-
Wat was die eerste sonde?Ontwaak! – 2006 | Junie
-
-
Toe God Adam en Eva geskep het, het hy hulle in ’n pragtige tuin gevestig wat gevul was met eetbare plante en vrugtebome. Net een boom was verbode—“die boom van die kennis van goed en kwaad”. Aangesien Adam en Eva wilsvryheid gehad het, kon hulle besluit of hulle gehoorsaam of ongehoorsaam aan God sou wees. Adam is egter gewaarsku: “Die dag as jy daarvan [die boom van kennis] eet, sal jy sekerlik sterf.”—Genesis 1:29; 2:17.
’n Redelike beperking
Hierdie enkele beperking het geen ontbering veroorsaak nie; Adam en Eva kon van al die ander boom in die tuin eet (Genesis 2:16). Daarbenewens het die verbod niks onwelvoegliks aan die egpaar toegeskryf nie, en dit het hulle ook nie van hulle waardigheid beroof nie. As God veragtelike dinge soos bestialiteit of moord verbied het, kon party beweer het dat volmaakte mense sekere slegte neigings gehad het wat beteuel moes word. Om te eet, was egter natuurlik en gepas.
Was die verbode vrug geslagsomgang, soos party beweer? Hierdie sienswyse word nie deur die Skrif ondersteun nie. Om maar een ding te noem, Adam was alleen toe God die verbod ingestel het, en dit het klaarblyklik ’n ruk lank so gebly (Genesis 2:23). Tweedens, God het vir Adam en Eva gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde” (Genesis 1:28). Hy sou hulle tog sekerlik nie beveel om sy wet te verbreek en hulle dan daarvoor ter dood veroordeel nie! (1 Johannes 4:8). Derdens, Eva het vóór Adam van die vrug geëet en later vir haar man daarvan gegee (Genesis 3:6). Dit is duidelik dat die vrug nie geslagsomgang was nie.
’n Poging tot sedelike onafhanklikheid
Die boom van kennis was ’n letterlike boom. Maar dit het God se reg as Heerser verteenwoordig om te besluit wat goed en sleg vir sy menseskepping is. Om van die boom te eet, was dus nie net diefstal nie, oftewel om iets te neem wat aan God behoort nie, maar ook ’n vermetele poging om sedelike onafhanklikheid, die reg om self besluite te neem, te verkry. Let op dat Satan, nadat hy valslik vir Eva gesê het dat sy en haar man ‘sekerlik nie sal sterf’ as hulle van die vrug eet nie, toe beweer het: “Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.”—Genesis 3:4, 5.
-
-
Wat was die eerste sonde?Ontwaak! – 2006 | Junie
-
-
Deur hulle onafhanklikheid te laat geld, het Adam en Eva onherstelbare skade aan hulle verhouding met Jehovah berokken en die gevolge van sonde oor hulleself gebring, wat selfs ’n uitwerking op hulle genetiese samestelling gehad het. Hulle het weliswaar honderde jare lank gelewe, maar op “die dag” wat hulle gesondig het, het hulle begin doodgaan, soos ’n tak wat van ’n boom afgekap is (Genesis 5:5). Daarbenewens het hulle vir die eerste keer bewus geword van ’n innerlike stryd. Hulle het naak gevoel en vir God probeer wegkruip (Genesis 3:7, 8). Hulle het ook skuldig, onseker en skaam gevoel. Hulle sonde het ’n onstuimigheid in hulle voortgebring, en hulle gewete het hulle van oortreding aangekla.
-