’n Redelike beskouing van privaatheid
“DIE OË VAN JEHOVAH IS OP ELKE PLEK, EN HULLE LET OP DIE SLEGTES EN DIE GOEIES.”—SPREUKE 15:3.
MIN mense sal van die idee hou dat iemand anders alles wat hulle doen, monitor, hulle geheime gedagtes ondersoek en kan vasstel wat hulle diepste begeertes is. En tog is dit presies wat die Bybel sê God kan doen. In Hebreërs 4:13 sê die Bybel: “Daar is nie ’n skepping wat nie vir sy oë sigbaar is nie, maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee.” Is dit nie ’n skending van privaatheid nie? Glad nie. Waarom sê ons so?
Dink ter toeligting hieraan: Terwyl jy in die see swem, hou die waaksame oë van ’n lewensredder jou dalk heeltyd dop. Jy beskou dit nie as ’n skending van jou privaatheid nie. Trouens, sy teenwoordigheid laat jou veilig voel. Jy weet dat hy jou vinnig te hulp sal snel as jy in die moeilikheid beland. So ook hou ’n moeder haar baba die hele tyd dop. As sy dit nie doen nie, sal mense haar as nalatig beskou.
Net so kyk Jehovah God deurentyd na ons gedagtes en dade omdat hy ons belange op die hart dra. ’n Bybelprofeet het gesê: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). Maar hoeveel van ons private gedagtes en dade sien Jehovah in werklikheid? Verskeie voorvalle waarby Jesus, die Seun van God, betrokke was, gee ons insig in dié saak.
Die vermoë om harte en verstande te lees
Terwyl Jesus by die huis van ’n Fariseër geëet het, het ’n vrou wat as ’n sondares bekend gestaan het, gekom en by Jesus se voete gekniel. Sy het begin huil en toe haar trane op Jesus se voete met haar hare afgedroog. Die verslag sê: “Toe die Fariseër wat hom genooi het, dit sien, het hy by homself gesê: ‘As hierdie man ’n profeet was, sou hy geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak.’” Jesus se reaksie het getoon dat hy nie net van die vrou se agtergrond geweet het nie, maar ook geweet het wat die Fariseër so pas “by homself” gesê het.—Lukas 7:36-50.
By ’n ander geleentheid is Jesus gekonfronteer deur ’n groep wat teen sy wonderwerke gekant was. Die verslag wat in Matteus 9:4 opgeteken is, sê: “Jesus, wat hulle gedagtes geken het, het gesê: ‘Waarom dink julle goddelose dinge in julle harte?’” Jesus se vermoë om te weet wat ander dink, was meer as net slim raaiskote.
’n Kykie na die verslag oor die opstanding van Lasarus toon dat baie meer daarby betrokke is. Jesus se goeie vriend Lasarus was reeds vier dae dood. Sy gedagtes het vergaan en hy het al begin ontbind (Psalm 146:3, 4). Toe Jesus sê dat die ingang na Lasarus se graf oopgemaak moet word, het Lasarus se suster Marta beswaar gemaak: “Here, hy moet nou al ruik.” En tog het Jesus, met behulp van God se krag, Lasarus opgewek, met al die intieme en private herinneringe wat nodig was om Lasarus die dieselfde persoon te maak wat hy voor sy dood was.—Johannes 11:38-44; 12:1, 2.
Jehovah God se vermoë om ons diepste gedagtes te ken, word bevestig deur Jesus se woorde oor gebed. Voordat Jesus sy dissipels die modelgebed geleer het, het hy gesê: “God, julle Vader, weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra.” Jesus het ook gesê: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer in, en nadat jy jou deur toegemaak het, bid tot jou Vader wat in die geheim is; dan sal jou Vader wat in die geheim toekyk, jou beloon.”—Matteus 6:6, 8.
Hoe die wete dat God ons dophou, ons tot voordeel strek
Word ons bewegings belemmer of ons vryheid beperk deur die wete dat God alle harte deursoek en “elke neiging van die gedagtes” onderskei? (1 Kronieke 28:9). Inteendeel, die besef dat niks vir God verberg kan word nie, kan ’n kragtige invloed ten goede wees.
Elizabeth, wat in die eerste artikel genoem is, sê dat die hoofrede waarom sy eerlik bly nie die waarnemingskameras by die werk is nie. Sy sê eerder: “Die feit dat ek weet Jehovah sien wat ek doen, beweeg my om in alles eerlik te wees, selfs wanneer ek nie by die werk is nie.”
Jim sê iets soortgelyks. Hy werk in ’n fabriek waar diefstal deur werknemers ’n algemene probleem is. Maar Jim weier om by sy werkgewer te steel. Hy sê: “Ek kan waarskynlik by die maatskappy steel en daarmee wegkom, maar ek stel my verhouding met God op prys en weet dat hy alles sien wat ek doen.”
Die wete dat God bewus is van alles wat ons doen, tesame met die begeerte om ’n goeie verhouding met hom te hê, kan ’n mens beweeg om groot veranderinge in jou lewe aan te bring. Doug het byvoorbeeld in ’n Christengesin grootgeword, maar het die feit dat God sy dade kan sien, nooit werklik ernstig opgeneem nie. Gevolglik het hy ’n dubbele lewe gelei. Hy het Christelike vergaderinge saam met sy gesin bygewoon, maar het agterna dwelms saam met sy vriende gebruik. Omdat hy so lief was vir motorfietse, het hy by ’n motorfietsbende aangesluit wat berug was vir hulle gewelddadigheid. Doug het ernstige misdade gepleeg om deur hulle aanvaar te word.
’n Paar jaar later het Doug weer die Bybel begin studeer. Hy het Jehovah begin sien as ’n werklike persoon wat bewus is van wat mense doen en daardeur geraak word. Dit het Doug beweeg om in ooreenstemming met God se hoë sedelike standaarde te begin lewe. Hoewel dit die bende se gewoonte was om enigiemand wat hulle wou verlaat, aan te rand, het Doug ’n bendevergadering bygewoon en voor al die bendelede formeel bedank. Hy sê: “Toe ek opgestaan het om te praat, het my hart in my keel gesit. Ek het soos Daniël in die leeukuil gevoel. Maar ek het stil tot Jehovah gebid en toe kalm verduidelik waarom ek die bende verlaat. Toe ek loop, het almal behalwe een van hulle my hand geskud en my voorspoed toegewens. Ek het besef hoe waar die woorde van Jesaja 41:13 is: ‘Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: “Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.”’” Doug voel dat Jehovah hom die nodige krag gegee het om sy lewe te verander.
’n Redelike beskouing
Dit is onredelik om te dink dat ons dinge vir God geheim kan hou. Die Bybel sê reguit: “Die verstandelose het in sy hart gesê: ‘Daar is geen Jehovah nie’” (Psalm 14:1). Soos die vorige artikels getoon het, het mense waarnemingskameras gemaak wat ’n spesifieke gesig in ’n skare kan uitken. Hulle het afluisterapparate ontwikkel wat ’n enkele stem kan identifiseer uit die talle duisende wat die telefoonstelsel gebruik. Dan het die Skepper van die mensebrein tog sekerlik die vermoë om enigeen se gedagtes te lees wanneer Hy ook al goeddink.
Hoewel ons Skepper die reg het om te weet van ’n mens se private doen en late, het mense nie daardie reg nie. Die apostel Petrus vermaan almal wat God se guns wil verkry: “Laat niemand van julle egter ly as . . . ’n kwaaddoener of as iemand wat hom met ander se sake bemoei nie” (1 Petrus 4:15). Die apostel Paulus waarsku ook daarteen om ons “met ander se sake” te bemoei.—1 Timoteus 5:13.
’n Uiterste voorbeeld van persone wat hulle “met ander se sake bemoei”, is die groeiende neiging in party lande waar gewone burgers baie klein oudio- of video-opneemtoestelle gebruik om op ander te spioeneer. In Japan het die maratonatleet Naoko Takahasji, wat ’n goue medalje by Sydney se Olimpiese Spele gewen het, onlangs ontdek dat ’n miniatuurkamera in haar badkamer versteek is en haar sonder haar medewete afgeneem het. ’n Video is gemaak en duisende kopieë is onwettig verkoop.
Nog ’n algemene verskynsel is identiteitsdiefstal of -bedrog, waarin gevorderde tegnologie gebruik word om die persoonlike besonderhede van mense te steel. Dit is net redelik om stappe te neem om jou privaatheid teen ongemagtigde waarneming te beskerm.a Die Bybel sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan.”—Spreuke 22:3.
Geheime dade—openbare rekenskap
Namate misdaad, geweld en terrorisme toeneem, sal regerings hulle burgers waarskynlik al hoe fyner dophou. Maar binnekort sal waarnemingskameras en afluisterapparate glad nie meer nodig wees nie. Die Bybel belowe dat Jehovah God in die nabye toekoms van alle mense rekenskap sal eis vir hulle dade, dié wat in die openbaar sowel as in die geheim gedoen is.—Job 34:21, 22.
Daarna sal die aarde vry wees van die geweld, haat en misdaad wat die mensdom al so lank teister. Hoe sal dit moontlik wees? Want dan sal nie net Jehovah almal wat lewe, intiem ken nie, maar ook sal almal wat lewe, Jehovah intiem ken. Die woorde van die profeet Jesaja sal bewaarheid word: “Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”—Jesaja 11:9.
[Voetnoot]
a Sien die venster “Wees versigtig!”
[Lokteks op bladsy 12]
Die besef dat niks vir God verberg kan word nie, kan ’n kragtige invloed ten goede wees
[Venster/Prent op bladsy 11]
Wees Versigtig!
PRIVAATHEID EN INTERNETWEBWERWE VIR WERKSOEKERS: Werksoekers wat hulle CV op die Internet sit, se privaatheid kan grootliks bedreig word. CV’s kan jare lank op hierdie webwerwe gestoor word en kan selfs ’n bron van inligting vir identiteitsdiefstal word. Party webwerwe vra persoonlike inligting van werksoekers, soos hulle naam, adres, ouderdom en werksgeskiedenis, en stuur dan die inligting aan na ’n derde party, soos adverteerders.
PRIVAATHEID EN MOBIELE KOMMUNIKASIE: Tans is daar nie ’n goedkoop manier om privaatheid op koordlose fone of selfone te waarborg nie.b As jy ’n private saak bespreek, sal dit dalk veiliger wees om ’n gewone landlyn te gebruik. Maak seker dat die persoon met wie jy praat ook ’n gewone telefoon gebruik. Die seine van baie koordlose fone kan deur radio-ontvangers onderskep word, en party selfs deur ander koordlose fone of babamonitors. As jy iets oor die telefoon koop en jou kredietkaartnommer en die vervaldatum daarvan gee, kan die oproep wat jy van jou koordlose foon of selfoon af maak, gemonitor word en kan jy die slagoffer van bedrog word.c
[Voetnote]
b Digitale stelsels vir selfone, soos GSM, bied groter beskerming teen afluistering.
c Aangepas uit inligting van Privacy Rights Clearinghouse se webwerf.
[Prent op bladsy 9]
Die feit dat ’n lewensredder ’n waaksame oog oor jou hou, word nie as ’n skending van privaatheid beskou nie
[Prente op bladsy 10]
Die wete dat God van ons dade bewus is, het Doug beweeg om veranderinge in sy lewe aan te bring