Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ’n Vader en sy opstandige kinders
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
    • 11, 12. (a) Beskryf Juda se slegte toestand. (b) Waarom moet ons nie jammer voel vir Juda nie?

      11 Jesaja probeer vervolgens met die volk van Juda redeneer deur hulle aandag op hulle siek toestand te vestig. Hy sê: “Waar anders wil julle nog geslaan word, aangesien julle voortgaan met julle opstand?” Jesaja vra hulle in werklikheid: ‘Het julle nie al genoeg gely nie? Waarom bring julle nog verdere leed oor julleself deur steeds opstandig te wees?’ Jesaja gaan voort: “Die hele kop is siek, en die hele hart is kragteloos. Van die voetsool tot die kop is daar geen gesonde plek aan nie” (Jesaja 1:5, 6a). Juda verkeer in ’n verfoeilike, siek toestand—geestelik siek van die kop tot die voetsool. Inderdaad ’n sombere diagnose!

      12 Moet ons jammer voel vir Juda? Beslis nie! Eeue vroeër is die hele nasie Israel duidelik gewaarsku wat die straf vir ongehoorsaamheid sou wees. Daar is onder meer vir hulle gesê: “Jehovah sal jou tref met kwaadaardige swere aan albei knieë en albei bene, waarvan jy nie gesond sal kan word nie, van die sool van jou voet tot die kroon van jou kop” (Deuteronomium 28:35). Figuurlik gesproke pluk Juda nou juis hierdie wrange vrugte van sy wederstrewige weg. En dit alles kon vermy gewees het as die volk van Juda net gehoorsaam was aan Jehovah.

      13, 14. (a) Watter beserings is Juda toegedien? (b) Laat Juda se beserings hom sy opstandige weg heroorweeg?

      13 Jesaja gaan voort met sy beskrywing van Juda se beklaenswaardige toestand: “Wonde en kneusplekke en vars hale—hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie” (Jesaja 1:6b). Hier noem die profeet drie soorte beserings: wonde (snye, soos dié wat deur ’n swaard of ’n mes veroorsaak word), kneusplekke (merke soos wanneer iemand geslaan is) en vars hale (nuwe, oop sere wat lyk of dit nie kan genees nie). Die beeld wat geskep word, is dié van ’n man wat op elke denkbare manier kwaai gestraf is, en daar is nie ’n plekkie op sy liggaam wat gespaar is nie. Juda is beslis in ’n desperate situasie.

      14 Laat Juda se ellendige toestand hom na Jehovah terugkeer? Nee! Juda is soos die opstandige persoon wat in Spreuke 29:1 beskryf word: “’n Man wat herhaaldelik tereggewys word maar sy nek verhard, sal skielik verbreek word, en dit sonder genesing.” Dit lyk nie of die nasie meer genees kan word nie. Soos Jesaja dit stel, is sy wonde “nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie”.b Juda is as ’t ware soos ’n oop seer wat nie verbind is nie en wat oor die hele liggaam versprei is.

      15. Op watter maniere kan ons ons teen geestelike siekte beskerm?

      15 Ons kan ’n les by Juda leer en waak teen geestelike siekte. Soos fisiese siekte kan dit enigeen van ons aantas. Wie van ons is immers immuun teen vleeslike begeertes? Hebsug en ’n begeerte na oormatige vermaak kan in ons hart wortelskiet. Daarom moet ons onsself leer om te “verafsku wat goddeloos is” en ‘vas te hou aan wat goed is’ (Romeine 12:9). Ons moet ook die vrugte van God se gees in ons daaglikse lewe aankweek (Galasiërs 5:22, 23). As ons dit doen, sal ons die toestand waarin Juda was​—om geestelik gesproke van die kop tot die voetsool siek te wees—vermy.

  • ’n Vader en sy opstandige kinders
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
    • b Jesaja se woorde gee ’n aanduiding van die mediese gebruik in sy dag. Die Bybelnavorser E. H. Plumptre sê: “Om die swerende wond ‘te bedek’ of ‘te druk’, was die proses wat heel eerste gebruik is om van die sug ontslae te raak; daarna, soos in die geval van Hiskia (hfst. xxxviii. 21), is dit ‘verbind’ met ’n pap daarop en dan met die een of ander stimulerende olie of salf, moontlik, soos in Lukas x. 34 beskryf word, is olie en wyn gebruik om die sweer skoon te maak.”

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel