Waak teen skadelike skinderpraatjies!
“By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel.”—SPREUKE 10:19.
1. Hoe skadelik is kwaadwillige skinderpraatjies of laster?
NIKS kan dodelike gif in ’n gesonde drankie verander nie. Kwaadwillige skinderpraatjies, of laster, is al gepas vergelyk met gif, wat ’n regskape persoon ook van sy goeie naam kan beroof. Die Romeinse digter Juvenalis het laster “daardie ergste van alle giwwe” genoem. En die Engelse dramaturg William Shakespeare het een van sy karakters die volgende woorde in die mond gelê: “Hy wat my my goeie naam ontneem, beroof my van wat hom nie verryk nie en maak my inderdaad arm.”
2. Watter vrae moet ondersoek word?
2 Maar wat is skinderpraatjies presies? Hoe kan dit van laster verskil? Waarom moet ’n mens teen skadelike skinderpraatjies waak? En hoe kan dit gedoen word?
Die verskil
3. Wat is die verskil tussen skinderpraatjies en laster?
3 Skinderpraatjies is “ligsinnige praatjies, wat nie altyd waar is nie, oor ander mense en hulle sake”. Dit is “gemoedelike, informele geselsery of skrywery”. Aangesien ons almal in mense belangstel, sê ons partykeer goeie, opbouende dinge van ander. Laster is anders. Dit is “’n vals berig wat bedoel is om ’n ander se goeie naam en reputasie skade aan te doen”. Sulke uitlatings is gewoonlik kwaadwillig en is onchristelik.
4. Hoe kan laster volgens een skrywer begin, en waaruit spruit dit voort?
4 Onskadelike skinderpraatjies kan in venynige laster ontaard. Die skrywer Arthur Mee het gesê: “Die laster wat iemand leed aandoen, en hom kan ruïneer, begin gewoonlik as skinderpraatjies, die soort skinderpraatjies wat aanvanklik die gevolg van niks ergers as ledigheid is nie. Dit is een van die grootste euwels in die wêreld, maar dit spruit gewoonlik uit onkunde voort. Ons tref dit meestal aan onder diegene wat baie min het om te doen en geen bepaalde lewensdoel het nie.”
5. Wat is die kern van Paulus se raad in 1 Timotheüs 5:11-15?
5 Aangesien ligsinnige praatjies in laster kan ontaard, het die apostel Paulus hom teen sekere skinderaars uitgespreek. Nadat hy melding gemaak het van weduwees wat aan die vereistes vir gemeentelike bystand voldoen het, het hy geskryf: “Jy moet die jong weduwees afwys; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, . . . leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek [“skinderaars”, NW] en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie. Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise [versorg] en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie. Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan.”—1 Timotheüs 5:11-15, vgl. NAV.
6. Wat moet gedoen word om ’n persoonlike swak vir die soort skinderpraatjies wat in laster kan ontaard te bowe te kom?
6 Aangesien Paulus onder goddelike inspirasie geskryf het, het hy nie onbillike aanmerkings oor hierdie vroue gemaak nie. Sy woorde is stof tot baie ernstige nadenke. Geen godvrugtige vrou wil ‘afwyk agter die Satan aan’ nie. Maar sê nou ’n Christin vind dat sy ’n swak het vir die soort praatjies waardeur sy haar aan laster skuldig kan maak? Dan moet sy nederig ag slaan op Paulus se raad: “Net so moet die vroue [ernstig] wees, geen kwaadspreeksters nie.” Hy het ook gesê: “Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters [nie]” (1 Timotheüs 3:11, vgl. NW; Titus 2:3). Ook broers moet daardie wyse raad nugter toepas.
7. Hoe toon die Skrif dat ons almal ons tong in toom moet hou?
7 Natuurlik praat ons almal soms van ander mense, hulle ondervindings in die bediening, ensovoorts. Maar laat ons nooit ‘sit en praat teen ons broer’ nie (Psalm 50:19, 20). Dit is inderdaad verstandig om nie te veel te praat nie, want “by veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig” (Spreuke 10:19). Ons moet dus teen skinderpraatjies waak, selfs al lyk dit nie skadelik nie. Dit is glad nie nodig dat ons heeltyd van mense hoef te praat nie, aangesien ons ’n groot verskeidenheid onderwerpe het as ons regverdige, rein, lieflike, deugvolle en loflike dinge bedink.—Filippense 4:8.
Hoe skinderpraatjies laster word
8. Waarom is dit nie altyd verkeerd om van mede-Christene te praat nie?
8 Mits ons akkuraat is en niemand veronreg word deur wat ons sê nie, doen dit geen kwaad om van die veldbediening en ander godvrugtige bedrywighede van medegelowiges te praat nie, Trouens, sulke positiewe opmerkings kan ander bemoedig. (Vergelyk Handelinge 15:30-33.) Party Christene het van die getroue ouere man Gajus gepraat, aan wie die apostel Johannes geskryf het: “Geliefde, jy handel getrou in alles wat jy doen vir die broeders, en dit vir vreemdelinge wat van jou liefde voor die gemeente getuig het” (3 Johannes 5, 6). Dit is dus nie altyd verkeerd om van mede-Christene te praat nie.
9. (a) Hoe kan gemoedelike geselsery in laster teen regskape mense ontaard? (b) Watter vrae kan ons ons gepas afvra?
9 Maar gemoedelike geselsery kan ontaard in laster teen regskape mense as ons hulle privaat aangeleenthede begin bespreek, hulle beweegredes bevraagteken of agterdog oor hulle gedrag wek. Ons kan dit ’n gewoonte maak om ons vrae soos die volgende af te vra: Sal wat ek sê afbreuk doen aan ’n ander se reputasie? Is wat ek sê waar? (Openbaring 21:8). Sal ek dieselfde in sy teenwoordigheid sê? Sal dit tweedrag in die gemeente saai? Kan my bewerings hom diensvoorregte laat verloor? Is daar dalk afguns in my hart? (Galasiërs 5:25, 26; Titus 3:3). Sal die gevolge van my opmerkings goed of sleg wees? (Mattheüs 7:17-20). Sou ek soortgelyke dinge van die apostels gesê het? (2 Korinthiërs 10:10-12, vgl. NW; 3 Johannes 9, 10). Betaam sulke spraak diegene wat eerbied vir Jehovah het?
10, 11. Wat sal ons volgens Psalm 15:1, 3 vermy as ons God se gas wil wees?
10 Psalm 15:1 (NW) vra die volgende met betrekking tot diegene wat God eerbiedig: “O Jehovah, wie sal ’n gas wees in u tent? Wie sal op u heilige berg bly?” Die psalmis Dawid het ten opsigte van so ’n persoon geantwoord: “Hy het met sy tong nie gelaster nie. Sy metgesel het hy niks kwaads aangedoen nie, en geen smaad het hy opgeneem teen sy intieme kennis nie” (Psalm 15:3, NW). Hier is die woord “gelaster” afkomstig van ’n Hebreeuse werkwoord wat beteken “om te stap” en dus “om rond te gaan”. Die Israeliete is beveel: “Moenie onder jou volk rondgaan en laster versprei nie” (Levitikus 19:16, New International Version). Enigeen wat “rondgaan en laster versprei”, is nie God se gas en vriend nie.
11 Vriende van God doen hulle metgeselle geen kwaad aan nie en sal geen smadelike stories oor regskape kennisse opneem, of as waar aanvaar, nie. Pleks van vals stories oor medegelowiges te versprei en by te dra tot die las wat hulle reeds dra weens die bose beskuldigings van goddelose mense, moet ons goeie dinge van hulle sê. Ons moet sorg dat ons nooit die laste van ons getroue broers en susters vermeerder deur smadelike dinge van hulle te sê nie.
Wanneer probleme ontstaan
12. Hoe kan Handelinge 15:36-41 ons help as ons in die versoeking kom om iemand met wie ons ’n verskil het te beskinder?
12 Aangesien ons onvolmaak is, kom ons dalk in die versoeking om iets slegs van iemand te sê met wie ons ’n ernstige verskil gehad het. Maar kyk wat gebeur het toe die apostel Paulus op die punt gestaan het om op sy tweede sendingreis te vertrek. Hoewel Barnabas vasbeslote was dat Markus hulle moes vergesel, het Paulus dit nie reg geag “om [Markus] saam te neem wat van Pamfilië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie”. Daarop het daar “’n skerp uitbarsting van toorn” ontstaan en het hulle van mekaar geskei. Barnabas het Markus saam met hom na Ciprus geneem, terwyl Paulus Silas saam met hom deur Sirië en Cilicië laat gaan het (Handelinge 15:36-41, vgl. NW). Later is die onenigheid tussen Paulus, Barnabas en Markus blykbaar opgelos, want Markus was by die apostel in Rome, en Paulus het gunstig van hom gepraat (Kolossense 4:10). Selfs al was daar ’n meningsverskil is daar niks wat daarop dui dat daardie Christene rondgegaan en mekaar by medegelowiges beskinder het nie.
13. In watter omstandighede waarby Petrus betrokke was, het Paulus ’n potensiële versoeking om ’n mede-Christen te beskinder weerstaan?
13 Paulus het ook ’n potensiële versoeking om skadelike skinderstories te vertel weerstaan toe hy Cefas (Petrus) tereggewys het, wat weens die teenwoordigheid van sekere Joodse Christene van Jerusalem skaam was om saam met nie-Joodse gelowiges te eet en met hulle om te gaan. Paulus het egter nie agter Petrus se rug van hom gepraat nie, maar het hom eerder “openlik teëgestaan” en “in teenwoordigheid van almal” met hom gepraat (Galasiërs 2:11-14). Petrus het ook nie oor Paulus geskinder nadat hy hom tereggewys het nie. Trouens, hy het hom later “ons geliefde broeder Paulus” genoem (2 Petrus 3:15). Selfs al moet ’n medegelowige tereggewys word, bied dit dus geen verskoning om hom te beskinder nie. Daar is baie goeie redes om teen sulke praatjies te waak en die versoeking te weerstaan om skadelike skinderstories te versprei.
Waarom moet ons daarteen waak?
14. Wat is die belangrikste rede waarom ons nie na skadelike skinderpraatjies moet luister of dit moet versprei nie?
14 Die belangrikste rede waarom ons nie na skadelike skinderpraatjies moet luister of moet help om dit te versprei nie, is dat ons Jehovah wil behaag, wat laster veroordeel. Soos reeds getoon, het God se beskouing van sulke spraak geblyk uit die opdrag aan die Israeliete: “Jy mag nie as ’n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die HERE” (Levitikus 19:16). As ons goddelike guns wil geniet, moet ons dus niemand van wie ons in ons gesprekke praat, belaster nie.
15. Wie is die vernaamste lasteraar, en watter uitwerking kan dit op ons verhouding met God hê as ons skadelike skinderstories vertel?
15 Nog ’n rede waarom ons skadelike skinderpraatjies moet vermy, is dat sulke praatjies daartoe kan lei dat ons Satan, die vernaamste lasteraar teen Jehovah, navolg. Hierdie aartsvyand van God is gepas die naam “Duiwel” (Grieks, di·aʹbo·los) gegee, wat “lasteraar” beteken. Toe Eva na Satan se lasterlike aantygings teen God geluister het en daarvolgens opgetree het, is die eerste mensepaar van hulle beste Vriend geskei (Genesis 3:1-24). Laat ons nooit swig vir Satan se liste en betrokke raak by skadelike praatjies wat deur God afgekeur word en ons dus van ons beste Vriend, Jehovah God, kan skei nie.
16. Hoe kan ’n lasteraar ‘vriende van mekaar skei’?
16 Ons moenie na mense luister wat kwaadwillig oor ander skinder nie, aangesien hulle vriende skei. Lasteraars maak hulle dikwels skuldig aan oordrywing, wanvoorstelling en leuens en gebruik ook dikwels ’n klomp opruiende woorde. Pleks dat hulle van aangesig tot aangesig met iemand praat, fluister hulle agter sy rug. Ongegronde agterdog word dikwels gewek. Ja, “’n kwaadstoker [“lasteraar”, NW] skei vriende van mekaar”.—Spreuke 16:28.
17. Waarom moet ons waak om nie diep betrokke te raak by oppervlakkige skinderpraatjies nie?
17 Ons moet selfs waak dat ons nie diep betrokke raak by oppervlakkige skinderpraatjies nie. Waarom? Omdat ’n opmerking wat nie bedoel was om enigiemand seer te maak nie dalk kan kwets wanneer dit herhaal word. Dit kan aangedik of verdraai word totdat dit afbreuk doen aan ’n godvrugtige persoon se reputasie en hom van sy goeie naam beroof. Hoe sou jy voel as dit gebeur het en jý die storie begin of selfs oorvertel het? Mense kan jou beskou as iemand wat hulle heel moontlik sal veronreg, en daarom sal hulle dalk jou geselskap begin vermy.—Vergelyk Spreuke 20:19, NAV.
18. Hoe kan skinderpraatjies ’n mens ’n leuenaar maak?
18 Nog ’n rede waarom jy teen kwaadwillige skinderpraatjies moet waak, is dat dit jou ’n leuenaar kan maak. “’n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so maklik” (Spreuke 26:22, NAV). Sê nou jy sluk leuens en herhaal hulle? Wel, selfs al dink jy dat die leuens waar is, vertel jy nogtans leuens wanneer jy hulle versprei. Wanneer dit aan die lig kom dat hulle vals is, kan jy as ’n leuenaar beskou word. Wil jy hê dat dit gebeur? Hou God valse onderrigters nie verantwoordelik vir godsdiensleuens nie? Ja, en hy hou ook leuenagtige lasteraars aanspreeklik. Jesus het gewaarsku: “Van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word” (Mattheüs 12:36, 37). Aangesien “elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap [sal] gee”, wil jy hê dat hy jou as ’n leuenagtige lasteraar veroordeel?—Romeine 14:12.
19. Waarom kan daar gesê word dat skadelike skinderpraatjies moorddadig kan wees?
19 ’n Verdere rede waarom ’n mens nie skadelike skinderpraatjies moet versprei nie, is dat dit moorddadig kan wees. Ja, dit kan dodelik wees en ’n onskuldige persoon se goeie reputasie vernietig. Party tonge is ‘skerp swaarde’, en giftige woorde is soos pyle wat uit ’n hinderlaag na onskuldiges geskiet word. Dawid het gebid: “Bewaar my van die komplotte van kwaadwilliges, van die kwaadstokery van mense wat onreg doen, wat met skerp tonge vir swaarde en giftige woorde vir pyle uit hinderlae lostrek op ’n onskuldige mens” (Psalm 64:3-5, NAV). Wil jy verantwoordelik wees vir sulke bose kwaadpratery oor ’n medemens dat hy hom genoop voel om, soos die psalmis, tot God te bid om verligting? Wil jy skuldig wees aan wat op moord neerkom?
20. (a) Wat kan met ’n onboetvaardige lasteraar in God se gemeente gebeur? (b) Waarteen moet ouere manne waak wat skinderpraatjies en laster betref?
20 Laster kan tot uitsetting uit God se organisasie lei; ’n lasteraar kan uitgesit word, moontlik as ’n onboetvaardige leuenaar. So ’n stap moet egter nie gedoen word teen persone wat hulle aan oppervlakkige skinderpraatjies skuldig gemaak het nie. Ouere manne moet die saak biddend oorweeg en ’n duidelike onderskeid tref tussen blote skinderpraatjies en venynige laster. Die oortreder sal alleenlik uitgesit word as hy ’n kwaadwillige, onboetvaardige lasteraar is. Ouere manne is nie gemagtig om enigiemand uit te sit weens onbenullige skinderpraatjies wat weens belangstelling in mense ontstaan maar nie vals of kwaadwillig is nie. Hulle moenie ’n berg van ’n molshoop maak nie, en daar moet getuies met afdoende getuienis wees om te bewys dat laster ongetwyfeld by die saak betrokke is (1 Timotheüs 5:19). Die vernaamste rede waarom onboetvaardige lasteraars uitgesit word, is sodat kwaadwillige skinderpraatjies gesmoor sal word, en dit sal verhoed dat die gemeente van sonde deursuur word (1 Korinthiërs 5:6-8, 13). Maar ouere manne moet nooit so haastig te werk gaan dat hulle iemand om onskriftuurlike redes uitsit nie. Hulle sal die persoon dikwels deur middel van gebed en raad kan help om tot inkeer te kom, verskoning te vra of andersins goed te maak en voortdurend groter beheer oor sy tong te verkry.
Is dit laster?
21. Wat moet jy doen pleks van om oor ’n oortreder te skinder?
21 ’n Wyse spreuk sê: “Die wat met kwaadsprekery [“laster”, NW] omgaan, maak ’n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ’n saak” (Spreuke 11:13). Beteken dit dat dit lasterlik sal wees indien jy iets oor die saak sê as jy weet dat iemand in die geheim growwe sonde beoefen? Nee. Jy moet natuurlik nie daaroor skinder nie. Jy moet met die oortreder praat en hom aanspoor om die ouere manne om hulp te vra (Jakobus 5:13-18). As hy dit nie binne ’n redelike tydperk doen nie, moet besorgdheid oor die reinheid van die gemeente jou beweeg om die saak onder die aandag van ouere manne te bring.—Levitikus 5:1.
22. Waarom kan ons sê dat 1 Korinthiërs 1:11 ons geen reg gee om te skinder nie?
22 So ’n stap kan daartoe lei dat die oortreder getugtig word, en dit sal nie na ’n saak van blydskap lyk nie. Maar ’n persoon wat deur tug geoefen is, maai die vrug van geregtigheid (Hebreërs 12:11). Oortreding moet bekendgemaak word aan diegene wat aangestel is om sulke sake te hanteer, nie aan mense wat skinder en moontlik daaroor sal praat nie. Paulus het vir Christene in Korinthe gesê: “Dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is” (1 Korinthiërs 1:11). Het lede van daardie huishouding oor medegelowiges geskinder? Nee, maar die saak is onder die aandag van ’n verantwoordelike ouere man gebring wat stappe kon doen om diegene by te staan wat hulp nodig gehad het om weer op die weg na die lewe te kom.
23. Watter vrae moet nog bespreek word?
23 As ons iemand help om teen betrokkenheid by skadelike skinderpraatjies te waak, doen ons iets wat hom tot voordeel strek. ’n Wyse spreuk sê: “Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang” (Spreuke 13:3). Dit is dus duidelik dat daar goeie redes is om teen skadelike skinderpraatjies en bose laster te waak. Maar hoe kan skadelike skinderpraatjies gesmoor word? Die volgende artikel gee die antwoord.
Wat is jou antwoorde?
◻ Wat is die verskil tussen opper-vlakkige skinderpraatjies en laster?
◻ Hoe kan skinderpraatjies in laster ontaard?
◻ Wat is party redes waarom ons teen skadelike skinderpraatjies moet waak?
◻ Waarom is dit nie laster wanneer ons die ouere manne van iemand anders se growwe sondes vertel nie?
[Prent op bladsy 14]
Maak seker dat jy nooit daaraan skuldig is dat jy iemand in die rug steek deur oor hom te skinder nie