-
Wie het die wette gemaak wat ons heelal beheer?Die Wagtoring — 2011 | Julie 1
-
-
3. Ewig of onderhewig aan verval?
Aristoteles het geglo dat daar ’n ontsaglike onderskeid is tussen die hemel en die aarde. Die aarde, het hy gesê, is onderhewig aan verandering, verval en agteruitgang, terwyl die eter waaruit die sterrehemel bestaan, geheel en al onveranderlik, ewig is. Aristoteles se kristalsfere en die hemelliggame wat daaraan vas is, kon nooit verander, verslyt of vergaan nie.
Is dit wat die Bybel leer? Psalm 102:25-27 sê: “Lank gelede het u die fondamente van die aarde gelê, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar u sal bly bestaan; en net soos ’n kleed sal hulle almal verslyt. Net soos klere sal u hulle vervang, en hulle beurt sal tot ’n einde kom. Maar u is dieselfde, en u jare sal nie tot ’n einde kom nie.”
Let daarop dat hierdie psalmis, wat moontlik twee eeue voor Aristoteles se tyd geskryf het, nie die aarde teenoor die sterrehemel stel, asof die aarde aan verval onderhewig is terwyl die sterre ewig is nie. Hy stel eerder die hemel en die aarde teenoor God, die magtige Gees wat die skepping daarvan gerig het.d Hierdie psalm gee te kenne dat die sterre ewe veel aan verval onderhewig is as enigiets op die aarde. En wat was die bevindings van die moderne wetenskap?
Die geologie ondersteun die Bybel sowel as Aristoteles se beskouing dat die aarde aan verval onderhewig is. Trouens, die gesteentes van ons aarde word voortdurend afgebreek deur erosie en aangevul deur vulkaniese en ander geologiese aktiwiteit.
Maar wat van die sterre? Is hulle van nature onderhewig aan verval, soos die Bybel te kenne gee, of is hulle inherent ewig, soos Aristoteles geleer het? Europese sterrekundiges het Aristoteles se idee van ewige sterre in die 16de eeu HJ in twyfel begin trek toe hulle vir die eerste keer ’n supernova, die skouspelagtige ontploffing van ’n ster, waargeneem het. Wetenskaplikes het sedertdien waargeneem dat sterre skielik in sulke ontploffings kan sterf of stadig kan uitbrand of selfs ineen kan stort. Maar sterrekundiges het ook waargeneem hoe nuwe sterre in ‘sterbroeikaste’ ontstaan, gaswolke wat verryk is deur ou sterre wat ontplof het. Gevolglik is die Bybelskrywer se beeld van klere wat verslyt en vervang word, heel gepas.e Hoe merkwaardig is dit tog dat hierdie psalmis van die ou tyd woorde geskryf het wat so goed strook met hedendaagse ontdekkings!
Nogtans wonder jy dalk: ‘Leer die Bybel dat die aarde of die sterrehemel in sy geheel eendag tot ’n einde sal kom of vervang sal moet word?’ Nee, die Bybel belowe dat dit vir ewig sal bestaan (Psalm 104:5; 119:90). Maar dit is nie omdat hierdie skeppingswerke inherent ewig is nie; dit is eerder omdat die God wat dit geskep het, belowe om dit in stand te hou (Psalm 148:4-6). Hy sê nie hoe hy dit gaan doen nie, maar is dit nie redelik om te dink dat die Een wat die heelal geskep het ook die krag het om dit in stand te hou nie? Dit is soos ’n meesterbouer wat ’n huis vir homself en sy gesin bou en dit dan met sorg in stand hou.
-
-
Wie het die wette gemaak wat ons heelal beheer?Die Wagtoring — 2011 | Julie 1
-
-
e In die 19de eeu het die wetenskaplike William Thomson, wat ook as lord Kelvin bekend staan, die tweede wet van termodinamika ontdek, wat verduidelik waarom natuurlike stelsels met verloop van tyd geneig is om te verval en agteruit te gaan. Een faktor wat hom gehelp het om tot daardie gevolgtrekking te kom, was ’n noukeurige studie van Psalm 102:25-27.
-