Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ‘Hy was vir God welbehaaglik’
    Die Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2017 | Nr. 1
    • “WEGGEVOER OM DIE DOOD NIE TE SIEN NIE”

      Hoe het Henog se lewe tot ’n einde gekom? Op ’n manier is sy dood selfs geheimsinniger en fassinerender as sy lewe. Die Genesisverslag sê net: “Henog het met die ware God bly wandel. Toe was hy nie meer daar nie, want God het hom geneem” (Genesis 5:24). Hoe het God Henog geneem? Die apostel Paulus het later verduidelik: “Deur geloof is Henog weggevoer om die dood nie te sien nie, en hy kon nêrens gevind word nie, omdat God hom weggevoer het; want voor sy wegvoering het hy die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was” (Hebreërs 11:5). Wat het Paulus bedoel met die woorde “weggevoer om die dood nie te sien nie”? Party Bybelvertalings sê dat God Henog hemel toe geneem het. Maar dit kan nie waar wees nie. Die Bybel toon dat Jesus Christus die eerste persoon is wat tot lewe in die hemel opgewek is.—Johannes 3:13.

      In watter sin is Henog dan “weggevoer om die dood nie te sien nie”? Jehovah het Henog waarskynlik laat sterf sonder dat hy enige pyn of doodsangs ervaar het. Maar Henog het eers “die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was”. Hoe? Henog het moontlik, net voordat hy gesterf het, ’n visioen van God ontvang waarin hy die aarde as ’n paradys gesien het. Henog het met daardie duidelike teken van Jehovah se goedkeuring in sy gedagtes gesterf. Die apostel Paulus het oor Henog en ander getroue manne en vroue geskryf en gesê: “In geloof het hulle almal gesterf” (Hebreërs 11:13). Ná Henog se dood het sy vyande moontlik na sy liggaam gesoek, maar dit “kon nêrens gevind word nie”. Jehovah het dalk daarvan ontslae geraak sodat hulle dit nie kon skend of kon gebruik om valse aanbidding te bevorder nie.b

      Kom ons hou hierdie skriftuurlike redenasie in gedagte terwyl ons ons probeer voorstel hoe Henog se lewe moontlik tot ’n einde gekom het. Stel jou die volgende toneel voor, maar onthou dat dit net ’n moontlikheid is. Henog was besig om te vlug en hy was al amper pootuit. Sy vervolgers was op sy hakke en hulle was briesend kwaad oor sy oordeelsboodskap. Henog het ’n wegkruipplek gevind waar hy ’n rukkie kon rus, maar hy het geweet dat hy nie baie lank veilig sou wees nie. ’n Gewelddadige dood het op hom gewag. Terwyl hy gerus het, het hy tot sy God gebid. Toe het ’n diep gevoel van vrede oor hom gekom. Henog het ’n visioen gehad wat so werklik was dat dit vir hom gevoel het asof hy daar is. Dit het sy gedagtes ver weggeneem.

      Henog kruip in ’n grot weg terwyl sy vervolgers verbygaan

      ’n Gewelddadige dood het waarskynlik op Henog gewag toe Jehovah hom weggevoer het

      Stel jou voor dat hy ’n toneel sien van ’n wêreld wat heeltemal anders is as die een wat hy geken het. Dit het vir hom net so mooi gelyk soos die tuin van Eden, maar daar was nie gerubs wat dit bewaak het om mense buite te hou nie. Daar was baie mans en vroue—almal jonk en blakend gesond. Hulle het in vrede gelewe. Daar was geen teken van die haat en die godsdiensvervolging wat Henog maar alte goed geken het nie. Henog het Jehovah se versekering, liefde en goedkeuring aangevoel. Hy was seker dat dit die plek is waar hy behoort; dat dit sy tuiste sou wees. ’n Diep gevoel van vrede het oor Henog gekom, en hy het sy oë toegemaak en in ’n diep, droomlose slaap geval.

      En hy is tot vandag toe daar—hy slaap in die dood, veilig in Jehovah God se onbeperkte geheue! Die dag sal kom, net soos Jesus belowe het, wanneer almal wat in God se geheue is, Christus se stem sal hoor en uit die graf sal kom. Hulle sal hulle oë oopmaak en in ’n pragtige en vreedsame nuwe wêreld wees.—Johannes 5:28, 29.

  • ‘Hy was vir God welbehaaglik’
    Die Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2017 | Nr. 1
    • b Net so het God waarskynlik seker gemaak dat die liggame van Moses en Jesus ook nie op hierdie maniere misbruik kon word nie.—Deuteronomium 34:5, 6; Lukas 24:3-6; Judas 9.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel