Vrae van lesers
Waar sal die demone gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus wees?
Die Bybel gee nie ’n uitdruklike antwoord op hierdie vraag nie. Maar ons kan tot ’n logiese gevolgtrekking kom oor waar die demone gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal wees.
Die apostel Johannes gee ’n voorskou van wat aan die begin en aan die einde van hierdie duisend jaar sal gebeur en sê: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind. En hy het hom in die afgrond geslinger en dit gesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou mislei totdat die duisend jaar geëindig het nie. Ná hierdie dinge moet hy vir ’n klein rukkie losgelaat word” (Openbaring 20:1-3). Hierdie verse praat net van Satan wat in die afgrond gewerp en later vir ’n klein rukkie losgelaat word. Hoewel die demone nie genoem word nie, spreek dit vanself dat die demone ingesluit sal wees wanneer die engel met die sleutel van die afgrond—die verheerlikte Jesus Christus—die Duiwel gryp en hom in die afgrond werp.—Openbaring 9:11.
Toe Jesus Christus in 1914 in die hemel Koning geword het, het hy iets gedoen wat ernstige gevolge vir Satan sowel as die demone gehad het. Openbaring 12:7-9 sê: “Oorlog het in die hemel uitgebreek: Migael en sy engele het teen die draak geveg, en die draak en sy engele [die demone] het geveg, maar hy het nie geseëvier nie, en ook is daar vir hulle geen plek meer in die hemel gevind nie. Toe is die groot draak neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger.” Satan en sy demone is sedertdien tot die omgewing van die aarde beperk. Ons kan logieserwys aanneem dat die demone ingesluit sal wees wanneer Jesus Christus Satan se bedrywighede verder beperk om die aarde van sy goddelose invloed te bevry.
Kyk ook na die heel eerste profesie van die Bybel. Dit lees: “Ek [God] sal vyandskap stel tussen jou [Satan] en die vrou [Jehovah se hemelse organisasie] en tussen jou [Satan se] saad en haar saad [Jesus Christus]. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Genesis 3:15). Die vermorseling van die slang se kop behels dat Satan gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus in die afgrond gewerp word. Die profesie sê verder dat daar vyandskap is tussen die Een wat die slang se kop vermorsel en Satan se saad. Hierdie saad, of organisasie, sluit ’n onsigbare deel in wat uit die goddelose engele, of demone, bestaan. Dit is dus redelik om tot die slotsom te kom dat Jesus, wanneer hy Satan in die afgrond werp, die demone ook sal bind en in die afgrond sal werp. Die feit dat die goddelose geeste getoon het dat hulle baie bang is vir die afgrond, dui aan dat hulle van hierdie komende opsluiting bewus is.—Lukas 8:31.
Maar is dit moontlik dat Openbaring 20:1-3 nie die demone noem nie omdat hulle by Armageddon saam met die sigbare deel van Satan se saad vernietig word? Die Bybel toon dat dit onwaarskynlik is. Dit sê aangaande Satan se uiteindelike lot: “Die Duiwel, wat hulle mislei het, is in die poel van vuur en swael geslinger, waar die wilde dier sowel as die valse profeet reeds was; en hulle sal dag en nag gepynig word vir ewig en altyd” (Openbaring 20:10). Die wilde dier en die valse profeet is politieke entiteite en maak deel uit van Satan se sigbare organisasie (Openbaring 13:1, 2, 11-14; 16:13, 14). Hulle word by Armageddon vernietig, wanneer God se Koninkryk al die koninkryke van die wêreld verbrysel en ’n einde daaraan maak (Daniël 2:44). Die Bybel praat van “die ewige vuur . . . wat vir die Duiwel en sy engele berei is” (Matteus 25:41). Satan en sy demone sal in dieselfde “poel van vuur en swael” as die wilde dier en die valse profeet gewerp word, want hulle sal ook vir ewig vernietig word. As die magtiger onsigbare geestelike deel van Satan se saad by Armageddon vernietig sou word, sou die Bybel tog sekerlik gesê het dat die demone reeds saam met die wilde dier en die valse profeet in daardie simboliese poel is. Die feit dat die demone nie in Openbaring 20:10 genoem word nie, toon dat hulle nie by Armageddon vernietig word nie.
Aangesien daar nie uitdruklik gesê word dat die demone in die afgrond gewerp word nie, word daar ook nie spesifiek gemeld dat hulle daaruit losgelaat word nie. Maar hulle het dieselfde lot as die Duiwel. Nadat die demone saam met die Duiwel losgelaat is en tydens die finale toets van die mensdom aan die einde van die duisend jaar met hom saamgewerk het, sal hulle ook in die poel van vuur gewerp word en sodoende vir ewig vernietig word.—Openbaring 20:7-9.
Al praat Openbaring 20:1-3 net van Satan wat gegryp en in die afgrond van onbedrywigheid gewerp word, kan ons dus logieserwys tot die gevolgtrekking kom dat sy engele ook gebind en in die afgrond gewerp sal word. Nie Satan of sy demoonhordes sal toegelaat word om in te meng met die verwesenliking van God se voorneme om die aarde gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus in ’n paradys te omskep en die mensdom tot volmaaktheid te herstel nie.