‘Soos ’n kosbare rooikleurige steen’
DIE apostel Johannes het ’n visioen gehad van ’n glorieryke troon in die hemel. Die voorkoms van die Een wat op die troon gesit het, was “soos ’n jaspissteen”. Hy was ook soos “’n kosbare rooikleurige steen” (Openbaring 4:2, 3). Watter stene was dit?
Dit was nie ondeursigtige stene waarvan net die oppervlak blink nie. In die ou tyd is die Griekse woord wat met “jaspis” vertaal word, gebruik om stene van verskillende kleur te beskryf, waaronder kosbare edelstene wat deursigtig was. Die “jaspissteen” van Openbaring 4:3 was “beslis nie ons goedkoop hedendaagse jaspis nie”, sê A. T. Robertson in Word Pictures in the New Testament. Wat meer is, later in die boek Openbaring beskryf Johannes die hemelse stad, Jerusalem, en sê: “Die glans daarvan was soos ’n baie kosbare steen, soos ’n jaspissteen wat kristalhelder blink” (Openbaring 21:10, 11). Die stene waarna Johannes verwys, was klaarblyklik deurskynend, sodat dit lig deurgelaat het.
Die een wat in Johannes se visioen op die troon voorgestel word, is die glorierykste Persoon in die heelal, Jehovah God. Hy is rein en heilig in die oortreffende sin. In ooreenstemming hiermee het die apostel Johannes geskryf dat “God lig is en daar hoegenaamd geen duisternis in eenheid met hom is nie” (1 Johannes 1:5). Johannes het sy medegelowiges derhalwe aangespoor om ‘hulle te reinig net soos Jehovah rein is’.—1 Johannes 3:3.
Wat moet ons doen om in God se oë rein te wees? Dit is absoluut noodsaaklik om geloof te hê in Christus se vergote bloed tot vergifnis van ons sondes. Ons moet ook voortgaan om “in die lig [te] wandel” deur die Bybel gereeld te bestudeer en in ooreenstemming met die leringe daarvan te lewe.—1 Johannes 1:7.