Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jehovah is ons Herder
    Die Wagtoring – 2005 | November 1
    • ‘Ek vrees niks slegs nie, want u is met my’

      13. Hoe praat Dawid in Psalm 23:4 op ’n intiemer wyse, en waarom is dit nie verbasend nie?

      13 Dawid gee ’n tweede rede vir sy vertroue: Jehovah beskerm sy skape. Ons lees: “Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u is met my; u stok en u staf dié vertroos my” (Psalm 23:4). Dawid praat nou op ’n intiemer wyse en spreek Jehovah met die persoonlike voornaamwoord “u” aan. Dit is nie verbasend nie, want Dawid praat oor hoe God hom gehelp het om teëspoed te verduur. Dawid is deur talle donker valleie—tye toe selfs sy lewe in gevaar was. Maar hy het nie toegelaat dat vrees hom oorheers nie, want hy het besef dat God—met Sy “stok” en “staf” gereed vir aksie—met hom was. Hierdie bewustheid dat hy beskerm sou word, het Dawid vertroos en hom ongetwyfeld nader aan Jehovah laat kom.b

      14. Watter versekering gee die Bybel ons omtrent Jehovah se beskerming, maar wat beteken dit nie?

      14 Hoe beskerm Jehovah vandag sy skape? Die Bybel verseker ons dat geen teenstander—demoon of mens—ooit daarin sal slaag om sy skape van die aarde af uit te wis nie. Jehovah sal dit nooit toelaat nie (Jesaja 54:17; 2 Petrus 2:9). Maar dit beteken nie dat ons Herder ons teen alle rampspoed sal beskerm nie. Ons ondervind die beproewinge wat eie is aan mense, en ons het te kampe met die teenstand wat alle ware Christene ervaar (2 Timoteus 3:12; Jakobus 1:2). Daar is moontlik tye wanneer ons as ’t ware ‘in die vallei van diep skaduwee wandel’. Byvoorbeeld, ons staar miskien die dood in die gesig weens vervolging of die een of ander gesondheidskrisis. Of ’n geliefde draai dalk by die dood om of sterf selfs. Ons Herder is met ons in wat na die donkerste oomblikke lyk, en hy sal ons bewaar. Hoe?

      15, 16. (a) Op watter maniere help Jehovah ons om die struikelblokke wat ons teëkom, die hoof te bied? (b) Vertel ’n ondervinding om te toon hoe Jehovah ons tydens beproewinge help.

      15 Jehovah belowe nie dat hy wonderdadig sal ingryp nie.c Maar ons kan hiervan seker wees: Jehovah sal ons help om enige struikelblokke wat ons teëkom, die hoof te bied. Hy kan ons die wysheid gee om “allerhande beproewinge” te verduur (Jakobus 1:2-5). ’n Herder gebruik sy stok of staf nie net om roofdiere af te weer nie, maar ook om die skape in die regte rigting te stuur. Jehovah kan ons “stuur”, miskien deur middel van ’n medeaanbidder, om Bybelraad toe te pas wat ’n groot verskil in ons situasie kan maak. Daarbenewens kan Jehovah ons die krag gee om te volhard (Filippense 4:13). Deur middel van sy heilige gees kan hy ons voorsien van “krag wat bo die normale is” (2 Korintiërs 4:7). God se gees kan ons in staat stel om enige toets te verduur wat Satan oor ons bring (1 Korintiërs 10:13). Is dit nie vertroostend om te weet dat Jehovah altyd gereed is om ons te help nie?

      16 Ja, ongeag in watter donker vallei ons ons bevind, ons hoef nie alleen daardeur te loop nie. Ons Herder is met ons en help ons op maniere wat ons miskien aanvanklik nie ten volle onderskei nie. Beskou die ondervinding van ’n Christen- ouer man by wie ’n kwaadaardige breingewas gediagnoseer is. “Ek moet erken dat ek aanvanklik gewonder het of Jehovah vir my kwaad is en of hy selfs vir my lief is. Maar ek was vasbeslote om my nie van Jehovah terug te trek nie. Ek het eerder vir hom van my kwellinge vertel. En Jehovah het my gehelp en my dikwels deur middel van my broers en susters vertroos. Baie het insiggewende punte gemeld op grond van hulle eie ondervinding oor hoe om ’n ernstige siekte te verduur. Hulle gebalanseerde kommentare het my daaraan herinner dat ek niks buitengewoons ervaar nie. Praktiese hulp, met inbegrip van ’n paar roerende blyke van goedhartigheid, het my verseker dat Jehovah nie vir my kwaad is nie. Ek moet natuurlik steeds teen my siekte stry, en ek weet nie wat die uiteinde sal wees nie. Maar ek is daarvan oortuig dat Jehovah met my is en dat hy sal voortgaan om my deur hierdie beproewing te help.”

  • Jehovah is ons Herder
    Die Wagtoring – 2005 | November 1
    • b Dawid het ’n aantal psalms geskryf waarin hy Jehovah geloof het omdat Hy hom uit gevaar verlos het.—Sien byvoorbeeld die opskrifte van Psalms 18, 34, 56, 57, 59 en 63.

      c Sien die artikel “Goddelike ingryping—Wat kan ons verwag?” in Die Wagtoring van 1 Oktober 2003.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel