-
Flitse van lig in apostoliese tyeDie Wagtoring – 1995 | Mei 15
-
-
Flitse van lig in apostoliese tye
“Lig het vir die regverdige opgegaan, en vreugde selfs vir die opregtes van hart.”—PSALM 97:11, NW.
1. Hoe kom Jehovah se Getuies vandag met die vroeë Christene ooreen?
HOE waardeer ons, as ware Christene, tog nie die woorde van Psalm 97:11 nie! Daar het herhaaldelik vir ons ‘lig opgegaan’. Trouens, party van ons sien Jehovah se flitsende verligting al dekades lank. Dit herinner ons aan Spreuke 4:18, wat sê: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” Ons, as Getuies van Jehovah, kom met die vroeë Christene ooreen, aangesien ons die Skrif belangriker as tradisie ag. Ons kan duidelik sien wat hulle gesindheid was deur te kyk na die geskiedkundige boeke van die Christelike Griekse Geskrifte en die briewe daarin, wat onder Goddelike inspirasie geskryf is.
2. Wat was van die eerste flitse van lig wat Jesus se volgelinge ontvang het?
2 Van die eerste flitse van lig wat Jesus Christus se vroeë volgelinge ontvang het, het met die Messias verband gehou. Andreas het vir sy broer Simon Petrus gesê: “Ons het die Messias gevind” (Johannes 1:41). ’n Ruk later het die hemelse Vader die apostel Petrus in staat gestel om hiervan te getuig toe hy vir Jesus Christus gesê het: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”—Matteus 16:16, 17; Johannes 6:68, 69.
Lig in verband met hulle predikingsopdrag
3, 4. Watter verligting aangaande hulle toekomstige bedrywigheid het Jesus sy volgelinge ná sy opstanding gegee?
3 Jesus Christus het ná sy opstanding flitse van lig gegee aangaande ’n verpligting wat op al sy volgelinge rus. Dit was heel waarskynlik vir die 500 dissipels wat in Galilea byeen was wat hy gesê het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20; 1 Korintiërs 15:6). Vervolgens moes al Christus se volgelinge predikers wees, en hulle predikingsopdrag moes nie tot “die verlore skape van die huis van Israel” beperk word nie (Matteus 10:6). Hulle moes mense ook nie met Johannes se doop as simbool van berou vir die vergifnis van sondes doop nie. Hulle moes mense eerder “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” doop.
4 Net voor Jesus na die hemel opgevaar het, het sy 11 getroue apostels gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Jesus het nie daardie vraag beantwoord nie, maar het eerder verdere onderrigting oor hulle predikingsopdrag gegee en gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” Tot op daardie tydstip was hulle net getuies van Jehovah, maar nou sou hulle ook getuies van Christus wees.—Handelinge 1:6-8.
5, 6. Watter flitse van lig het Jesus se dissipels op Pinkster ontvang?
5 Watter helder flitse van lig het Jesus se volgelinge skaars tien dae later ontvang! Op Pinkster 33 G.J. het hulle vir die eerste keer besef wat Joël 2:28, 29 beteken: “Ek [Jehovah, sal] my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” Jesus se dissipels het die heilige gees gesien in die vorm van tonge soos van vuur bo die koppe van almal—ongeveer 120 manne en vroue—wat in Jerusalem byeen was.—Handelinge 1:12-15; 2:1-4.
6 Die dissipels het ook op Pinkster eers verstaan dat die woorde van Psalm 16:10 op die verrese Jesus Christus van toepassing is. Die psalmis het gesê: “U [Jehovah God] sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.” Die dissipels het besef dat daardie woorde nie op koning Dawid van toepassing kon gewees het nie, want sy graf was tot daardie dag toe nog by hulle. Dit is geen wonder nie dat ongeveer 3 000 van dié wat die verduideliking van hierdie nuwe lig gehoor het so oortuig was dat hulle daardie selfde dag nog gedoop is!—Handelinge 2:14-41.
7. Watter helder lig het die apostel Petrus tydens sy besoek aan die Romeinse leëroffisier Kornelius ontvang?
7 Baie eeue lank het die Israeliete waardeer wat God oor hulle gesê het: “Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde” (Amos 3:2). Dit was dus inderdaad ’n helder flits van lig wat die apostel Petrus en diegene wat hom na die huis van die Romeinse leëroffisier Kornelius vergesel het, ontvang het toe die heilige gees die eerste keer op onbesnede nie-Joodse gelowiges neergedaal het. Dit is noemenswaardig dat dit die enigste keer is wat die heilige gees aan mense gegee is voor hulle gedoop is. Maar dit was nodig. Anders sou Petrus nie geweet het dat hierdie onbesnede nie-Jode aan die vereistes vir doop voldoen het nie. Petrus het die belangrikheid van hierdie verskynsel ten volle besef en gevra: “Kan enigeen water verbied sodat hierdie mense [nie-Jode], wat net soos ons die heilige gees ontvang het, nie gedoop word nie?” Niemand daar kon natuurlik tereg daarteen beswaar maak nie, en hierdie nie-Jode is derhalwe gedoop.—Handelinge 10:44-48; vergelyk Handelinge 8:14-17.
Geen besnydenis meer nie
8. Waarom was dit vir party vroeë Christene moeilik om van die besnydenis af te sien?
8 Daar was ’n verdere helder flits van waarheid in verband met die besnydeniskwessie. Die besnydenisgebruik het in 1919 v.G.J. begin toe Jehovah sy verbond met Abraham gesluit het. God het toe beveel dat Abraham en al die manlike lede in sy huis besny moet word (Genesis 17:9-14, 23-27). Die besnydenis het dus ’n kenmerk van Abraham se nakomelinge geword. En hoe trots was hulle tog op hierdie gebruik! “Onbesnedene” het gevolglik ’n uitdrukking van veragting geword (Jesaja 52:1; 1 Samuel 17:26, 27). Dit is maklik om te sien waarom sekere vroeë Joodse Christene hierdie teken wou behou. Party van hulle het ’n groot bespreking met Paulus en Barnabas hieroor gehad. Om dit op te los, het Paulus en ander na Jerusalem toe gegaan om die Christelike bestuursliggaam te raadpleeg.—Handelinge 15:1, 2.
9. Watter flitse van lig is aan die vroeë bestuursliggaam geopenbaar, soos in Handelinge hoofstuk 15 opgeteken is?
9 Hierdie keer was dit nie deur middel van ’n onmiskenbare wonderwerk wat daardie vroeë Christene die lig ontvang het dat die besnydenis nie meer ’n vereiste vir Jehovah se knegte is nie. Hulle het eerder hierdie helderder lig ontvang deur die Skrif te ondersoek, op die heilige gees vir leiding staat te maak en Petrus en Paulus se ondervindinge in verband met die bekering van onbesnede nie-Jode aan te hoor (Handelinge 15:6-21). Die beslissing is in ’n brief bekend gemaak wat deels gesê het: “Die heilige gees en ons het dit goedgedink om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: om julle voortdurend te onthou van afgodsofferandes en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:28, 29). Die vroeë Christene is dus van die bevel om hulle te besny en van die ander vereistes van die Mosaïese Wet vrygestel. Paulus kon derhalwe vir die Christene in Galasië sê: “Vir sulke vryheid het Christus ons vrygemaak.”—Galasiërs 5:1.
Lig in die Evangelies
10. Wat is party van die flitse van lig wat in Matteus se Evangelie geopenbaar is?
10 Dit ly geen twyfel nie dat die Evangelie van Matteus, wat omstreeks 41 G.J. geskryf is, baie flitse van lig bevat wat die lesers daarvan tot voordeel strek. Betreklik min van die eerste-eeuse Christene het self gehoor hoe Jesus sy leringe uiteensit. Matteus se Evangelie het veral beklemtoon dat die tema van Jesus se predikingswerk die Koninkryk was. En watter klem het Jesus tog gelê op die belangrikheid daarvan om die regte beweegrede te hê! Watter flitse van lig was daar tog nie in sy Bergpredikasie, in sy gelykenisse (soos dié wat in hoofstuk 13 opgeteken is) en in sy groot profesie in hoofstukke 24 en 25 nie! Al hierdie dinge is onder die vroeë Christene se aandag gebring in Matteus se Evangelieverslag wat eers ongeveer agt jaar ná Pinkster 33 G.J. geskryf is.
11. Wat kan oor die inhoud van die Evangelies van Lukas en Markus gesê word?
11 Sowat 15 jaar later het Lukas sy Evangelie geskryf. Hoewel baie daarvan met Matteus se verslag ooreenkom, is 59 persent bykomende inligting. Lukas het ses van Jesus se wonderwerke en meer as twee keer soveel van Sy illustrasies opgeteken wat nie deur die ander Evangelieskrywers gemeld word nie. Markus het sy Evangelie blykbaar net ’n paar jaar later geskryf en het klem gelê op Jesus Christus as ’n man van die daad, ’n wonderdoener. Hoewel Markus merendeels gebeure gemeld het wat vroeër deur Matteus en Lukas gedek is, het hy een gelykenis opgeteken wat hulle nie opgeteken het nie. In daardie illustrasie het Jesus die Koninkryk van God vergelyk met saad wat uitspruit, groot word en geleidelik vrug voortbring.a—Markus 4:26-29.
12. In watter mate het Johannes se Evangelie verdere lig voorsien?
12 Dan was daar Johannes se Evangelie, wat geskryf is meer as 30 jaar nadat Markus sy verslag geskryf het. Wat ’n groot straal van lig het Johannes tog op Jesus se bediening gewerp, veral deur baie verwysings na Sy voormenslike bestaan! Net Johannes praat van Lasarus se opstanding, en hy alleen gee aan ons talle van Jesus se uitstekende opmerkings aan sy getroue apostels sowel as sy aangrypende gebed die nag toe hy verraai is, soos in hoofstukke 13 tot 17 opgeteken is. Trouens, daar word gesê dat 92 persent van Johannes se Evangelie uniek is.
Flitse van lig in Paulus se briewe
13. Waarom beskou sommige Paulus se brief aan die Romeine as ’n Evangelie?
13 Die apostel Paulus is veral gebruik om vir Christene wat in apostoliese tye geleef het flitse van waarheid te bring. Daar is byvoorbeeld Paulus se brief aan die Romeine, wat omstreeks 56 G.J. geskryf is—ongeveer dieselfde tyd as wat Lukas sy Evangelie geskryf het. In hierdie brief beklemtoon Paulus die feit dat regverdigheid as gevolg van God se onverdiende goedhartigheid en deur geloof in Jesus Christus toegereken word. Paulus se beklemtoning van hierdie aspek van die goeie nuus het daartoe gelei dat sommige sy brief aan die Romeine as ’n vyfde Evangelie beskou.
14-16. (a) Watter lig het Paulus in sy eerste brief aan die Christene in Korinte op die behoefte aan eensgesindheid gewerp? (b) Watter verdere lig bevat Eerste Korintiërs wat gedrag betref?
14 Paulus het oor sekere sake geskryf waarmee die Christene in Korinte probleme ondervind het. Sy brief aan die Korintiërs is vol geïnspireerde raad wat Christene tot vandag toe tot voordeel strek. Eerstens moes hy die Korintiërs inlig omtrent die fout wat hulle begaan het deur groepe te vorm wat sekere individue aanhang. Die apostel het hulle reggehelp en reguit vir hulle gesê: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet spreek en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.”—1 Korintiërs 1:10-15.
15 Growwe onsedelikheid is in die Christengemeente in Korinte geduld. ’n Man daar het sy vader se vrou geneem en sodoende hoerery beoefen ‘van so ’n aard as wat nie eens onder die nasies voorgekom het nie’. Paulus het onomwonde geskryf: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit” (1 Korintiërs 5:1, 11-13). Dit was iets nuuts vir die Christengemeente—uitsetting. Nog iets waaroor die gemeente in Korinte ingelig moes word, het verband gehou met die feit dat party gemeentelede hulle geestelike broers voor wêreldse howe gebring het ten einde griewe uit die weg te ruim. Paulus het hulle streng berispe omdat hulle dit gedoen het.—1 Korintiërs 6:5-8.
16 Nog ’n saak waarmee die gemeente in Korinte probleme gehad het, het met geslagsgemeenskap verband gehou. In 1 Korintiërs hoofstuk 7 het Paulus getoon dat dit weens die algemeenheid van geslagsonsedelikheid goed is as elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man het. Paulus het ook getoon dat ongetroude mense Jehovah wel kan dien sonder om te veel afgelei te word, maar dat nie almal die gawe van die ongetroude lewe het nie. En as ’n vrou se man sou sterf, sou sy vry wees om weer te trou, maar “net in die Here”.—1 Korintiërs 7:39.
17. Watter lig het Paulus op die opstandingsleer gewerp?
17 Watter flitse van lig het die Here Paulus tog nie op die opstanding laat werp nie! Met watter soort liggaam sal gesalfde Christene opgewek word? “Dit word as ’n fisiese liggaam gesaai, dit word as ’n geestelike liggaam opgewek”, het Paulus geskryf. Geen vleeslike liggame sal hemel toe geneem word nie, aangesien “vlees en bloed God se koninkryk nie kan beërf nie”. Paulus het bygevoeg dat nie al die gesalfdes in die dood sal slaap nie, maar dat party gedurende Jesus se teenwoordigheid oombliklik tot onsterflike lewe opgewek sal word wanneer hulle sterf.—1 Korintiërs 15:43-53.
18. Watter lig omtrent die toekoms het Paulus se eerste brief aan die Tessalonisense bevat?
18 In sy brief aan die Christene in Tessalonika is Paulus gebruik om lig op die toekoms te werp. Jehovah se dag sal soos ’n dief in die nag kom. Paulus het ook verduidelik: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan gaan skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie.”—1 Tessalonisense 5:2, 3.
19, 20. Watter flitse van lig het die Christene in Jerusalem en Judea in Paulus se brief aan die Hebreërs ontvang?
19 Deur sy brief aan die Hebreërs te skryf, het Paulus flitse van lig aan die vroeë Christene in Jerusalem en Judea oorgedra. Hoe kragtig het hy tog getoon dat die Christelike stelsel van aanbidding voortrefliker as die Mosaïese stelsel van aanbidding is! Christene leef nie volgens die Wet wat deur engele oorgedra is nie, maar hulle het eerder geloof in ’n redding wat eerste deur God se Seun verkondig is, en hy is ver bo sulke engeleboodskappers verhewe (Hebreërs 2:2-4). Moses was net ’n dienaar in die huis van God. Maar Jesus Christus het toesig oor die hele huis. Christus is ’n hoëpriester volgens die wyse van Melgisedek en het ’n posisie wat ver bo die Aäronitiese priesterskap verhewe is. Paulus het ook daarop gewys dat die Israeliete weens ongeloof en ongehoorsaamheid nie in God se rus kon ingaan nie, maar Christene gaan weens hulle getrouheid en gehoorsaamheid in daardie rus in.—Hebreërs 3:1–4:11.
20 Dan is die nuwe verbond ook ver bo die Wetsverbond verhewe. Soos daar 600 jaar vroeër in Jeremia 31:31-34 voorspel is, is God se wet in die hart geskryf van diegene wat in die nuwe verbond is, en hulle geniet ware vergifnis van sondes. Christene het nie ’n hoëpriester wat elke jaar vir sy eie sondes en dié van die volk offers moes bring nie, maar hulle het Jesus Christus as hulle Hoëpriester, wat sonder sonde is en wat eens en vir altyd ’n offer vir sondes gebring het. Hy het nie in ’n heilige plek wat met hande gemaak is, ingegaan om sy offerande aan te bied nie, maar in die hemel self om daar voor die persoon van Jehovah te verskyn. Bowendien kon diereofferandes onder die Mosaïese Wetsverbond sondes nie heeltemal wegneem nie, anders sou hulle dit nie elke jaar geoffer het nie. Maar Christus se offerande, wat eens en vir altyd gebring is, neem wel sondes weg. Al hierdie dinge werp lig op die groot geestelike tempel, in die voorhowe waarvan die gesalfde oorblyfsel en die “ander skape” vandag dien.—Johannes 10:16; Hebreërs 9:24-28.
21. Wat het hierdie bespreking getoon met betrekking tot die vervulling van Psalm 97:11 en Spreuke 4:18 in apostoliese tye?
21 Die ruimte ontbreek om nog voorbeelde te noem, soos flitse van lig wat in die briewe van die apostel Petrus en dié van die dissipels Jakobus en Judas aangetref word. Maar die voorgaande behoort voldoende te wees om te toon dat Psalm 97:11 en Spreuke 4:18 in apostoliese tye op merkwaardige wyse vervul is. Die waarheid het van sinnebeelde en afbeeldings tot vervullings en werklikhede begin vorder.—Galasiërs 3:23-25; 4:21-26.
22. Wat het ná die dood van die apostels gebeur, en wat sal die volgende artikel toon?
22 Ná die dood van Jesus se apostels en die begin van die voorspelde afvalligheid het die lig van waarheid baie flou geskyn (2 Tessalonisense 2:1-11). Maar in ooreenstemming met Jesus se belofte het die Heer ná baie eeue teruggekeer en gevind dat “die getroue en verstandige slaaf” die “huisknegte” hulle voedsel op die regte tyd gee. Gevolglik het Jesus Christus daardie slaaf “oor al sy besittings” aangestel (Matteus 24:45-47). Watter flitse van lig het hierop gevolg? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a Die grond het hier betrekking op die milieu waarin die Christen verkies om persoonlikheidseienskappe aan te kweek.—Sien Die Wagtoring, 1 September 1980, bladsye 18-19.
-
-
Deel een—Flitse van lig—groot en kleinDie Wagtoring – 1995 | Mei 15
-
-
Deel een—Flitse van lig—groot en klein
“Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”—SPREUKE 4:18.
1. Waarom word die waarheid geleidelik geopenbaar?
DIT is ’n blyk van Goddelike wysheid dat die openbaring van geestelike waarhede, in ooreenstemming met Spreuke 4:18, geleidelik deur middel van flitse van lig plaasvind. In die voorgaande artikel het ons gesien hoe hierdie teks in apostoliese tye vervul is. As die groot versameling van skriftuurlike waarheid alles tegelyk geopenbaar is, sou dit verblindend sowel as verwarrend gewees het—baie soos wanneer ’n mens uit ’n donker grot in helder sonlig kom. Boonop versterk waarhede wat geleidelik geopenbaar word voortdurend Christene se geloof. Dit maak hulle hoop al hoe helderder en die weg wat hulle moet bewandel al hoe duideliker.
“Die getroue en verstandige slaaf”
2. Wie het Jesus getoon sou hy gebruik om geestelike lig vir sy volgelinge te bring, en uit wie bestaan daardie kanaal?
2 In apostoliese tye het Jesus Christus dit goedgedink om bonatuurlike metodes te gebruik om sy volgelinge die vroegste flitse van lig te gee. Ons het twee voorbeelde hiervan: Pinkster 33 G.J. en die bekering van Kornelius in 36 G.J. Later het Christus dit goedgedink om ’n menslike kanaal te gebruik, net soos hy voorspel het: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy heer by sy aankoms vind dat hy dit doen! Voorwaar, ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matteus 24:45-47). Hierdie slaaf kon nie net een mens wees nie aangesien hy geestelike voedsel moes voorsien van die ontstaan van die Christengemeente op Pinkster af tot die Heer, Jesus Christus, gekom het om rekenskap te eis. Die feite toon dat hierdie “getroue en verstandige slaaf”-klas bestaan uit alle gesalfde Christene as ’n groep op aarde op enige gegewe tyd.
3. Wie was onder die eerste lede van die slaafklas?
3 Wie was onder die eerste lede van die “getroue en verstandige slaaf”-klas? Een was die apostel Petrus, wat ag gegee het op Jesus se bevel: “Voed my skapies” (Johannes 21:17). Ander vroeë lede van die slaafklas het Matteus ingesluit, wat die Evangelie geskryf het wat sy naam dra, sowel as Paulus, Jakobus en Judas, wat geïnspireerde briewe geskryf het. Die apostel Johannes, wat die boek Openbaring, sy Evangelie en sy briewe op skrif gestel het, was ook ’n lid van die “getroue en verstandige slaaf”-klas. Hierdie manne het in ooreenstemming met Jesus se opdrag geskryf.
4. Wie is die “huisknegte”?
4 As al die gesalfdes as ’n groep, ongeag waar hulle op die aarde woon, lede van die slaafklas is, wie is dan die “huisknegte”? Hulle is dieselfde gesalfdes, maar vanuit ’n ander oogpunt beskou—as individue. Ja, as individue sou hulle van die “slaaf” wees of hulle sou “huisknegte” wees, na gelang daarvan of hulle geestelike voedsel uitdeel of dit inneem. Ter toeligting: Soos in 2 Petrus 3:15, 16 opgeteken is, maak die apostel Petrus melding van Paulus se briewe. Wanneer Petrus dit gelees het, was hy soos een van die huisknegte wat die geestelike voedsel ingeneem het wat deur Paulus as ’n verteenwoordiger van die slaafklas voorsien is.
5. (a) Wat het gedurende die eeue ná die apostels met die slaaf gebeur? (b) Watter ontwikkelinge het in die laaste helfte van die 19de eeu plaasgevind?
5 In hierdie verband het die boek God’s Kingdom of a Thousand Years Has Approached gesê: “Ons het nie ’n duidelike geskiedkundige beeld van presies hoe die ‘getroue en verstandige slaaf’-klas gedurende die eeue ná die dood van die apostels van die Heer Jesus Christus bestaan en gedien het nie. Klaarblyklik het een geslag van die ‘slaaf’-klas aan die daaropvolgende geslag voedsel voorsien (2 Timoteus 2:2). Maar in die laaste helfte van die negentiende eeu was daar godvresende mense wat die geestelike voedsel van die Heilige Bybel liefgehad het en dit graag wou inneem . . . Bybelstudieklasse . . . is gevorm en het vooruitgang gemaak wat hulle begrip van die grondwaarhede van die Heilige Skrif betref. Diegene onder hierdie Bybelstudente wat waarlik onselfsugtig was, was gretig om van hierdie lewensbelangrike porsies geestelike voedsel met ander te deel. Hulle het die getroue gesindheid van die ‘slaaf’ gehad wat aangestel is om die ‘huisknegte’ die nodige geestelike ‘voedsel op die regte tyd’ te gee. Hulle was ‘verstandig’ omdat hulle onderskei het dat dit destyds die regte tyd was en wat die beste kanaal vir die opdiening van die voedsel was. Hulle het daarna gestreef om dit op te dien.”—Bladsye 344-5.a
Vroeë flitse van lig in hedendaagse tye
6. Watter feit omtrent die geleidelike openbaring van waarheid staan soos ’n paal bo water?
6 ’n Feit wat soos ’n paal bo water staan, is dat diegene wat deur Jehovah gebruik is om hierdie geleidelike vermeerdering van geestelike lig teweeg te bring hulle geen eer toegeëien het nie. Die gesindheid van C. T. Russell, die Wagtoringgenootskap se eerste president, was dat dit die Here behaag het om hulle beskeie talente te gebruik. Aangaande byname wat sy vyande geneig was om te gebruik, het broer Russell dit baie duidelik gestel dat hy nooit ’n “Russelliet” ontmoet het nie en dat daar nie iets soos “Russellisme” is nie. Alle eer is aan God gegee.
7. Hoe het broer Russell en sy medewerkers bewys dat hulle inderdaad deel uitgemaak het van die getroue en verstandige slaaf?
7 Te oordeel na die resultate kan daar geen twyfel bestaan dat die pogings van broer Russell en dié wat met hom geassosieer het deur Jehovah se heilige gees gerig is nie. Hulle het bewys dat hulle deel uitgemaak het van die getroue en verstandige slaaf. Hoewel baie geestelikes destyds beweer het dat hulle glo dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is en dat Jesus die Seun van God is, het hulle valse, Babiloniese leerstellings soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die mensesiel en ewige foltering gesteun. In ooreenstemming met Jesus se belofte was dit beslis aan die heilige gees te danke dat die beskeie pogings van broer Russell en sy medewerkers die waarheid laat skyn het soos nog nooit tevore nie (Johannes 16:13). Daardie gesalfde Bybelstudente het bewys dat hulle inderdaad deel uitgemaak het van die “getroue en verstandige slaaf”-klas, wat die opdrag het om geestelike voedsel aan die Heer se huisknegte te voorsien. Hulle pogings het baie gehelp met die insameling van die gesalfdes.
8. Watter basiese feite omtrent Jehovah, die Bybel, Jesus Christus en die heilige gees het die Bybelstudente goed verstaan?
8 Dit is merkwaardig om te sien hoeveel flitse van lig Jehovah deur middel van die heilige gees aan hierdie vroeë Bybelstudente gegee het. Eerstens het hulle onteenseglik bewys dat die Skepper bestaan en dat hy die unieke naam Jehovah het (Psalm 83:18, NW; Romeine 1:20). Hulle het gesien dat Jehovah vier hoofeienskappe het—krag, geregtigheid, wysheid en liefde (Genesis 17:1; Deuteronomium 32:4, NW; Romeine 11:33; 1 Johannes 4:8). Hierdie gesalfde Christene het duidelik bewys dat die Bybel God se geïnspireerde Woord en die waarheid is (Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16, 17). Hulle het ook geglo dat God se Seun, Jesus Christus, geskep is en dat hy sy lewe as ’n losprys vir die hele mensdom gegee het (Matteus 20:28; Kolossense 1:15). Hulle het besef dat die heilige gees beslis nie ’n derde persoon van ’n Drie-eenheid is nie, maar God se werkende krag.—Handelinge 2:17.
9. (a) Watter waarhede het die Bybelstudente duidelik begryp omtrent die mens se natuur en die verwagtinge waarvan die Bybel praat? (b) Watter ander waarhede het Jehovah se knegte goed verstaan?
9 Die Bybelstudente het duidelik gesien dat die mens nie ’n onsterflike siel het nie, maar dat hy ’n sterflike siel is. Hulle het besef dat ‘die loon wat die sonde betaal die dood is’, nie ewige foltering nie, aangesien daar nie iets soos ’n brandende hel is nie (Romeine 5:12; 6:23; Genesis 2:7; Esegiël 18:4). Boonop het hulle duidelik gesien dat die evolusieteorie nie net onskriftuurlik nie, maar heeltemal sonder feitelike grondslag is (Genesis, hoofstukke 1 en 2). Hulle het ook onderskei dat die Bybel van twee verwagtinge praat—’n hemelse vir die 144 000 gesalfde voetstapnavolgers van Christus en ’n paradysaarde vir ’n ongetelde “groot skare” “ander skape” (Openbaring 7:9; 14:1; Johannes 10:16). Daardie vroeë Bybelstudente het ook besef dat die aarde vir ewig bly staan en nie sal verbrand soos baie godsdienste leer nie (Prediker 1:4; Lukas 23:43). Hulle het ook geleer dat Christus onsigbaar sou terugkeer en dat hy dan die nasies sou oordeel en ’n aardse paradys sou inlui.—Handelinge 10:42; Romeine 8:19-21; 1 Petrus 3:18.
10. Watter waarhede omtrent doop, ’n onderskeid tussen geestelikes en leke en die herdenking van Christus se dood het die Bybelstudente geleer?
10 Die Bybelstudente het geleer dat skriftuurlike doop nie bloot die besprinkeling van babas is nie, maar dat dit, in ooreenstemming met Jesus se bevel in Matteus 28:19, 20, die onderdompeling is van gelowiges wat onderrig is. Hulle het besef dat daar geen skriftuurlike grondslag vir ’n onderskeid tussen geestelikes en leke is nie (Matteus 23:8-10). Inteendeel, alle Christene moet verkondigers van die goeie nuus wees (Handelinge 1:8). Die Bybelstudente het besef dat die herdenking van Christus se dood net een keer per jaar, op 14 Nisan, gehou moet word. Daarbenewens het hulle gesien dat Paasfees ’n heidense vakansiedag is. Daardie gesalfdes was boonop so vol vertroue dat God hulle werk steun dat hulle nooit kollektes opgeneem het nie (Matteus 10:8). Reg van die begin af het hulle besef dat Christene volgens Bybelbeginsels moet lewe, wat behels dat hulle die vrugte van God se heilige gees moet aankweek.—Galasiërs 5:22, 23.
Toenemende flitse van lig
11. Watter lig het op die Christen se verpligting en op Jesus se gelykenis van die skape en die bokke geskyn?
11 Jehovah se knegte word veral sedert 1919 met toenemende flitse van lig geseën. Wat ’n helder flits van lig het tog in 1922 by die byeenkoms in Cedar Point geskyn toe J. F. Rutherford, die Wagtoringgenootskap se tweede president, die gedagte goed beklemtoon het dat die vernaamste verpligting van Jehovah se knegte is om ‘die Koning en sy koninkryk te adverteer, adverteer, adverteer’! Net die volgende jaar het helder lig op die gelykenis van die skape en die bokke geskyn. Daar is gesien dat hierdie profesie in die huidige dag van die Here vervul moet word, nie in die toekoms gedurende die Millennium soos die mening vroeër was nie. Gedurende die Millennium sal Christus se broers nie siek of in die gevangenis wees nie. Aan die einde van die Millennium sal dit buitendien Jehovah God wees wat oordeel, nie Jesus Christus nie.—Matteus 25:31-46.
12. Watter flits van lig was daar omtrent Armageddon?
12 In 1926 het nog ’n helder flits van lig geopenbaar dat die oorlog van Armageddon nie ’n maatskaplike revolusie sal wees soos Bybelstudente vroeër gemeen het nie. Dit sal eerder ’n oorlog wees waarin Jehovah sy krag so duidelik sal toon dat alle mense oortuig sal wees dat hy God is.—Openbaring 16:14-16; 19:17-21.
Kersfees—’n heidense vakansiedag
13. (a) Watter lig is op Kersvierings gewerp? (b) Waarom is verjaarsdae nie meer gevier nie? (Sluit voetnoot in.)
13 Kort daarna het ’n flits van lig daartoe gelei dat die Bybelstudente nie meer Kersfees gevier het nie. Voor daardie tyd is Kersfees altyd deur die Bybelstudente oor die hele wêreld gevier, en die viering daarvan by die hoofkwartier in Brooklyn was ’n baie feestelike geleentheid. Maar toe is daar onderskei dat die viering van 25 Desember eintlik heidens is en deur die afvallige Christendom gekies is sodat heidene makliker tot bekering gebring kon word. Bowendien is daar vasgestel dat Jesus nie in die winter gebore kon gewees het nie, aangesien herders hulle kuddes ten tye van sy geboorte in die veld laat wei het—iets wat hulle nie in die nag aan die einde van Desember sou gedoen het nie (Lukas 2:8). Die Skrif toon eerder dat Jesus om en by 1 Oktober gebore is. Die Bybelstudente het ook besef dat die sogenaamde wyse manne wat Jesus ongeveer twee jaar ná sy geboorte besoek het heidense sterrewiggelaars was.b
’n Nuwe naam
14. Waarom het die naam Bybelstudente Jehovah se volk nie tot hulle reg laat kom nie?
14 In 1931 het ’n helder flits van waarheid ’n gepaste skriftuurlike naam aan daardie Bybelstudente geopenbaar. Jehovah se volk het geweet dat hulle nie een van die byname wat ander hulle gegee het, soos Russelliete, “Millennial Dawnists” en “no hellers”, kon aanneem nie.c Maar hulle het ook begin besef dat die naam wat hulle self aangeneem het—Internasionale Bybelstudente—hulle nie tot hulle reg laat kom het nie. Hulle was veel meer as net Bybelstudente. Daar was buitendien baie ander wat studente van die Bybel was, maar wat niks met die Bybelstudente gemeen gehad het nie.
15. Watter naam het die Bybelstudente in 1931 aangeneem, en waarom is dit gepas?
15 Hoe het die Bybelstudente ’n nuwe naam gekry? Die Wagtoring het reeds jare lank Jehovah se naam onder mense se aandag gebring. Derhalwe was dit heel gepas dat die Bybelstudente die naam aangeneem het wat in Jesaja 43:10 aangetref word: “Júlle is my getuies, spreek [Jehovah, NW], en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is—voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.”
Regverdiging en die “groot skare”
16. Waarom kon die herstellingsprofesieë nie op die natuurlike Jode se terugkeer na Palestina van toepassing wees nie, maar op wie is dit van toepassing?
16 In deel twee van Regverdiging, wat in 1932 deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, het ’n flits van lig geopenbaar dat die herstellingsprofesieë wat deur Jesaja, Jeremia, Esegiël en ander profete opgeteken is nie (soos vroeër gemeen is) van toepassing was op die vleeslike Jode, wat in ongeloof en met politieke beweegredes na Palestina teruggekeer het nie. Maar hierdie herstellingsprofesieë, wat ’n kleiner vervulling gehad het toe die Jode in 537 v.G.J. uit Babiloniese gevangenskap teruggekeer het, het hulle groter vervulling in geestelike Israel se bevryding en herstel sedert 1919 gehad en in die gevolglike voorspoed in die geestelike paradys wat Jehovah se ware knegte vandag geniet.
17, 18. (a) Hoe is daar mettertyd deur ’n flits van lig getoon wat Jehovah se hoofdoel is? (b) Watter flits van lig omtrent Openbaring 7:9-17 het in 1935 plaasgevind?
17 Mettertyd het flitse van lig geopenbaar dat Jehovah se hoofdoel nie die redding van mense nie, maar die regverdiging van sy soewereiniteit is. Daar is gesien dat die belangrikste tema van die Bybel nie die losprys nie, maar die Koninkryk is, aangesien dit Jehovah se soewereiniteit gaan regverdig. Wat ’n flits van lig was dit tog nie! Dit was nie meer vir toegewyde Christene die hoofsaak dat hulle in die hemel kom nie.
18 In 1935 het ’n helder flits van lig geopenbaar dat die groot skare wat in Openbaring 7:9-17 gemeld word nie ’n ondergeskikte hemelse klas is nie. Daar is eers gemeen dat diegene wat in daardie verse gemeld word party van die gesalfdes is wat nie heeltemal getrou was nie en dus voor die troon gestaan het pleks van op trone te sit en as konings en priesters saam met Jesus Christus te heers. Maar daar bestaan eenvoudig nie iets soos gedeeltelike getrouheid nie. Iemand is óf getrou óf ontrou. Daar is dus gesien dat hierdie profesie betrekking het op die ontelbare groot skare uit alle nasies wat nou versamel word en ’n aardse hoop het. Hulle is “die skape” van Matteus 25:31-46 en die “ander skape” van Johannes 10:16.
Die kruis—nie ’n Christelike simbool nie
19, 20. Waarom kan die kruis nie ’n simbool van die ware Christelike godsdiens wees nie?
19 Die Bybelstudente het baie jare lank aan die kruis as ’n simbool van die Christelike godsdiens prominensie verleen. Hulle het selfs ’n “kruis-en-kroon”-kenteken gehad. Volgens die King James Version het Jesus sy volgelinge gevra om hulle “kruis” op te neem, en baie het gevolglik geglo dat hy aan ’n kruis tereggestel is (Matteus 16:24; 27:32). Hierdie simbool het ook dekades lank op die voorblad van die tydskrif die Watch Tower verskyn.
20 Die boek Rykdom, wat in 1936 deur die Genootskap uitgegee is, het dit duidelik gestel dat Jesus Christus nie aan ’n kruis nie, maar aan ’n regop paal tereggestel is. Volgens een gesaghebbende beteken die Griekse woord (stau·rosʹ) wat in die King James Version met “kruis” weergegee word “hoofsaaklik ’n regop spar of staak. [Dit moet] onderskei word van die kerklike vorm van ’n kruis met twee balke. . . . Laasgenoemde het in eertydse Galdea ontstaan en is as die simbool van die god Tammus gebruik.” Die instrument waaraan Jesus genael is, moenie verafgod word nie; inteendeel, dit moet met afsku bejeën word.
21. Wat gaan in die volgende artikel bespreek word?
21 Daar is verdere voorbeelde van groot flitse van lig sowel as van dié wat moontlik as klein beskou word. Sien asseblief die volgende artikel vir ’n bespreking hiervan.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Mettertyd is daar gesien dat ons geen verjaarsdag moet vier indien die belangrikste geboorte wat tot nog toe plaasgevind het nie gevier kan word nie. Boonop het nóg die Israeliete nóg die vroeë Christene verjaarsdae gevier. Die Bybel meld slegs twee verjaarsdae, Farao s’n en Herodes Antipas s’n. Albei vierings is deur ’n teregstelling bederf. Jehovah se Getuies vier nie verjaarsdae nie, aangesien hierdie vierings van heidense oorsprong is en gewoonlik dié vereer wat verjaar.—Genesis 40:20-22; Markus 6:21-28.
c Etlike van die Christendom se kerke het hierdie fout begaan. Lutheraan was ’n bynaam wat vyande van Martin Luther sy aanhangers gegee het, ’n naam wat hulle toe aangeneem het. Die Baptiste het eweneens die bynaam aangeneem wat buitestanders hulle gegee het omdat hulle doop deur onderdompeling verkondig het. Metodiste het op min of meer dieselfde manier ’n naam aangeneem wat ’n buitestander hulle gegee het. The World Book Encyclopedia meld hoe die Genootskap van Vriende die naam Kwakers (Quakers) gekry het en sê: “Die woord Quaker is oorspronklik as ’n belediging vir Fox [die stigter] bedoel, wat vir ’n Engelse regter gesê het dat hy ‘vir die Woord van die Here moet bewe’. Die regter het Fox ’n ‘quaker’ genoem.”
-