Volg die voorbeeld wat Jesus gestel het
“Ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen.”—JOHANNES 13:15.
1. Waarom is Jesus vir Christene ’n voorbeeld om te volg?
IN DIE hele mensegeskiedenis is daar net een persoon wat gedurende sy hele lewe nooit gesondig het nie. Dit is Jesus. Benewens Jesus ‘is daar geen mens wat nie sondig nie’ (1 Konings 8:46; Romeine 3:23). Daarom beskou opregte Christene Jesus as ’n volmaakte voorbeeld om te volg. Jesus self het op 14 Nisan 33 G.J., kort voor sy dood, vir sy volgelinge gesê om hom na te volg. Hy het gesê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen” (Johannes 13:15). Gedurende daardie laaste aand het Jesus ’n aantal maniere gemeld waarop Christene daarna moet streef om soos hy te wees. Ons sal in hierdie artikel ’n paar hiervan bespreek.
Nederigheid is noodsaaklik
2, 3. In watter opsigte was Jesus ’n volmaakte voorbeeld van nederigheid?
2 Toe Jesus sy dissipels aangespoor het om die voorbeeld te volg wat hy gestel het, het hy spesifiek van nederigheid gepraat. Hy het sy volgelinge by meer as een geleentheid gemaan om nederig te wees, en op die aand van 14 Nisan het hy sy eie nederigheid getoon deur die voete van sy apostels te was. Toe het Jesus gesê: “As ek dan, hoewel Here en Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was” (Johannes 13:14). Daarna het hy vir sy apostels gesê om die voorbeeld te volg wat hy gestel het. En wat ’n uitstekende voorbeeld van nederigheid was dit tog!
3 Die apostel Paulus vertel vir ons dat Jesus “in God se gedaante bestaan het” voordat hy aarde toe gekom het. Nietemin het hy homself ontledig en ’n nederige mens geword. Wat meer is, “hy [het] homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal” (Filippense 2:6-8). Dink net daaraan. Jesus, die tweede hoogste persoon in die heelal, het ingestem om laer as die engele te word, as ’n hulpelose baba gebore te word, in onderworpenheid aan onvolmaakte ouers groot te word en uiteindelik soos ’n veragte misdadiger te sterf (Kolossense 1:15, 16; Hebreërs 2:6, 7). Inderdaad groot nederigheid! Is dit moontlik om daardie “geestesgesindheid” na te volg en sulke “ootmoed” aan te kweek? (Filippense 2:3-5). Ja, maar dit is nie maklik nie.
4. Watter dinge maak mense trots, maar waarom is trots gevaarlik?
4 Die teenoorgestelde van nederigheid is trots (Spreuke 6:16-19). Trots het tot Satan se ondergang gelei (1 Timoteus 3:6). Dit skiet maklik wortel in menseharte, en as dit eers daar is, is dit moeilik om daarvan ontslae te raak. Mense is trots as gevolg van hulle nasionaliteit, hulle ras, hulle besittings, hulle geleerdheid, hulle sekulêre prestasies, hulle sosiale stand, hulle voorkoms, hulle sportvermoëns en baie ander dinge. Tog is nie een van hierdie dinge vir Jehovah belangrik nie (1 Korintiërs 4:7). En as dit ons laat trots word, skaad dit ons verhouding met hom. “Jehovah is hoog, en tog sien hy die nederige; maar die verwaande ken hy net van ver af.”—Psalm 138:6; Spreuke 8:13.
Nederig tussen ons broers
5. Waarom is dit noodsaaklik dat ouer manne nederig moet wees?
5 Selfs ons bydraes tot en resultate in Jehovah se diens moet ons nie trots maak nie; ook verantwoordelikhede in die gemeente moet dit nie doen nie (1 Kronieke 29:14; 1 Timoteus 6:17, 18). Trouens, hoe gewigtiger ons verantwoordelikhede is, hoe nederiger moet ons wees. Die apostel Petrus het ouer manne aangespoor om ‘nie baas te speel oor dié wat God se erfenis is nie, maar om voorbeelde vir die kudde te word’ (1 Petrus 5:3). Ouer manne word aangestel om knegte en voorbeelde te wees, nie base en meesters nie.—Lukas 22:24-26; 2 Korintiërs 1:24.
