Dit is dringender as ooit tevore dat ons waaksaam bly
“Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.”—MATTEUS 24:42.
1, 2. Wat toon dat ons aan die voleinding van die huidige stelsel van dinge lewe?
“DIE twintigste eeu is veral deur oorlog beïnvloed”, sê die skrywer Bill Emmott. Hoewel hy erken dat daar in alle tydperke van die mensegeskiedenis oorloë en geweld was, voeg hy by: “Die twintigste eeu het nie in aard verskil nie, maar in graad. Dit was die eerste eeu waarin daar ’n waarlik wêreldomvattende konflik plaasgevind het . . . En asof die punt beklemtoon moes word, was daar nie net een so ’n wêreldkonflik nie, maar twee.”
2 Jesus Christus het voorspel dat ‘nasie teen nasie en koninkryk teen koninkryk’ oorlog sou voer. Maar dit is net een aspek van ‘die teken van Christus se teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge’. In hierdie betekenisvolle profesie het Jesus ook melding gemaak van hongersnood, pessiektes en aardbewings (Matteus 24:3, 7, 8; Lukas 21:6, 7, 10, 11). Hierdie ellendes het in baie opsigte in graad en omvang toegeneem. Die boosheid van die mens is oorvloedig, soos gesien kan word in hulle gesindheid teenoor God en hulle medemens. Sedelike verval en ’n toename in misdaad en geweld is algemeen. Mense het liefhebbers van geld eerder as liefhebbers van God geword, en hulle is behep met genot. Dit alles bewys dat ons in “kritieke tye” lewe.—2 Timoteus 3:1-5.
3. Hoe moet “die tekens van die tye” ons raak?
3 Hoe beskou jy die verslegtende toestande onder die mensdom? Baie staan onverskillig, of selfs ongevoelig, teenoor die ontstellende gebeure van ons tyd. Die wêreld se invloedryke en intellektuele mense onderskei nie die betekenis van “die tekens van die tye” nie; ook gee godsdiensleiers nie behoorlike leiding in hierdie saak nie (Matteus 16:1-3). Maar Jesus het sy volgelinge vermaan: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matteus 24:42). Jesus spoor ons hier nie net aan om waaksaam te wees nie, maar om ‘aan te hou waak’. Om aan te hou waak, beteken dat ons gereed en wakker moet bly. Dit vereis meer as om net te erken dat ons in die laaste dae lewe, meer as om net te besef dat tye moeilik is. Ons moet vas oortuig wees dat ‘die einde van alles naby gekom het’ (1 Petrus 4:7). Slegs dan sal ons met ’n gevoel van dringendheid waaksaam bly. Daarom moet ons peins oor die vraag: ‘Wat sal ons help om ons oortuiging te versterk dat die einde naby is?’
4, 5. (a) Wat sal ons oortuiging versterk dat die einde van hierdie goddelose stelsel op hande is, en waarom? (b) Wat is een ooreenkoms tussen Noag se dag en die teenwoordigheid van die Seun van die mens?
4 Dink aan die toestande wat daar geheers het gedurende die tydperk voor ’n eenmalige gebeurtenis in die mensegeskiedenis—die groot Vloed van Noag se dag. Mense was so sleg dat Jehovah “gekrenk gevoel [het] in sy hart”. Hy het verklaar: “Ek gaan die mense wat ek geskep het, van die oppervlak van die aarde af wegvee” (Genesis 6:6, 7). En dit is presies wat hy gedoen het. Jesus het daardie tyd met ons tyd vergelyk en gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:37.
5 Dit is redelik om te aanvaar dat Jehovah dieselfde oor vandag se wêreld voel as oor die wêreld voor die Vloed. Aangesien hy die goddelose wêreld van Noag se dag tot ’n einde gebring het, sal hy beslis die goddelose wêreld van vandag vernietig. ’n Duidelike begrip van die parallel tussen daardie tyd en ons dag behoort ons oortuiging te versterk dat die einde van die huidige wêreld op hande is. Wat is die ooreenkomste dan? Daar is ten minste vyf. Die eerste is dat ’n duidelike waarskuwing oor die komende vernietiging bekend gemaak word.
Gewaarsku oor “dinge wat nog nie gesien is nie”
6. Wat het Jehovah besluit om in Noag se dag te doen?
6 In Noag se dag het Jehovah gesê: “My gees sal nie vir ’n onbepaalde tyd teenoor die mens optree nie, aangesien hy ook vlees is. Gevolglik sal sy dae honderd-en-twintig jaar wees” (Genesis 6:3). Toe hierdie goddelike verordening in 2490 v.G.J. uitgevaardig is, het dit die begin van die einde vir daardie goddelose wêreld aangedui. Dink net wat dit beteken het vir mense wat destyds gelewe het! Nog net 120 jaar en Jehovah sou “die sondvloed van waters op die aarde [bring] om alle vlees waarin die lewenskrag werksaam is, onder die hemel uit te verdelg”.—Genesis 6:17.
7. (a) Hoe het Noag op die waarskuwing oor die Vloed gereageer? (b) Hoe moet ons reageer op waarskuwings oor die einde van hierdie stelsel?
7 Noag het die waarskuwing oor die komende ramp dekades vooruit ontvang, en hy het die tyd wyslik gebruik om voorbereidings vir oorlewing te tref. “Nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie”, sê die apostel Paulus, “[het Noag] godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou tot redding van sy huisgesin” (Hebreërs 11:7). Wat van ons? Sowat 90 jaar het reeds verloop sedert die laaste dae van hierdie stelsel van dinge in 1914 begin het. Ons lewe beslis in “die tyd van die einde” (Daniël 12:4). Hoe moet ons reageer op waarskuwings wat ons ontvang het? “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”, sê die Bybel (1 Johannes 2:17). Dit is derhalwe nou die tyd om Jehovah se wil met ’n intense gevoel van dringendheid te doen.
8, 9. Watter waarskuwings is in hedendaagse tye gegee, en hoe word dit bekend gemaak?
8 In hedendaagse tye het opregte studente van die Bybel uit die geïnspireerde Skrif geleer dat hierdie stelsel tot vernietiging gedoem is. Glo ons dit? Let op wat Jesus Christus uitdruklik gesê het: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Jesus het ook gesê dat hy as God se aangestelde Regter sal kom en mense sal skei soos ’n herder die skape van die bokke skei. Diegene wat onwaardig geag word, sal “weggaan, die ewige vernietiging in, maar die regverdiges die ewige lewe in”.—Matteus 25:31-33, 46.
9 Deur middel van die geestelike voedsel wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien, het Jehovah sy knegte tydige herinneringe gegee sodat hulle bewus kan bly van hierdie waarskuwings (Matteus 24:45-47). Ook word daar ’n beroep gedoen op elke nasie, stam, taal en volk om ‘God te vrees en hom heerlikheid te gee, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek’ (Openbaring 14:6, 7). Die waarskuwing dat God se Koninkryk binnekort menseheerskappy sal verwyder, maak ’n belangrike deel uit van die Koninkryksboodskap wat wêreldwyd deur Jehovah se Getuies verkondig word (Daniël 2:44). Hierdie waarskuwing moenie lig opgeneem word nie. God die Almagtige hou altyd sy woord (Jesaja 55:10, 11). Hy het dit in Noag se dag gedoen, en hy sal dit ook in ons dag doen.—2 Petrus 3:3-7.
Seksuele verdorwenheid vier hoogty
10. Wat kan gesê word oor die seksuele verdorwenheid in Noag se dag?
10 Ons tyd kom in nog ’n opsig ooreen met Noag se dag. Jehovah het die eerste man en vrou beveel om ‘die aarde te vul’ met hulle nageslag deur hulle godgegewe seksuele vermoëns op eerbare wyse binne die huweliksreëling te gebruik (Genesis 1:28). In Noag se dag het ongehoorsame engele die mensdom met onnatuurlike geslagsomgang besmet. Hulle het na die aarde gekom, menslike liggame aangeneem, gemeenskap met pragtige vroue gehad en kinders verwek wat halfmens, halfdemoon was—die Nefilim (Genesis 6:2, 4). Die sonde van hierdie wellustige engele word vergelyk met die verdorwenhede van Sodom en Gomorra (Judas 6, 7). Die gevolg was dat seksuele verdorwenheid hoogty gevier het in daardie dae.
11. Watter sedelike klimaat laat ons tyd ooreenkom met die dae van Noag?
11 Wat van die sedelike klimaat in ons tyd? In hierdie laaste dae draai die lewe van baie mense om seks. Paulus gee ’n duidelike beskrywing van sulke mense deur te sê dat hulle “alle sedelikheidsgevoel verloor het”; baie het hulle aan “losbandige gedrag oorgegee om met hebsug elke soort onreinheid te bedryf” (Efesiërs 4:19). Pornografie, voorhuwelikse geslagsomgang, seksuele molestering van kinders en homoseksualiteit is aan die orde van die dag. Party ontvang reeds “in hulleself die volle vergelding” in die vorm van seksueel oordraagbare siektes, verbrokkeling van gesinslewe en ander maatskaplike euwels.—Romeine 1:26, 27.
12. Waarom moet ons ’n haat opbou vir wat sleg is?
12 In Noag se dag het Jehovah die groot Vloed gestuur en ’n einde gemaak aan daardie seksbehepte wêreld. Ons moet nooit die feit uit die oog verloor dat ons dae waarlik net soos die dae van Noag is nie. Die komende “groot verdrukking” sal die aarde reinig van ‘hoereerders, egbrekers, mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word en mans wat by mans lê’ (Matteus 24:21; 1 Korintiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8). Hoe dringend is dit tog dat ons ’n haat opbou vir wat sleg is en enige situasies vermy wat tot onsedelikheid kan lei!—Psalm 97:10; 1 Korintiërs 6:18.
Die aarde raak “vol geweld”
13. Waarom was die aarde “vol geweld” in Noag se dag?
13 Die Bybel meld nog ’n kenmerk van Noag se dag: “Die aarde het verdorwe geraak voor die oë van die ware God en die aarde het vol geweld geraak” (Genesis 6:11). Geweld was nie eintlik iets nuuts nie. Adam se seun Kain het sy regverdige broer vermoor (Genesis 4:8). Lameg het die gewelddadige gesindheid van sy dag weerspieël toe hy in ’n gedig gespog het oor hoe hy ’n jong man, glo uit selfverdediging, doodgemaak het (Genesis 4:23, 24). Wat wel nuut was in Noag se dag, was die graad van geweld. Toe die ongehoorsame engeleseuns van God met vroue op die aarde getrou en ’n nageslag—die Nefilim—voortgebring het, het geweld op die aarde ’n ongekende vlak bereik. Hierdie gewelddadige reuse was “die Neervellers”—“dié wat ander laat val het” (Genesis 6:4, voetnoot in NW). Gevolglik was die aarde “vol geweld” (Genesis 6:13). Stel jou voor watter probleme Noag ondervind het terwyl hy sy gesin in so ’n milieu grootgemaak het! Tog was Noag ‘regverdig voor Jehovah in daardie geslag’.—Genesis 7:1.
14. In watter mate het die wêreld vandag “vol geweld” geraak?
14 Geweld was deur die eeue heen deel van mense se lewens. Maar soos in Noag se tyd vind geweld ook in ons tyd op ’n ongeëwenaarde skaal plaas. Ons hoor gereeld van gesinsgeweld, terreurdade, volkslagtings en gevalle waar mense sinneloos afgemaai word deur ’n gewapende persoon. Voeg hierby die bloedvergieting tydens oorloë. Die aarde het weer vol geweld geraak. Waarom? Wat het tot die toename bygedra? Die antwoord toon nog ’n ooreenkoms met Noag se dag.
15. (a) Wat het bygedra tot die toename in geweld in die laaste dae? (b) Van watter uiteinde kan ons seker wees?
15 Toe God se Messiaanse Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is, het die gekroonde Koning, Jesus Christus, iets epogmakends gedoen. Satan die Duiwel en sy demone is uit die hemel na die omgewing van die aarde neergewerp (Openbaring 12:9-12). Voor die Vloed het die ongehoorsame engele hulle hemelse posisie uit vrye wil verlaat; maar in hedendaagse tye is hulle met geweld uitgewerp. Daarbenewens het hulle nie meer die vermoë om menseliggame op aarde aan te neem sodat hulle hulle ongeoorloofde seksuele begeertes kan bevredig nie. Uit frustrasie, woede en vrees vir hulle naderende oordeel, beïnvloed hulle dus mense en organisasies om wrede misdade en gewelddade te pleeg wat baie erger is as dié van Noag se dag. Jehovah het die wêreld voor die Vloed vernietig nadat ongehoorsame engele en hulle nageslag dit met boosheid gevul het. Een ding is seker, hy sal dieselfde in ons dag doen! (Psalm 37:10). Maar dié wat vandag waaksaam bly, weet dat hulle verlossing naby is.
Die boodskap word verkondig
16, 17. Wat is die vierde ooreenkoms tussen die dae van Noag en ons dag?
16 Die vierde ooreenkoms tussen vandag en die wêreld voor die Vloed word gevind in die werk wat Noag beveel is om te doen. Noag het ’n groot ark gebou. Hy was ook “’n prediker” (2 Petrus 2:5). Watter boodskap het hy verkondig? Noag het blykbaar mense aangespoor om berou te toon en hulle gewaarsku oor die komende vernietiging. Jesus het gesê dat die mense van Noag se dag “geen ag daarop geslaan [het] totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie”.—Matteus 24:38, 39.
17 Net so kom Jehovah se Getuies hulle predikingsopdrag ywerig na sodat die boodskap van God se Koninkryk wêreldwyd verkondig word. In feitlik elke deel van die aarde kan mense die Koninkryksboodskap in hulle eie taal hoor en lees. Die tydskrif Die Wagtoring, wat Jehovah se Koninkryk aankondig, het ’n verspreiding van meer as 25 000 000 en word in meer as 140 tale gedruk. Ja, die goeie nuus van God se Koninkryk word inderdaad “in die hele bewoonde aarde verkondig . . . as ’n getuienis vir al die nasies”. Wanneer daardie werk voltooi is tot die mate wat God goeddink, sal die einde beslis kom.—Matteus 24:14.
18. Hoe vergelyk die reaksie van baie mense op ons predikingswerk met dié van die meeste mense in Noag se dag?
18 Wanneer ’n mens dink aan die geestelike en sedelike verdorwenheid in die dae voor die Vloed, kan jy jou net voorstel hoe Noag se gesin deur ongelowiges om hulle uitgelag, beledig en bespot is. Die einde het egter wel gekom. In die laaste dae is daar ook baie ‘spotters met hulle spotterny’. “Tog sal Jehovah se dag soos ’n dief kom”, sê die Bybel (2 Petrus 3:3, 4, 10). Dit sál op die vasgestelde tyd kom. Dit sal nie laat wees nie (Habakuk 2:3). Hoe verstandig is dit tog om aan te hou waak!
Min oorlewendes
19, 20. Watter parallel is daar tussen die Vloed en die vernietiging van die huidige stelsel van dinge?
19 Die parallel tussen Noag se dag en ons dag eindig nie met die boosheid van die mense en hulle vernietiging nie. Net soos daar oorlewendes van die Vloed was, sal daar ook persone wees wat die einde van die huidige stelsel van dinge oorleef. Dié wat die Vloed oorleef het, was sagmoediges wat nie soos die meeste mense om hulle gelewe het nie. Hulle het ag geslaan op God se waarskuwing en afgeskeie gebly van die goddelose wêreld van daardie tyd. “Noag het guns in die oë van Jehovah gevind”, sê die Bybel. “[Noag] was onberispelik onder sy tydgenote” (Genesis 6:8, 9). Uit die hele mensdom is net een gesin, “’n paar mense, naamlik agt siele, veilig deur die water heen gevoer” (1 Petrus 3:20). En aan hulle het Jehovah God hierdie opdrag gegee: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde.”—Genesis 9:1.
20 God se Woord verseker ons dat “’n groot menigte . . . uit die groot verdrukking [sal] kom” (Openbaring 7:9, 14). Hoeveel sal daardie groot menigte uitmaak? Jesus self het gesê: “Nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). In vergelyking met die miljarde wat vandag op die aarde is, sal min die komende groot verdrukking oorleef. Maar hulle sal heel moontlik ’n soortgelyke voorreg hê as dié wat die Vloedoorlewendes gehad het. Die oorlewendes sal dalk ’n tyd lank kinders kan voortbring as deel van die nuwe aardse gemeenskap.—Jesaja 65:23.
‘Hou aan waak’
21, 22. (a) Hoe het jy baat gevind by hierdie bespreking van die Vloedverslag? (b) Wat is die jaarteks vir 2004, en waarom moet ons ag slaan op daardie raad?
21 Hoewel dit dalk lyk of die Vloed geen betrekking op ons tyd het nie omdat dit so lank gelede plaasgevind het, voorsien dit beslis ’n waarskuwing wat ons nie moet ignoreer nie (Romeine 15:4). Die ooreenkomste tussen Noag se dag en ons dag moet ons al hoe meer bewus maak van die betekenis van gebeure en ons herinner aan die feit dat Jesus soos ’n dief sal kom om oordeel oor die goddeloses te voltrek.
22 Jesus Christus rig vandag ’n ontsaglike geestelike bouwerk. Vir die veiligheid en oorlewing van ware aanbidders is daar ’n arkagtige geestelike paradys (2 Korintiërs 12:3, 4). As ons die groot verdrukking wil oorleef, moet ons in daardie paradys bly. Die gebied van die geestelike paradys word omring deur Satan se wêreld, wat gereed is om enigiemand wat geestelik lomerig raak, in sy greep te kry. Dit is dus dringend dat ons ‘aanhou waak’ en gereed is vir Jehovah se dag.—Matteus 24:42, 44.
Onthou jy?
• Watter vermaning het Jesus aangaande sy koms gegee?
• Waarmee vergelyk Jesus die tyd van sy teenwoordigheid?
• Watter ooreenkomste is daar tussen ons tyd en die dae van Noag?
• Hoe moet dit ons gevoel van dringendheid raak as ons peins oor die ooreenkomste tussen Noag se dag en ons dag?
[Lokteks op bladsy 18]
Die jaarteks vir 2004 sal wees: ‘Hou aan waak. Wees gereed.’—Matteus 24:42, 44.
[Prent op bladsy 15]
Noag het ag geslaan op ’n goddelike waarskuwing. Doen ons dit?
[Prent op bladsy 16, 17]
“Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees”