Job—’n Man van volharding en onkreukbaarheid
“Het jy jou hart op my kneg Job gerig, dat daar niemand soos hy op die aarde is nie, ’n onberispelike en regskape man, wat God vrees en afwyk van die kwaad?”—JOB 1:8.
1, 2. (a) Voor watter onverwagte tragedies het Job te staan gekom? (b) Beskryf Job se lewe voordat die tragedies hom getref het.
DAAR was ’n man wat blykbaar alles gehad het—rykdom, aansien, goeie gesondheid en ’n gelukkige gesinslewe. Toe het drie tragedies hom kort na mekaar getref. Hy het sy rykdom oornag verloor. Daarna het ’n fratsstorm die lewe van al sy kinders geëis. Kort daarna het hy ’n aftakelende siekte opgedoen, wat veroorsaak het dat sy liggaam vol pynlike swere was. Jy herken moontlik die man as Job, ’n sleutelfiguur in die Bybelboek wat sy naam dra.—Job, hoofstukke 1 en 2.
2 “Ag, as ek maar was soos in die maanmaande van lank gelede”, het hy gesug (Job 3:3; 29:2). Wie verlang nie terug na die vorige dae wanneer hulle deur teëspoed getref word nie? Job het goed gelewe en was skynbaar beskerm teen enige rampspoed. Vername mense het hom gerespekteer en hom om raad gevra (Job 29:5-11). Hy was ryk, maar hy het die regte beskouing van geld gehad (Job 31:24, 25, 28). Wanneer hy behoeftige weduwees of wese teëgekom het, het hy hulle gehelp (Job 29:12-16). En hy het aan sy vrou getrou gebly.—Job 31:1, 9, 11.
3. Hoe het Jehovah Job beskou?
3 Job het ’n onberispelike lewe gelei omdat hy God aanbid het. “Daar [is] niemand soos hy op die aarde . . . nie”, het Jehovah gesê, “’n onberispelike en regskape man, wat God vrees en afwyk van die kwaad” (Job 1:1, 8). Maar ten spyte van Job se sedelike onkreukbaarheid het tragedies sy gerieflike lewenstyl verwoes. Alles waarvoor hy gewerk het, was skielik weg, en sy ware karakter is deur pyn, lyding en frustrasie getoets.
4. Waarom sal dit nuttig wees om oor Job se beproewing na te dink?
4 Job is natuurlik nie die enigste kneg van God wat deur ’n persoonlike ramp getref is nie. Vandag kan baie Christene hulle maklik met sy ondervinding vereenselwig. Om dié rede is daar twee vrae wat ons gerus kan ondersoek: Hoe kan Job se beproewing ons help wanneer ons voor ’n tragedie te staan kom? En hoe kan dit ons leer om meer empatie te hê vir ander wat ly?
’n Geskil oor lojaliteit en ’n toets van onkreukbaarheid
5. Wat was volgens Satan die rede waarom Job God gedien het?
5 Job se geval was buitengewoon. Job het nie geweet dat die Duiwel sy beweegredes om God te dien, bevraagteken het nie. Toe Jehovah tydens ’n vergadering van geesskepsele in die hemel die aandag op Job se goeie eienskappe gevestig het, het Satan geantwoord: “Het u nie self om hom en om sy huis en om alles wat hy het, aan alle kante, ’n heining geplaas nie?” Satan het sodoende beweer dat selfsug Job se beweegrede was—en by implikasie dié van alle ander knegte van God. “Steek . . . asseblief u hand uit en raak alles aan wat hy het en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie”, het Satan vir Jehovah gesê.—Job 1:8-11.
6. Watter belangrike geskil het Satan geopper?
6 Dit was ’n belangrike geskil. Satan het die manier waarop Jehovah sy soewereiniteit uitoefen, bevraagteken. Is dit werklik vir God moontlik om die heelal deur liefde te regeer? Of sal selfsug, soos Satan geïmpliseer het, altyd op die ou end seëvier? Jehovah het die Duiwel toegelaat om Job te betrek as ’n toetsgeval, met volle vertroue in die onkreukbaarheid en lojaliteit van Sy kneg. Satan self het dus die rampe veroorsaak wat Job kort na mekaar getref het. Toe Satan se eerste aanvalle onsuksesvol was, het hy Job met ’n pynlike siekte geteister. “Vel vir vel, en alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel”, het die Duiwel beweer.—Job 2:4.
7. In watter opsigte is God se knegte vandag blootgestel aan beproewinge wat ooreenkom met dié van Job?
7 Hoewel die meeste Christene vandag nie tot dieselfde mate as Job ly nie, word hulle wel deur verskeie soorte verdrukkinge geteister. Baie kom voor vervolging of gesinsprobleme te staan. Ekonomiese ontberinge of swak gesondheid kan oorweldigend wees. Party het hulle lewe ter wille van hulle geloof afgelê. Ons moet natuurlik nie aanneem dat Satan persoonlik verantwoordelik is vir elke tragedie wat ons tref nie. Party probleme kan in werklikheid die gevolg van ons eie foute of van ’n oorgeërfde fisiese toestand wees (Galasiërs 6:7). En ons almal is blootgestel aan die probleme van die ouderdom en natuurrampe. Die Bybel maak dit duidelik dat Jehovah nie sy knegte vandag wonderdadig beskerm teen hierdie ellendes nie.—Prediker 9:11.
8. Hoe kan Satan die verdrukking wat ons ly, probeer uitbuit?
8 Satan kan nietemin die verdrukking wat ons ly, gebruik om ons geloof te ondermyn. Die apostel Paulus het gemeld dat hy geteister is deur “’n doring in die vlees . . . , ’n engel van Satan”, wat hom “bly slaan” het (2 Korintiërs 12:7). Hetsy dit ’n fisiese probleem, soos swak sig, of iets anders was, Paulus het besef dat Satan die probleem en die gevolglike frustrasie kon uitbuit om Paulus van sy vreugde en onkreukbaarheid te beroof (Spreuke 24:10). Vandag kan Satan gesinslede, skoolmaats of selfs diktatoriale regerings gebruik om God se knegte op die een of ander manier te vervolg.
9. Waarom moet teëspoed of vervolging ons nie uitermate verbaas nie?
9 Hoe kan ons hierdie probleme met welslae die hoof bied? Deur dit as ’n geleentheid te beskou om te toon dat ons vasstaan in ons liefde vir Jehovah en ons onderworpenheid aan sy soewereiniteit (Jakobus 1:2-4). Ongeag die rede vir ons benoudheid, as ons verstaan hoe belangrik lojaliteit aan God is, sal dit ons help om ons geestelike balans te behou. Die apostel Petrus het aan Christene geskryf: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die brand onder julle, wat as ’n beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie” (1 Petrus 4:12). En Paulus het verduidelik: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Satan bevraagteken nog steeds die onkreukbaarheid van die Getuies van Jehovah, soos hy in die geval van Job gedoen het. Trouens, die Bybel toon dat Satan gedurende hierdie laaste dae sy aanvalle op God se knegte verskerp het.—Openbaring 12:9, 17.
’n Verkeerde begrip en slegte raad
10. In watter moeilike situasie het Job hom bevind?
10 Job het hom in ’n moeilike situasie bevind, een waarmee ons nie te kampe hoef te hê nie. Hy het nie geweet waarom hierdie teëspoed hom getref het nie. Job het verkeerdelik tot dié gevolgtrekking gekom: “Jehovah het gegee, en Jehovah het weggeneem” (Job 1:21). Satan het Job miskien doelbewus onder die indruk probeer bring dat dit God was wat sy ellende veroorsaak het.
11. Verduidelik Job se reaksie op sy teëspoed.
11 Job het diep terneergedruk geraak, maar hy het geweier om God te vervloek, soos sy vrou hom aangespoor het om te doen (Job 2:9, 10). ‘Dit lyk of die goddeloses baie beter vaar as ek’, het hy gesê (Job 21:7-9). ‘Waarom straf God my?’ het hy ongetwyfeld gewonder. By tye wou hy net sterf. “Ag, as u my maar in Sjeool wou verberg, as u my maar weggesteek wou hou totdat u toorn bedaar!” het hy uitgeroep.—Job 14:13.
12, 13. Watter uitwerking het die kommentare van Job se drie metgeselle op hom gehad?
12 Job het drie metgeselle gehad wat hom besoek het, glo om “met hom te . . . simpatiseer en hom te vertroos” (Job 2:11). Maar hulle was “ellendige vertroosters” (Job 16:2). Dit sou Job dalk gehelp het as hy vriende gehad het teenoor wie hy sy hart kon uitpraat, maar hierdie drie het tot Job se verwarring bygedra en hom net meer gefrustreerd laat voel.—Job 19:2; 26:2.
13 Dit is te verstane dat Job hom dalk afgevra het: ‘Waarom gebeur dit met my? Wat het ek gedoen om al hierdie teëspoed te verdien?’ Sy metgeselle het verduidelikings gegee wat heeltemal misleidend was. Hulle het aangeneem dat Job sy lyding oor homself gebring het deur ’n ernstige sonde te pleeg. “Wie het ooit onskuldig omgekom?” het Elifas gevra. “Volgens wat ek gesien het, sal dié wat uitdink wat skadelik is en dié wat moeilikheid saai, dit ook maai.”—Job 4:7, 8.
14. Waarom moet ons nie sonder meer aanneem dat lyding die gevolg van verkeerde gedrag is nie?
14 Probleme kan weliswaar ontstaan as ons eerder in ooreenstemming met die vlees as die gees saai (Galasiërs 6:7, 8). Maar in hierdie huidige stelsel kan ons, ongeag ons gedrag, probleme ondervind. Ook kan daar geensins gesê word dat die onskuldiges nooit enige teëspoed ondervind nie. Jesus Christus, wat “onbesmet, afgeskeie van die sondaars” was, het ’n pynlike dood aan ’n folterpaal gesterf, en die apostel Jakobus het ’n martelaarsdood gesterf (Hebreërs 7:26; Handelinge 12:1, 2). Die verkeerde redenasies van Elifas en sy twee metgeselle het Job beweeg om sy goeie naam te verdedig en daarop aan te dring dat hy onskuldig is. Maar hulle volgehoue aantygings dat Job se lyding verdiend was, kon sy beskouing van God se geregtigheid beïnvloed het.—Job 34:5; 35:2.
Vind hulp tydens verdrukking
15. Watter denke sal ons help wanneer ons lyding verduur?
15 Is daar vir ons ’n les hierin? Tragedies, siekte of vervolging lyk moontlik so onregverdig. Dit lyk of ander mense baie van hierdie probleme vryspring (Psalm 73:3-12). Soms moet ons ons dalk hierdie fundamentele vrae afvra: ‘Beweeg my liefde vir God my om hom te dien al gebeur wat ook al? Is dit my begeerte om Jehovah te voorsien van “’n antwoord aan die een wat Hom uittart”?’ (Spreuke 27:11; Matteus 22:37). Ons moet nooit toelaat dat ander se onnadenkende kommentare twyfel by ons wek oor ons hemelse Vader nie. ’n Getroue Christen wat jare lank aan ’n chroniese siekte gely het, het eenkeer gesê: “Ek weet dat ek enigiets wat Jehovah toelaat, sal kan verduur. Ek weet dat hy my die nodige krag sal gee. Hy het nog altyd.”
16. Hoe voorsien God se Woord hulp aan dié wat voor ontberinge te staan kom?
16 Wat Satan se taktiek betref, ons het ’n begrip wat Job nie gehad het nie. “Ons is nie onkundig omtrent sy planne”, of bose oogmerke, nie (2 Korintiërs 2:11). Ook het ons ’n oorvloed praktiese wysheid waarvan ons gebruik kan maak. In die Bybel vind ons verslae van getroue manne en vroue wat allerhande ontberinge deurgemaak het. Die apostel Paulus, wat meer as die meeste van hulle gely het, het geskryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). ’n Getuie in Europa wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog weens sy geloof in die tronk opgesluit is, het drie dae se kosrantsoen vir ’n Bybel verruil. “Hoe lonend was daardie ruil tog!” sê hy. “Al was ek fisies honger, het ek die geestelike voedsel ontvang wat gehelp het om my sowel as ander te onderskraag tydens ons beproewinge in daardie moeilike tye. Ek het daardie Bybel vandag nog.”
17. Watter voorsienings van God kan ons help om te volhard?
17 Benewens vertroosting uit die Skrif het ons baie Bybelstudiehulpe wat betroubare leiding voorsien om probleme die hoof te bied. As jy die Watch Tower Publications Index raadpleeg, sal jy waarskynlik ’n ondervinding van ’n mede-Christen vind wat ’n beproewing soortgelyk aan joune deurgemaak het (1 Petrus 5:9). Dit kan ook help om jou omstandighede met simpatieke ouer manne of ander ryp Christene te bespreek. Jy kan bowenal deur middel van gebed staatmaak op hulp van Jehovah en sy heilige gees. Hoe het Paulus die probleem die hoof gebied waarmee Satan hom “bly slaan” het? Deur te leer om op die krag van God te vertrou (2 Korintiërs 12:9, 10). “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee”, het hy geskryf.—Filippense 4:13.
18. Hoe kan mede-Christene waardevolle aanmoediging gee?
18 Hulp is dus beskikbaar, en jy moet nooit aarsel om daarvoor te vra nie. “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees”, sê die spreuk (Spreuke 24:10). Net soos termiete ’n houthuis kan laat inmekaarstort, kan ontmoediging ’n Christen se onkreukbaarheid ondermyn. Om hierdie gevaar teë te werk, onderskraag Jehovah ons deur middel van medeknegte van God. ’n Engel het aan Jesus verskyn en hom versterk op die aand toe hy in hegtenis geneem is (Lukas 22:43). Terwyl Paulus as ’n gevangene na Rome onderweg was, het hy “God gedank en moed geskep” toe hy die broers by die Mark van Appius en die Drie Herberge ontmoet het (Handelinge 28:15). ’n Duitse Getuie onthou nog die hulp wat sy ontvang het toe sy as ’n bevreesde tiener by die Ravensbrück-konsentrasiekamp aangekom het. “’n Mede-Christen het dadelik na my toe gekom en my hartlik verwelkom”, vertel sy. “’n Ander getroue suster het my onder haar vlerke geneem, en sy het soos ’n geestelike ma vir my geword.”
‘Wees getrou’
19. Wat het Job gehelp om Satan se pogings te weerstaan?
19 Jehovah het Job beskryf as ’n man wat “[vashou] aan sy onkreukbaarheid” (Job 2:3). Al het hy ontmoedig gevoel en nie verstaan waarom hy ly nie, het Job nooit gewankel wat die lewensbelangrike geskil van lojaliteit betref nie. Job het geweier om alles waarvoor hy gelewe het, te verloën. Hy het vasbeslote gesê: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!”—Job 27:5.
20. Waarom is volharding die moeite werd?
20 Soortgelyke vasbeslotenheid sal ons help om ons onkreukbaarheid onder enige omstandighede te handhaaf—te midde van versoekings, teenstand of teëspoed. “Moenie bang wees vir die dinge wat jy weldra gaan ly nie”, het Jesus vir die gemeente in Smirna gesê. “Kyk! Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word en sodat julle tien dae lank verdrukking [probleme, benoudheid of onderdrukking] kan hê. Wees selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee.”—Openbaring 2:10.
21, 22. Watter wete kan ons versterk wanneer ons verdrukking verduur?
21 In hierdie stelsel wat deur Satan beheer word, sal ons volharding en onkreukbaarheid op die proef gestel word. Nietemin verseker Jesus ons dat ons geen rede het om te vrees wanneer ons na die toekoms kyk nie. Wat belangrik is, is dat ons getrou bly. “Die verdrukking [is] kortstondig”, het Paulus gesê, terwyl die “heerlikheid”, of beloning wat Jehovah ons beloof, “van al hoe meer oortreffende gewig en ewig is” (2 Korintiërs 4:17, 18). Selfs Job se verdrukking was kortstondig in vergelyking met die talle gelukkige jare wat hy voor en ná sy beproewing geniet het.—Job 42:16.
22 Maar daar sal moontlik tye in ons lewe wees wanneer dit voel of ons beproewinge nimmereindigend en ons lyding byna ondraaglik is. In die volgende artikel sal ons kyk hoe Job se ondervinding ons verdere lesse oor volharding kan leer. Ons sal ook kyk na maniere waarop ons ander kan versterk wat met teëspoed te kampe het.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter fundamentele geskil het Satan oor Job se onkreukbaarheid geopper?
• Waarom moet teëspoed ons nie uitermate verbaas nie?
• Hoe help Jehovah ons om te volhard?
[Prente op bladsy 23]
As ons navorsing doen, met ryp Christene gesels en ons hart uitstort in gebed, kan dit ons help om te volhard