6. Op watter gebiede van die Christelike lewenswyse het ons nederigheid nodig?
6 Ouer manne is nie die enigstes wat nederig moet wees nie. Aan jonger mans, wat dalk trots is op hulle flinker verstande en sterker liggame in vergelyking met dié van ouer persone, het Petrus geskryf: “Omgord julle . . . met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). Ja, Christelike nederigheid is vir almal noodsaaklik. Dit verg nederigheid om die goeie nuus te verkondig, veral wanneer ons onverskilligheid of vyandigheid teëkom. Dit verg nederigheid om raad te aanvaar of om ons lewe te vereenvoudig sodat ons ’n groter aandeel aan die bediening kan hê. Daarbenewens het ons nederigheid sowel as moedige geloof nodig wanneer ons ongunstige publisiteit, aanvalle in die howe of hewige vervolging verduur.—1 Petrus 5:6.
7, 8. Wat is ’n paar maniere waarop ons nederigheid kan aankweek?
7 Hoe kan ’n persoon trots te bowe kom en hom “met ootmoed” gedra terwyl hy ‘die ander hoër as homself ag’? (Filippense 2:3). Hy moet homself beskou soos Jehovah hom beskou. Jesus het verduidelik wat die regte gesindheid is toe hy gesê het: “Ook moet julle, wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê: ‘Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het’” (Lukas 17:10). Onthou, niks wat ons kan doen, weeg op teen wat Jesus gedoen het nie. Tog was Jesus nederig.
8 Verder kan ons Jehovah se hulp vra om die regte beskouing van onsself aan te kweek. Ons kan soos die psalmis bid: “Leer my goedheid, verstandigheid en kennis, want in u gebooie het ek geloof beoefen” (Psalm 119:66). Jehovah sal ons help om ’n verstandige, gebalanseerde beskouing van onsself te verkry, en hy sal ons seën vir ons nederige gesindheid (Spreuke 18:12). Jesus het gesê: “Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, en elkeen wat hom verneder, sal verhef word.”—Matteus 23:12.
’n Gepaste beskouing van reg en verkeerd
9. Hoe het Jesus reg en verkeerd beskou?
9 Al het Jesus 33 jaar lank tussen onvolmaakte mense gelewe, het hy “sonder sonde” gebly (Hebreërs 4:15). Trouens, toe die psalmis oor die Messias geprofeteer het, het hy gesê: “U het regverdigheid liefgehad en u haat goddeloosheid” (Psalm 45:7; Hebreërs 1:9). Ook in hierdie opsig streef Christene daarna om Jesus na te volg. Hulle onderskei nie net tussen reg en verkeerd nie; hulle haat wat verkeerd is en het lief wat reg is (Amos 5:15). Dit help hulle om teen hulle ingebore sondige neigings te stry.—Genesis 8:21; Romeine 7:21-25.
10. Watter gesindheid openbaar ons as ons “veragtelike dinge” onberouvol beoefen?
10 Jesus het vir die Fariseër Nikodemus gesê: “Hy wat veragtelike dinge beoefen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy werke nie tereggewys sal word nie. Maar hy wat doen wat waar is, kom na die lig, sodat sy werke openbaar gemaak kan word as werke wat in ooreenstemming met God verrig is” (Johannes 3:20, 21). Dink daaraan: Johannes het Jesus geïdentifiseer as “die ware lig wat vir elke soort mens lig gee” (Johannes 1:9, 10). Maar Jesus het gesê dat ons die lig haat as ons “veragtelike dinge” beoefen—dinge wat verkeerd, onaanvaarbaar vir God is. Kan jy jou voorstel dat jy Jesus en die dinge wat hy verteenwoordig, haat? Tog is dit die posisie van diegene wat sonde onberouvol beoefen. Miskien beskou hulle dinge nie in hierdie lig nie, maar dit is beslis hoe Jesus dit beskou.
Hoe om Jesus se beskouing van reg en verkeerd aan te kweek
11. Wat is noodsaaklik as ons Jesus se beskouing van reg en verkeerd wil aankweek?
11 Ons moet ’n duidelike begrip hê van wat in Jehovah se oë reg en verkeerd is. Ons verkry hierdie begrip slegs deur God se Woord, die Bybel, te bestudeer. Wanneer ons dit doen, moet ons soos die psalmis bid: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie” (Psalm 25:4). Maar onthou dat Satan bedrieglik is (2 Korintiërs 11:14). Hy kan verbloem wat verkeerd is en dit aanvaarbaar laat lyk vir ’n Christen wat nie op sy hoede is nie. Ons moet dus diep peins oor wat ons leer en noukeurig ag slaan op die raad van “die getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45-47). Studie, gebed en bepeinsing oor wat ons leer, sal ons help om tot volwassenheid te groei en onder diegene te wees wie se “waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Dan sal ons geneig wees om te haat wat verkeerd is en lief te hê wat reg is.
