Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Verwelkom Christus, die glorieryke Koning!
    Die Wagtoring — 2014 | Februarie 15
    • DIE KONING RY “TER WILLE VAN WAARHEID”

      11. Hoe ry Christus “ter wille van waarheid”?

      11 Lees Psalm 45:4. Die Stryder-Koning voer nie ’n oorlog van verowering om gebiede te beset en volke te onderwerp nie. Hy voer ’n regverdige oorlog met edele doelwitte. Hy ry “ter wille van waarheid en nederigheid en regverdigheid”. Die belangrikste waarheid wat verdedig moet word, is die feit dat Jehovah die Universele Soewerein is. Satan het die regmatigheid van Jehovah se heerskappy bevraagteken toe hy teen Hom in opstand gekom het. Van toe af word hierdie grondwaarheid betwis deur demone sowel as mense. Die tyd het nou aangebreek vir Jehovah se gesalfde Koning om uit te ry om die waarheid oor Jehovah se soewereiniteit eens en vir altyd te bevestig.

      12. Hoe ry die Koning ‘ter wille van nederigheid’?

      12 Die Koning ry ook ‘ter wille van nederigheid’. As God se enigverwekte Seun het hy ’n uitstekende voorbeeld gestel in nederigheid en lojale onderdanigheid aan sy Vader se soewereiniteit (Jes. 50:4, 5; Joh. 5:19). Alle lojale onderdane van die Koning moet sy voorbeeld navolg en hulle nederig in alle dinge aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp. Slegs diegene wat dit doen, sal toegelaat word om in God se beloofde nuwe wêreld te lewe.—Sag. 14:16, 17.

      13. Hoe ry Christus ‘ter wille van regverdigheid’?

      13 Christus ry ook ‘ter wille van regverdigheid’. Die regverdigheid wat die Koning verdedig, is “God se regverdigheid”—Jehovah se standaarde van wat reg en verkeerd is (Rom. 3:21; Deut. 32:4). Jesaja het aangaande die Koning Jesus Christus voorspel: “’n Koning sal vir regverdigheid regeer” (Jes. 32:1). Jesus se heerskappy sal die beloofde ‘nuwe hemele en nuwe aarde’ waarin ‘regverdigheid sal woon’, tot stand bring (2 Pet. 3:13). Elke inwoner van daardie nuwe wêreld sal aan Jehovah se standaarde moet voldoen.—Jes. 11:1-5.

      DIE KONING VERRIG “VREESINBOESEMENDE DINGE”

      14. Hoe sal Christus se regterhand “vreesinboesemende dinge” verrig? (Sien prent aan begin van artikel.)

      14 Terwyl die Koning ry, is daar ’n swaard aan sy heup gegord (Ps. 45:3). Maar dan kom die tyd vir hom om die swaard in sy regterhand te neem en dit te gebruik. Die psalmis voorspel dat die Koning “vreesinboesemende dinge” met sy regterhand sal verrig (Ps. 45:4). Wanneer Jesus Christus ry om Jehovah se oordele by Armageddon te voltrek, sal hy “vreesinboesemende dinge” teen sy vyande verrig. Ons weet nie presies hoe hy Satan se stelsel sal vernietig nie. Maar wat hy ook al doen, dit sal diegene wat nie op die goddelike waarskuwing ag geslaan het om hulle aan die Koning se heerskappy te onderwerp nie, met skrik vervul. (Lees Psalm 2:11, 12.) In sy profesie aangaande die tyd van die einde het Jesus gesê dat mense “flou [sal] word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom; want die kragte van die hemele sal geskud word”. Hy het bygevoeg: “En dan sal hulle die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid in ’n wolk sien kom.”—Luk. 21:26, 27.

      15, 16. Wie sal “die leërs” uitmaak wat Christus in die stryd volg?

      15 Die boek Openbaring kondig aan dat die Koning “met krag en groot heerlikheid” kom om oordeel te voltrek en sê: “Ek het die hemel geopend gesien, en kyk! ’n wit perd. En die een wat daarop sit, word Getrou en Waaragtig genoem, en hy oordeel en voer oorlog in regverdigheid. Ook het die leërs wat in die hemel was, hom op wit perde gevolg, en hulle was geklee in wit, skoon, fyn linne. En uit sy mond kom ’n skerp lang swaard om die nasies mee te slaan, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor hulle optree. Hy trap ook die wynpers van die toorn van die gramskap van God die Almagtige.”—Op. 19:11, 14, 15.

      16 Wie sal Christus se medestryders wees wat die hemelse “leërs” uitmaak wat hom in die stryd volg? Toe Jesus sy swaard vir die eerste keer aangegord het om Satan en sy demone uit die hemel te werp, het “sy engele” hom vergesel (Op. 12:7-9). Ons kan logieserwys tot die slotsom kom dat die heilige engele by die oorlog van Armageddon deel van Christus se leërs sal uitmaak. Sal sy leërs ander insluit? Jesus het sy gesalfde broers belowe: “Aan hom wat oorwin en my dade tot die einde toe onderhou, sal ek gesag oor die nasies gee, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor die mense optree, sodat hulle soos kleivoorwerpe verbrysel sal word, net soos ek van my Vader ontvang het” (Op. 2:26, 27). Christus se hemelse leërs sal dus ook sy gesalfde broers insluit wat hulle hemelse beloning teen daardie tyd sou ontvang het. Die gesalfde medeheersers sal aan sy sy wees wanneer hy “vreesinboesemende dinge” verrig terwyl hy met ’n ysterstaf as herder teenoor die nasies optree.

  • Verwelkom Christus, die glorieryke Koning!
    Die Wagtoring — 2014 | Februarie 15
    • 19. Hoe sal Christus ‘voortgaan tot sukses’ en sy oorwinning voltooi?

      19 Nadat Christus Satan se goddelose stelsel van dinge op die aarde vernietig het, sal hy ‘in sy prag tot sukses voortgaan’ (Ps. 45:4). Hy sal sy oorwinning voltooi deur Satan en sy demone in die afgrond te werp vir die hele duur van die Duisendjarige Heerskappy (Op. 20:2, 3). Aangesien die Duiwel en sy engele dan in ’n toestand van doodse onbedrywigheid sal wees, sal die bewoners van die aarde die heerskappy van hulle seëvierende en glorieryke Koning kan geniet sonder die goddelose invloed van Satan en sy demone. Maar voordat hulle sien hoe die hele aarde geleidelik in ’n paradys omskep word, sal hulle nog ’n rede hê om hulle saam met hulle Koning en sy hemelse metgeselle te verbly. Hierdie vreugdevolle gebeurtenis sal in die volgende artikel bespreek word.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel