons oorgedra word? Deur middel van mede-Christene.
‘Dien mekaar’
5. (a) Wat moet elke Christen doen? (b) Watter vrae ontstaan?
5 Petrus praat met al die lede van die Christengemeente en sê: “Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê.” Hy voeg dan by: “Na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien” (1 Pet. 4:8, 10). Elkeen in die gemeente moet derhalwe help om mede-Christene op te bou. Iets waardevols wat aan Jehovah behoort, is aan ons toevertrou, en ons het die verantwoordelikheid om dit aan ander oor te dra. Wat is aan ons toevertrou? Petrus sê dat dit “’n gawe” is. Wat is die gawe? Hoe ‘gebruik ons dit om mekaar te dien’?
6. Wat is van die gawes wat aan Christene toevertrou word?
6 God se Woord sê: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo” (Jak. 1:17). Al die gawes wat Jehovah aan sy volk toevertrou, is inderdaad blyke van sy onverdiende goedhartigheid. ’n Uitsonderlike gawe wat Jehovah aan ons gee, is die heilige gees. Hierdie gawe stel ons in staat om godvrugtige eienskappe soos liefde, goedheid en sagmoedigheid aan te kweek. Sulke eienskappe beweeg ons dan weer om hartgrondige geneentheid aan medegelowiges te betoon en hulle gewillig te ondersteun. Ware wysheid en kennis is ook van die goeie gawes wat ons met die hulp van die heilige gees verkry (1 Kor. 2:10-16; Gal. 5:22, 23). Trouens, al ons energie, vermoëns en talente kan beskou word as gawes wat gebruik moet word om lof en eer aan ons hemelse Vader te bring. Ons het die godgegewe verantwoordelikheid om ons vermoëns en eienskappe te gebruik om blyke van God se onverdiende goedhartigheid aan ons medegelowiges oor te dra.
‘Gebruik dit om te dien’—Hoe?
7. (a) Wat word deur die uitdrukking “na die mate” te kenne gegee? (b) Watter vrae moet ons ons afvra, en waarom?
7 Petrus sê ook aangaande gawes wat ons ontvang het: “Na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik.” Die bepalende uitdrukking “na die mate” gee te kenne dat eienskappe en vermoëns nie net in aard nie, maar ook in graad kan verskil. Nietemin word elkeen aangespoor om ‘dit [dit wil sê enige spesifieke gawe wat hy ontvang het] te gebruik om mekaar te dien’. Verder is die uitdrukking ‘gebruik dit as goeie bestuurders’ ’n bevel. Ons moet ons derhalwe afvra: ‘Gebruik ek werklik die gawes wat aan my toevertrou is, om my medegelowiges te versterk?’ (Vergelyk 1 Timoteus 5:9, 10.) ‘Of gebruik ek die vermoëns wat ek van Jehovah ontvang het, hoofsaaklik om myself te bevoordeel—dalk om rykdom of sosiale status te verkry?’ (1 Kor. 4:7). As ons ons gawes gebruik “om mekaar te dien”, sal ons Jehovah behaag.—Spr. 19:17; lees Hebreërs 13:16.
8, 9. (a) Wat is ’n paar maniere waarop Christene wêreldwyd ten behoewe van medegelowiges dien? (b) Hoe help die broers en susters in julle gemeente mekaar?
8 God se Woord meld verskillende maniere waarop eerste-eeuse Christene mekaar gedien het. (Lees Romeine 15:25, 26; 2 Timoteus 1:16-18.) Die bevel om ons gawes ten behoewe van medegelowiges te gebruik, word vandag ook heelhartig uitgevoer deur ware Christene. Kyk na ’n paar van die maniere waarop dit gedoen word.
9 Baie broers bestee elke maand ure daaraan om vergaderingdele voor te berei. Wanneer hulle by die vergaderinge van die geestelike juwele oordra wat hulle gedurende hulle Bybelstudie gevind het, beweeg hulle insigryke woorde almal in die gemeente om te volhard (1 Tim. 5:17). Talle broers en susters is bekend vir hulle hartlikheid en medelye teenoor medegelowiges (Rom. 12:15). Party besoek die terneergedruktes gereeld en bid saam met hulle (1 Tess. 5:14). Ander toon bedagsaamheid deur ’n paar opregte, bemoedigende woorde aan mede-Christene te skryf wat met ’n beproewing te kampe het. Nog ander help diegene met fisiese beperkings liefdevol om gemeentelike vergaderinge by te woon. Duisende Getuies neem deel aan noodlenigingswerk en help medegelowiges om huise te herbou wat deur rampe beskadig is. Die tere geneentheid en praktiese bystand wat sulke liefdevolle broers en susters verleen, is alles blyke van “God se onverdiende goedhartigheid waaraan daar op verskillende maniere uiting gegee word”.—Lees 1 Petrus 4:11.
Watter een is die belangrikste?
10. (a) Van watter twee aspekte van sy diens aan God was Paulus bewus? (b) Hoe volg ons Paulus vandag na?
10 God se knegte is nie net ’n gawe toevertrou wat ten behoewe van hulle medegelowiges gebruik moet word nie, maar ook ’n boodskap wat aan hulle medemens verkondig moet word. Die apostel Paulus het besef dat sy diens aan Jehovah hierdie twee aspekte insluit. Hy het aan die gemeente in Efese geskryf oor “die bestuurderskap van die onverdiende goedhartigheid van God” wat tot hulle voordeel aan hom gegee is (Ef. 3:2). Maar hy het ook gesê: “Ons [is] deur God geskik bevind . . . om die goeie nuus toevertrou te word” (1 Tess. 2:4). Soos Paulus, besef ons ook dat die toewysing om as verkondigers van God se Koninkryk te dien, aan ons toevertrou is. Deur ywerig aan die predikingswerk deel te neem, streef ons daarna om die voorbeeld te volg wat Paulus as ’n onvermoeide verkondiger van die goeie nuus gestel het (Hand. 20:20, 21; 1 Kor. 11:1). Ons weet dat die verkondiging van die Koninkryksboodskap lewens kan red. Maar terselfdertyd streef ons ook daarna om Paulus na te volg deur geleenthede te soek om medegelowiges “die een of ander geestelike gawe te kan meedeel”.—Lees Romeine 1:11, 12; 10:13-15.
11. Hoe moet ons ons toewysings om te preek en om ons broers op te bou, beskou?
11 Watter een van hierdie twee Christelike bedrywighede is die belangrikste? Om so ’n vraag te vra, is soos om oor ’n voël te vra: Watter een van sy twee vlerke is die belangrikste? Die antwoord is voor die hand liggend. ’n Voël moet albei vlerke gebruik om behoorlik te vlieg. Net so moet ons aan albei aspekte van ons diens aan God deelneem om as Christene volkome te wees. Ons moet dus nie ons toewysings om die goeie nuus te verkondig en om medegelowiges op te bou, as onverwant aan mekaar beskou nie, maar moet dit eerder soos die apostels Petrus en Paulus beskou—as verantwoordelikhede wat mekaar komplementeer. In watter opsig?
12. Hoe dien ons as ’n werktuig in Jehovah se hand?
12 As evangeliedienaars gebruik ons enige onderrigvaardighede wat ons het, in ’n poging om die hart van ons medemens met die opbouende boodskap van God se Koninkryk te raak. Sodoende hoop ons om hulle te help om Christus se dissipels te word. Maar ons gebruik ook enige vermoëns en ander gawes wat ons het, in ’n poging om die harte van ons medegelowiges te verbly met opbouende woorde en behulpsame dade—blyke van God se onverdiende goedhartigheid (Spr. 3:27; 12:25). Sodoende hoop ons om hulle te help om Christus se dissipels te bly. In die geval van albei bedrywighede—om vir die publiek te preek en “mekaar te dien”—het ons die wonderlike voorreg om as ’n werktuig in Jehovah se hand te dien.—Gal. 6:10.
‘Julle moet tere geneentheid vir mekaar hê’
13. Wat sal gebeur as ons “mekaar [nie] dien” nie?
13 Paulus het sy medegelowiges aangespoor: “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Rom. 12:10). Ja, as ons geneentheid vir ons broers het, beweeg dit ons om heelhartig te dien as bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid. Ons besef dat Satan ons eenheid sal ondermyn as hy daarin sou slaag om ons te verhinder om “mekaar te dien” (Kol. 3:14). En ’n gebrek aan eenheid sal weer tot ’n gebrek aan ywer in die predikingswerk lei. Satan weet goed dat hy as ’t ware net een van ons vlerke hoef seer te maak om ons buite aksie te stel.
14. Wie vind daarby baat wanneer ons ‘mekaar dien’? Gee ’n voorbeeld.
14 Om “mekaar te dien”, bevoordeel nie net dié wat God se onverdiende goedhartigheid ontvang nie, maar ook dié wat dit oordra (Spr. 11:25). Beskou die voorbeeld van Ryan en Roni, ’n egpaar in Illinois, VSA. Toe hulle hoor dat die orkaan Katrina honderde huise van mede-Getuies verwoes het, het broederliefde hulle beweeg om uit hulle werk te bedank, hulle woonstel op te gee, ’n tweedehandse karavaan te koop, dit reg te maak en 1 400 kilometer na Louisiana te reis. Hulle het meer as ’n jaar daar gebly terwyl hulle hulle tyd, krag en middele gebruik het om hulle broers te help. “Die feit dat ek aan die noodlenigingswerk deelgeneem het, het my nader aan God laat kom”, sê die 29-jarige Ryan. “Ek het gesien hoe Jehovah vir sy volk sorg.” Ryan voeg by: “Die geleentheid wat ek gehad het om saam met ouer broers te werk, het my baie geleer oor hoe om na die broers om te sien. Ek het ook geleer dat daar baie werk is vir ons as jonger mense in Jehovah se organisasie.” Roni, wat 25 jaar oud is, sê: “Ek is dankbaar dat ek ander kon help. Ek is nou gelukkiger as ooit tevore in my lewe. Ek weet dat ek in die jare wat voorlê, nog steeds by hierdie wonderlike ondervinding sal baat vind.”
15. Watter goeie redes het ons om aan te hou om as bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid te dien?
15 Ja, gehoorsaamheid aan God se bevele om die goeie nuus te verkondig en om medegelowiges op te bou, bring vir almal seëninge mee. Dié wat deur ons gehelp word, word geestelik versterk, terwyl ons die innige vreugde smaak wat ’n mens net ervaar as jy gee (Hand. 20:35). Die gemeente as ’n geheel verkry ’n hartliker gees wanneer elke lid liefdevolle belangstelling in ander toon. En die liefde en geneentheid wat ons vir mekaar toon, identifiseer ons duidelik as ware Christene. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Bowenal eer dit ons liefdevolle Vader, Jehovah, wanneer sy begeerte om diegene te versterk wat dit nodig het, deur sy aardse knegte weerspieël word. Watter goeie redes het ons dan tog om ons gawe te gebruik “om mekaar te dien as goeie bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid”! Sal jy aanhou om dit te doen?—Lees Hebreërs 6:10.
Onthou jy?
• Op watter maniere versterk Jehovah sy knegte?
• Wat is aan ons toevertrou?
• Wat is ’n paar maniere waarop ons ons medegelowiges kan dien?
• Wat sal ons beweeg om aan te hou om ons gawe te gebruik “om mekaar te dien”?
[Prente op bladsy 13]
Gebruik jy jou “gawe” om ander te dien of om jouself te behaag?
[Prente op bladsy 15]
Ons verkondig die goeie nuus aan ander en ondersteun mede-Christene
[Prent op bladsy 16]
Noodlenigingswerkers moet geprys word vir hulle selfopofferende gees