-
Die vier perderuiters—Wie is hulle?Die Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2017 | Nr. 3
-
-
DIE RUITER VAN DIE WIT PERD
Die visioen begin so: “Ek het gesien, en kyk! ’n wit perd; en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi.”—Openbaring 6:2.
Wie is die ruiter van die wit perd? Ons word gehelp om te verstaan wie hierdie hemelse perderuiter is omdat hy later in dieselfde Bybelboek, Openbaring, as “Die Woord van God” geïdentifiseer word (Openbaring 19:11-13). Hierdie titel, Die Woord, word aan Jesus Christus gegee omdat hy namens God praat (Johannes 1:1, 14). Hy word ook “Koning van die konings en Here van die here” genoem en word as “Getrou en Waaragtig” beskryf (Openbaring 19:11, 16). Dit is duidelik dat hy die gesag het om as ’n stryder-koning op te tree, en hy gebruik nie sy mag op ’n verkeerde of korrupte manier nie. Maar daar is nog vrae.
Wie gee vir Jesus die gesag om te oorwin? (Openbaring 6:2). Die profeet Daniël het ’n visioen gesien waarin die Messias vergelyk word met “’n seun van die mens” en aan hom word “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee” deur “die Oue van Dae”, Jehovah Goda (Daniël 7:13, 14). Met ander woorde dit is God die Almagtige wat Jesus die mag en die reg gee om te regeer en te oordeel. Die wit perd is die regte simbool vir die regverdige oorlog wat deur God se Seun gevoer word, want in die Bybel word die kleur wit baie keer gebruik om regverdigheid voor te stel.—Openbaring 3:4; 7:9, 13, 14.
Wanneer het die perderuiters begin ry? Let op dat die eerste ruiter, Jesus, begin ry wanneer hy gekroon word (Openbaring 6:2). Wanneer is Jesus as Koning in die hemel gekroon? Dit het nie gebeur toe hy ná sy dood teruggegaan het hemel toe nie. Die Bybel wys dat daar toe ’n wagtydperk begin het (Hebreërs 10:12, 13). Jesus het sy volgelinge ’n manier gegee om te sien wanneer daardie wagtydperk sou eindig en hy in die hemel sou begin regeer. Hy het gesê dat wêreldtoestande baie slegter sou word wanneer hy begin regeer. Daar sou oorlog, hongersnood en siekte wees (Matteus 24:3, 7; Lukas 21:10, 11). Kort nadat die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het dit duidelik geword dat hierdie tyd vir die mensdom begin het, ’n moeilike tyd op aarde wat die Bybel “die laaste dae” noem.—2 Timoteus 3:1-5.
Maar hoekom het toestande op die aarde al erger in plaas van beter geraak vandat Jesus in 1914 gekroon is? Omdat Jesus op daardie stadium in die hemel begin regeer het, nie op die aarde nie. Oorlog het toe in die hemel uitgebreek, en die pasgekroonde Koning, Jesus, wat ook Migael genoem word, het Satan en sy demone na die aarde toe neergeslinger (Openbaring 12:7-9, 12). Omdat Satan hier vasgekeer is, is hy van daardie tyd af woedend, want hy weet dat sy dae getel is. Dit sal nie lank wees voordat God sy wil op die aarde uitvoer en teen Satan optree nie (Matteus 6:10). Kom ons kyk nou hoe die ander drie perderuiters verder bewys dat ons wel gedurende die moeilike “laaste dae” lewe. Dit is duidelik dat die eerste perderuiter ’n spesifieke persoon voorstel. Maar die drie perderuiters wat volg, stel wêreldtoestande voor wat die hele mensegemeenskap raak.
-