-
“God het [hulle] gawes goedgekeur”Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
-
-
Abel stel ’n goeie voorbeeld
10. Hoe het Abel die voorbeeld gestel wanneer dit kom by rein aanbidding?
10 Abel het sy gawe vir Jehovah alleen aangebied omdat hy geweet het dat Hy die enigste een is wat dit verdien. Hy het sy beste gegee – Abel het “van die eersgeborenes van sy kleinvee” gekies. Die verslag sê nie of hy sy gawe op ’n altaar geoffer het of nie, maar dit is duidelik dat die manier waarop hy sy gawe geoffer het, aanvaarbaar was. Maar wat uitstaan omtrent Abel se gawe – die voorbeeld waaruit ons sowat 6 000 jaar later nog steeds kan leer – is die rede hoekom hy dit gegee het. Abel het dit gegee omdat hy geloof in God gehad het en lief was vir Jehovah se regverdige standaarde. Hoe weet ons dit?
Abel se voorbeeld wys vir ons wat die vier belangrikste vereistes vir rein aanbidding is (Sien paragraaf 10)
11. Hoekom het Jesus Abel as regverdig beskryf?
11 Kom ons kyk eers na wat Jesus gesê het oor Abel, ’n man wat hy goed geken het. Jesus was in die hemel toe Abel gelewe het en hy het baie belanggestel in hierdie seun van Adam (Spr. 8:22, 30, 31; Joh. 8:58; Kol. 1:15, 16). As gevolg van wat Jesus self gesien het, kon hy Abel as ’n regverdige man beskryf (Matt. 23:35). ’n Regverdige persoon erken dat Jehovah die standaard moet stel van wat reg en verkeerd is. Maar hy doen meer as dit – hy bewys deur wat hy sê en doen dat hy met hierdie standaarde saamstem. (Vergelyk Lukas 1:5, 6.) Dit neem tyd om ’n reputasie op te bou as iemand wat regverdig is. So selfs voordat Abel sy gawe vir Jehovah aangebied het, moes hy bekend gewees het as iemand wat volgens Jehovah se standaarde gelewe het. Dit kon nie maklik gewees het nie. Sy ouer broer was seker nie ’n goeie invloed nie – Kain se hart het sleg geword (1 Joh. 3:12). Abel se ma was ongehoorsaam aan ’n direkte bevel van God af, en sy pa het teen Jehovah gerebelleer omdat hy self wou besluit wat goed en wat sleg is (Gen. 2:16, 17; 3:6). Abel moes baie moedig gewees het toe hy gekies het om nie dieselfde keuses as sy gesin te maak nie!
12. Hoe was Abel anders as Kain?
12 Kyk nou hoe die apostel Paulus geloof met regverdigheid verbind het. Hy het geskryf: “Deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as dié van Kain, en deur hierdie geloof het hy die getuienis ontvang dat hy regverdig is” (Heb. 11:4). Paulus se woorde wys dat Abel, anders as Kain, Jehovah sy hele lewe lank gedien het omdat hy opregte geloof gehad het in Jehovah en Sy manier van dinge doen.
13. Wat leer ons uit Abel se voorbeeld?
13 Abel se voorbeeld wys dat ons Jehovah net op ’n rein manier kan aanbid as ons geloof in hom het en heeltemal saamstem met Sy regverdige standaarde. En ons leer dat rein aanbidding meer behels as net een daad van toegewydheid. Ons hele lewe, ons lewenswyse en gedrag, is hierby betrokke.
-