12. Watter Bybelraad help ons om nie wetteloosheid te beoefen nie?
12 As ons haat wat verkeerd is, sal ons nie toelaat dat ’n begeerte na verkeerde dinge in ons hart ontwikkel nie. Die apostel Johannes het baie jare ná Jesus se dood geskryf: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie; want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.”—1 Johannes 2:15, 16.
13, 14. (a) Waarom is dit vir Christene gevaarlik om die dinge van die wêreld lief te kry? (b) Hoe kan ons dit vermy om lief te word vir dinge in die wêreld?
13 Party redeneer dalk dat nie alles in die wêreld verkeerd is nie. Nietemin kan die wêreld en sy verloklikhede ons aandag maklik van Jehovah se diens aflei. En niks wat die wêreld bied, is bedoel om ons nader aan God te laat kom nie. As ons dus die dinge in die wêreld liefkry, selfs dinge wat op sigself nie verkeerd is nie, bewandel ons ’n gevaarlike weg (1 Timoteus 6:9, 10). Buitendien is baie van die dinge in die wêreld beslis sleg en kan dit ons verderf. As ons na rolprente of televisieprogramme kyk wat geweld, materialisme of geslagsonsedelikheid beklemtoon, kan daardie dinge vir ons aanvaarbaar word—en dan aanloklik. As ons omgaan met mense wat hoofsaaklik daarin belangstel om hulle lewenstyl te verbeter of sakegeleenthede te benut, kan daardie dinge ook vir ons van die grootste belang word.—Matteus 6:24; 1 Korintiërs 15:33.
14 Maar as ons behae skep in Jehovah se Woord, sal “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” in groot mate hulle aantreklikheid verloor. En as ons omgaan met diegene wat die belange van God se Koninkryk eerste stel, sal ons soos hulle word: ons sal liefhê wat hulle liefhet en vermy wat hulle vermy.—Psalm 15:4; Spreuke 13:20.
15. Hoe sal dit ons versterk as ons, soos Jesus, ’n liefde vir regverdigheid en ’n haat vir wetteloosheid het?
15 ’n Haat vir wetteloosheid en ’n liefde vir regverdigheid het Jesus gehelp om sy oë gerig te hou op “die vreugde wat hom voorgehou is” (Hebreërs 12:2). Dit kan ook met ons die geval wees. Ons weet “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte”. Enige bevrediging wat hierdie wêreld bied, is slegs tydelik. Maar “hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Omdat Jesus God se wil gedoen het, het hy dit vir mense moontlik gemaak om die ewige lewe te verkry (1 Johannes 5:13). Mag ons almal hom navolg en by sy onkreukbaarheid baat vind.
Te midde van vervolging
16. Waarom het Jesus sy volgelinge aangespoor om mekaar lief te hê?
16 Jesus het gewys op nog ’n manier waarop sy dissipels hom sou navolg en gesê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het” (Johannes 15:12, 13, 17). Daar is baie redes waarom Christene hulle broers liefhet. By hierdie geleentheid het Jesus bowenal gedink aan die haat wat hulle van die wêreld sou verduur. Hy het gesê: “As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voor dit julle gehaat het. . . . ’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:18, 20). Ja, selfs wat vervolging betref, is Christene soos Jesus. Hulle moet ’n sterk, liefdevolle band ontwikkel om hulle te help om daardie haat te weerstaan.
17. Waarom haat die wêreld ware Christene?
17 Waarom sou die wêreld Christene haat? Omdat hulle, soos Jesus, “geen deel van die wêreld” is nie (Johannes 17:14, 16). Hulle is neutraal ten opsigte van militêre en politieke aangeleenthede, en hulle bly by Bybelbeginsels deur die heiligheid van die lewe te respekteer en ’n hoë sedelike standaard te handhaaf (Handelinge 15:28, 29; 1 Korintiërs 6:9-11). Hulle vernaamste doelwitte is geestelik, nie materieel nie. Hulle lewe in die wêreld, maar hulle ‘gebruik dit nie ten volle nie’, soos Paulus geskryf het (1 Korintiërs 7:31). Party mense het weliswaar bewondering uitgespreek vir die hoë standaarde van Jehovah se Getuies. Maar Jehovah se Getuies gaan nie kompromisse aan in ’n poging om bewondering te verkry of aanvaar te word nie. Gevolglik verstaan die meeste mense in die wêreld hulle nie, en baie haat hulle.
18, 19. Hoe bied Christene, in navolging van Jesus se voorbeeld, teenstand en vervolging die hoof?
18 Jesus se apostels het die wêreld se intense haat gesien toe Jesus in hegtenis geneem en tereggestel is, en hulle het gesien hoe Jesus hierdie haat die hoof bied. In die tuin van Getsemane het Jesus se godsdiensteenstanders gekom om hom in hegtenis te neem. Petrus het hom met ’n swaard probeer beskerm, maar Jesus het vir Petrus gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52; Lukas 22:50, 51). In vroeëre tye het die Israeliete met die swaard teen hulle vyande geveg. Maar nou was dinge anders. God se Koninkryk was “geen deel van hierdie wêreld nie” en het geen landsgrense gehad om te beskerm nie (Johannes 18:36). Petrus sou binnekort deel wees van ’n geestelike nasie, waarvan die lede se burgerskap in die hemel sou wees (Galasiërs 6:16; Filippense 3:20, 21). Van toe af sou Jesus se volgelinge dus haat en vervolging die hoof bied soos Jesus dit gedoen het—onbevrees maar vreedsaam. Hulle sou die uitslag van sake met vertroue in Jehovah se hande laat en op hom vertrou vir die krag om te volhard.—Lukas 22:42.
19 Petrus het jare later geskryf: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg. . . . Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar hom bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:21-23). Net soos Jesus gewaarsku het, het Christene deur die jare heen wrede vervolging verduur. In die eerste eeu sowel as in ons tyd het hulle Jesus se voorbeeld gevolg en ’n wonderlike rekord van getroue volharding opgebou en getoon dat hulle vreedsame handhawers van onkreukbaarheid is (Openbaring 2:9, 10). Mag elkeen van ons dit ook doen wanneer omstandighede dit vereis.—2 Timoteus 3:12.
“Beklee julle met die Here Jesus Christus”
20-22. In watter opsig ‘beklee Christene hulle met die Here Jesus Christus’?
20 Paulus het aan die gemeente in Rome geskryf: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en moenie vooruitbeplan vir die begeertes van die vlees nie” (Romeine 13:14). Christene dra Jesus as ’t ware soos ’n kledingstuk. Hulle streef daarna om sy eienskappe en dade in so ’n mate na te volg dat hulle ’n weerspieëling—al is dit ’n onvolmaakte—van hulle Heer word.—1 Tessalonisense 1:6.
21 Ons kan ons met welslae ‘met die Here Jesus Christus beklee’ as ons vertroud raak met die Heer se lewe en daarna streef om te lewe soos hy gelewe het. Ons volg sy nederigheid na, sy liefde vir regverdigheid, sy haat vir wetteloosheid, sy liefde vir sy broers, die feit dat hy geen deel van die wêreld was nie en sy geduldige volharding onder lyding. Ons ‘beplan nie vooruit vir die begeertes van die vlees nie’—dit wil sê, ons maak dit nie ons hoofdoel in die lewe om sekulêre doelwitte te bereik of vleeslike begeertes te bevredig nie. Wanneer ons ’n besluit moet neem of ’n probleem moet oplos, vra ons eerder: ‘Wat sou Jesus in hierdie situasie doen? Wat sou hy wou hê moet ek doen?’
22 Laastens volg ons Jesus na deur met die ‘verkondiging van die goeie nuus’ besig te bly (Matteus 4:23; 1 Korintiërs 15:58). Ook in hierdie opsig volg Christene die voorbeeld wat Jesus gestel het, en die volgende artikel sal bespreek hoe hulle dit doen.
Kan jy verduidelik?
• Waarom is dit noodsaaklik dat ’n Christen nederig moet wees?
• Hoe kan ons ’n gepaste beskouing van reg en verkeerd aankweek?
• In watter opsig volg Christene Jesus na wanneer hulle teenstand en vervolging die hoof moet bied?
• Hoe kan ons ons ‘met die Here Jesus Christus beklee’?
[Prent op bladsy 7]
Jesus het die volmaakte voorbeeld van nederigheid gestel
[Prent op bladsy 8]
Elke aspek van ’n Christen se lewe, insluitende die predikingswerk, verg nederigheid
[Prent op bladsy 9]
Satan kan ongepaste vermaak vir ’n Christen aanvaarbaar laat lyk
[Prent op bladsy 10]
Die liefde van ons broers sal ons teen teenstand versterk