Jong Mense Vra . . .
Waarom het ander jongmense al die pret?
“Ons wil net pret hê, maar dis so moeilik”, het die 15-jarige Jason gekla.
DIT is doodnatuurlik om pret te wil hê—veral wanneer ’n mens jonk is! Pret is vir die meeste jongmense net so belangrik soos eet en slaap. Op aansporing van hulle portuurs en die media jaag jongmense ’n groot verskeidenheid ontspanningsbedrywighede gretig na. Volgens een opname is besoeke aan vriende, TV-kykery, bioskoop toe gaan, partytjies en dansery boaan die lys gunstelingtydverdrywe waaraan tieners saans deelneem. Lees, deelname aan speletjies en sport en om na musiek te luister, is ook gewild.
Met soveel aangename bedrywighede waaraan ’n mens kan deelneem, is dit dalk vir volwassenes moeilik om te verstaan waarom sommige jongmense, soos Jason, meen dat hulle nie genoeg pret het nie. Maar dit is presies wat party jong Christene al beweer het! Jong Casey, een van Jehovah se Getuies, het dit só gestel: “Jy sien hoe al jou vriende op skool partytjies hou en dinge doen, en jy voel regtig dat jy al die plesier mis.” Maar is die situasie regtig so erg?
Verbied die Bybel jou om pret te hê? Beslis nie. Die Bybel noem Jehovah “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11). Dit moet jou dus nie verbaas nie dat koning Salomo gesê het: “Elke ding het sy vaste tyd, . . . ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans” (Prediker 3:1, 4, NAV). Die oorspronklike Hebreeuse woord wat hier vir “lag” gebruik word en verwante woorde kan ook “vrolik wees”, “speel” en “vermaak” beteken.—2 Samuel 6:21; Job 40:24; Rigters 16:25, NAV; Exodus 32:6, NW; Genesis 26:8.
In Bybeltye het God se volk ’n verskeidenheid heilsame bedrywighede geniet, soos die speel van musiekinstrumente, sang, dans, geselsery en speletjies. Hulle het ook spesiale geleenthede vir feesviering en vreugdevolle omgang gehad (Jeremia 7:34; 16:9; 25:30; Lukas 15:25). Jesus Christus self het immers ’n huweliksfees bygewoon!—Johannes 2:1-10.
Heilsame pret is vandag dus nie verbode vir jong Christene nie. Trouens, die Bybel sê: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid.” Salomo gee egter ná hierdie woorde ’n waarskuwing: “Maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring” (Prediker 11:9). Ja, jy is verantwoordelik voor God vir die keuses wat jy maak. Wat jou vermaak betref, moet jy dus ‘voortdurend streng let op hoe jy wandel, dat dit nie as ’n onwyse is nie, maar as ’n wyse’ (Efesiërs 5:15, 16). Om watter rede? Baie jongmense maak uiters swak keuses in hierdie verband.
Wanneer pret handuit ruk
Neem byvoorbeeld wat in Bybeltye gebeur het. Sommige Israeliete het hulle ewewig heeltemal verloor wat ontspanning betref en die hele nag lank losbandige partytjies gehou! Die profeet Jesaja het gesê: “Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit. En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd.” Nie dat dit verkeerd was om saam te kom en voedsel, musiek en dansery te geniet nie. Maar Jesaja sê aangaande hierdie pretmakers: “Op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie.”—Jesaja 5:11, 12.
Vandag doen baie jeugdiges dieselfde—hulle neem God skaars in ag wanneer hulle vermaak najaag. Party ignoreer Goddelike standaarde blatant en maak hulle aan voorhuwelikse seks, vandalisme, dwelmmisbruik en ander roekelose gedragswyses skuldig vir die “pret”. Maar in ander gevalle wil jongmense nie werklik goddeloos wees nie. Hulle versuim egter om dinge met matigheid te doen en uiterstes te vermy (Spreuke 23:20; 1 Timoteus 3:11). Wanneer hulle dus saamkom om pret te hê, is dinge geneig om handuit te ruk.—Vergelyk 1 Korintiërs 10:6-8.
Ontwaak! het onlangs vir ’n paar jongmense gevra: “Wat gebeur deesdae by wêreldse partytjies?” ’n Tienderjarige meisie het geantwoord: “Dwelms, drankmisbruik. Dit gebeur werklik.” Jong Andrew het oor sommige van die seuns in sy skool wat partytjies gereeld bywoon, gesê: “Al wat hulle ooit doen, is spog oor hoeveel hulle gedrink het.” Jason het selfs so ver gegaan as om te sê: “By ’n wêreldse partytjie is daar so te sê altyd slegte dinge aan die gang.” Aangesien “swelgerye”, of “losbandige partytjies”, deur die Bybel veroordeel word, vermy godvresende jongmense gesellighede waar sulke dinge voorkom.—Galasiërs 5:21; Byington.
Selfs skynbaar onskadelike vorme van vermaak kan gevare inhou. Baie van vandag se gewildste rolprente beeld byvoorbeeld naaktheid, onverbloemde seks en weersinwekkende geweld uit. Trefferliedjies het dikwels pornografiese lirieke. Rockkonserte is oor die algemeen die toneel van dwelmmisbruik, oproerigheid en geweld.a
Wanneer ouers nee sê
Wat is die oorwegende faktor? As jy ’n Christen is, kan jy eenvoudig nie al die dinge doen wat jou portuurs geniet om te doen nie. Jesus het op stuk van sake gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” sou wees nie, en dit beteken dat ’n mens anders as ander mense moet wees (Johannes 15:19). As jou ouers godvresend is, is hulle terdeë bewus van hierdie feit. Daarom sal jou ouers dalk met tye, weens hulle begeerte om jou te beskerm, sekere dinge afkeur of streng verbied—dinge wat ander jongmense toegelaat word om te doen. Dít is nie altyd maklik om te aanvaar nie. “Mense wil pret hê!” het een tienderjarige meisie volgehou. “Ons ouers het pret gehad toe hulle jonk was, maar somtyds voel dit asof hulle ons wil inhok.”
Dit is dalk nie maklik om jou ouers se raad in sulke aangeleenthede te volg nie, selfs wanneer jy eintlik hulle beskouing deel. ’n Atleties geboude jeugdige, wat ons Jared sal noem, onthou: “Ek wou basketbal in die skoolspan speel. Baie mense het druk op my uitgeoefen om te speel, en dit het my nogal gepla. Maar toe het ek met my ouers gepraat.” Jared se ouers het hom op die gevare van “slegte omgang” gewys en hom herinner aan hoe tydrowend sy sportaktiwiteite sou wees (1 Korintiërs 15:33). “Dit was die einde van die saak”, sê Jared droewig. Hy het sy ouers se raad gehoorsaam, maar hy was steeds spyt dat hy nie basketbal kon speel nie.
‘Ek mis al die pret!’
Wat jou situasie ook al is, jy voel dalk ook soms afgehaal wanneer jy hoor hoe jou skoolmaats spog oor die aangename tye wat hulle geniet het. ‘Waarom het ander jongmense al die pret?’ vra jy miskien. Ja, hoe kan jy die gevoel oorkom dat jy al die pret mis?
Dit sal jou dalk help as jy Psalm 73 lees en oor die ondervinding van die Bybelskrywer Asaf peins. In verse 2 en 3 erken hy: “Wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Want ek was afgunstig op die onsinniges [“grootpraters”, NW].” Ja, terwyl Asaf ’n ingeperkte lewe gelei het, het ander gespog dat hulle kon doen net wat hulle wou—oënskynlik sonder slegte gevolge. Dit het gelyk of hulle baie gehad het en altyd meer gekry het (Vers 12). Dit het Asaf dus so ontmoedig dat hy uitgeroep het: “Is dit dan tevergeefs dat ek my rein gehou het en nie sonde gedoen het nie?”—Psalm 73:13, Today’s English Version.
Gelukkig het Asaf tot besinning gekom voordat hy enigiets onbesonne gedoen het. Hy het ‘die heiligdom van God’ besoek, en in daardie heilsame omgewing het hy ernstig oor sake nagedink. Kort voor lank het Asaf tot ’n merkwaardige slotsom in verband met goddelose genotsoekers gekom: “Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val.”—Psalm 73:17, 18.
Dieselfde kan van baie van jou genotsoekende portuurs gesê word. Hulle dink miskien dat hulle nou pret het. Maar die genieting van sonde is slegs tydelik! (Hebreërs 11:25). Omdat hulle nie Bybelstandaarde volg nie, staan hulle “op gladde plekke” en loop hulle voortdurend gevaar om ’n verskriklike val te beleef—skielik en sonder waarskuwing. God se Woord sê: “Wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Jy het ongetwyfeld al gehoor van jongmense van jou ouderdom wat reeds ’n vroeë dood gesterf het, aan ’n seksueel oordraagbare siekte ly, ’n ongewenste swangerskap gehad het of tronk toe is as gevolg van “prettige” eskapades. Is dit dan nie tot jou voordeel om sulke dinge te vermy nie?—Jesaja 48:17.
Salomo gee goeie raad wanneer hy sê: “Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die HERE. Waarlik, daar is ’n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie” (Spreuke 23:17, 18). Ja, geen “pret” is dit werd om jou hoop op ewige lewe in die Paradys op aarde te verloor nie.
Hoe kan jy intussen jou natuurlike begeerte bevredig om nou en dan ’n waarlik aangename tyd te geniet? Is daar veilige, heilsame maniere om dit te doen? Sê nou geld en ander middele is beperk? Ontwaak! het jongmense regoor die wêreld vir wenke en idees gevra. Dit sal in ’n toekomstige artikel in hierdie reeks bespreek word.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek rockkonserte bywoon?” in ons nommer van 22 Desember 1995.
[Prent op bladsy 26]
Moet jy voel dat jy al die plesier mis omdat jy nie kan meedoen aan wat die wêreld pret noem nie?